Nuuskommentaar: Die reg om te werk

Argieffoto (Foto: radiokerry.ie)

Argieffoto (Foto: radiokerry.ie)

Dit is hartverskeurend om die sien hoe die een posafleweraar na die ander by sy vrou aankom om hul CV’s te laat tik, skryf iemand op sy Facebookblad. In beleefde Afrikaans vra hulle, en sonder verwyt. Hulle is tydelike werkers, en nou het die Poskantoor ’n groot verlies gemaak en dié mense moet ander weivelde soek, lei die waarnemer af. Hulle het nie aan die groot Poskantoorstaking deelgeneem nie, maar is naderhand, soos die kantoorpersoneel, huis toe gestuur omdat ’n enkele poskantoor nie soos ’n eiland kan werk nie. Hulle werk lang ure en die pos word dikwels eers na 17:00 afgelewer.

Nou gaan daar blykbaar nog minder wees. En daar is nie ander werk daarbuite nie.

Die Suid-Afrikaanse grondwet maak voorsiening vir die reg om te staak, maar ironies, nie vir die reg om te werk nie. En hiermee word nie eens noodwendig bedoel dat almal wat kan werk, en wil werk, moet kan werk hê nie. Dit hang immers van die stand van die ekonomie, aanwas, toepaslike kwalifikasies vir waar wel werksgeleenthede is, en ander faktore af. Iets soos wetlike minimumlone kan verwoestend op werksgeleenthede inwerk, want ’n werkgewer kan ook maar net soveel bloed uit ’n klip tap…

En dan kan die aanstelling van onbevoegde kaders nog die bietjie ekonomie wat daar is, ook verniel en selfs verwoes.

Dus sou ’n grondwetlike inskrywing dat iemand die reg het om te werk min of meer dieselfde trefkrag hê soos die grondwetlike inskrywing dat burgers die reg op lewe het. Terwyl moordenaars, verkragters en dwelmbase daarom in Suid-Afrika die galgtou vryspring, word die een boer en boeregesin na die ander wreed op hul plase vermoor. Die reg op lewe het vir hulle nie veel in die sak gebring nie. Vrystaat Landbou het by geleentheid die regering hieroor hof toe geneem en ’n skikking buite die hof, wat ’n hofbevel gemaak is, afgedwing. Nie lank nie of Vrystaat Landbou moes die regering weer hof toe vat om die ooreenkoms na te kom. Gister het ’n klein oorlog in ’n Johannesburgse winkelsentrum tussen ’n bende en veiligheidswagte uitgebreek. Die reg op lewe vir enige besoeker aan die sentrum het in daardie stadium nie veel beteken nie.

Onlangs het die FW de Klerkstigting aangekondig dat die regering uiteindelik, na twee dekades, ’n internasionale konvensie geratifiseer het wat reeds tydens die bewind van oud-pres. Nelson Mandela onderteken is. Hierdie konvensie, die Internasionale Konvensie oor Burgerlike, Maatskaplike en Kulturele Regte (ICESCR), stel in beginsel die sonsondergangsklousule vir “regstellende aksie” in, dit verbied die toepassing van nasionale kwotas, en dit erken die reg om te werk.

‘n Mens voel amper lus om te sê, “stroes njannies.” Want dis ingrypende bepalings, soos deur die Stigting uitgewys, maar daar was ’n min of meer dawerende stilte in die media. Die Menseregtekommissie en verskeie nieregeringsinstellings het dit verwelkom. Dit wil uit Netwerk 24 se argiewe voorkom asof glad nie oor die ratifikasie berig is nie.

Maar daar is ’n rede voor. Die ratifikasie gaan waarskynlik nie die papier werd wees waarop dit geskryf is nie. Van hoeveel sportkodes is Suid-Afrika nie deel wat onder meer ras as kriterium verbied, of regeringsinmenging in die sportkodes aan die ban doen nie? Fifa het al verskeie lidlande soos Iran, Griekeland en Kenia hieroor uitgeskop, en selfs Nigerië en Brasilië is hieroor met skorsing gedreig. Die lande het voor die voet voor Fifa gaan kruip om lidlande te bly of die skorsings opgehef te kry. Maar Suid-Afrika daag daardie bepalings openlik uit, en kom tot dusver weg daarmee. Daar was al wel in enkele sportkodes ’n ligte geskarrel hieroor, maar niks wat die regering by dit laat inval wat hy plegtig met aanvaarding van lidmaatskap onderneem het nie.

Pas na ’n peperduur Suid-Afrikaanse afvaardiging van Davos teruggekeer het waar internasionale beleggers allerlei gerusstellende versekerings gegee is, neem die ANC se NUK by ’n lekgotla ‘n rits besluite wat regstreeks teen daardie versekerings indruis. Georganiseerde landbou is veral ontevrede omdat van die besluite jare lange gesprekke en ooreenkomste met die regering ongedaan maak, wat uitvoerbaarheid betref heeltemal verwyder is van die werklikheid, en boonop regstreeks teen die inhoud van die Nasionale Ontwikkelingsplan indruis. Georaniseerde landbou is bereid om hof toe te gaan hieroor.

Kortom, Suid-Afrika se aanvaarding van ICESCR, word van soveel akademiese belang geag dat dit nie as nuuswaardig beskou word nie. Maroela en die SAUK was van die min media wat enigsins hierna verwys het. Maroela het dit in ‘n satiriese ope brief aan pres. Jacob Zuma hanteer.

Waar die reg om te werk wel ’n groter toepasbaarheid het, is om te verseker dat nie-stakende werkers toegelaat word om ongehinderd met hul werk te kan voortgaan. Met verskeie groot stakings verlede jaar was daar talle werkers van ander vakbonde wat nie wou staak nie, en gewoon voorkeur wou gee daaraan dat hul gesinne kos op die tafel sal hê. Weens geweld en vernielsug, en selfs lewensverlies, kon baie nie-stakende werkers egter nie waag om by die werk uit te kom nie, en waar dit wel gebeur het, het gevalle voorgekom waar die stakers met groot vernielsug die werkers verdryf het.

Uiteindelik moes Helpende Hand en kerkgenootskappe miljoene rande se kos en ander materiaal insamel om mense op die platinumgordel, mans, vroue, kinders en pap babatjies, wat niks met die staking te make gehad het nie, van die mees basiese middele te voorsien.

Solidariteit het sy regspan opdrag gegee om daardie bepalings en ander reg wat die reg om te werk impliseer, te bestudeer met die oog op ’n verklarende hofbevel wat die reg om te werk sal bestendig.

In die VSA het verskeie deelstate wetgewing deurgevoer wat die reg om te werk aan die orde stel. Nog deelstate, waaronder Kentucky en Illinois, oorweeg nou sulke wetgewing. Die interessantheid is dat die meeste kiesers in hierdie deelstate nie meen dit sal werk nie, aldus ‘n meningspeiling. Maar die peiling toon ook dat die kiesers in die deelstate wat reeds hierdie wetgewing op die wetboek het, meer positief is daaroor. ‘n Afleiding, wat nie noodwendig watter hou nie, is dat hierdie wetgewing wel in ‘n mate werk, maar dit verander nietemin persepsies positief.

Wat is die kanse dat die regering, wanneer die ICESCR se ratifikasie in werking tree, sy beleid gaan aanpas dat dit met rassediskriminasie wegdoen? Of dat omstandighede geskep word wat werkgewers in staat sal stel om meer, of hoegenaamd werkers in diens te kan neem?

Waarskynlik nul, want die regering is nou so rasbehep dat dit aan die fanatieke herinner. Die regering is so werklikheidsvervreem dat daar steeds geglo word ’n sukkelende pensioenaris kan iemand in diens neem en ’n salaris gelykstaande of groter as die pensioenaris se inkomste aanstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.