Nuuskommentaar: Die regering en sy maatjies voor die hof

Argieffoto

Argieffoto

Dit gebeur nie elke dag dat die druk op howe om politiek-gedienstig te wees so op een slag ’n stofwolk opskop nie. Nie lank terug nog nie, het die media berig oor hoe daar ’n skynbaar onsigbare skans van beskerming oor minstens sommige betrokkenes by Aurora getrek is. ’n Verskriklike onreg is gepleeg toe kwesbare werkers se laaste bietjie aansprake gewoon deur skatrykes gevat en vervreem is.

Die saak het lank gevat, maar uiteindelik het die hof beslis ook familie van pres. Jacob Zuma en oudpres. Nelson Mandela moet miljarde opdok. Daar sal stellig geappelleer word en ’n frustrerende tyd lê voor.

Hierteenoor voer pres. Zuma se regspan in die saak om meer as 700 sake teen hom te heropen, aan dat die saak (eintlik sake) dood is. Die saak dien juis voor die hof sodat die hof kan beslis of dit inderdaad dood is.

Intussen het die regering aangekondig dat die kabinet gaan besin oor voortgesette deelname aan die internasionale strafhof. Dit kom nie as verrassing nie, ná veral dr. Blade Nzimande die howe erg gekritiseer het. Nzimande het dit laat klink of die howe die reg kan toepas of laat vaar.

Dit is, in normale omstandighede, ’n langsame proses om deur die howe te werk. In die Aurora-geval het dit vyf jaar geduur en was die instelling van 11 regsaksies nodig. Solidariteit het ’n reusebydrae gelewer om dit moontlik te maak.

Nie alle sake het egter ’n arbeidsregtelike herkoms sodat vakbonde kan intree nie. Die manier waarop e-tol Gauteng getref het, is ’n goeie voorbeeld hoe noodsaaklik dit is dat die publiek in geheel kan saamspan en soms enorme bedrae geld moet kan insamel.

Boonop is sukses nie gewaarborg nie. Tog, die jongste sameloop skep hoop. Hoop dat die howe selfs magtige en invloedryke persone, selfs die regering, tot orde kan roep.

Dit is egter ook duidelik dat dit nie genoeg is nie. Daar rus ’n enorme onus op opposisiepartye en bestaande liggame, soos kultuurliggame. Die individu se rol kan nie onderskat word nie, en die media het ’n bepaalde waghondfunksie.

Sterk burgerlike instellings het hulleself bewys. Want eendrag maak mag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

tina ·

Absoluut…en ek en my mede-afrikaners eggo: Eendrag maak mag!!.Wonderlike bydrae Herman Toerien. Mense in die land – wat begeer om in vrede te woon en op ‘n eerlike manier hulle brood en botter wil verdien – het NODIG om te weet dat daar is landgenote, wat NIE sal val vir selfverryking, ongeregtigheid, onreg en onregverdigheid nie. Nee, ‘n duisend maal nee!! My vertroue in my mede-afrikaner is, dat ons NOG STEEDS ‘n volk van integriteit, waarde en trots KAN en MOET wees; ‘n voorbeeld moet wees vir ons kinders en nageslag in GELOOF, VERTROUE en TOEWYDING aan die Drie-Enige God en die ander volke en tale van ons land, Suid-Afrika;waar mense nie koersloos is, nie. My afrikaner volk weer “backbone” kry en nie “wishbone” nie. Ons voorouers was ‘n handjievol teen die slag van Bloedrivier, MAAR en ‘n groot MAAR, hul het hul God geken en GEBID en die Here het gehoor. Vir my mense wil ek weer aanmoedig: SOEK God, dat dit weer goed met ons kan gaan.Laat ons ‘n goeie nalatenskap vir die kinders nalaat,wat na ons die leisels moet oorneem.Noem dit patriotisme ( en ek is trots daar-op ), maar ek het ‘n sagte plekkie vir my mense.
Daarom is ek so bly vir bewegings soos Solidariteit (en sy afdelings); Afriforum en dies meer wat hulle stemme dik maak. Ons bid dat jul nederig maar altyd groei en sterker sal raak, sodat die bose oorwin kan word.

HvdW ·

Beter kan dit nie gestel word nie. Ek onderstreep alles, veral die baie belangrike rol wat Solidariteit en Afriforum in ons samelewing speel. Dit het ‘n heilsame en positiewe uitwerking op ons gekwelde onrus ten opsigte van ons lieflike land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.