Nuuskommentaar: Die regte manier vir Afrikaans is…

Argieffoto.

Argieffoto.

Komende Saterdag sal dit presies 90 jaar wees sedert Afrikaans (as wetlike sinoniem vir Nederlands) ’n amptelike taal van Suid-Afrika geword het. Só na aan die 100-jaar mylpaal is daar egter groot kommer – nie net oor die amptelike voortbestaan van Afrikaans nie, maar ook oor die regte van die gemeenskappe wat Afrikaans as moedertaal koester.

Die jaar 1994 staan hierin duidelik uit. Daar was gou tekens dat die grondwetlike bepaling oor 11 amptelike tale sterk uitgedaag sou word. Die waghond-liggaam, Pansat, is sedert sy instelling grootliks tandeloos en deur swak aanstellings onmagtig gelaat, maar het nogtans vroeg in sy bestaan bevind dat die staat self die grootste oortreder van die grondwetlike taalbepalings was. Maar wanneer laas is iets anders as interne moeilikheid van Pansat verneem?

Intussen het die kommissie vir die beskerming en die bevordering van die regte van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe ook as Hoofstuk 9- instelling van die grondwet tot stand gekom, maar is uit die staanspoor deur die Mbeki-administrasie as “nasiebou-liggaam” gekaap. Swak aanstellings het ook hierdie liggaam feitlik tot nulliteit gedwing, en eers met die aanstelling van die huidige kommissarisse was daar hoop op beterskap. Maar die skynbare algehele afwesigheid en stilswye te midde van die Puk-krisis en byvoorbeeld die “beeldestorm” strek dié liggaam ook tot oneer. Selfs die meestal lendelam en polities-gedienstige menseregtekommissie is meer sigbaar op terreine wat duidelik die terrein van die kommissie is wat moet omsien na die regte en belange van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe.

Intussen hou die staat sy lyf skynbaar onverbiddellik lord Charles Somerset en lord Milner. In die Wes-Kaap is die polisie byvoorbeeld vroeg reeds opdrag gegee dat alle radio-kommunikasie slegs in Engels mag wees – dit terwyl doeltreffende polisiëring ’n provinsiale funksie is, en die Wes-Kaapse grondwet ander taalbepalings bevat.

Meer onlangs: Die departement van onderwys se voorneme om slegs Engels vir alle geleenthede behalwe klaskamer-onderrig te gebruik, en die Suid-Afrikaanse Ruimte-agentskap se voorgenome wegdoen met Afrikaans, maar insluiting van Zoeloe en Pedi, is onlangse voorbeelde. Afrikaans is die enigste inheemse taal in Afrika wat oor ’n volledige stel ruimteterme beskik en ook minstens een woordeboek daarvoor het.

Die private sektor tou op ’n streep die regering agterna, en Afrikaanssprekende kliënte het hulle al met telefoniese navrae by banke, mediese fondse en ander vasgeloop. Die Bloemfonteinse skou was vanjaar wat kennisgewingborde, webwerf en program betref net Engels, met hier en daar komiese spelfoute op die borde.

Te maklik word geargumenteer dat dit onprakties is om al 11 amptelike tale te gebruik, ’n duidelike strategie van die ANC se onderhandelaars by Kodesa. (Daar word gerieflik vergeet dat die provinsies ook hul amptelike tale het – gewoonlik drie – wat byvoorbeeld heel maklik deur die Bloemfonteinse skou ingespan kon word.

Voeg hierby die feit dat dit hoofsaaklik die Afrikaanssprekendes is wat die kort lootjie trek met die regering se rasgebaseerde wetgewing. Voorts word, binne die konteks van hierdie rasgepolariseerde gemeenskap wat die regering skep, van blankes verwag om tot in ewigheid (skynbaar) boetvaardig te wees oor apartheid.

Kortom, die klimaat is reg vir ’n teenreaksie uit Afrikaanssprekende geledere.

Hierdie reaksies het op hul beurt weer ’n twisappel geword. Sommige benaderings, soos die platvloerse slegsêery op die internet, is kontraproduktief en doen die saak van Afrikaans groot skade aan. Hieroor stem skynbaar almal met die spreekwoordelike twee of meer breinselle saam.

’n Tweede metode is om die handdoek in te gooi en Afrikaans binne gesinsverband uit te faseer. Enkele jare gelede, toe die ANC danksy die opslurp van die NNP die Wes-Kaap regeer het, wou die provinsie se minister van onderwys, Cameron Dugmore, ’n Afrikaanse skool wat tot boordensvol toe vol was, dwing om ook ’n Engels-mediumbaan in te stel. Hy het die saak, ook op appèl verloor. Maar toe die uitspraak deur die regter in Engels gelees is, moes iemand dit vir die ouers van die “Engelssprekende” leerlinge in Afrikaans tolk sodat hulle kon verstaan.

Soms kan ’n mens in ’n poging om ghrênd te wees, eintlik vreeslik kômmin wees.

Die groot debat handel egter nou oor twee ander benaderings – een ’n benadering wat nou blykbaar hoofsaaklik deur akademici in Potchefstroom gedryf word en wat in breë trekke daarop neerkom dat konfrontasie met die owerhede vermy word, en belangrike ampsdraers “geteiken” word om deur fatsoenlikheid ’n aanspraak op rede te doen. Op die oog af lyk dit of die strategie eerstens ten doel het om die NWU-rektor / visekanselier te bearbei, maar dat gemeen word dieselfde tegniek is landwyd in ander situasies wenslik. Ter wille van maklike identifikasie word hulle die kopstreel-groep genoem (op die internet word heelwat onvleiende name ingespan).

Uiteraard voel dié groep dat die metodiek van die vierde groep wat nou in die kollig is, hul strategie op die sinkplaatpad laat beland. Dis ’n groep wat meen die grondwetlike bepalings behoort in ’n grondwetlike demokrasie darem punte te tel, en kan nie maar bloot deur ideologiese oorwegings uitgeploeg en as rommel weggegooi word nie. Die eerste aanspraak hier is ook op redelikheid en fatsoenlikheid, maar as dit geminag word, word die howe en ander werkende instellings ingespan. Die een hand is in ’n satynhandskoen geklee terwyl die ander die swaard vashou. Hierdie groep het ook ’n afkeer aan die smerige tegnieke van die internetghwarre, en dis onbillik om hulle, soos soms gebeur, onder dieselfde kam te skeer.

Wat sake vir die kopstreelgroep baie bemoeilik is dat terwyl steun op die Puk-kampus gewerf word, die aanslag teen Afrikaans elders gewoon onverpoosd voortgaan. Hierdie metode sou veel minder “gegogga” word as die regering en ander rolspelers tot ’n moratorium op die wegvee van Afrikaans sou instem, en duidelik woord hou.

Môre se doen-beraad van die Solidariteit Beweging staan duidelik in die dampkring van die satynhandskoen en swaard. Uit verskeie oorde word pogings aangewend om die beraad vooraf verdag te maak, of om dit as kontra-produktief voor te hou. Rapport het gister betreklik breedvoerig oor die doelwitte van die beraad berig.

Oorkoepelend oor die debat oor die regte metode is dit opvallend dat verskeie kere reeds in rubrieke voorbrand gemaak is om terug te keer na die inspan van politieke korrektheid. Sommiges vra vir ’n beperkte terugkeer hierna, en meen die regstreekse konfronterende aanspreek van wydlopende persepsies by swart mense gaan die situasie net verhard of verder polariseer. ’n Teenargument is dat dit juis die era van politieke korrektheid is wat die wanpersepsies kans gegee het om wortel te skiet.

Die probleem is uiteraard veel meer kompleks as dit en verg veel groter insigte in die sosiologiese en sielkundige onderstrominge wat uiteenopende standpunte rondom rasselyne konsolideer.

Is daar nog hoegenaamd sin in om die grondwet te probeer inspan? Die spoor na die grondwetlike taalbepalings loop terug na die grondwetlike beginsels waarop by Kodesa ooreengekom is, en in toekomstige grondwette neerslag moet vind. Hierin word na die uitbou van die amptelike tale verwys, nie die inkorting daarvan nie. Die oorgangsgrondwet het ook bepaal dat geen taal van regte ontneem mag word wat dit voor 1994 gehad het nie. Met die opstel van die nuwe grondwet was die ANC oor hierdie bepaling onverbiddellik dat dit moet waai. Die bykans volledige uitrangeer van Afrikaans op die SAUK se oop TV-kanale het só moontlik geword.

Tog bepaal die nuwe grondwet dat die inheemse tale uitgebou moet word. Rolspelers verskil daaroor of Afrikaans as inheemse taal beskou behoort te word. Maar is Afrikaans, wat lank in die grondwet as ’n sinoniem vir “Hollands” gebruik is, ’n inheemse taal?

Tegnies is Standaardafrikaans ’n ouer taal as die Standaard-Nederlands wat nou in Nederland, Vlaandere en verskeie ander lande in gebruik is. In Nederland self het die meeste Nederlanders eers teen die 50-gerjare Standaard-Nederlands onder die knie gehad. Toe het Afrikaans reeds amptelike status geniet, en was nog langer in gebruik. Terwyl Standaard-Nederlands hoofsaaklik deur die taal van die elite van die provinsie Holland gevorm is, het Afrikaans heelwat uit ander Nederlandse dialekte, maar ook ander tale soos Maleisies oorgeneem.

Teen die 1950’s het Afrikaans reeds ’n enorme literêre skat gehad, asook vakkundige boeke oor haas enige vakgebied.

Dit sou ’n groot onreg wees om Afrikaans van sy inheemse karakter te stroop en sodoende grondwetlik meer bloot te stel.

Afrikaans en sy sprekers verdien (grondwetlik) beter as wat hulle nou te beurt val.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Dirk Breytenbach ·

Wanneer trek ons ‘n streep in die sand? Ons taalvyande oortree alles wat eties en wetlik is en dit lyk my ons is magteloos.

i90Christian ·

Eerstens, Afrikaans het sy ontkenning in 1925 gekry omdat dit as deel van Nederlands beskou is, die sinoniem-status is eers in die Grondwet van 1961 ontstaan en het geduur tot 1984. Pas in 1984 het Afrikaans heeltemal “onafhanklik” geword van Nederlands.

Tweedens is dit maar gevaarlik om te sê dat Afrikaans as ‘tegnies ouer’ as Nederlands is, omdat die Afrikaanse spelling afkomstig is van die Kollewijn-spelling wat nooit in Nederland en België ingevoer is nie, maar wel in Suid-Afrika (1905). Dit het gebeur met toestemming van die Maatschappij voor Nederlandse Letterkunde. Die spreektaal is dus op ‘n ander wyse gestandaardiseer as in Europa en Amerika. Dit is ‘n breekpunt en darem het die 1925-wet bepaal dat Afrikaans deel van Nederlands is. Omdat die besluit, toestemming vir standaardisering volgens die Kollewijn-spelling in Europa geneem is, is dit die vraag of Afrikaans darem beskou kan word as inheemse taal – hoewel die verskille seker in Afrika ontstaan het, maar vervolgens volgens Europese standaarde gestandaardiseer is. Die laaste dekades word daar heelwat spelreëls van die Kollewijn-spelling in die internasionale Standaard-Nederlands ingevoer.

Derdens het die eerste uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls in sy vyf grondreëls vir Afrikaans bepaal dat “Daar moet so weinig moontlik van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling (Die Kollewijn-spelling) afgewyk word.”

As Nederlander praat, lees en skryf ek beide tale vloeiend, al is Nederlands my moedertaal. Ek het vir die twee tale nie ‘n aparte woordeskat nie, soos ek wel vir Engels en Duits het. Soos M. De Villiers in sy inleiding van die grammatikaboek Afrikaans en Nederlands, waarin hy die grondbeginsels van die Afrikaanse grammatika beskryf: “Amper 99% van die Afrikaanse woordeskat bestaan uit Nederlandse woorde. ‘n Taal wat so ‘n groot persentasie van die woordeskat van ‘n ander taal in hom het, sal moeilik sy bestaansreg kan verdedig.” Dit lyk of De Villiers politieke redes (Malan se Afrikanernasionalisme) as hoofrede sien om die Nederlandse/Afrikaanse spreektaal in SA anders te standaardiseer as op ander kontinente.

Dus, as Nederlander, wens ek Afrikaans baie geluk met sy 90-ste bestaansjaar … as deel van Nederlands. Weens praktiese redes beskou ek die tale – geheel inkorrek – maar as ‘n digrafiese taal: dieselfde taal, maar met verskillende skryfstelsels. ;) Maar ja, geskiedenis bepaal nie die toekoms van ‘n taal nie…

En vir die wat meer wil weet oor die ooreenkomste en verskille tussen Afrikaans en Nederlands: http://nl.wikipedia.org/wiki/Verwantschap_tussen_Afrikaans_en_Nederlands

Herman Toerien ·

Christiaan. Ik faciliteerd je graag met je Afrikaans. Ik denkte niet dat wij heel verschillend denken. Dat gaat in eerste plaats om de verschillende talen dat uit Germaans zijn geboren, en dan de dialekten (plus Brabants) dat als dialekten ontstond. De Bijbel van de Staatengeneraal gaf een min of meer Standaardhollands, maar de Impakt van deze verscheidenheid op de voorganger van Standaard-Nederlands en Afrikaans zijn niet identiesch. Veel meer Brabants is in Afrikaans neergelegd als in het Nederlands. De grote getallen Duitsers die naar Zuid-Afrika kwam speeld bepaald een rol in de figureren van Brabatstermen. De dubbele “niet” in Afrikaans kwam ook slechts in enkele dialecten uit de Middelnederlands voor.
Afrikaans zijn bloot technisch compleet geworden naar een standaardvorm voor Nederlands. De Impakt van dialecten vertraagd de doortrek naar Standaard-Nederlands, behalve in de nieue steden van de poldergebieden waar de aankomelingen noodzakelijkerwijs uit verschillende dialekgebieden kwam. Ook in Zuid-Afrika was de dryfkracht voor de ontwikkeling van een bepaald Nederlands dialect moeilijker omdat de migranten uit verschillende gebieden kwam. Friesies vinndt hier plaatslijk schijnbaar geen neerslag.

Joe64 ·

Dit is my wens dat ons sal ophou afhanklik wees. Op die wyse kan die ANC hulle taal beleid aanpas sodat dit hulle pas, en is welkom om dit te doen.

Baie energie word spandeer aan die “staat” se siening van Afrikaans, wat bekend geword het in die tyd van Hector Pieterson, wat juis opgestaan het vir sy reg om onderwys en hoër onderwys te eis in sy moedertaal terwyl daar geen opgeleide leermeesters was om dit aan te bied in sy taal op daardie stadium nie.

So spandeer ons dus die tyd aan die staat wat geen heimweë koester vir die taal nie, en laat na om toe te sien dat gebruikers daarvan ten minste ‘n poging aanwend om dit suiwer en reg te praat, die media dit reg gebruik en toepas, verbruikers van goedere ten minste die instruksies en aanwysings van goedere in Afrikaans kry.

Die stryd is verloor as gevolg van Afrikaans sprekendes wat aanhoudend TV lisensies koop terwyl die einste uitsaaier die grootste propeganda masjien van die regering is, die Afrikaans sprekende graag sy instruksies in Chinees en Engels lees, kos koop met Arabise en Engelse bestandele daarop, sonder om ‘n oomblik te dink vir wat hulle hierdeur aan hulle self doen, met hulle eie kontant!

Gaan ons dan oorskakel na die Amiese manier van dinge doen, en agter bly, of dinge so doen dat ons kinders hulle self en eie kultuur sal koester en vooruitgaan. Mens voel soms ons is actually te spinless om iets daaraan tedoen, want ons moet cool en politicallt correct wees.

jaycee ·

As ‘n nie-taalkundige wil ek ook ‘n stuiwer in die armbeurs gooi.

Afrikaans as ‘n lewende, moderne spreek- en skryftaal is ‘n realiteit. ‘n Groot deel van SA se bevolking gebruik dit, hetsy op ‘n moedertaalbasis of as ‘n bykomende taal. Selfs baie Suid-Afrikaners buite SA se landsgrense lees, praat en skryf dit. Dat nie alle gebruikers van Afrikaans ewe bedrewe is in die skryf daarvan nie of dat daar streekverskille voorkom, veral as spreektaal, doen geen afbreek aan die feit dat Afrikaans in WESE ‘n selfstandige taal is nie. Ander tale oor die wêreld ervaar dieselfde verskynsel en Afrikaans is nie uniek in hierdie opsig nie.

Nou die volgende, wat ek effens moeilik vind om in woorde uit te druk, maar ek probeer: Taal, spesifiek moedertaal, is deel van ‘n mens se siel en al sou jy vele ander tale byleer, bly jou moedertaal onafskeidbaar deel van jou bewustheid van “ek-is”. Die omvang van die gebruik van jou moedertaal, deur jouself en ander, het slegs ‘n indirekte invloed op die waarde van moedertaal op “ek-is”. Toegegee, die geskiedenis vertel van baie tale wat gekom en doodgeloop het. Maar ek glo die tale wat doodgeloop het, het óf saam met die gebruikers van die taal uitgesterf, óf die gebruikers het op ‘n evolusionêre wyse hulle moedertaal gewysig/vervang om hulleself in staat te stel om by veranderende eksterne vereistes aan te pas. Maar laasgenoemde het juis die “ek-is” versterk en nie die hele siel vernietig nie. Dit is ‘n vreedsame, konstruktiewe en oorlewingsproses.

Maar om ‘n lewende taal deur middel van geweld of ander doelgerigte maniere te onderdruk of te vernietig is teenproduktief en veroorsaak dat mense op verskille fokus, eerder as om gemeenskaplikhede raak te sien en daarop voort te bou.

Ek is bevrees die ANC-regering en hulle eendersdenkendes is besig met laasgenoemde aksie en kan net hulleself blameer vir die antagonisme van veral Afrikaanssprekendes se kant. En wat veral seermaak is dat van diegene wat Afrikaans wil dooddruk, mede- Afrikaanssprekendes is wat in hierdie verband in dieselfde koor saam met die ANC sing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.