Nuuskommentaar: Die rol van ras in die SA-politiek

Foto: Oorsprong onbekend / Twitter

Die veelbesproke soen, voor die ‘huwelik’ verbrokkel het. Foto: Oorsprong onbekend / Twitter

“Ras” staan breed geskryf oor die egskeiding van die kortstondige politieke huwelik van die DA en Agang SA.

In haar verduideliking sê dr. Mamphela Ramphele daar is “miljoene Suid-Afrikaners” wat nie kans sien om vir die DA te stem nie. Die fynskrif is dat dit in werklikheid gaan oor die persepsie by baie swart mense dat die DA eintlik ‘n wit party is, en opnames toon dat baie swart mense glo dat die DA “apartheid wil terugbring.”

By ‘n ander mediakonferensie verduidelik die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuku, dat elke keer wat iemand na vore tree om nie-rassige politiek te bepleit, dit ‘n reeks ingewikkelde stappe verg.

Beide meen dat nie-rassige politiek moontlik is, maar dat baie (swart) mense nie gereed is daarvoor nie, of minstens dat dit baie versigtig hanteer moet word.

Die jongste Ispos-Markinor-peiling toon dat die ANC byna geen wit lede meer oor het nie. Selfs Julius Malema se EFF het meer wit steun, hoewel net 1%. Hoewel die ANC amptelik nie-rassigheid voorstaan, word sy sigbare agenda baie sterk gedryf deur ‘n sogenaamde Afrika-agenda, waar die fokus bie sterk op swart bewustheid en swart belange gevestig is, en baie sterk in wetgewing neerslag vind. Slegs 2% van die ANC se ondersteuners is bruin, twee persent is Indiër en 96% is swart.

‘n Manifestasie hiervan is die onlangse herhaalde afwysing van die “euwel” van “tribalism” deur oud-pres. Thabu Mbeki. Eerder as onderskeidende kenmerke soos taal en kultuur, is die kollektief van swart wees baie belangrik.

Die peiling toon egter ook dat die meerderheid wit, en Afrikaanssprekendes, nie na partye “verhuis” het wat as rasgebaseer beskou kan word nie. Hoewel die DA, volgens Ipsos-Markinor swaar dra aan die etiket van ‘n wit party te wees, is net 50% van sy ondersteuners wit. Sowat die helfte van die DA-ondersteuners se huistaal is Afrikaans.

Ander nie-rassige partye soos Cope, die ACDP en CDP het immers ook wit lede.

Hieruit, so wil dit voorkom, is die blankes nie meer die vaandeldraers van rasgedrewe politiek nie, maar dat die fokus hiervan in die “swart politiek” gesetel is.

Dit sou ‘n baie vereenvoudigde stelling wees, en boonop baie politiek-inkorrek.

Binne Afrikanergeledere is daar immers ‘n hele gros organisasies wat daarop aandring dat ras die bepalende faktor moet wees in die bepaling van of iemand ‘n Afrikaner, of in besonder ‘n Boere-Afrikaner kan en mag wees. Daar word diep gedelf om definisies te vind wat ras as een van die kriteria van die term “volk” in te sluit. Dit vind ruim neerslag in sosiale kommentaar op die internet, en baie daarvan i doodgewoon haatspraak. Bygesê, swart deelnemers doen lustig mee. Maar as na stemgetalle gekyk word, word ‘n ander prentjie gevorm.

In die proses word die groter prentjie egter misgekyk. By ‘n baie groot deel van die Afrikaner het sy bewustheid van sy Afrikanerskap, eerder as sy bewustheid van ‘n ras-identiteit, sedert 1994 sterk gegroei. Dit vind nie so seer neerslag in die partypolitieke arena nie, hoewel die NP-onderhandelaars by Kemptonpark aangedui het die huidige kiesstelsel is gekies juis omdat dit dit moontlik maak vir minderhede om ook verteenwoordiging te verkry. Trouens, die Vryheidsfront Plus wat formeel as Afrikanerbelangeparty optree, kry betreklik min steun uit Afrikanergeledere.

Met die DA-jeug se betoging by Kleinfontein het Kleinfontein se leiers dit beklemtoon dat hulle die grondwetlike en volkeregtelike kriteria inspan waarvan ras nie deel is nie. Die DA moes sy jeug se stelling dat Kleinfontein ongrondwetlik is repudieer “al stem ons nie met die politiek van Kleinfontein saam nie.”

Die Afrikaner se Afrikaner-identiteitsuitdrukking vind veel eerder neerslag in belange-instellings, soos AfriForum en Solidariteit, hoewel Solidariteit ook “ander” lede het. Die hofsaak teen die DKD toon dit immers. Talle kultuurorganisasies floreer.

Wat het hierdie skynbare klemverskuiwing teweeg gebring?

Een moontlikheid is dat die Afrikaner se kultuur in baie opsigte ongemak ervaar met die land se strewe om deel van Afrika te wees, en in besonder met swart Afrika. Staatsgeld word ingespan om amptelik voorvadergeeste in die buiteland te gaan haal waar kaders gesterf het. Animistiese rituele soos die slag van beeste kom voor. Die Hervormde Kerk het die gewaarwording van baie verwoord toe ‘n dag van verootmoediging uitgeroep is onder meer oor die droogte en plaasmoorde, maar in die besonder oor die “vervreemding wat baie in hul eie land ervaar.”

Maar ‘n deel van die antwoord kan ook in Europa gevind word. Politieke wetenskaplikes het al lank opgelet dat hoe meer die Europese Unie van ‘n konfederale bedeling federale karaktertrekke begin ontwikkel, hoe sterker groei volksbewustheid.

Hiermee word bedoel dat minderhede in die sogenaamde nasiestate skielik ‘n nasionalisme, of eerder volksbesef van hul eie ontwikkel. ‘n Deel van hierdie opkoms kan toegeskryf aan EU-statute self, wat byvoorbeeld Spanje verplig het om ‘n groot mate van outonomie aan die Baske en Kataloniërs te gee voor Spanje lid van die EU kon word. Dit is een van die hoofredes waarom Turkye se pogings om lid te word nog nie kon slaag nie.

Daar word ook vermoed dat die ontwikkeling van België na ‘n federasie tot die punt waar die groot Vlaamse party, die NV-A, formeel konfederalisme op die tafel geplaas het, en daar ‘n sterk onafhanklikheidsbeweging in Skotland ontwikkel, baie te make het daarmee dat onder die sambreel van die EU en die Europese parlement, daar ‘n groeiende bewuswording is dat entiteite soos Brittanje en België onnodig “tussenin” is.

Die grootste deel van die debat handel egter oor die herlewing van nasionalisme, wat sedert die WO II eintlik as baie politiek verkeerd beskou is, wat in ‘n wisselende mate die sentralisering van mag in die EU rem. Dat nie almal dit heeltemal eens is oor die redes en die wenslikheid van hierdie verskynsel nie, blyk duidelik uit twee artikels wat pas in die Nederlandse koerant Trouw verskyn het. Die titels daarvan verklap hoe die kragte hiervan neerslag vind: Eigen volk eerst, wat is daar nou erg aan?, en Kan democratie alleen in een natiestaat gedijen?

Veral die tweede artikel is vir hierdie bespreking relevant. Met “nasiestaat” bedoel die skrywer, Hans Goslinga, wat tipies as ‘n Europese nasiestaat beskou word – ‘n land met ‘n betreklik homogene bevolking.

Dit is nie wat Suid-Afrika is nie, wat ook die term “nasie” inspan om na die kollektief van Suid-Afrika se mense te verwys, om te onderskei van die verskillende volke wat die nasie uitmaak.

Suid-Afrika is wat sy bevolkingsamestelling eerder soos die Europese Unie, as die Europese nasiestate.

Aan die bod is die verskuiwing van tipiese owerheidsfunksies van die nasiestate se regering na dié van die Europese Unie. Dit word nie oral verwelkom nie, en soms selfs erg teengestaan soos deur die bekende Geert Wilders wat wil hê dat Nederland heeltemal uit die EU moet stap.

Die dinamika en persepsies ter sprake is kompleks, maar om een voorbeeld te noem: Die Europese Unie het pas sy eie korrupsieverslag uitgebring. Die verslag lui dat korrupsie in die EU “oorweldigend” is. Maar word na die detail gekyk, blyk dit dat die korrupsie in veral suid- en oos-Europese lande ‘n ontsettende probleem is, terwyl dit byna nie in van die Noord-Europese lande bestaan nie. Tog word almal onder die opskrif, en erger nog die implikasies, onder een kam geskeer. Europa saam ly die verlies van sowat 120 miljard euro’s per jaar. “Meng jou met die semels…”

Wat kan van die Suid-Afrikaanse ervaring gesê word?

Hoe lyk die land se beeld in die buiteland, veral na die wêreld se gunsteling-ikon gesterf het?

Is die verskynsel van disassosiasie dan heeltemal onverwags al word dit as hoé politiek inkorrek voorgehou?

In die internasionale politiek is daar ‘n gesegde: Die oplossing vir ‘n land lê dikwels in sy verlede. Die Christian Science Monitor het dit pas afgestof om die situasie in die onlusgeteistterde Oekraïene te ontleed.

Nie so seer om die verlede na te boots nie, maar bloot te kyk waar dinge verkeerd geloop het, en te kyk of daar nou iets aan gedoen kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Fred ·

I will not vote for the DA (or any other party) because Helen “speedbump” Zille, built 8 speed bumps between my house and my nearest local supermarket within the last year. So, every time I want to buy a loaf of bread, I have to cross 16 speed bumps, there and back. I had long correspondence with Felicity Purchase, my local DA Councillor to reduce the number, or at least lower them so they don’t damage our vehicles, but she has refused my request. I shall never vote for a party, where the leader thinks that speed bumps will make road hogs intelligent.

Demokraat ·

In Suid-Afrika sal veelrassige-politiek altyd aan die orde van die dag bly – vir die alternatief is daar inderdaad bykans nie plek nie. Die rede is maar eenvoudig vanweë die rasse-verskeidenheid van die land en daarom sal dit, veral op die politieke front, altyd vervleg bly.

Daar is by baie Afrikaners, en dit word veral deur die regse groeperinge beklemtoon, dat die Afrikaner kan aandring op selfbeskikking of nog breër gestel, ‘n afsonderlike grondgebied of tuisland. Hoe en met wie dit beding moet word, is nog onseker en sal daar nog baie water in die see loop voordat dit enigsins kan hoop om ‘n werklikheid te word.

Intussen gaan die politiek sy gang en is dit waarskynlik beter vir die Afrikaner om hom binne die huidige politieke bestel, iewers te skaar waar hy sy invloed kan laat geld en vir homself kan beding. Om dit binne enge Afrikaner-geledere te wil doen, dien geen doel nie want sy getalle is te gering. Om dus binne die veel-rassigheid te funksioneer, is die enigste alternatief. Die Afrikaner kan vanweë sy vele bekwaamhede en ervaring ‘n groot rol hierbinne speel en vele deure vir hom oopmaak.

Nico ·

Dit wil werklik voorkom of die rassepolitiek baie sterker onder swartes is. Ek glo dat die meerderheid blankes in 1994 gereed was vir ‘n nie-rassige land, d.w.s. waar ras geen rol gaan speel nie. (Let wel ek sê die meerderheid, nie almal nie.) Maar die fout wat gemaak is, is dat dit blyk dat die meerderheid swartes nie daarvoor gereed was nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.