Nuuskommentaar: Die saai van haat en radikalisering

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Koerantopskrif, “Kabinet gaan die saai van haat en radikalisering aanspreek,” sou in Suid-Afrika dadelik die oog vang en niemand verras nie. Maar dié opskrif, “Kabinet gaat haatzaaien en radicaliseren aanpakken” is vanoggend in die Nederlandse koerant Trouw, en verwys na gebeure in Nederland self.

In Suid-Afrika kraai linkse kommentators oor die moontlike kansellasie van ʼn fees in Vredendal omdat die sanger, Steve Hofmeyr, daarheen genooi is. Op die forums wat aan hierdie kommentators gebied word, kry hulle die geleentheid om ʼn hele paar dinge by te lieg oor “onaanvaarbare dinge” in Steve se beweerde repertoire, met al wat met die werklikheid steek hou, is dat Steve die Stem gesing het.

Die groot besware is dat Steve daardeur verdeeldheid sou saai, en dat dit die gevaar sou inhou dat die Afrikaner tot ʼn laertrek-mentaliteit opgeroep sou word. Of bietjie anders gestel, dat dit skietgoed aan ander gee om die Afrikaner in ʼn laer te dwing en van die algemene Suid-Afrikaner sou isoleer.

Op RSG se program, Kommentaar, het dr. Piet Croucamp gisteraand die versugting uitgespreek dat Steve “se draad nou geknip” word. Croucamp het ook die wysheid van Beeld se redakteur, Adriaan Basson, se rubriek waarin hy vra hoe van Zuma ontslae geraak kan word, bevraagteken. Croucamp het ook advies gehad aan kunstenaars oor die beperkte rol wat hulle in die samelewingsverband behoort te speel. Konsekwent deurgetrek, sou dit beteken dat die digters van die 60’s erg verbrou het om “as gewete van die volk” op onregte te wys.

Dit roep onwillekeurig die stelling van ʼn ander rubriekskrywer, Rhoda Kadali, op wat geskryf het politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.

Daar is tog ʼn pikante teenstrydigheid daarin opgesluit dat die Afrikaner so maklik tot andersheid, uitgeknip vir ʼn ander soort behandeling weens sy “onverdraagsaamheid” opgeroep word, terwyl juis hierdie kritici soos Croucamp en Max du Preez gewilde sprekers by hoofsaaklik Afrikanergroepe, soos landboukongresse is.

Die ideale van minstens sekere Afrikaner-elemente is nie uniek tot die Afrikaner nie. In Suid-Afrika is dit ʼn taamlike openbaring om die Facebook-inskrywings van Peter Marais te lees, ʼn voormalige Wes-Kaapse premier en nou uitgesproke Griekwa wat selfs ʼn kongres gereël het waar die afstigting van die Wes-Kaap as opsie genoem is. Die nuusdekking wat dit in die media kry reflekteer nie juis positief op die stand van gesonde mediavryheid in Suid-Afrika nie.

Dit val saam met die optrede van Julius Malema en sy EFF in die parlement. Anders as wat verwag is, was die reaksie op dié barbaarse optrede vol begrip, en selfs simpatiek. Die positiewe implikasies, soos dat dit die ANC se magsmisbruik om die parlement van sy oorsigrol oor ANC-kaders impotent te maak, ernstig geknou het, word wyd verwelkom.

In die proses moet daar egter ook onthou word dat dit baie moeilik is om ʼn wilde perd te tem as hy eers uitgebreek het. Die saai van haat en die opkoms van radikalisering is nooit ʼn goeie gedagte nie – nie in Europa of elders ter wêreld nie, en ook nie in Suid-Afrika nie. Die dade wat die IS in Sirië en Irak pleeg, is genoegsame bewys dat dit afskuwelik is. Om dit as dierlike gedrag te beskryf beledig die diere.

In Oekraïne is die bestanddele van ʼn resep vir ʼn volgende wêreldoorlog deurlopend aanwesig, met waarskynlik die sekerste waarborg dat ʼn volgende wêreldoorlog nié sal uitbreek nie, dat Navo militêre toetrede om Oekraïne te help, uitsluit. Maar die vorige wêreldoorloë het duidelik getoon dat dit nie altyd lande se eie keuse was of hulle by die oorlog ingesleep word of nie.

Wanneer die Suid-Afrikaanse analis op situasies en gebeure in Suid-Afrika fokus, moet hy noodwendig die ander oog op die res van die wêreld hou om nie ʼn isolasionistiese perspektief te ontwikkel nie.

Baie van die kritiek wat teen Malema se optrede in die parlement aangevoer word, fokus op die vertrapping van die Westminster-parlementêre tradisies. Die Westminister-tradisies is nie op Suid-Afrikaanse bodem gebore nie. Hierdie tradisies het oorgebly selfs na Suid-Afrika sedert 1983, toe die land sy driekamerparlement gekry het en nie meer ʼn Westminster parlementêre stelsel gehad het nie.

Ná 1994 is selfs verder daarvan afgestap. In sy bespreking oor die “wenslikheid” al dan nie van die EFF se optredes verwys die Sentrum vir Grondwetlike Regte soos volg na die parlement: “The Economic Freedom Fighters (the EFF) are causing an uproar inside and outside the hallowed hallways of Parliament.”

Dit het mettertyd baie duidelik geword dat die ANC hierdie tradisies begin misbruik het, en ingespan het om die parlement van sy grondwetlike verantwoordelikheid gestroop het om ʼn oorsigrol te vertolk oor die deursigtigheid en verantwoordbaarheid van die regering op alle vlakke – ook die president. Selfs die vorige speaker, Max Sisulu, is gepos oor hy te simpatiek teenoor die grondwetlike bepalings gestaan het.

Dieselfde as wat Malema in ʼn paar hitsige oomblikke bereik het, kon waarskynlik mettertyd deur die howe bereik word. Maar het Suid-Afrika die luukse van soveel tyd?

Dit is inderdaad so dat alle menseregte, ook die reg tot meningsvryheid, beperk word, onder meer deur dieselfde regte wat die ander geniet. Godsdiensvryheid beteken enigeen het die reg om ʼn godsdiens van sy keuse te beoefen – ook geen godsdiens. Dit behels nie die “reg” om die Christen wat sy Christenskap uitleef, in ʼn debat te vloek dat die see hom nie kan afwas nie.

Vryheid van meningsuitdrukking word deur haatspraak begrens, en nie deur ʼn selektiewe toepassing van wie haatspraak weens sekere historiese en kulturele oorwegings mag pleeg, en wie nie. “Feite” kan nie maar bygelieg word om inhoud aan argumente te gee nie, want dan kan jy dalk met ʼn briefie uit die tronk reggehelp word.

En veral kan hierdie selektiewe geregtigheid nie liberalisme genoem word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

antonio sunelli ·

Is daar regtig enige afrikaners wat notisie neem van piet croukamp se opinies? Voorwaar n vreemde wereld!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.