Nuuskommentaar: Die SAUK in die spervuur

saukAs openbare uitsaaier rus daar groot verantwoordelikhede op die SAUK. Nie al die verwagtinge waaraan dit moet voldoen, is in plaaslike wetgewing vasgelê nie, maar word ook deur internasionale konvensie voorgeskryf oor wat van ‘n openbare uitsaaier verwag word, soos die weergee van politieke diversiteit ter ondersteuning van grondwetlike demokrasie.

Met die komende verkiesing, was dit te wagte dat politieke partye binne en buite die parlement se oë skerp gerig sal wees op die bevindings van die Openbare Beskermer, al was dit hoofsaaklik ander aspekte wat onder die loep geneem is.

In ten minste een opsig sou die bevindings tog ‘n weerspieëling wees daarvan of die SAUK daarin slaag om openbare uitsaaier te wees, of sou neig in die rigting van “His Master’s Voice” wees; het die SAUK ook die regerende party se formele beleid van kaderontplooiing ten prooi geval?

As openbare uitsaaier is die SAUK juis veronderstel om die toonbeeld te wees van nié ‘n bastion van kaderontplooiing te wees nie.

Die Openbare Beskermer se verslag dui egter op die teendeel. Dit is nie van gister af nie bekend dat die waarnemende hoof-operasionele beampte, Hlaudi Motsoeneng, nie oor ‘n matrieksertifikaat beskik nie. In die Openbare Beskermer se verslag word ‘n bisarre verhaal geskets van wanvoorstellings, beloftes en ‘n lêer wat weggeraak het.

Boonop ryklik beloon met verstommende salarisaanpassing tot in die voorste gestoeltes van die soustrein.

En die minister se reaksie? Tot dusver tipies van hoe kaders hanteer word oor wie se koppe donker wolke saampak.

Politieke partye se kommer oor die SAUK is elders gesetel. Die aanstelling van raadslede is skynbaar op die oog af algaande meer en meer in Luthuli-huis bepaal, en dan bloot deur die ANC se parlementêre meerderheid gerubberstempel.

Tydens die ANC se Mangaung-konferensie in Bloemfontein is die indruk gelaat dat die SAUK nie net aktief pres. Jacob Zuma se herverkiesing gesteun het nie, maar ook as sy lofpryser ontaard het. Toe kerkleiers vra dat herbesin word oor Zuma se skynbaar onafwendbare herverkiesing, het Zuma-ondersteuners as teenvoeter ‘n spesiale biddiens vir sy herverkiesing gehou. Dié biddiens is nie net deur talle top SAUK-raaslede en bestuurslui bygewoon nie, maar ‘n insetsel is ook op TV-nuus uitgesaai met vermelding van watter SAUK-ampsdraers dit bywoon.

Onder die ander minder vleiende gevalle was die wegredigering van die uitjouery wat Zuma tydens oud-president Nelson Mandela se gedenkdiens in Soweto te beurt geval het.

Ongelukkig, met soveel blatante politieke inmenging, is die vraag uiteraard hoeveel subtiele beïnvloeding daar ook is, wat die gewone kyker nie raaksien nie?

Presies hoe groot is die aandeel van die SAUK in die ondersteuning van transformasie van sportsoorte soos rugby, tennis, krieket en vele meer as dit net met hoë uitsondering gebeeldsaai word, maar kykers word aan ruim sokkeruitsendings blootgestel op wie geen transformasiedruk is nie? In sommige gevalle is die SAUK nie alleen te blameer nie – die sportsoorte eis eenvoudig ‘n te groot pond vleis vir uitsaairegte, al maak dit hul selfverklaarde transformasiedoelwitte tot niet.

Die ander kant van die munt is dat veral aktualiteitspersoneel van die SAUK volhou dat daar geen druk op hulle is om nie politiek-onverbonde te wees nie. Dit word gereeld in aktualiteitsprogramme soos RSG se Kommentaar gemerk wat soms baie skerp krities teenoor Zuma en die ANC kan wees.

Dat daar nog baie ruimte vir verbetering op die koers na ‘n openbare uitsaaier is, is ook so. Of sekere tale, waaronder Afrikaans, ‘n regmatige plek op TV geniet is ‘n ope vraag. Programherhalings is problematies, en dat baie van die kykbbare programme eers uitgesaai word na werkende mense reeds moes gaan slaap het, is ook.

Dat openbare uitsaaiers wêreldwyd ‘n onweerstaanbare versoeking vir regerings is, is ook ‘n feit. Trouens, in baie lande word die veronderstelde rol van die openbare uitsaaier aan staatsbeheerde media oorgelaat, en is daar nie eens ‘n sweempie van aansprake van politieke onverbondenheid nie.

Vir die huidige lyk dit of die opposisiepartye met die status quo sal moet tevrede wees tot na die verkiesing. Deur nou ‘n baie groot bohaai op te skop, kan net dalk weerstand ontlok, en tot nog groter snoepery aanleiding gee. En tot dusver kon partye wat in die parlement verteenwoordig is, op die oog af nie werklik kla oor die blootstelling wat hulle in nuusbulletins ry nie, hoewel van die partye self waarskynlik sal voel hulle is te veel gesnoep. Bygesê, nie alle partye bring hulle kant met mediakommunikasie nie, en het net hulself te blameer as hulle dan gesnoep word.

Dit is seker te wagte dat as die grootbaas volgens sy eie aansprake met sy voete, eerder as sy kop dink, dat die nuusmedium self die nuus word.  En nuusmedia wat self die onderwerp van nuus word, soos ‘n redakteur wat oor ‘n berig afgedank word, of weens bande met vriende op die soustrein ‘n stewige plek op die nuustoneel inneem, of klaarblyklik eie agendas het wat ontken word, gebrekkige gehalte en vele meer is ongelukkig nou net ‘n te groot deel van die daaglikse nuuspakket. Die SAUK is nie die enigste swart skaap in daardie geledere nie.

Gelukkig is daar nog media en individue wat nuus van hoogstaande gehalte lewer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae