Nuuskommentaar: Die SAUK se stryd om irrelevant te wees gefnuik

Argieffoto

Argieffoto

So kort voor die landwye munisipale verkiesing was Solidariteit se oorwinning in die arbeidshof ’n reuse- strategiese sege, wat nie net die land en vier afgedankte joernaliste gehelp het nie, maar die SAUK self. Inderdaad het die bestuur van die SAUK alles in sy vermoë gedoen om die SAUK ’n irrelevante nuusrolspeler te maak, en is trouens steeds daarmee besig. Die oorlog is nog lank nie verby nie.

Terwyl die gevestigde media kop bo water probeer hou teen die sosiale media wat dikwels wolhaarstories versprei, het die SAUK-bestuur met sy sensuurbeleid reg in die hande van die sosiale media gespeel.

Presies hoe gevaarlik die SAUK se spel ook vir homself is, blyk duidelik uit ’n artikel in Trouw, “Bovenop het nieuws, zonder journalisten”.

Dié artikel laat die kop behoorlik duisel. Dit bied onder meer ’n oorsig van hoe die sosiale media nuus aan ’n nuushonger wêreld kan bring nog voor selfs die mees parate konvensionele nuusdiens daarop kan reageer. Die gonswoord is “livestreaming”, en dit behels in wese dat miljoene kykers wêreldwyd via ’n lid van die publiek kan sien hoe terroriste ’n winkelsentrum aanval.

Terwyl ’n burokratiese bestuurspan van ’n openbare uitsaaier nog besin oor of beelde van geweld uitgesaai kan word, is dit vir miljoene kykers al ou nuus.

In Suid-Afrika is baie mense reeds Twitter-gebruikers, en die doeltreffendheid is goed gedemonstreer met veldtogte soos #FeesMustFall, #ZumaMustFall en ander.

Maar ook name soos die jaaroue Periscope, Facebook se regstreekse funksie wat in April bekend gestel is, en Google wat met YouTube saamspan staan sentraal om van ’n mens se slimfoon ’n instrument te maak wat regstreeks na belangrike nuusgebeure kyk.

Sonder joernaliste, en sonder die SAUK.

Teen dié agtergrond is dit bykans ondenkbaar dat die SAUK allerlei nuusbeperkings sou instel, maar ook verder sou gaan en sy eie regsraamwerk sou probeer skep wat dit byvoorbeeld moontlik gemaak het om senior joernaliste sonder ’n verhoor in die pad te steek.

Hieroor het die SAUK nou sleg op sy baadjie gekry en is die afdankings nie net ter syde gestel nie, maar senior bestuurslui moet nou binne vyf dae redes aanvoer waarom hulle nie persoonlik vir die regskostes aanspreeklik gehou moet word nie.

Trouens, dis moeilik om te dink dat dit moontlik sou wees om ’n saak nog verder te verloor as wat met die SAUK die geval was, sodat dit amper laf klink dat die SAUK besluit het om appèl aan te teken en die vier steeds te verhinder om terug te keer werk toe. Dit lyk of die SAUK ook onwys sal wees om nie Donderdag buite die hof te skik nie wanneer die saak van ander afgedankte personeel, wat deur ’n ander vakbond verteenwoordig word, voor die arbeidshof aangehoor word.

Solidariteit gaan die hof nou dringend nader om te verseker dat die vier na die werk kan terugkeer.

In die teen-staatsgreep van die Turkse pres. Recep Tayyip Erdogan is talle joernaliste aangekeer en ander beperkings op die media ingestel, maar dit het min, of geen invloed op die nuusvloei oor die onderdrukkende maatreëls wat ingestel word. Erdogan en die SAUK se optrede se enigste impak is om vyande te maak, en demokrasie te ondermyn. Hoe kan ’n verkiesing vry en regverdig wees as die nuus waarop kiesersbesluite geneem moet word, gemanipuleer word?

Met die Arabiese domino-rewolusie het nuussensuur dramaties voor die sosiale media geswig.

Daar is ’n baie sterk saak uit te maak vir geweegde nuus – nuus wat professioneel voorberei is, en waar byvoorbeeld die kommentaar van kenners aangevra is.

Vulgariteit is ook nie welkom nie. Om nuus as betroubare pakkette aan luisteraars en kykers, sowel as lesers, voor te berei is egter nie ’n kitsproses nie. Behoorlike nuus het dus stywe kompetisie van die blitsige, maar onversorgde nuus van die sosiale media. Talle alarmistiese wolhaarstories het al deur die sosiale media rugbaar geword en verder soos ’n veldbrand versprei.

Soos dikwels lê die oplossing in balans. Die SAUK het egter selfs buite hierdie perke probeer speel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

christine ·

Herman dit lyk of hulle te veel Godfarther flieks kyk alle van bo af lyk en ruik na die mafia. Hierdie mense moet persoonlik aanspreeklik vir regskostes gehou word

Theuns ·

Herman jy se alles wat gese moet word! Ek moet eerlik wees en vir jou se dat ek maar sku vir die sosialle media is omdat dit net teveel tyd inbeslag neem en somtyds moeilik is om die kaf van die koring te skei. Ek lees eerder my Koerant, jou en Dr Leopold se kommentaar en dan vir die sprorts die terugvoer kommentare op Maroela Media. Maroela Media se joernaliste is ook baie professioneel. Groete.

Wondermanet ·

Hoe is dit moontlik dat ‘n arrogante-, ongekwalifiseerde-persoon? (en jy kan nog baie byvoeglike naamwoorde toevoeg) tot die pos van bedryfshoof kon vorder met ‘n allemintige salaris waarvan die meeste van ons net kan droom? Ek sou graag my stem vir Herman wou gee vir die pos (as dit enigsins moontlik was). Dankie Herman dat jy minstens nog in S.A. is om balans te help behou en sinvolle kommentaar te lewer.

lettie ·

Jy slaan die spyker op die kop! Hlaudi se mag is gebreek. Sy boelietaktiek en politieke aanstelling gaan hom nie red van die galgtou wat hy vir homself voorberei het nie.

Pieter ·

Iewers in my lewe het iets snaaks gebeur waarvoor ek geen verklaring het nie. Ek kyk nou al lank reeds nie die SABC se nuus nie ( Ook nie enige ander program nie) en lees nie meer die Rapport nie. So stadigaan lyk dit my is ek besig om my te speen van die Beeld wat ek al donkie jare by my hek optel (Aan die binnekant natuurlik) Wat het dan gebeur. SEKER TIEN NUUS WEBBLAAIE DAAGLIKS RONDOM DIE AARDBOL. As die koreante dit publiseer het ek dit hoeka gelees en is dit ou nuus vir my, As SABC se ANC Zuma nuus verby is bly sport en weer oor. Dit het en ook klaar gelees. Dit is by my werklik ‘n koebaai aan die media soos ons dit nou ken. Ek lees nie meer Piet Croukamp nie en gedadiglik vir has been Max het ek ook lanklaas gehoor. Lewe hy nog ?

John ·

Pieter, daar is baie Afrikaners wat so doen. Ongelukkig is daar ook steeds Afrikaanses wat hul naaste bestuur en indoktrineer dmv die vreesfaktor.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.