Nuuskommentaar: Die seisoen van stakings het aangebreek!

Argieffoto van Numsa-staking in 2019 (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Die vakverbond Cosatu hou Donderdag ʼn reusestaking landswyd teen lae loonverhogings. Numsa het reeds aangekondig dat hulle teen die ingenieursbedryf gaan staak, met vakbonde Mewusa en Uasa wat ook hieraan gaan deelneem. Sodoende het Suid-Afrika se jaarlikse stakingseisoen weereens posgevat.

Cosatu het Woensdag gesê dat die staking daarop gemik is om die regering en private sektor te dwing om die gemors wat die ekonomie tans is, op te los. Verder moet hierdie rolspelers uiteraard ook die kwessies wat werkers raak met erns opneem.

Tydens hierdie stakingseisoene gebruik vakbondleiers gewoonlik radikale opmerkings en optrede om radikale verandering vir hul lede teweeg te bring as onderhandelingstaktieke. Dit is gewoonlik selfs in weerwil van die ekonomiese werklikhede wat maatskappye in die gesig staar.

Indien ʼn mens dan uit ʼn vryemarkperspektief hierna kyk, sal ʼn mens met jou hande in jou hare sit. Selfs al is die voorgestelde loonverhogings laer as wat vakbonde vereis, is dit waarskynlik al wat maatskappye kan bekostig. Selfs al sou groter verhogings beter vir werknemers wees, is dit heel waarskynlik nie moontlik nie. Selfs al sou ons wou hê dat dit tans beter met die ekonomie gaan, gaan dit ongelukkig nie beter nie. Hierdie is die tipe realiteite wat eintlik sentraal in jaarlikse loononderhandelinge behoort te staan.

Vir maatskappye om meer lone te kan betaal, moet hulle dit eers kan bekostig om mee te begin. Dit is natuurlik nog afgesien van die miljoene en miljarde rand se inkomste wat maatskappye jaarliks tydens die stakingseisoen verloor weens werkers wat nie werk nie.

Die eenvoudigste manier om hierdie tipe onderhandelingstaktiek op te som, is eintlik maar dat vakbonde die private sektore gyselaar hou – dit is natuurlik vakbonde wat hulself na hierdie skaal van stakings en ook gewelddadige stakings wend. Indien maatskappye nie tot die verlangde loonverhoging toestem nie, werk werkers nie.

Indien werkers nie werk nie, verloor maatskappye broodnodige inkomte. Ironies genoeg word maatskappye se vermoë om daardie loonverhogings wel te betaal stadig maar seker weggekalwe. Op die ou einde sit ʼn mens in ʼn situasie waarin bloed uit ʼn klip getap moet word – ongeag hoe noodsaaklik loonverhogings moontlik vir werknemers is.

In die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) word riglyne uiteengesit waarvolgens arbeidsgeskille opgelos behoort te word. Die dokument spreek verder aan hoe die drieledige uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid vanuit ʼn arbeidsoogpunt opgelos behoort te word – die kwessies wat eintlik ook jaarliks sentraal in die loononderhandelinge staan. Armoede en werkloosheid kan net opgelos word indien die ekonomie groei. Vir die ekonomie om te groei, is dit noodsaaklik dat die arbeidsmark en arbeidsverhoudinge in die land stabiel is.

Indien die probleem egter agterstevoor aangepak word, vererger dit bloot die situasie. Stakingseisoen ontwrig jaarliks die arbeidsmark en arbeidsverhoudinge. Dit dra negatief by tot die ekonomiese geheelbeeld van Suid-Afrika wat weer die algehele stand van sake versleg.

Sodoende is die loononderhandelinge jaarliks – veral in die onderhandelinge tussen vakbonde en die staat – eintlik maar ʼn opweging van die magsbalans. Hier gaan dit dikwels nie oor wat die regering billikerwys moet betaal nie, maar eerder wat die vakbonde voel hulle behoort te betaal. Dit wat lewensvatbaar en moontlik is, word ondergeskik gestel aan wat werknemers volgens vakbonde toekom.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, skryf ʼn paar jaar gelede in ʼn omvattende stuk oor wat onderliggend aan hierdie dikwels gewelddadige stakingseisoen en oënskynlik onverklaarbare optrede jaarliks lê. Waar kom hierdie voortgesette radikale optrede en onhaalbare vereistes vandaan? Die verduideliking van die aard van ons arbeidsmark in hierdie opsig lê volgens Du Plessis juis buite die arbeidsmark in die ideologiese. Du Plessis verduidelik hoe Zwelinzima Vavi, voormalige hoofsekretaris van Cosatu, dit in 2009 na ʼn Cosatu‑kongres uiteengesit het:

“Vavi het aangedui dat die kongres ’n nuwe standaard rondom ideologiese debatte gestel het en dat Cosatu moet voortsnel om hul ideologiese oorlogvoering na ʼn volgende vlak te voer om só hul idees te bevorder. Hoewel die soeke na mag en persoonlike gewin nie totaal buite rekening gelaat kan word wanneer populistiese vakbond- en politieke leiers hul ondersteuners tot radikale optrede aanmoedig nie, word hierdie inisiatiewe grootliks deur ideologie, soos waarna Vavi verwys het, gedryf.”

Sodoende is die jaarlikse loononderhandelings, gewelddadige stakings en die aanslag op die arbeidsmark deur vakbonde soos Cosatu en Numsa ook grootliks geanker in ideologie – meer spesifiek in die ANC se nasionale demokratiese rewolusie (NDR). Dit beteken dat die swart middelklas ook tot ʼn groot mate die vergestalting van die voortgesette struggle en transformatistiese rewolusie is. Dit is in die bemagtiging en bevryding van die swart middelklas deur ʼn herstel in magsbalans wat die ware struggle voortgesit kan word – die vakbonde is bloot die spreekbuis hiervoor.

Sodoende gaan dit waarna hierdie vakbonde spesifiek streef oor veel meer as net die werknemers se basiese behoeftes – en beslis ook nié oor dit wat ekonomies lewensvatbaar en doenbaar is nie. Du Plessis beskryf verder: “Dit verklaar ook vir ons waarom werkers wat aan huidige, of voormalige Cosatu- geaffilieerde vakbonde behoort wat ’n sterk sosialistiese onderbou het en ’n historiese struggle-kultuur het, so maklik hul griewe strate toe neem in ’n magsvertoon om die ekonomiese vyand, of sogenaamde wit kapitaal soos die NDR dit beskryf, se mag te probeer vernietig.”

Sodoende word alles weereens teruggetrek na die stryd om idees. Idees is uiteindelik die onderbou van alles wat in die samelewing gebeur en ook kán gebeur. Die werklikheid is daarom dikwels nie die primêre oorweging nie, maar eerder die idees en ideologieë wat vooropgestel word. Die werklikheid moet juis omvorm word om by daardie idees aan te pas – of dit nou moontlik is of nie.

Indien ʼn mens ander onderhandelingstaktieke in die arbeidsmark en ook ʼn ander arbeidsmark wil sien, lê die antwoord fundamenteel by die stryd om idees – dit is immers wat die arbeidsmark soos wat hy tans is, vorm. Indien die ANC en vennote hierdie sosialistiese onderbou so goed in die arbeidsmark gevestig kon kry, kan ʼn mens dit ook ontwortel kry. Veral in die lig van die feit dat die werklikheid op een of ander stadium die NDR se utopiese ondertoon sal inhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

casper ·

Die de-industrialisasie in SA gaan voort teen ‘n al hoe groter spoed.!!!

skurweberg ·

Die seisoen van baie groter rampe het aangebreek. As jy nie wil hoor nie moet jy voel!!!

Pierre ·

Hoop maar die vakbonde het werk vir al hul mense wanneer die besighede begin deure toemaak.

Andries ·

Het hulle nie gehoor dat iemand soos ‘n Herzsov in ‘n BN-onderhoud sê dat SA onbelêbaar (uninvestable) raak nie? Het die mense dan geen verstand nie?

Samuel ·

Die regering verwelkom die stakings, want dit dra by tot die destabilisasie van die landsekonomie. Die ANC-geleide regering is tog sosialisties/kommunisties van aard. En dan sê die hoof kommunis, “may God continue to bless South Africa”. Skande.

Lourens CFG ·

Mmmm, lyk my hulle het goed gerus met die inperkings, maar nou wil hul meer pay omdat hul moet gaan werk.

annie ·

Watter land met so ‘n groot bevolking in die wêreld het soveel unies met soveel mag? Die kommunistiese party in SA is nie bereid om sy naam op die stembriefie te sit nie, maar figureer wel groot in die regering. En die ANC lief hulle want hul stoomroller die land na sy ondergang. Werkloses wens vir ‘n werk maar die werkers jol op die job en gebruik vandag om inkopies te gaan doen…

Jannie van Niekerk ·

Vakbonde is die grootste euwel in die geskiedenis van die mensdom. Vakbondleiers voel ‘n veer vir hulle lede solank hu;lle net genoeg salarisse kan kry om hulle Jaguar EV ‘s en Lamborghini’s te kan koop is hulle tevrede. Hulle is arrogant en dink dat hulle die eienaar van besighede is waar hulle lede werk. Daar behoort ‘n wet te wees wat bepaal dat indien daar gestaak word sonder salarisse, vakbondleiers vir die tydperk van die staking ook geen vergoeding van enige aard mag kry nie. Die vakondlede se ledegeld moet dan aangewend word om die lede te betaal vir die tydperke wat hulle sonder inkosmte is, ipv dat die eldegeld op duur geboue en maatskappymotors spandeer word,

Sarel ·

Nou al so gatvol vir dtakings en geweld….kan die
Vakbonde nie begin fink azn iets meer opbouend nir.
Staak vsndag stem.more vir dieselfde groep???

Hondjie ·

Um vergeet van covid.ons n grooter pes opad.hul noem dit staking

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.