Nuuskommentaar: Die Seunse Weenkoor

Toekomsberaad-Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

In Sondag se Rapport span Tim du Plessis die term, Seunse Weenkoor, in. In die konteks van sy rubriek verwys dit na stedelike Boheme wat, soos nou, by verstek fout vind met die Toekomsberaad se Selfhelpplan.

Hoewel Tim nie name noem nie, is dit duidelik wie ten minste sommiges is na wie hy verwys.

Die term “Seunse Weenkoor” is egter nie Tim se maaksel nie. Reeds in die vroeë 90’s het die rubriekskrywer, Johan van Wyk, kort-kort die “Seunse Weenkoor” bygedam, skynbaar uit ’n ligte gespot met die verfyndheid waarmee die seuns in die koor verbind word.

In Mei vanjaar het Die Burger nog daarna verwys toe die Oppikoppi-fees se organiseerders lede vir ’n “koor” gewerf het. Dié koor sou in die plek kom van vroeëre gerugte van ’n “Seunse Weenkoor.” Om te kan sing was geen vereiste nie, maar liefde vir bier, Rock en “Oppikoppi-bekoring” wel. Die “koor” sou as die Northam Uitgewaste Seunskoor vir Mans en Vrouens (NUSMV) bekend staan.

Dit lyk of die konsep van “Seunse Weenkoor” die anti-establishment verteenwoordig.

Uit leserskommentare is dit duidelik dat ’n sterk persepsie bestaan dat die “Seunse Weenkoor” se vernaamste eksponent in Media24 se Afrikaanse koerante ná personeelskuiwe hom nou hoofsaaklik in die kuberruim bevind.

Terwyl Beeld nou op die oog af, en te oordeel na die inhoudelike van hoofartikels, van ’n ander stoffasie is as ’n ruk gelede, en ook krediet kry daarvoor, word die eertydse idees wat maar volksvreemd is (met apologie aan oom Oubaas), getwiet.

Terwyl gatvas teen die Toekomsberaad en Selfhelpplan getwietklaag word, het baie ander ontleders wat eers “instinktief” krities was, in hul ontledings veel nugterder daaroor begin raak. Op Facebook het van die mees entoesiastiese steun gekom van ’n intellektueel wie se politieke verbintenisse ’n mens sou verwag ’n demper sou wees. Dit sal interessant wees om te sien of sy party hom hieroor sal uitdaag, want die party sal beslis ernstige skade onder Afrikanersteun opdoen indien dit gebeur.

’n Bekende stel dit dat sy beswaar is dat dit polarisasie aan die hand werk terwyl die land nou versoening moet nastreef. Maar sal die polariserende momentum wat uit onder meer die “born frees” se kuberaanslag aangeblaas word deur die Selfhelpplan versnel word, of maak die plan self voorsiening vir die benutting van versoeningsgeleenthede? Van die Solidariteit Beweging se vernaamste vennote is immers deurgaans in sulke projekte betrokke.

Om kritiek op die motiewe vir die Selfhelpplan te monster was die naweek in elk geval besonder moeilik met dié dat die ANC sy nasionale hoofraadsvergadering gehou, en oudergewoonte die land se naam plek-plek met ’n plank geslaan het. Die besluit om hom nie net van die Internasionale Strafhof te onttrek nie, maar ander Afrikalande ooreenkomstig van raad te bedien, tel onder die sake wat die land ernstige skade kan berokken.

Suid-Afrika, via die ANC, daag weer voordeletrekkery uit die Agoa-wet uit met ’n volharding oor beperkte buitelandse eienaarskap van instansies wat by veiligheid betrokke is. Die omstrede 50-50-grondbesitgedagte het die naweek amptelike ANC-beleid geword, en die instelling van ’n beoogde mediatribunaal gaan SA op die persvryheidindeks laat daal. Om maar ’n paar aspekte te noem.

Kortom, dit raak al moeiliker om terselfdertyd rasioneel te wees en te glo die land kan die ANC – veral met Zuma aan die spits – bekostig. Dit vergroot begrip vir die Solidariteit Beweging se Plan B.

Intussen klink die Seunse Weenkoor se geween net al hoe valser en uit pas met die werklikheid, wat hulle al lankal agtergelaat het. Trouens, dr. Frans Cronjé gooi in sy rubriek die net nog wyer oor negatiewe elemente in eie geledere oor wie nou eintlik die derdekolonners is.

Die Toekomsberaad, die ANC se kongres en Aardklop moes die naweek nuusgewys meeding met die NG Kerk se gay-besluit. Kyk na dié interessantheid: Op Netwerk 24 se lys van gewilde meningsartikels moes die Toekomsberaad (Tim se artikel) en die NG Kerk se besluit (Hanlie Retief gesels met Nelis Janse van Rensburg) terugstaan vir artikels oor Jeanne de Villiers en bipolêre steurnis. Onder algemene nuus haal die NG Kerk se besluit die sewende plek en Aardklop die derde plek (oor Steve Hofmeyr Die Stem gesing het).

Baie Afrikaanse nuusgebruikers wil heel duidelik nog nie hul koppe breek oor sake wat hul én hul kinders se toekoms raak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gawie Keyter ·

Ons sien nou weer die henoppers,mense wat dit vir my voorkom of hulle skaam is oor hulle herkoms.As ons nils vir onself doen nie gaan die ANC en sy trawante alles van ons wegneem.Dit is nie nou die tyd om polities korrek te wees nie.Staam op vir jou mede Afrikaanses of word vernietig

Antoinette ·

Dit broei in mens se agterkop. Die aanslag op jou taal, die misdaad, regstellende aksie. Maar als gaan nog redelik voort. Noudat daar droogte is sal ons weer op ons kniee gedwing word en weer begin wonder wie en wat ons is en veral in Wie ons glo. My opinie is dat daar ‘n gebeurtenis gaan wees (weet nie wat dit is nie) wat ons gaan laat wakker skrik en opstaan. Ek hoop net ons is nie te laat nie.

Pieter Engelbrecht ·

Ek wens regtig dat Maroela, Solidariteit en alle gebruikers wat verwys na artikels van Media 24 geen skakels plaas nie of regte verkry dat mens die artikels kan lees. Ek is moeg vir hulle bedelaar beleid en wil eintlik niks met hulle te doene he nie veral nie na Weideman se ANC (tog so polities korrek? ) verklaring nie

Piet Pompies ·

Met verwysing Media 24, as kind het ek koerante afgelewer, Transvaler en Vaderland, later die Beeld. Die twee regse koerante, T en V het begin steun verloor nadat die NP onder gegaan het. Beeld was die “new kid on the block” meer linkse berigte en modern met bykomende uitgawes wat op die jeug gemik was, musiek, motors ens. Met my aftrede as koerantverkoper het T en nie meer bestaan en Beeld was tops. As volwasse het Beeld verander na Media 24 wat verskeie publikasies soos Huisgenoot insluit. Toe raak dinge verveelig, wat jy nou in Beeld lees, lees jy in elk geval in Huisgenoot. Beeld, Volksblad, Rapport en ander koerante was maar net ‘n duplisering met ander name. Toe kon ons Beeld op Internet lees, dit was lekker, gemaklik, nou moet ek betaal, basta daarmee, nuus is mos verniet. Dit was ‘n swaar afskeid van Beeld maar te danke aan Maroela media is nuus weer beskikbaar op Internet. Die linkse onderskrifte van Beeld is ook weg en ek geniet Maroela media opinies e verslagewing.

Bruno Stef ·

Dit is tog so moeilik vir n slapsak aardsliberalis om enige voorstel wat buite sy verwysingsraamwerk val te kan debateer net soos n perd met oogklappe aan.Dit is n gelukkie dat daar nou deesdae beter inligting en kommunikasie onder gematigde mense versprei kan word om sodoende n sterk boodskap van Solidariteit te laat uitgaan en om die Politieke Korrektheid en blatante misleiding uit te wys.

Henry ·

My jitte tog!
Mag julle woordspietkop tog spoedig ontwaak en by die 21 ste eeu aansluit!!!

Johannes Meintjes ·

Dat daar ‘n nuwe koorsigheid op talle terreine deurskemer is inderdaad so, – maar dit gaan die daders van die woord, – met ruggraat, – wees wie die beste sal kan oorleef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.