Nuuskommentaar: Die spaarvarkie-verrassing en Tito se Rubicon

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Dis Oukersaand en die gesin is opgewonde om die Kersboom saamgetrek. Kersvader (die vader des huises) het pas die geskenke uitgedeel. En nou wag ’n gesinstradisie. Deur die loop van die jaar gooi pa en ma gereeld ’n geldjie in die spaarvarkie, en op Oukersaand word die varkie stukkend geslaan, en die inhoud onder die kroos verdeel sodat hulle vir hulself ietsie na eie smaak kan aanskaf.

Die hamer doen sy kapwerk en die spaarvarkie bars oop. Papiere fladder grond toe. Maar dan die verbystering – op elke stukkie papier staan “I owe you” geskryf. Nie ’n werklike sent het uit die varkie gekom nie.

Vanmiddag het die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, die onbenydenswaardige taak om die spaarvarkie oop te kap. Dit is wel nog net die sogenaamde mini-begroting, of midtermynbeoordeling van die ekonomie, maar dit kan kwalik meer voorkom dat die spaarvarkie op Oukersaand (met die werklike begroting aanstaande jaar, en die tot ’n effens mindere mate die staatsrede) iets anders in die spaarvarkie gaan kry as ’n vrag “I owe you”s.

In wese het die skynbaar onbekostigbare rekening vir ongeveer ’n dekade van Zuptakrasie nou opgedaag.

Min dinge demonstreer wat verkeerd gegaan het beter as die onlangse Macufe-onthaal van die burgemeester van die byna bankrot Mangaung (Bloemfontein en omgewing)-munisipaliteit. Terwyl diere in die dieretuin so swak behandel word dat klagtes van dieremishandeling by die polisie gelê is, en dienslewering in die stad groot dele daarvan gereeld in rioolriviere omskep, word onder meer kaviaar en peperduur drank aan die eregaste voorgesit.

Iets soortgelyks het voorheen ’n Franse koningin se kop laat rol. Maar hier, waar ’n politieke elite en hul maatjies skynbaar steeds ’n utopie beleef, word verskoning op verskoning uitgedink om nie die valbyl sy werk te laat doen nie (behalwe hier en daar, en dan nog dikwels herontplooi, soos Dudu Myeni van SAL-“faam” wat as voorsitter van Centlec – die einste Mangaung se elektrisiteitsverskaffingsentiteit – herontplooi is waar dinge nou ook volgens berigte beroerd gaan).

Die mini-begroting is dus nie net vir Mboweni ’n taai toets nie, maar ook vir pres. Cyril Ramaphosa wat pas weer beloof het dat inderdaad skoongemaak sal word. Benewens die vraag of hy oor genoeg politieke wil beskik om die regering van ’n groot deel van sy elite te stroop en aan die pen te laat ry, staan die vraag boonop ook of Ramaphosa oor die kapasiteit beskik om dié taak te verrig.

Vra maar regerings soos dié van die VSA en Italië – dis nie so maklik om die Mafia met wortel en tak uit te roei as dit eers gevestig is nie. Intussen kom nuwes in die VSA by – die Russiese, die Armeense, die Chinese – noem maar op.

In plaas van Kers-meevallers gaan baie belastingbetalers nou I owe you’s kry, en ongelukkig nie net diegene wat deur die jaar die spaarvarkie gereeld vir pizzas en ander luukshede (soos Lamborghini’s en helikopters) geplunder het nie. Meer nog, van hierdie onskuldige slagoffers gaan verwag word om te help betaal aan skuld by plekke waar die skuldiges aanhou koop het nadat die spaarvarkie leeg was.

Pres. Cyril Ramaphosa skud blad met die nuutaangestelde minister van finansies, Tito Mboweni. Foto: Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

In Suid-Afrika was daar lank ’n tradisie dat daar voor begrotings en mini-begrotings ’n stortvloed pessimisme was. Wanneer die begroting egter gelees word, “toor” die minister egter sienderoë en die saak lyk lank nie meer so bedroewend nie. Soms lyk aspekte selfs rooskleurig.

Soms is dit egter nie veel meer nie as ’n dobbelspel waar die minister hoop sake verbeter en dat die kwade dag nie net uitgestel kan word nie, maar dat die beter môre sal sorg dat die kwade dag nie aanbreek nie.

Maar dit vereis harde, slim werk. Die stropingsmentaliteit vernietig die vooruitsigte van beterskappe en die kwade dag klop naderhand hard aan die deur. Hy het ’n sak vol “I owe you’s” wat hy vir werklike geld wil inruil (saam met rente). As hy dan noodgedwonge nog “I owe you’s” as “sekuriteit” moet neem, neem die skuldlas nie net toe nie, maar die rentelas word al groter.

In 2015, met die Guptakrasie al in volle swang maar nog tot ’n groot mate van die publiek verdoesel, skryf Gerhard van Onselen en Piet le Roux, destyds van Solidariteit Navorsingsinstituut, profeties soos volg: “Mediumtermynvooruitskattings is dat die nasionale skuld met nagenoeg 31% sal toeneem, van R1,8 duisend miljard in 2014/15 tot R2,3 duisend miljard in 2017/18.

“Die beweging in die skuld-tot-BBP-verhouding van 31,6% in 2009/10 tot 46,2% in 2014/15 maak dat die staat se finansies allerlei waarskuwingsligte by internasionale kredietagentskappe laat flits. In dié artikel bekyk ons party van hierdie skuldsyfers en voer ons redes aan hoekom die situasie waarskynlik sal vererger.

“Suid-Afrika se bruto nasionale skuld toon oor die afgelope ses jaar ’n bestendige toename deur sedert 2008/09 met 19,2% per jaar te groei. Staatsbesteding het met 10,1% per jaar toegeneem, maar teen ’n groeikoers van 7,7% kon die staatsinkomste nie dié voorbeeld volg nie.”

(Die volledige verslag kan hier gelees word.)

Staatskuld word nou reeds geraam op R2 506 miljard vir die boekjaar 2017/18, maar dit kan in die komende drie jaar groei tot R3 250 miljard. Die probleem is dat dit nie so eenvoudig is om die werklike omvang van staatskuld te bepaal nie, omdat dit ook oor verskeie verborge elemente beskik. Die minister moet egter deeglik hiervan kennis neem.

Graderingsagentskappe neem immers deeglik hiervan kennis.

Met die groot begroting vroeër vanjaar is reeds 11% van die begroting toegewys om staatskuld te betaal. Daar word egter ’n begrotingstekort van ongeveer R50 miljard voorsien, en met die probleme by die Inkomstediens lyk dit onwaarskynlik of die uiteindelike werklike tekort veel kleiner sal kan wees.

Sommige ekonome voorspel dan ook dat Suid-Afrika se staatskuld, as persentasie van die BNP uitgedruk, oor tyd sal groei. In 1997 was die tekort 29%, maar teen 2017 het dit tot meer as 50% gestyg. Dit het reeds, volgens die Republikein van 27 Oktober 2017 sowat 60% van die BNP beloop. Volgens die projeksies sou dit na 15 jaar tot 93% van die BNP styg.

Mboweni, en saam met hom Ramaphosa, staan vandag voor die diepste en wydste Rubicon wat die land nog in die gesig gestaar het. Gaan die rivier met sy gevare en die opofferings wat dit vereis aangedurf word? Of gaan Mboweni en Ramaphosa toelaat dat die Zuptakrasie hulle oorweldig en soos die destydse Romeinse leër deur Hannibal en sy olifant-brigade in die Trasimeense meer gedryf word om man en muis te verdrink?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

humor ·

Te beoordeel aan die kommentare lyk dit my die spaarbussie is wragtig dol leeg. Ag wat kan n man dan se?

Rasper ·

Nie net is Tito en Cyril voor hulle Rubicon nie, maar ook SA. Ons gaan moet besin oor waar sien ons onsself en SA oor 5 jaar, 10 jaar en dan verder. Miskien moet ons eintlik besluit wat wil ons hê. Dan moet jy gaan sit en dink oor wie kry jou daar. Is dit Cyril, die DA of Afriforum? Net ‘n paar voorbeelde. Dan moet ‘n mens eerlik gaan wees en dink of daardie persoon/persone wel in staat is om dit reg te kry. As jy nou al besef dat hulle dit nie gaan regkry nie, hoekom dan enigsins jou hoop op dit sit? Eintlik kort daar ‘n nuwe KODESA. Maar nou gaan ons eers vuisslaan oor wie is nou die leiers om te praat by die KODESA. Bietjie baklei oor Ja/Nee stemme. Ons weet nie eers wat ons wil hê nie, hoe gaan ons dan ooit by ‘n KODESA kan onderhandel. Ons het nie in die 90’s geweet nie, en as ek na al die kommentare kyk, dan weet ons nou ook nie. Onthou net, as jy nie ‘n einddoel het nie, of weet waarvoor jy baklei nie, gaan oorlog ook nie werk nie.

Eish ·

Soos altyd, n uitstekende, feitelike en beredeneerde artikel uit dié skrywer se pen.
Dit is maar moeilik om positief te bly met sulke katastrofiese vernietigingwerk gepleeg die laaste kwarteeu. Ek dink eerlikwaar die gesamentlike politieke wil ontbreek by die meerderheidsregering om die bootjie van die dodelike rotse weg te stuur…
Te veel staatskapers bly in sirkulasie…
Ai, sou wat wou gee vir territoriale selfbeskikking…

Paul ·

Hoe dink ek nou aan Dolf Lundgren, wat ‘n groot man was, Schwartzenecker, kleiner, Stillone, en nog ‘n kleiner yster ysters soos Bruce Lee.

koos1 ·

Herman, daar is een groot fout met die stuk. ‘n “I own you” beteken dat ek jou skuld en dat ek van voorneme is om dit te betaal. Hier is al die geld weg en die notas moet lees “you own me”, want die velore geld moet deur die belasting betaler gedra word. Die wat die geld geneem het wil en gaan daai nie terug betaal nie.

Paul ·

En daar het ons nou die mini-begroting gehoor en die reaksies daarop. Die land is in die afgrond bestuur, en daar is geen, maar geen Rubicon oorgesteek nie.

Paul ·

Die voortekkers het die Visrivier, die Oranjerivier en die Vaalrivier oorgesteek

Paul ·

Dus was is die ‘Rubicon’ maar ‘n vulletjie, of hoe ouens? En natuurlik moes daar eers oor ‘n osiaan gevaar word om welfaart aan Afrika bekend te stel. Kom jul geskiedkundiges, help my uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.