Nuuskommentaar: Die spoke lóóp, maar Phiyega sít

Riah Phiyega

Riah Phiyega

Wêreldwyd, so lyk dit, is die spoke omtrènt aan die loop. Dit is veral die Amerikaanse National Security Agency (NSA) wat ander wêreldleiers en glo selfs die pous, langlippie het, maar ook ander Amerikaanse agentskappe was in die afgelope jaar in die sop oor onder meer die onderskepping van joernaliste se kommunikasie. Intussen blyk dit dat ander Westerse agentskappe lustig meegedoen het, en nou is die vinger selfs na die Russe gewys. Die Russe sou met die onlangse G-20-beraad wat in Rusland plaasgevind het, die agbare wêreldleiers elkeen ‘n spesiale geheuestokkie as aandenking persent gegee. Daai stokkies, so word beweer, was met ‘n ietsie gelaai wat die data lustig uit die slagoffers se rekenaars na die Russe laat vloei het. Die Russe ontken verwoed dat dié stokkies getoor was.

Die spoke loop inderdaad. Maar Riah Phiyega, onder wie ook Misdaadintelligensie val en dus self ‘n “spookmeester” is, loop nie. Sy sit terwyl die openbare aandrang oplaai dat sy moet loop.

Presies wat het Misdaadintelligensie geadviseer oor gister se plundertog in Kaapstad oor ‘n “diensleweringbetoging”? Het dié spook die pot misgesit oor wat gaan gebeur, of wou die (polisie)-ore wat moes hoor nie hoor nie omdat dit deel van die strategie uitmaak om die Wes-Kaap onregeerbaar te maak?

Of is die Wes-Kaap  gestraf omdat dié provinsie die minister in die grondwetlike hof oor ‘n kommissie van ondersoek afgeransel het? As in ag geneem word dat een van die definisies van sedisie optrede behels wat opstand teen die gesag van die regering aanblaas, dan sou so ‘n moedswillige ondermyning van die Wes-Kaapse regeringsgesag – immers deel van die land se regering – gevaarlik na-aan sedisie draai. So ‘n gedagte moet dus eers tot werklike bewyse gekry is op die rak gepak word.

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte het in sy reaksie op die Kaapstad-gebeure nie so ver gegaan om die aanhitsing en plundering sedisie te noem nie, maar dring nogtans aan dat dit naas veroordeling, ook tot vervolging moet lei. Dit is dus ‘n misdaad.

Die Sentrum is onder meer ontstoke oor ‘n aanhaling vroeër die week van die organiseerder, raadslid Loyiso Nkhola, in die Daily Sun, wat soos volg lui: “You will not have to go hungry because there are so many places that you can loot in the CBD. The police can’t arrest us all because there will be too many of us“…”squatters will go to Cape Town and loot if Zille does not receive the memorandum. People who feel they don’t want to be a part of this should stay at home. We are not scared.

Het misdaadintelligensie nie hierdie koerant gelees nie?

Selfs iemand met die geringste ervaring van intelligensiewerk sal weet dat die spoke besonder talentvol moes wees om hier die bal mis te gevang het.

En tog lyk dit of hierdie instelling, wat volgens verskeie analiste “duidelik disfunksioneel” is, al ‘n hele rits liederlike aanslane begaan het, met Marikana ‘n goeie beginpunt en Sasolburg se verwoestende plunderorgie, en Bekkersdal se onluste om maar net ‘n paar te noem.

En presies wat adviseer die Misdaadintelligensiespoke oor plaasaanvalle en plaasmoorde dat die minister so koppig is om hierdie statistiese uitskieter tot prioriteitsmisdaad te verklaar?

Dit is nie net die Kaapse winkeliers en straatsmouse wat skade gely het nie. Die hele land het, want die geweldsorgie het skaars begin toe dra die oorsese media dit in erg afkeurende taal – die plundering, die intimidasie, aanranding tot die inspan van die “welriekende” Wes-Kaapse vloerpolitoer. Nie juis die beeld wat beleggers inspireer om in Suid-Afrika te kom toustaan met investering nie.

Intelligensiedienste wêreldwyd is gewoonlik nie baie gewild by hul regerings nie, omdat hulle veronderstel is om die regerende politici met die waarheid toe te rus, en nie met wat die politici graag wil hoor nie. En die politici soek dit gewoonlik net niks. Maar tog word intelligensiedienste se taak so belangrik geag dat dit dikwels regstreeks onder die politieke toesig van die regeringshoof, en nie ‘n ander minister val nie. So is die wêreld ook vir Obama, en nie ‘n minister nie, kwaad oor die land se spioenasiesake.

Dit is nie net oor Phiyega se hantering van die spoke wat haar kop op die blok is nie, en ook nie oor die jongste storm wat nou deur die Onafhanklike Klagtesdirektoraat ondersoek word nie.

Van sy in die pos saamgestel is het sy nie oortuig nie. Min mense twyfel dat sy die pos met die beste van voornemens opgeneem het. Heelwat mense glo ook dat sy, gegewe die reputasie waarmee sy uit die privaat sektor gekom het, oor die vermoë beskik om die werk goed te kan doen.

Maar wat het verkeerd geloop, en bly verkeerd loop?

Dit lyk gewoon of sy naïef was oor die skade wat jarelange kaderontplooiing veroorsaak het. Sy het dus in beginsel die “regte” ding gedoen om as nuutjie haar deur die senior offisiere te laat lei. Op die veronderstelling dat hulle knap en onkreukbaar was.

Maar moes sy nie teen hierdie tyd agtergekom het sy word telkemale met yslike donkie-ore toegerus nie? Dit is hierdie voortgesette voortploetering wat die bedenkinge laat oplaai.

Ongelukkig is daar ook aanduidings dat sy haar deur politieke druk op dwaalspore laat lei. Haar hantering van die Richard Mdluli-saak – waar alles skynbaar in die stryd gewerp word om te keer dat hy sy dag in die hof kry om sy onskuld te kan bewys – dra die kentekens van politieke druk van bo af.

Eers wanneer Phiyega haar topstruktuur so herrangskik het dat sy deur die beste kundiges geadviseer word – wat misdaadintelligensie insluit – en sy leer om die rug styf te maak vir politiekery van bo-af, sal sy ‘n kans staan om te bewys dat sy die werk kan doen.

En sy moet wikkel hiermee, want die huidige geploeter rig enorme skade aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.