Nuuskommentaar: Die Stem en dooie varke – die gevaar van veralgemening

Argieffoto

Argieffoto

Die “spul regses” is onbeskof en kan boonop nie in Afrikaans spel of selfs behoorlike sinskonstruksies aanmekaar timmer nie. “Die linkses” is van die werklikheid verwyder, leef in ivoortorings, is naïef. Swart mense kan nie boer nie, of gee nie vir hul diere om nie.

Twee insidente het hierdie soort stellings pas weer veral in die kuberruim laat ontplof. Steve Hofmeyr het “op die ingewing van die oomblik” besluit om Die Stem by die Inniebosfees te sing, en die voorsitter van die Nasionale Vergadering se plaas was die toneel “van die ergste geval van diereverwaarlosing in twintig jaar”.

Die kuber-gifpenne, en hier en daar ook in ‘n koerant, is in oordaad ingespan.

Gevalle van veralgemenings – of soos die akademici daarna verwys, stereotipering – kom in enige plek ter wêreld voor.

Die twee Suid-Afrikaanse gevalle het egter teen die agtergrond van ‘n oploop plaasgevind. Hofmeyr skroom nie daarvan weg om sy mond oor aktuele sake uit te spoel nie; as hoogs intelligente meningsvormer is hy nie danig gepla oor “politieke korrektheid” nie. En oor politieke korrektheid het die vlymskerp politieke kommentator, Rhoda Kadalie al geskryf dat dit die diktatuur van die liberalis verteenwoordig. Sy optrede druis gereeld in teen die konvensies wat binne ‘n sekere ideologiese dampkring gevorm word, en dan as die “regte” aangebied word.

Die onthullings rondom Thandi Modise val saam met opbouende spanning oor ‘n vyftig persent grondgryp om grondhervorming ‘n groot hupstoot te gee. Hoekom onteiening nodig is terwyl sowat 13 800 plase wat te koop is, op Landbou.com alleen gelys is, bly ‘n misterie. Die syfer wat gereeld gebruik word, is dat 90 persent van alle grondhervormingsprojekte misluk.

En toe kom die ondenkbare wrede onthullings oor Modise se plaas, wat boonop gestook is deur flou verskonings. Skielik word weer onthou wat pres. Jacob Zuma, vars van sy herverkiesing as president van die ANC, gesê het oor wit mense en hul honde, en die media wêreldwyd laat sidder het.

Die resep vir stereotipering… en polarisasie.

Die grootste gevaar is dat die emosies so teen mekaar ingespan kan word, dat die kern van die probleem misgekyk word; daar is ‘n gevoel van vervreemding by baie, en daardie gevoel van vervreemding hét ‘n oorsaak.

Pas het Solidariteit die kommuniksiereus Telkom die stryd aangesê omdat Telkom volgens binnebronne beplan om hoofsaaklik blanke werknemers in ‘n herstruktreringsproses die trekpas te gee. Solidariteit wys daarop dat die blankes in die huidige politieke en ekonomiese klimaat baie moeilik weer werk gaan vind. Telkom ontken dit.

Baie van die veralgemenings is geanker in oorweldigende persepsies.
– Blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Opnames toon dat dit deur sowat 85 persent swart mense, ook die intellektuele, geglo word. Hierteenoor beskryf die ad hoc-komitee oor eiendomsreg dié siening as ‘n groot leuen.
– Die regering is korrup. Ongelukkig boesem die regering se hantering van kwessies soos Nkandla en die NVG nie vertroue in nie, en het Suid-Afrika sedert Zuma president geword het, flink op die korrupsiepersepsieindeks agteruitgeboer, en is sy vertoning op die omkoopindeks nog veel, veel swakker.
– Swart mense is wreed teenoor diere. Ongelukkig help beelde van tradisionele, seremoniële slagtings nie juis om hierdie persepsie te verander nie.
– Boere mishandel hul plaaswerkers. Talle ondersoeke is al gedoen, wat dadels opgelewer het. Ongelukkig, soos in enige beroep, is daar ook vrot appels wat hierdie persepsies bly voed.

En so kan aangegaan word.

Die “vars bries” oor die jongste twee voorvalle is dat die kuberstryd nie soos dikwels hoofsaaklik wit teenoor swart, of swart teenoor wit opstel nie. Modise word ook vanuit swart geledere erg gelooi.

Die kuberstryd oor Hofmeyr vind grootliks tussen Afrikaners van uiteenlopende ideologieë of bloot vlakke van keelvolheid plaas. Trouens, daar is stewige elemente van negrofilisme te bemerk – “liberale” blankes wat “namens” swart mense besluit hoe die swart mense daaroor moet voel, en aan swart mense dan voorskryf dat hulle erg aanstoot moet neem. Van die gebruiklike liberale oproep dat die vryheid van uitdrukking oppermagtig en kenmerkend van ‘n ware demokrasie moet wees, soos dat Malema toegelaat moes wees om sy haatspraakliedjies te sing, is daar skielik nie veel van ‘n spoor nie.

Dit is egter ook so dat baie van diegene wat hul kuberpenne in gal doop oor ander wat Steve kritiseer, Afrikaans en die Afrikaner in hul styl geen guns bewys nie. Van hierdie aanvalle is smerig, en getuig van die uiterste kômmin zefgeit. En ‘n groot gros se spêling is firskriklik frot. Wat ‘n bekende en gewilde Afrikaanse skrywer laat opmerk het dat dit lyk of “die spul regses nie kan spel nie”. En ‘n hele klomp “likes” daarvoor op sy bakkiesblad gekry het.

Tog is baie van diegene wat vir Steve in die bres tree nie regs nie, en selfs volgens hul eie aansprake liberaal.

Wêreldwyd word na maniere gesoek om ten beste met diversiteit om te gaan. Tydens ‘n onlangse kongres wat deur verskeie instansies in die Europese Parlement gehou is, het ‘n dokument die lig gesien wat ook nuwe modelle identifiseer met staatkundige implikasies. Van hulle is pogings om selfs te verbeter op modelle wat veral in Europa reeds goed werk – in elk geval opsigtelik baie beter as in Suid-Afrika.

As Suid-Afrikaners – links of regs – onbuigsaam in hul houding is asof hulle reeds oor die volmaakte kennis beskik om ‘n droomland te vorm, gaan almal kort voor lank in loopgrawe sit.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Demokraat ·

Prikkelende stuk Herman Toerien – van sowel regs as van links. Maar wat is die middeweg – kan iemand sê.

Ant ·

Herman, ek stem saam ons kan definitief uitstyg bo die smerige opmerkings. Die ondertoon is nietemin dat mense ongelukkig is en dat enkele gebeurtenisse, soos die sing van die stem, Afrikaners weer laat terug verlang na wat ons gehad het. Die punt is dat ons nie gelukkig is nie, en dat ons tans net die “game” speel wat die huidige regering wil he ons moet speel.

Ons sal dinge anders moet benader, en uitkyk vir mense wat soos ons voel en soos ons wil leef, en sorg dat ons plek maak vir mekaar. Die maklikste manier om dit te doen is om saam te groepeer en ‘n paar doelwitte te kry om na te streef, soos 1. sekuriteit en veilige lewens omstandighede, 2. skole en universiteite waar daar geleenthede is vir ons kinders, 3. gun ander wat soos jy voel die son en besluit om minder te stry en meer saam te werk.

Deon Rademeyer ·

En wat het die hele twee meter lange gebabbel nou eintlik gese??? Net mooi [email protected]#l wat nie al reeds gese is nie. Witmense moet meer gee wat hulle nie het nie, en swartes moet meer neem wat hulle nie toekom nie. En die sing van Die Stem is meer verkeerd as die duisende martelmoorde op blankes.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.