Nuuskommentaar: Die stempatrone bekyk

(Foto: Maroela Media)

Baie vrae oor hoekom kiesers gestem het soos hulle wel hul kruisies getrek het, gaan nie gou met oortuiging beantwoord kan word nie.

Feit bly dat sommige partye beter gevaar het, en ander swakker, as in die verlede. Maar nie net die politieke partye sal vrae moet beantwoord nie – die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal ook moet pa staan vir ’n horde probleme, wat die OVK ná jare lange kleitrappery steeds hardkoppig weier om as werklike probleme te erken.

Die mees pikante aspek was stellig dat die taak om die verkiesing vry en regverdig te verklaar aan die OVK self opgedra is. Dit herinner aan ’n hipotetiese geval waar ’n leerder wat pas matriek geskryf het, self sy of haar vraestelle moet nasien en punte toeken.

Nie vreeslik geloofwaardig nie.

Die ouditstelsel waarop uiteindelik geskik is om ’n hofsaak deur verskeie kleiner partye te voorkom, naamlik dat Statistieke SA dit op ’n beperkte skaal gaan behartig, boesem nie die vertroue in wat ’n mens graag sou wou sien nie.

Hoewel waarskynlik die mees onbeduidende van die probleme wat voorgekom het, naamlik dat ’n onbekende aantal kiesers weens gebreke twee, of moontlik selfs meer kere kon stem, is dit die probleem wat die meeste aan die groot klok gehang word. Stemlokale wat laat, en selfs glad nie geopen het nie, spesiale stembriewe waarop die OVK se amptelike stempel nie aangebring is nie, stembriewe wat in sleutelgebiede opgeraak het en die eendeweer wat in ’n groot deel van die land voorgekom het, het almal waarskynlik ’n groter rol as die dubbelstemmery afgegee.

Van die kleiner partye se klagtes dat hulle minder stemme gekry het as die getal vrywilligers wat vir die partye gewerk het, plaas ook bedenkinge oor hoe suiwer die proses verloop het.

Hoewel dié soort probleme met vorige verkiesings ook voorgekom het, het verskeie mediaberigte gemeld dat die probleme vanjaar meer as tevore was. Hulle vind dit vreemd dat dit 25 jaar geneem het om die brouwerk dié omvang te laat aanneem, terwyl ’n mens eintlik sou verwag dat dit andersom sou verloop het.

Ace Magashule (Foto: Itumeleng English/ANA)

Hoekom het sommige partye swakker gevaar? 

Hoekom het verskeie partye, soos die ANC, die DA en Cope, swakker gevaar as in die verlede?

Die ANC se probleme is goed bekend. Die slegte nuus wat daagliks, en tot vlak voor die verkiesing, voor die Zondo-kommissie van ondersoek aan die lig gekom het, sou noodwendig ’n negatiewe uitwerking op die ANC se steunvlakke hê. Die verdeeldheid in die ANC het egter ook in sekere sin voorkom dat die ANC nog groter skade ly.

Die faksie wat vir die meeste slegte nuus verantwoordelik was se lojaliteit aan oudpres. Jacob Zuma en sy kornuite, soos Ace Magashule, het ’n lojaliteit-vasskop soos min beleef, en die negatiewe feite wat aan die lig gekom het, het minder hond-haaraf beleef as wat “in enige normale demokrasie” verwag sou word.

Dit lyk, soos sommige kommentators dit stel, asof Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president die ANC in groot mate “gered” het.

Die DA het in weerwil van ’n enorme verkiesingsveldtog sowat ’n half miljoen minder stemme as voorheen getrek. Van die redes, soos sommige kiesers meen die afskeep van Afrikaans, is al wyd bespreek. Die optrede van jeugleiers het ook al heelwat skade berokken, soos ’n DA-jeugleier wat ’n voorbok was in die stryd om van Afrikaans op Tuks ontslae te raak. Nog een se skade oor die Schweizer-Reneke-geval het ook ’n duidelike litteken gelaat.

Teen die einde van die verkiesingsveldtog het die DA, veral by monde van dr. Annelie Lotriet, sterk vir Afrikaans opgekom. In ’n debat oor die kwessie tussen Lotriet en dr. Corné Mulder van die VF Plus op Maroela Media, het Mulder herhaaldelik daarop gewys dat Lotriet wel baie vir Afrikaans doen, maar dat sy krediet daarvoor onverdiend op die DA se brood wou smeer.

Uiteindelik het die DA duur betaal vir die gebruik om wesenlik uitsluitlik Engels in mediaverklarings op nasionale vlak te gebruik. Afgesien daarvan dat dit as ’n gesindheidsprobleem vertolk kon word, het die DA homself op ’n reuseskaal ten opsigte van Afrikaans gesensor. Dis asof die DA nie wou raaksien dat daar ’n groot opkoms van die gemeenskapsnuusdienste was nie – dit wil sê radiostasies en koerante met te min personeel om tyd aan vertalings af te staan. Rofweg was so ’n miljoen luisteraars en lesers per belangrike mediaverklaring van hierdie verklarings afgesluit. Oor vyf jaar se kumulatiewe “selfsensor” sou dit ’n enorme kumulatiewe uitwerking hê.

(Argieffoto)

Op die gevaar af om soos die OVK sy eie stert te prys, kan die invloed van die opkoms van Maroela Media waarskynlik ook nie misgekyk word nie. Maroela Media was duidelik nie op politieke uitsluiting ingestel nie, en partye soos die Vryheidsfront Plus kon op die oog af regverdiger as voorheen om die harte en verstand van lesers meeding.

Dit beteken nie die Patricia de Lille-kwessie sou nie ook bygedra het nie. Die siedende aanvalle op mev. Helen Zille oor die koloniale twiets deur die leier, Mmusi Maimane, het baie Afrikaanssprekendes ontuis in die DA laat voel.

Wat het met Cope skeefgeloop? Dié party het al sy provinsiale setels verloor en keer met net twee verteenwoordigers na die parlement terug. Die afwesigheid in provinsiale wetgewers is ’n enorme verlies, want die party verbeur nou heelwat fondse en logistieke vermoëns wat dit op staatskoste geniet het. Blootstelling word ook verminder.

Veral swart kommentators meen die kwessie oor grondonteiening sonder vergoeding het Cope by swart kiesers geknou. Cope het waarskynlik ook die bereikbaarheid van wit kiesers oorskat, soos die Front Nasionaal (FN) wat sy ondersteuners aangemoedig het om op nasionale vlak vir die FN te stem, en op provinsiale vlak vir Cope. Selfs al het FN-ondersteuners gehoor gegee, was daar eenvoudig te min FN-ondersteuners om ’n duik op stemme vir Cope op provinsiale vlak te beteken.

Hoekom het partye gegroei? 

Moet die oog op die African Transformation Movement (ATM) gehou word, of gaan dit sy opkoms uit die bloute kan volhou? Dit is so ’n uitskieter dat heelwat water nog in die see moet loop voor enige mening met gesag geopper sal kan word.

Luister ’n mens na die verwysingsraamwerk van joernaliste, radio-omroepers en selfs sekere ontleders wanneer hulle mediavrae aan leiers van die Vryheidsfront Plus vra, is dit ontstellend duidelik hoe verkeerd baie van hulle se persepsies is oor wat die VF Plus in werklikheid is. Hul indruk is min of meer dat die VF Plus ’n baie regse, rasgebaseerde party is. Dit, terwyl die VF Plus sedert sy ontstaan oor ’n uitmuntende mediavermoë beskik wat die meeste, indien nie al nie, politieke partye stof in die oë skop. Dit is ’n soortgelyke lot as waaraan AfriForum en Solidariteit onderworpe is.

Wat het nou verander, terwyl ’n groot deel van die media steeds diepgewortelde wanopvattings van die VF Plus koester?

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, en Peter Marais, die party se topkandidaat in die Wes-Kaap vir die eersdaagse verkiesing. Foto: Verskaf

Dit, terwyl die VF Plus steeds uitstekende mediawerk gelewer het, en weens die volwaardige gebruik van Afrikaans ’n stewige voet in die deur kon verwerf by die groeiende gemeenskapsmedia – dit terwyl die DA in sy nasionale mediapoging wesenlik met Afrikaans weggedoen het.

Daar is nog nie genoegsame data beskikbaar oor in hoe ’n mate die aanwys van Peter Marais as Wes-Kaapse premierskandidaat vir die VF Plus bykomende bruin stemme beteken het nie. Uit leserskommentare wil dit voorkom asof Marais se aanwysing die VF Plus ook stemme kon gekos het – nie soseer oor die rassekwessie nie, maar weens Marais se kleurryke rondvallery tussen politieke partye.

Hoe minder oor die EFF gesê word, hoe beter vir ’n mens se gesondheid. Komende hofsake, en moontlike hofsake, kan ’n wesenlike rol speel in hoe die party vorentoe gaan vaar.

Die kleiner as verwagte groei beteken ook dat die opsie van samesmelting van die EFF en die ANC nie so onwaarskynlik is soos wat dit tot onlangs nog was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Elna ·

Daar was n kinkel in die kabel dis hoekom. Korrupsie gekonkel oneerlikheid en onregverdigheid. Dis die antwoord.

Andreas ·

Raakgevat Herman. Let wel, ‘n ‘Nuwe Groot Trek’ het vir die Afrikaner begin, weg van die DA af, ook by van die ander partye, hulle hoort nie daar nie, die VF Plus het sy steun meer as verdubbel, hierdie was nou maar net die begin, terugkyk is daar nie, die DA en daardie ander partye gaan nog baie van die Afrikaner-stem met die volgende verkiesing verloor.

Mag ek sê, “Die hart pomp tjoklits?”

Jimmy ·

Die VF+ gaan voor die volgende verkiesing skeur. Wanneer dit by politiek en kerk kom is daar altyd struweling tussen Afrikaners.

Albert ·

Jimmy ek dink nie dit sal gebeur nie VF+ is nie FN wat wittes belieg nie

Gerrit ·

Die DA wou mos die onskuldige juffrou op sweizer veroordeel voor die feite uit is. Dieselfde speel nou af op mooinooi waar n kind in n ander kind se badkamer ingestuur was om haat teen ons aan te blaas.

Wit Willem ·

Ek moet erken ek kry schadenfreude oor die DA se arrogansie en knak wat hulle gevat het.

Dis ñ werklike jammerte oor Cope.
Miskien kan die VF+ hand uitreik na hulle en saamsmelt. Lekota se posisie oor grond en BEE is in lyn met die VF+ s’n.

Gemsbok ·

Dit is kommerwekkend dat die ANC en EFF saam ‘n tweederde meerderheid in die nasionale vergadering geniet wat vir hul vrypas gee om hul beoogde kommunistiese beleide soos nasionalisering van grond, banke en pensioenfondse te implementeer.

Kommer ·

Dis hoekom die VF plus nou volle aandag aan selfregering moet gee anders verloor ons als. Ons moet nou almal saamstaan daarvoor.

Andreas ·

Dink jy nie die twee partye, afsonderlik, het nou beter gevaar, soos jy nou die twee hier saamtel nie, as wat hulle sou gevaar het as die EFF terug na die ANC toe was nie? Heelwat EFF sou daarmee ontevrede wees, en moenie vergeet nie, daar is mos nou heelparty wat nie in die parlement sou sit nie. Geld het die somme gemaak, werk geskep. Die bonus vir die ANC sou wees dat die naam EFF nie meer in hoofopskrifte gesien word nie. O Ja en dan wil Cyril sy kabinet afskaal.

Op laaste minuut opkom so tipies ·

Die DA wat net net so voor die verkiesing probeer maak asof hulle opkom vir Afrikaans is so tipies hulle agterstyl. Ons val nie weer daarvoor nie.

Andreas ·

Ek het idee Dr Annelie Lotriet moet oorgaan na die VF+ toe.

Attie ·

Gaan na hul Facebook-blad…post-verkiesing en als alweer net in Engels. Jy moet ook lank soek om ‘n blanke man op enige van hul foto’s te vind. Dit is genoeg om my totaal van hul te vervreem.

Daniel Lötter ·

Waar op dees aarde kom meneer Toerien daaraan dat Front Nasionaal op enige tydstip ons lede aangemoedig het om op provinsiale vlak vir Cope, of enige ander politieke party, te stem?
Dis ‘n infame leuen.
Ons het deurgaans gesê ons beïnvloed niemand en laat daardie besluit aan elke kieser se gesonde oordeel oor.
Neewat, Maroela se meningskrywers moet asseblief nou nie dieselfde pad as die hoofstrrom media begin volg om al wat twak is oor FN uit die duim te suig om hulle narratief te pas nie.
Daniel Lötter
Front Nasionaal SA

Werner ·

Dankie vir die goeie uitleg. Die DA se laasteminuut poging om Afrikaners te probeer paai herinner aan hulle vorige veldtog om net so voor die verkiesing ons te probeer oortuig dat klein partye niks beteken nie. Dis laag.

Henry ·

Interessante/goeie waardering van die verkiesing en uitslae mnr Toerien.

Ek dink dat mnr Lekota ernstige oorweging moet skenk aan die moontlikheid om by die VF+ aan te sluit. Dit kan ook tot groot voordeel van die VF+ wees om verdere geloofwaardigheid te verleen as ‘n party met suiwere konserwatiewe prioriteite, ipv die albatros wat verkeerdelik as ‘n negeerbare sg regse party, deur die vyand om die nek gehang word.

Daar kan ook groot voordele vir mnr Lekota en anderskleurige konserwatiewe groeperinge soos Inkatha en andere wees. Trouens dit kan ‘n nuwe begin na nog groter geleenthede vir ons sg konserwatiewes inlui. Konserwatiewe strop wat veel eerder as ‘n realistiese/pragmatiese werklikheid beskryf behoort te word.

Die huidige DA poging om homself as ‘n ANC lite aan te bied, het duidelik geen hoop op sukses nie.

Therese van Schalkwyk ·

Stem absoluut saam met jou idees oor koalisies, Henry!
Hoop hierdie is ‘n nuwe begin vir die VF Plus sedert 1994.
Plus, plus, plus tot hulle mense kort om al die setels vol te maak! :-)

Dr. Groenewald en sy Gideonsbende sal vinnig-vinnig dik velle moet kweek.
Op Politicsweb skryf William Saunderson-Meyer alreeds:
“the FF+ is now scrambling to position itself, implausibly, as a non-racial party”.
Kan jy nou meer! Dít terwyl die party lánkal inklusief is.

Vintcent ·

Die VF+ het ‘n behoorlik manifes en spreek die waardes van soveel Suid-Afrikaners aan. Die feit dat sekere media en linksgesindes hul as n “wit” party probeer skilder, is verder bog. Die DA se leier en hul selektiewe optredes en uitsprake, het hul vervreem van verskeie kiesers wat uiteindelik deur hul opportunisme gesien het. Die grootste bekommernis is egter die stiksieniges wat steeds die ANC ondersteun. Hierdié mense is nie bereid om deel te neem aan nasiebou nie, nog minder die bloeddorstige EFF met hul hiper-rassistiese aanslag.

John ·

Die kleiner nuwe partye hoe vreemd ookal het rede om ongelukkig te voel. De Lille se nuwe party is voorgetrek tov mediadekking want dit het die ANC in Kaapland gepas. Kyk waar trek sy nou. Die VFPlus speel ‘n sluwe spel en dit gaan gou in ‘n dwarrel verdwyn. Groenewald staan hand om die hart met ‘n ou rakker al la De Lille wat groot verdriet gaan bring. Die VFPlus wil rasse-integrasie gebruik om te groei. Ons dog die DA wil ook reg doen en alle rasse insluit… so ook Good en… en. Wat gaan VFPlus anders doen? Sweet blow all.

Hansie Slim ·

Die ANC en EFF sal seker nou saam in koalisie gaan. 68 persent meerderheid. Verander die grondwet. Malema sal seker nou Minister van Landbou word. Grondonteiening sonder vergoeding sal nou teen die spoed van wit lig geïmplementeer word. End of story.

Dries du Toit ·

Herman weer n uitstekende insiggewende artikel van jou. Baie dankie

Annie Webb ·

Ek is ‘n stoere DA-ondersteuner in die Kaap en baie bly die DA bly in die Kaap regeer. Maar die groot groei in die VF+ kan nie geïgnoreer word nie en ek gaan myself vir seker instudeer in die redes daarvoor. Hiermee dus hartlik geluk aan die VF+-ondersteuners hier op Maroela! Ek sukkel om te erken dat daar dalk nié ‘n goue middeweg in ons land is nie, maar dit lyk ál meer of dit die werklikheid is. En kwaliteit was darem nog altyd belangriker as kwantiteit!

Andreas ·

Mmmm, reg so, jy het verseker gesien wat ek en ander kommentators onderaan jou kommentare elders geskryf het. Die groei na die VF+ kan nie gestop word nie, die vonk is aangesteek, die Nuwe Groot Trek na waar die Afrikaner tuis hoort, het klaar begin. Solidariteit, sy vertakkinge en ander belangegroepe gaan hieruit voordeel trek, dit vir die Afrikaner en Afrikaanssprekende se toekoms.

Cherokee ·

Verrassend om kommentaar van jou te lees waar jy ‘n hand van vrede en selfs insig uitsteek na die VF+, Annie. Jou skrywe lees lekker. Wens jy kon die laaste sin in vetgedrukte letters doen. Soos jy in jou voorlaaste sin sê, lokale (SA) politiek sal altyd uiterste teenpole wees.

Bekommernis ·

Die DA het ook maar net net daar gewen, die kommunistiese partye raak al groter soos almeer mense by julle instroom. Julle het rede tot kommer. Dit wat hier bo gebeur is maar net n paar jaar voor en dit kom na julle ook.

riaan ·

@ Annie Webb
Baie dankie dat jy groot genoeg is om te se wat jy se. Hier is ‘n paar ander stoere DA ondersteuners wat ons die heeltyd as rasiste of regses uitgekryt het, wat skielik baie stil is?

Net ‘n vriendelike waarskuwing: Soos die DA tans aangaan in veraf Pretoria, verloor hulle beheer in die volgende verkiesing. Ek dink nie die DA het leiers nie en dit reflekteer in mense soos Msimanga, wat NIKS in Pretoria gedoen het nie en tou vinnig gevlug het om Premier te probeer word. Stevens Mokgalapa vaar nie veel beter nie en gaan nie die mas opkom nie!

Glasoog ·

Lyk nie of mense weet wat staatskaping , korrupsie, geen dienslewering, werkloosheid, beurtkrag, ens. is nie! Hulle stem dan daarvoor! Gedink hulle sou by die tyd al agtergekom het JY KRY WAARVOOR JY STEM!

Stompie van As ·

Die ANC en EFF het voor die verkiesing ook saam 68 persent gehad.

GB ·

John, daar is groot verskille tussen die DA en VF. As die DA praat van alle rasse insluit dan bedoel hulle daarmee die skep van n vaal, kultuurlose, engelstalige massa. Wanneer kommentators soos hierbo voorstel dat die VF die hand behoort uit te steek na Cope en dalk ook die IVP dan is dit om verskillende minderheisgroepe rondom gedeelde kwessies saam te kry, maar dan met dien verstande dat elke groep se eie kultuur en taal daardeur versterk kan word.

Dit is myns insiens die enigste opsie vir SA, n tipe federale stelsel waarin verskille tussen groepe erken en gekoester word met elke groep verteenwoordig deur sy leiers in die parlement. Die “een SA, een nasie” idee is louter onsin en sal nooit werk nie.

Ek vat eerder hande met n Zoeloe wat trots is op sy Zoeloe identiteit as met n Afrikaner wat skaam is vir sy taal en geskiedenis.

Frans C ·

Al wat gebeur het is ‘n stemverskuiwing van die swart en wit/kleur stem.

‘n Groot aantal kiesers het die EFF wegbreekparty van die ANC bo die ANC verkies.
Die EFF is net meer radikaal as die ANC-tog bly beide steeds na die Ideale vervat in die Vryheidmanifes verwys.Die President kon homself in sy oorwinningstoespraak hom self ook nie daarvan losmaak nie.

Blanke kiesers het weggebreek van die DA na die VF+ tesame met ‘n groep bruin stem.wat ook na die Good party oorgeloop het.

Die sg bevrydingsorganisasies is nou gesamentlik sterker as ooit te vore.Die EFF gaan die ANC nou net meer onderdruk plaas om veral sy ‘onteiening sonder vergoeding’beleid uit te voer.

Onthou die ANC het nog steeds ‘n volslae meerderheid van 231 uit 400 oor enige
oposisieparty en al staan al 169 saam sal hul nog steeds enige stemming verloor.

Lia ·

Vreemd, dat die media graag na VF Plus as ‘n wit party verwys, maar nie na die EFF of ANC of ander partye, as swart gebasseerde partye nie, wat hul wel is.

Johann M van Heerden ·

Sit ALLES vreesloos op julle blad anders verloor julle geloofwaardigheid

Tante ·

People return to their roots . Dit is hoekom VF+ IFP beter gedoen het

Albert ·

Ek dink nie dit sal gebeur Jimmy, dat VF+ gaan opbreek nie, hulle is nie FN wat wittes belieg het nie.

Jimmy ·

Albert, wanneer dit by politiek en kerk kom is daar altyd ‘n skeuring. Dit is in die Afrikaner se DNA. Dit het in die verlede gebeur en dit sal weer gebeur. Afrikaners sal altyd hardkoppig bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.