Nuuskommentaar: Die stille dood van liberalisme

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

In 2015 het Europa verdeeld gestaan oor die migrantekrisis wat hulle binnekort in die gesig sou staar. Angela Merkel, premier van Duitsland, wou die grense van Duitsland – en sodoende van die ganse Europa – vir meer as een miljoen migrante open. Die migrante is hoofsaaklik Moslems wat deur die Siriese Burgeroorlog en die Arabiese Lente verplaas is. Duitsland en Frankryk het destyds ʼn beroep op ander lande gedoen om hulle porsie migrante ook te verwelkom.

Nou beleef Europa die grootste migrantekrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog. Hoewel die aanvanklike gedagte was om asiel vir vlugtelinge te gee, het mense uiteindelik die oop grense as ʼn geleentheid beskou om Europese burgers te word – of hulle nou werklik vlugtelinge was of nie.

Hierdie grense is oopgestel onder die vaandel van liberalisme. Kultuur, herkoms, nasionaliteit en burgerskap maak nie werklik vir liberalisme saak nie, omdat almal eintlik liberale burgers van die wêreld is. Gemeenskappe, groepe, grense en geskiedenis maak ook nie eintlik saak nie – alle individue staan verwyder van die konteks van tyd, plek en kultuur. Daarom moet alle mense as ongebonde, enersdenkende individue gehanteer word. Geen voorsiening hoef vir groepe, kultuur of geskiedenis gemaak te word nie.

Die Europese Unie (EU) soos wat dit tans is en die Europese projek is albei koorsdrome van liberalisme. Die EU beoog om een oorkoepelende, homogene kultuur daar te stel waaronder almal in Europa verenig is. Liberalisme glo dat Duitsers, Franse, Belge en Nederlanders mos eintlik maar almal dieselfde is.

Afrika-vlugtelinge wat hoop om Europa te bereik gebruik meestal Libië se weskus as hoofvertrekpunt. Dié boot vol ontwaterde migrante, afgeneem deur ʼn patryspoort van ʼn skip, is op 30 Junie 2019 deur ʼn Spaanse hulpverleningsgroep gered waar dit naby die Lampedusa-eiland geseil het. (Foto: AP Photo/Olmo Calvo)

Met die val van die Sowjetunie was die Weste oortuig dat lande oor die wêreld liberalisme met oop arms sou aangryp. Liberalisme is volgens hulle die enigste logiese wêreldbeskouing – enigiemand wat die geleentheid het, sal dit daarom aangryp. Sodoende sal ons almal uiteindelik liberale burgers van die wêreld word. Kulturele herkoms, burgerskap of etnisiteit maak nie meer saak nie.

Weens liberalisme het die EU sy grense oopgemaak om medewêreldburgers van Noord-Afrika te verwelkom. Toegegee, alle Europese lande het nie hierdie besluit ondersteun nie. Dit het egter tot groot mate nie saak gemaak nie – hulle was in daardie stadium só in liberalisme ingegrawe dat oop grense tussen Europese lande werklike teenkanting baie moeilik gemaak het. Lande het tot groot mate reeds die soewereiniteit van die nasiestaat verloor – die besluite van Duitsland se politici het skielik onvermydelike gevolge vir die burgers van Swede.

Die EU was onder die wanindruk dat die migrante in dankbaarheid teenoor liberalisme hulle oombliklik gaan aanpas en ook gewone “Europeërs” word. Dit het natuurlik nie gebeur nie – die migrante was nooit werklik agter die sogenaamde Europese kultuur aan nie, maar bloot agter meer gunstige ekonomiese en meer stabiele politieke omstandighede. Met aankoms wou hulle egter hulle kultuur behou.

Mense het vinnig geleer dat alle kulture nie dieselfde is nie. Die Islam van die migrante is baie moeilik versoenbaar met die kulturele konserwatisme van sommige Europese groepe en die Westerse sekularisme van ander. Sodoende het konflik tussen migrante en verskillende groepe noodwendig begin toeneem. Europese burgers voel dat hulle vryheid, manier van dink, doen en leef bedreig en aangeval word. Verskeie Moslems ervaar Europese burgers se antagonisme weer as xenofobie. Hierdie wedersydse ongelukkigheid ontplof telkens in gewelddadige konflik. Frankryk, met die grootste migrantebevolking in Europa, loop die afgelope paar jaar onder verskeie dade van terrorisme deur.

Foto: REUTERS/Eric Gaillard

Gister is drie mense in ʼn terrorisme-aanval op ʼn kerk in Nice vermoor. Een vrou is onthoof en twee ander mense is met ʼn mes doodgesteek. Dít net twee weke ná ʼn onderwyser ook in ʼn terreuraanval in Frankryk in die openbaar onthoof is. Dié onderwyser is eers geteister en uiteindelik vermoor ná hy spotprente van die Moslemprofeet Mohammed ironies genoeg in ʼn les oor spraakvryheid gewys het.

Liberalisme se vervlakte siening van die mens veroorsaak dat Frankryk nie die politieke middele het om dié probleem op te los nie. Liberalisme kan nie eintlik groepskonflik aanraak nie, juis omdat dit veronderstel dat mense altyd soos bloot rasionele individue sal optree.

In die 1990’s het verskeie lande en kulture onder die entoesiasme van liberalisme deurgeloop. Veral verskeie lande in Afrika wat in daardie tydsgees van koloniale bewind bevry is, is in die rigting van liberalisme gedruk – liberalisme se meerderwaardigheidskompleks het Afrika ook binnegedring.

Suid-Afrika self was tot ons bittere spyt ʼn slagoffer van dié tydsgees. Ons Grondwet beskerm hoofsaaklik individuele regte, eerder as groepsregte. Dit strook bloot nie met die werklikheid dat mense tropdiere eerder as ongebonde individue is nie. Boonop het ons ʼn een-man-een-stem-kiesstelsel wat in ʼn diverse land net ʼn regering vir die meerderheid is.

vlugtelingeDie groepe in Europa wat die minste onder die Europese projek gely het, is juis dié wat hulself teen liberalisme beskerm het. Dit is lande en groepe wat nie volledig die Europese projek gesteun het nie, maar juis eerste hulle eie groepsregte beskerm het, met die doel om meer individuele vryhede te verkry. Lande soos Suid-Tirool en België verstaan dat mense op grond van kultuur groepeer – daarom moet hierdie natuurlike groepering bloot die politieke mag en ruimte gegee word om oor hulself te besluit. Kulturele federalisme bied groepe juis die geleentheid – dit plaas besluitneming op die laags moontlike vlak en gee veral minderheidsgroepe die mees moontlik mag.

Liberalisme is daarom net ʼn halwe antwoord. Dit is nodig om groepsregte ook deur ʼn stelsel soos kulturele federalisme te beskerm. Met dié regte wat beskerm is, kan individuele liberale regte soos vryheid van spraak, assosiasie en die reg op lewe beter beskerm word. Indien liberalisme egter die beginpunt is, gaan nie net groepsregte nie, maar uiteindelik ook die liberale waardes geskend word.

Met liberalisme wat wêreldwyd aan’t afneem is, hou dit ook goeie nuus vir ons in. Mense begin al meer besef dat kultuur saak maak. Kultuur bepaal hoe ʼn mens dink, leef en dinge doen – en alle kulture is bloot nie dieselfde nie. Daarom moet ruimtes geskep word waarin mense eerstens as groepe kan organiseer, juis sodat hulle binne die raamwerk van groepsregte meer individuele vryhede kan geniet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Adam Adriaan ·

Linkse Liberalisme is die soutsuur van enige volk wat die kultuur en waardes van ‘n volk weg vreet. Dit ondergrawe die eie ingebore kulturele waardes van enige volk. Dit vernietig enige godsdienstige en kulturele oeroue waardes van ‘n volk. Dit het gelei tot menige val van historiese volke. Die hoof doel is die vernietiging van Christelike waardes van die wêreld. God moet uit die wêreld geban word. Mens is sy eie god. Dit is die hoof tema van hulle stryd. Hier is daar talle voorbeelde van in die geskiedenis Soos bv die Romeinse ryks en vele ander. Dit is waarmee die Demokratiese party in die VSA tans mee besig is. Die NWO is die volgende doelwit, soos dit was met Babilon. Een wêreld regering.

annie ·

Ongelukkig is dit wensdenkery dat liberalisme kaput is. Die Open Society van Soros wat snaaks genoeg sy beslag in SA gekry het glo in 1989 toe Van Zyl Slabbert Soros genader het om hulp teen die destydse NP, En kyk waar trek die tentakels al. Die NWO sluit hierby aan wat die die planeet in een groot kultuurlose, raslose konkoksie probeer opklits. Migrante/immigrante het een ding in gedagte en dit is om ryk te word en hul eie ek/kulture uit te leef. Die nuwe land moet die knie buig.

Hoekom ·

Liberalisme is ‘n pyp droom van die gene wat nie vir hulle self kan dink nie maar dink as ‘n trop. Dit stel voor dat almal die selfde waardes het en moet he wat in realiteit nie moontlik is nie, en ontmoontlik is om te bereik. Dus probeer hulle alles in hulle vermoë doen om situasies te verdraai om in hulle guns te werk en te pas, wat hulle eintlik leunaars en bedriërs maak en daardeur hulle eie droom waardes verontagsaam…

Dit laat my baie dink aan die remedy waentjies van die “wild west” wat miracle remedies verkoop het aan die minder geleerde mense van die tyd…

Grassie ·

Me Mynhardt – dankie dat jy hierdie sakie so koelkop en in die regte perspektief aanspreek. Min rubriekskrywers het die moed om dit te doen. Nuus 24 gaan nie daarvan hou nie maar jy is op die regte pad – die pad na die Afrikaner se hart.

Lian ·

Dit is hartseer om te dink dat juis liberalisme op Suid Afrika afgedwing is met algehele sanksies en dies meer . Maar dinge soos BEE en Afirmative Action , Black Managers Forum , Quotas ens word behou . In Amerika is terme soos ” African American”, “Black Caucus” , ” African American Games”algemeen aanvaar. Hoe nou ? Wys jou liberalisme word net gebruik soos dit hulle pas . Maak nie sin nie .

Keelvol ·

Om n liberaal te wees is nie iets om op trots te wees nie. Dit is n ideologie wat nie werk nie. Dit is ook n ideologie wat nie sin maak nie. Dit rig ontsettend baie skade aan taal en kultuur aan, vat Suid-Afrika as n voorbeeld. Die liberaal lei aan tonnel visie en weier om ander onregte om hom raak te sien. Hy verdedig dit eintlik. Kyk na Steve Hofmeyr en n ene sloet.

Johan D ·

Hoe noem jy dan Steve en sloet se naam in een sin as liberaliste? Die twee verskil in sienings so vêr soos die Ooste vd Weste verwyder is!

Danie ·

Kry vir julle.
Ek mag nie my voete daar sit sonder om deur ‘n lang en duur proses te gaan nie.
Dan moet ek klaarmaak en so gou as moontlik weer padgee na my eie land.
In teenstelling met ag siestog shame hierdie arme outjies op die bootjies, kom ons laat woon hulle hier so lank hulle wil.
Kry vir julle

Derek ·

Dit is hoe die Skepper God ons geskep het, maar die liberale het gedink hulle is godjies en selfs die Bybel so herskryf om hul siening te weerspieel. Kulture, stamme, tale en nasies is wie ons moet wees. Suid Afrika het bewys dit kan nie werk nie, dit lei tot konflik en misdaad, daarom is dit belangrik om God se skepping te respekteer en die ryke erfenis uit te bou. Iets wat die huidige regering nie verstaan bloot oor gierigheid en mag.

Einstein ·

Wel, nou sien die Europieërs, wat so gretig gehelp het om die spul kriminele hier in SA aan bewind te kry, wat dit regtig beteken, nê?! Kry vir jou, katvis..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.