Nuuskommentaar: Die stryd tussen die husse met lang ore en die horries

koerant

Argieffoto

In hoe ’n mate herinner die huidige politiek aan die oorspronklike voorstelling van die koppestampery tussen die husse met lang ore, en die teenpool, die horries? Of word die onderskeid tussen goed en kwaad nou so verwater dat die stryd tussen lig en duisternis in die skemerte afspeel?

Net te gereeld hoor ons mense sê hulle lees nie (meer) koerant nie, of hulle kyk nie die nuus op TV nie. Die nuus is net te erg, of die nuus maak hulle depressief. Die gevolg is dat mense perspektief op die werklikheid verloor, en vatbaar is vir die onsinnigste fopnuus. Die ergste wolhaarstories het dikwels sommer groot groepe mense op loop.

Hoeveel skade word aangerig as die volwassenes die nuuskierige kinders met ’n kluitjie in die riet wegstuur deur ’n vraag te beantwoord met “dis husse met lang ore”. Die bedoeling is dat die ouer persoon voel die nuus/inligting gaan die jonger persoon nie aan nie.

Maar eintlik was die husse veronderstel om sagmoedige wesentjies sonder oë en ’n mond te wees. Hulle dra wel dikwels bril, maar dis bloot sodat ’n mens kan weet watter kant is die voorkant. En lang ore het hulle ook – iets moet die bril immers ophou, maar daarmee word ook fyn geluister. Kommunikasie geskied telepaties as dit wel geskied. Husse het dié benaming te danke aan ’n Nederlandse woord wat troeteldier beteken.

Kortom, husse was die voorstelling van die goeie en sagte.

Byna onafwendbaar het daar ’n teenpool ontstaan, die horries. Die akkuraatste beskrywing van hoe ’n horrie manifesteer, kan moontlik gevind word in die begrip van alkoholonttrekkingshorries.

Dis ’n vreeslike ding.

Natuurlik gaan dit deesdae heelwat timmerwerk kos om die ou wêreld bruikbaar te rekonstrueer na die punt waar die husse en die horries weer klinkklaar deel van die stryd tussen goed en sleg word. Of dalk nie?

Die ANC, al verdoesel hulle dit oudergewoonte met als tot hul beskikking, het nie die husse gekry toe dit aan die lig kom dat hul blink seun in die parlement, Vincent Smith, diep in Bosassa-geld geskep, en Bosassa weer diep in staatsfondse geskep het nie. Nee, die ANC het die horries oor hierdie nuus, en probeer weerligafleier speel.

Verlede jaar was Cyril Ramaphosa nog ’n snoesige hus, en met sy verkiesing tot toekomstige president is die hus so wonderlik voorgestel dat die rand selfs kop opgetel het. Toe dit egter blyk dat die horries hom beet het met die grondonteiening sonder vergoeding, kos dit keer vir die vale dat die horries nie die hus-positiewe verwoes nie.

Oor plaasmoorde loop die horries behoorlik los, met soveel meningsvormers, sommige wat as “intellektuele” deurgaan, wat die erns daarvan probeer minimaliseer en byvoorbeeld ondanks harde feite daarna as “sogenaamd” verwys.

Die horries is oor ’n wye front betrokke, soos met kindermoorde op die Kaapse Vlakte, om van Suid-Afrika die verkragting-hoofsetel van die wêreld te maak, met die slagoffers wat wissel van pap babatjies, jong seuns, tot oumatjies van oor die honderd jaar.

Uitdrukkings soos dat Suid-Afrika onder meer weens korrupsie ’n disfunksionele staat en korrupsie endemies is, word (tegnies reg of verkeerd) gehoor.

Ná die Zuma-era, waartydens die horries vertroetel is om soos konyne (of Zuma self) aan te teel, is daar ’n groot versugting dat die husse die dominante karakter van die land sou weerspieël. Die groot kuns is om te onderskei tussen ’n hus en ’n horrie wat hom soos ’n hus voordoen. As hierdie horries nie gou uit sirkulasie gehaal word nie, gaan al die speelgoed kort voor lank gebreek wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

Die speelgoed is klaar gebreek, jy weet dit, maar jy kan dit net nie sien nie, omrede die horries wat dit gebreek het, wegsteek as n kuns, vervolmaak het!

SELEKTIEF ·

Kies die nuus wat jy wil lees. Om konstant gebombardeer te word met dinge wat gebeur is regtig genoeg om jou ‘n depro te gee voor jy polonie en eiers eet in die oggend of listerose en hoedergriep. In die eiedom wat jy teen more dalk nie meer mag he nie op pad na die kar wat jy teen etenstyd dalk nie sal he nie. Nee wat, ek maak soos Allis- ek kruip weg by die hase en drink tee uit mooi koppies waar die slegte dinge heeltemal geignoreer word. So far so good

Essa ·

Mag die husse nooit die stryd teen die horries gewonne gee nie en ook altyd slaag om die vals husse te ontmasker. So lekker geskryf Herman Toerien. Die horries hoort op hok en die speelgoed heel. Mag die goeie wen.

Christo van Zyl ·

Komplimente. Taalgebruik, inhoud en vanpaslikheid.

Adam ·

Ek stem saam. Ek dink ook die vertrekpunt moet wees om almal in die parlement as horries te sien want dan sal jy nooit teleurgestel word nie.

Conrad ·

Min mense besit ‘n onsinverklikker, naamlik die vermoë om ongegronde aansprake van wetenskaplike kennis te onderskei, of maak geredelik daarvan gebruik.

Adriaan ·

Mense lees nie meer hoofstroom media koerante en kyk nie hsm TV nuus nie omdat joernaliste nie meer objektief rapporteer nie. In te veel gevalle besluit die hsm nie net _wat_ nuuswaardig is, maar rapporteer dit verder ook op n wyse wat ten doel het om lesers / kykers se opinies te beinvloed. Ek vertrou hulle dus nie.

Willem ·

En ek kry die horries as mense in dié land van versoening praat.

Fanie ·

Dit help inelkgeval nie veel om nuus te luister nie want alles word weggesteek en weerhou van die publiek as die anc in n slegte lig stel word dit geweerhou ons land is net een groot koripte vuil nes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.