Nuuskommentaar: Die teorie van politieke relatiewe realiteit

Pres. Donald Trump tydens ʼn mediakonferensie by die Withuis in Washington (30 April 2018). Foto: AP Photo/Susan Walsh

’n Artikel waarin die Amerikaanse joernalis Michelle Malkin die politiek-wetenskaplike terme afstof en selfs ʼn bietjie uitbrei, laat ’n mens besef dat die gewone demokrasie onder druk is, en hupstote van buite nodig het.

Die Amerikaner Michelle Malkin delf diep in politieke wetenskaplike terme in haar jongste artikel wanneer sy die konsep politieke relatiewe realiteit onder die loep neem.

Maar hoekom word woorde soos politico, gadflies (g*tvlieë/perdevlieë), publisiteitshonde en ander, soms skerp woorde, nou opgediep? (New York was aanvanklik New Amsterdam, en verskeie Nederlandse woorde het in veranderde vorm in Amerikaanse Engels oorgebly, soos coal slaw, aardvark, en koring (corn, wat mielies beteken).

Niemand sal verwag dat Malkin voor sy haar hand aan die giftige toetse geslaan het, kennis sou neem van die ontvouende Bird Island-sage in Suid-Afrika nie. Maar die volgende aanhaling laat ’n waarnemer tog onthuts, en laat ons besef ons is nie so uniek nie: “Agenda-driven journalists love to exploit familial dysfunction when a prominent politician is conservative and his or her kinfolk espouse liberal views. When a vengeful offspring, sibling, cousin or distant relation wants to wreak havoc, instant fame and adoration are just a tweet or call away. The media schadenfreude over such bloody bloodline battles is thicker than California wildfire smoke.”

“Schadenfreude” dui op vreugde of leedvermaak put uit die teenspoed van ’n ander – nog ’n woord wat uit Duits tot Amerikaanse Engels toegevoeg is, en nie om dowe neute in die artikel ingesluit is nie.

Nog ’n interessantheid is die verwysing na “twiet”, iets wat juis gister in ’n nuuskommentaar op Maroela Media onder die loep geneem is. In hierdie geval sou sommiges binne die ANC sê om premier Helen Zille opnuut oor die kolonialisme-kwessie, wat sy skynbaar kompulsief aanraak, onder stof te loop is die “exploit” van “familial dysfunction”.

Of Zille egter met pres. Donald Trump kan kompeteer met twiets wat opslae maak is elkeen se eie opinie.

Malkin se ontleding stuur egter weg van die kwessie of politici links of regs is, en daaroor deurloop. Sy neem in ag dat ervaring, en doodgewone realiteit (politieke relatiewe realiteit) iemand se bekwaamheid ernstig beïnvloed. Dit is hier waar Suid-Afrikaanse waarnemers moontlik goed kan kers opsteek. Hoeveel van pres. Cyril Ramaphosa se steun aan grondonteiening sonder vergoeding (met voorbehoude en al) kan nog werklik na sy ideologiese oriëntasie teruggevoer word? Hoeveel van Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, se voorstel dat grondbesit tot 12 000 ha beperk word, is ideologies, en hoeveel doodgewone onkunde oor boerdery?

Help dit Suid-Afrika om in die rigting van ’n tegnokrasie te beweeg? Die tegnokrasie is die een begrip wat Malkin nié ingespan het nie (hoewel sy dit dikwels in ander pennevrug en onderhoude gebruik), en wat namate die drade wat die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika aanmekaar hou weens moedswil, onkunde, magspel, g*tvlieggedrag en ander onder druk kom, meer en meer aantreklik lyk en onder die loep geneem word.

Laat ons, as kiesers, die aanspreek van dit wat verkeerd is aan die media oor (en kritiseer die styl dan)? Of bring ons ons kant om die demokrasie so goed as moontlik in hierdie warboel te laat werk? Aan die ander kant, is ons nog realisties as ons “absolute moral authority” aan sekere politici toevertrou?

Gelukkig het Suid-Afrika nog talle politici met integriteit. Mense oor wie daar hopelik nie oor 30 jaar liederlik-onthullende boeke sal verskyn nie (waar of onwaar) en waar die nalatenskap ongeskonde sal bly.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

15 Kommentare

Dries du Toit ·

Ek vra baie mooi. Noem asb daardie politici met opregte integriteit. Asb,ek sê nie daar is nie sulkes nie,ek sukkel net om hulle raak te sien. Baie goeie artikel,MM.

Dries du Toit ·

Noem asb vm daai politici met integriteit. NS:Goeie artikel,MM

lerato ·

Hallo Dries

Stem volkome met jou saam. Behalwe Mandela kan ek aan geen ander een dink nie. Dit wil egter lyk of Ramaphosa in sy voetspore wil volg.

Willem ·

Lerato, jy sê Ramaphosa? Dit is nie vir hom beskore nie, nie naby nie, ons sal nog klomp jaar moet wag, daardie persoon sal uit die jonger gaslag na vore kom. En dit sal ook nie Julius van die EFF wees nie.

Illa Conradie ·

Michele Malkin is ‘n puik konserwatiewe politieke kommentator, ek geniet haar weldeurdagte artikels baie. En soos die ander konserwatiewe Amerikaanse kommentators ontbloot sy die skynheiligheid van die linkses genadeloos.

Rupert Ashford ·

Stem saam met baie wat jy se Herman. Maar punt is die pers bemark hulleself as ons “vriende” wat vreesloos die nuus weergee, terwyl mens al meer opiniestukke in die nuusseksies vind. Is dit dan verkeerd om met die skrywer te debatteer oor sy opinie.

Grassie ·

In die eerste paragraaf van Herman se skrywe word verwys na “gewone demokrasie.” Dit was altyd beskou as ‘n regverdige regeringsvorm. Dit het egter nou vir my ‘n verwarrende begrip geword. Ek het twee soorte demokrasie leer ken. In sekere lande in Europa kon net belastingbetalers stem. As jy nie jou nuutste belastingaanslag toon nie was jou naam nie op die kieserslys nie. Dit beteken dat die mense wat werklik bydra tot die staatskas die regering vorm en die finansies beheer. Die ander demokrasie is dat almal stem en, soos die Engelse sê, “winner takes all.” Dit beteken dat in derdewêreldlande, soos by ons, die ongeskoolde massas wat geen bydrae tot die staatskas lewer nie maar dit inderdaad plunder, die land regeer. Hulle kan selfs so ver gaan om te besluit dat ‘n minderheidsgroep se eiendom sonder vergoeding afgeneem en aan die “peoples” gegee word. Weens hul onbevoegdheid kan hulle ‘n hele land se infrastruktuur verwoes. En die klein groepie belastingbetalers moet maar net hoes en betaal, en verder hul bekke hou.
Wie kan vir my sê demokrasie is ‘n regverdige stelsel? Is daar ‘n alternatief?

lerato ·

Grassie

Daar is mense wat nie werk het nie omdat hulle nooit die voorreg gehad het om skool te gaan nie.

Moet hulle boonop die stemreg ontsê word?

Dit in ‘n wêreld waar ryk ryker word en arm al hoe armer word

Grassie ·

Lerato – antwoord net een vraag eerlik. Is ons land se demokraties-verkose regering ‘n suksesvolle regering of nie?
As ongeskoolde mense bereid is om hul hande uit hul moue te steek en te werk in plaas van bakhand staan, staak, plunder en verniel kan hulle hul eie omstandighede verbeter en produktiewe landsburgers word.

Paul ·

Ek sal graag wil sien dat Maroela jou ‘n kolom gee om te skryf, dit sal werklike interessante leesstof tot nadenke wees. Wil jy nie vir hulle ‘n skrywe oor ‘n tersaaklike onderwerp stuur wat jou na aan die hart lê sodat hulle dit kan oorweeg nie? Ek bedoel dit opreg. Groete.

Paul ·

Herman, en so spreek die laaste paragraaf van jou ook tot mens. Ek neem dit nou verder, laat ons nie boeke skryf met bewerings wat die mense so opstook dat daar by die dertig jaar na die tyd oproepe en pleidooie vir die polisie is om die beweringe te ondersoek nie. Laat die persone wat die boek geskryf het ook verder gaan en die derde persoon wat hulle beskerm se betrokkenheid bekend maak. As ons elkeen maar ‘n boek op beweringe kon skryf.

Paul ·

Ganade, dink nou daaraan Jacques Pauw, byvoorbeeld, het dertig jaar met sy boek gewag!.

Rupert Ashford ·

Ander ding: Die media is doodstil oor die grootskaalse sensuur wat sosiale media ewe skielik op konsewatiewe bewegings, groepe en uitsprake uitoefen, en vuur dit selfs aan (soos CNN met Alex Jones doen). Bewegings soos ISIS en Antifa se FB blaaie en Twitter rekeninge kom egter niks oor nie. Wie is ons vriende en wie beskerm die waarheid?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.