Nuuskommentaar: Die ‘vermiste’ tweede referendum

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Het die destydse pres. FW de Klerk se Rubicon- toespraak gister 30 jaar gelede die land nader aan of verder van ’n oplossing gebring? Het die land nie verdwaal en in plaas van by die Rubicon uitgekom, by ’n meer gekom waar Hannibal se leër met tot olifante wat as “tenks” ingespan is, hulle in die meer ingedryf het waar hulle in die yskoue water verdrink het nie?

As is verbrande hout, ook wat die uitkoms, en veral die verskillende persepsies van die uitkoms van die Kemptonparkse onderhandelings betref. Gesprekke en openbare diskoerse oor die uitkomste tussen diegene wat om welke rede ook al voel dit het die beste, of enigste, uitkoms opgelewer wat moontlik was, en diegene wat meen die gevolge was ’n ramp van astronomiese omvang, slaan onroerbaar vas by die tweede referendum wat nooit plaasgevind het nie.

Wat het van die beloofde tweede referendum geword? Wat met sekerheid gesê kan word, is dat baie ja-stemmers, dikwels rooi van skaamte, die laaste aantal jare “uit die kas kom” en erken hulle het “ja” gestem omdat hulle geglo het daar wag ’n tweede referendum. In die eerste was die vraag bloot of met die onderhandelinge voortgegaan moet word of nie. Met die tweede sou die “volk” besluit of die ooreenkoms self ook die jawoord sou kry. Dan sou baie van die oorspronklike ja-stemmers, by die aanskoue van wat onderhandel is, beslis “nee” gestem het.

Maar toe gebeur iets wat ’n skynbaar blywende kloof tussen Suid-Afrikaners in die algemeen, en Afrikaners in die besonder, sou slaan. Die tweede referendum verdwyn. Die algemene indruk was dat almal, behalwe die regering self, onthou het dat ’n tweede referendum beloof is. Maar onder diegene wat onthou, tel mense soos prof. Hermann Giliomee, waarskynlik die doyen van Afrikaanse geskiedskrywers, en dr. Pieter Mulder, en hulle skroom nie om dié herinneringe neer te pen nie. Lees dr. Mulder se weergawe in Maroela Media hier.

Referendums in Suid-Afrika het egter nie ’n reputasie dat dit met eerlikheid oorlaai is nie. Met die referendum oor Republiekwording was die keuse wat die kiesers gekry het ’n republiek binne die statebond of die status quo. ’n Republiek buite die statebond is egter uitgeroep. (Let wel: Die eindresultaat word nie gekritiseer nie.)

In ’n pas verskene skrywe (formeel deur FW de Klerk self, maar waarskynlik die pennevrug van sy getroue Sancho Panza, mnr. Dave Steward (en hiermee word bloot lojale agterryer en niks kwetsend nie, bedoel) waarin die proses by die begin van die vorige eeu gaan haal word, word niks oor enige van die twee referendums gemeld nie. Lees die Afrikaanse teks hier.

Onder die leserskommentare blyk die groot tweedrag opnuut, met enkele lesers wat vir De Klerk in die bresse tree, en die vasbyters wat terme gebruik soos dat volksverraad wat nooit weer in die geskiedenis geëwenaar sal kan word nie, ons sien die gesig van die grootste papbroek wat die land ooit gesien het, net jammer party onderhandelaars het in hul onnoselheid hulle deur die ANC laat ore aansit, ensovoorts.

Met die referendum oor die driekamerparlement is die bevolking herhaaldelik verseker die referendum handel net oor die driekamerparlement, en nié soos die opposisie gewaarsku het, ’n ja-stem vir hervorming nie. Die opposisie se waarskuwings is verskeie kere as onwaar en ’n spookstorie afgemaak. Toe die uitslag bekend gemaak is, was dit egter dadelik as ’n ja-stem vir hervorming aangeprys.

In die De Klerk-skrywe word drie opsies genoem wat die onderhandelaars gehad het, waarvan twee onaanvaarbaar sou wees. Dit word egter weerspreek deur die Presidentsraad se staatkundige komitee, Verslag 1 van 1990, Besluitneming- en konflikbeslegtingsmeganismes en -Tegnieke in Staatkundige stelsels, en wat as grondslag gedien het vir die kabinetsopdragte aan die onderhandelingspanne van die regering en die NNP se onderhandelaars. Die uwe was getaak om insette hieroor namens die Vrystaatse administrateur op te stel, en kan gevolglik nie anders nie as om met dr. Leopold Scholtz se gepubliseerde stelling saam te stem, dat nadat die NNP se hoofonderhandelaar, dr. Gerrit Viljoen, afgetree het, die NNP sy laaste span se reserwes as onderhandelaars in die veld gestoot het. Feit is dat in die Presidentsraad se verslag veel meer opsies genoem word as net drie, hoewel sekere ongenoemde opsies soos die instelling van ’n konstitusionele hof wel gerealiseer het (maar in die praktyk veral in meer onlangse tye, sy eie kop begin volg het en van die oorspronklike bedoeling begin wegdryf het).

Die uitkoms van die onderhandelinge het die klimaat versterk vir artikels en boeke met as invalshoek dat die wit kiesers doelbewus mislei is deur hulle oor verwikkelinge agter die skerms in die duister te hou. Die name van persone en organisasies wat hiervoor verantwoordelik was, word ook genoem, waarvan sommiges ook duidelik vals beskuldig word.

Die 30ste herdenking gister van De Klerk se sogenaamde Rubicon-toespraak val saam met die proses om grondgryp sonder vergoeding moontlik te maak, terwyl al hoe meer van die onderhandelde grondwetlike beginsels afgewyk word. Pallo Jordan, gediskrediteerde oudminister, kry in ’n SAUK-onderhoud die geleentheid om met blatante en skoorsoekende bogpraatjies soos dat wit mense die geleentheid gehad het om grond aan hulself toe te ken, verhoudinge na ’n brandpunt aan te blaas.

Die les bly maar dat wanneer iets onomkeerbaar in die mou gevoer word, daar seker gemaak word dat daar nie onbedoelde reperkussies sal wees nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk

Toe De Klerk en sy verraaiers hulle een man een stem oorgawe verkiesing bekend gemaak het kon die KP as amptelike opposisie ‘n algemene verkiesing eers afgedwing het as almal bedank en uit die parlement gestap het, soos wat die vorige grondwet blykbaar bepaal het…..Wonder hoekom dit nooit gebeur het nie…

Eragrostis

Dis darem so ironies dat alles waaroor die destydse KP en HNP gewaarsku het, bewaarheid is, desondanks dat al hierdie voorspellings deur al die Ja-stemmers afgemaak is af oningeligte regses, onrealisties en selfs leuenaars. Die beloftes op plakkate wat die destydse NP regering onder andere laat vertoon het in aanloop tot die referendum, is deur hulle self van die tafel afgevee nadat hulle die referendum gewen het. Beloftes soos ‘Blanke woonbuurte en skole; Afrikaanse behoud …’. Nou blyk dit dat dit als ń leuen was, met FW wat aan die stuur van alles was. Om nou terug te krap en… Lees meer »

Grassie

Baie dankie , Herman, dat jy hierdie saak so reguit en sonder tierlantyntjies stel. Wat baie mense miskyk is dat daar behalwe die onderhandelingsproses op grondvlak ook ‘n groot gekonkel en geknoei was om die konserwatiewes se pogings te ontwrig. Dit word verswyg. Ek het ‘n deel daarvan beleef en sou graag daaroor wou skryf maar dit sal nie binne MM se toegelate spasie ingepas kan word nie.
Met die instelling van MM se nuwe stelsel het daar fout gekom en my kommentare word onder ‘n verkeerde naam geplaas. Jy ken my as Grassie.

SomeOne

ek het dit reeds gese, vandat die klerk (van die government) sy voete in die “stoel – np” gesit het, was daar net een pad, en dit was die agterpad, die begin van die einde – verraaier
sy kam bestaan uit 3 dele, stukkie kam, stukkie chamois , en weer ‘n stukkie kam

Gerrie

Uitstekende kommentaar, Herman. Baie dankie. Die integriteit, moraliteit, risiko-besef (versiendheid), verantwoordelikheidsin, begrip van komplekse stelsels en vooroordele in die samelewing, die gebruik van feite en gevolgtrekkings uit navorsing, hardwerkendheid en alles wat verder nodig is om, so ver dit menslik moontlik is, die regte politieke besluite vir ‘n land se toekoms te neem sodat dit suksesvol kan ontwikkel en ekonomies aanhou groei, bestaan by min politieke leiers. Maar elke politikus, en sy of haar navolgers, dink (of hoop) hulle doen die regte ding. Dit maak nie saak of dit Moses, Koning Dawid, Julius Caesar, Henry VIII, Tshaka, Dingaan, Paul Kruger,… Lees meer »