Nuuskommentaar: Die verontregte elite teenoor die oningeligte massa

Prins Harry en sy vrou Meghan tydens hul onderhoud met Oprah Winfrey. (Foto: Joe Puugliese/Harpo Productions/AFP)

Prins Harry en sy vrou, Meghan Markle, het die afgelope week in ʼn eksklusiewe onderhoud met Oprah Winfrey vertel van hulle slegte, en selfs rassistiese, ervarings met die monargie en Britse pers wat hulle uiteindelik uit Brittanje gedryf het. Die reaksie hierop was uiteenlopend.

Byna die helfte van alle Britte het gedink dat die onderhoud onvanpas was. Selfs kommentators wat nie die monargie se grootste aanhangers is nie, het gevoel dat die onderhoud nie die regte ding was om te doen nie.

ʼn Onderhoud waarin die koningshuis so in die openbaar beledig word, voel verkeerd. Veral wanneer die beledigings afkomstig is van iemand soos prins Harry wat sy lewe lank deur die koninklike familie beskerm en ondersteun is – dit voel eintlik maar soos verraad.

Ook is Harry en Meghan twee elite-miljoenêrs wat in ʼn Kaliforniese villa saam met ʼn ander miljardêr gesit en verduidelik het hoe onderdruk hulle is – met Meghan wat ʼn rok van R71 000 aangehad het. Ongeag die waarheid of onwaarheid van die bewerings wat hulle gemaak het – gewone mense hou nie daarvan wanneer die aristokrasie vir hulle wil vertel hoe verskriklik moeilik hulle lewe is nie.

Niemand wil luister na die klaagliedere van lede van die elite wat volledig ontkoppel is van gewone mense met gewone probleme nie. Dit kom doodeenvoudig vals, narcisties, verwaand en aandagsoekerig voor. Veral omdat dié twee die onderhoud gedoen het nadat hulle hul koninklike pligte neergelê het in ʼn sogenaamde soeke na ʼn stiller lewe weg van die indringende media af. Hollywood is die laaste plek op aarde waar jy dié soort lewe gaan kry.

Aan die ander kant was egter die reaksie van Hollywood se elite. Hulle het Meghan met die simpatie ontvang wat sy waarskynlik verlang het. Hulle het dit gevier dat sy braaf genoeg was om “haar waarheid” te vertel en die moed gehad het om teen die wit, uitgediende, onderdrukkende monargie op te staan.

Hierdie uiteenlopende reaksies spreek boekdele van die huidige stand van die politiek en kultuur in Amerika.

Siende dat Harry en Meghan se ervarings nie veel simpatie buite daardie Hollywood-elitegroep sou ontlok nie, moes hulle hulself as slagoffers van ʼn groter sistemiese onderdrukking skets. Met hulle eliteprobleme sou net hulle eie portuurgroep by hulle aanklank vind. Gewone mense se wêrelde, probleme en oplossings lyk bloot te anders. Indien hulle die simpatie en ondersteuning van die massa wou hê, moes hulle egter onskuldige slagoffers van groter sistemiese onderdrukking wees. Sodoende is hulle ongeluk buite hulle beheer.

Die skuldige partye synde die Britse monargie wat sistemies onderdrukkend en rassisties is, asook die rassistiese Britse pers.

Een van die goed wat Meghan in die onderhoud gesê het, is dat sy sélf in die aande God Save the Queen moes leer – niemand het eens daaraan gedink om haar te help nie. Ook was daar geen handleiding oor hoe om ʼn koninklike te wees nie. Verder het sy gekla omdat sy en haar seun, Archie, aan presies dieselfde koninklike protokol en gebruike onderhewig was wat reeds eeue lank bestaan – dit is nou betreffende die toekenning van titels en sekuriteit. Sy was selfs geskok dat sy voor die koningin moes buig by hulle eerste ontmoeting.

Hiermee het Meghan eintlik gevra: Waarom was die ganse tradisie van die monargie nie bereid om voor my te buig en mý in ag te neem nie? Hulle wat (natuurlik!) nie bereid was om aan te pas nie, het vir haar neergekom op beoefenaars van sistemiese onderdrukking, rassisme en ongenaakbaarheid.

(Al wat haar slagofferaanslag tot gevolg gehad het, is dus dat sy soos ʼn bevoorregte, egoïstiese en ongelooflik onaangename mens gelyk het.)

Dit is die onderliggende karakter van veral die Amerikaanse kulturele elite vandag. Wanneer die wêreld, en veral die massa, iets anders doen of voorstaan as wat ek wil hê, is húlle die probleem, nie ek nie. Indien tradisies en eeueoue gebruike mý nie pas nie, is die tradisies en gebruike die probleem, en nie ek nie. Wanneer ek ook al nie die middelpunt van aandag en belang is nie, word ék onderdruk.

Dit wat sleg gaan in die samelewing is nooit aan enigiemand anders toe te skryf as die sistemies onderdrukkende magsentra in die samelewing of die oningeligte massa nie. Geen slegte ding wat in die samelewing gebeur, is nié een van die twee elemente se skuld nie. Niks is ooit die elitegroep se skuld nie.

Dit is presies hierdie selfde denke wat steeds Brexit as verskynsel, Trump se 2016-verkiesing en sy groot steun in 2020 as foute van die oningeligte, rassistiese en agtergeblewe massa afmaak. Hulle is nie bereid om hierdie soort verskynsels met eerlikheid te ondersoek en te ontleed en dalk die ander kant se perspektief in te sien nie. Dit is veel makliker om dit as ʼn fout van die massa te tipeer. Daar waar instellings, gebruike en tradisies ook nie strook met dít waarvan hulle hou nie, is dit vanselfsprekend onderdrukkend en verkeerd.

Daarom kan die elite in hulle villas sit en kla oor hoe vreeslik erg hulle lewe is en hoe hulle onderdruk word. Indien ʼn absolute tekort aan selfondersoek, selfkritiesheid en eieverantwoordelikheid fundamenteel deel van jou lewensuitkyk is, moet jy die massa en die stelsels van onderdrukking blameer wat nie met jou eie sieninge strook nie. Indien jy nooit bereid is om jouself te bevraagteken of in ʼn ander se skoene te plaas nie, is die enigste opsie wat oorbly om die massa en die stelsels te blameer. Daardeur word die elite se sin van selfbelang, morele meerderwaardigheid en spesiaalheid gekoester.

Sodoende is die moontlike waarhede in Meghan en Harry se onderhoud volledig oorskadu deur die spektakel wat dit was. Mense word so gereeld deur die elite vertel hoe wonderlik moreel hulle is, hoe agterlik en simpel die massa is en hoe die massa gerus by die elite kan leer hoe om beter mense te wees. Mense word so deur die elite voorgeskryf dat hulle selfverwaandheid en ʼn slagofferkultuur van ʼn myl af kan raaksien. Wanneer hulle dit sien, droog hulle geduld en simpatie gevolglik ook redelik vinnig op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Elize ·

Hierdie twee is so verveeld met hulle self en daaom word daar nou soveel snert aan die wêreld opgedis. Het nog nooit in hierdie blou bloed belanggestel nie en hoe gouer hulle aarde toe kom hoe beter sal dit vir almal wees. Trek na ‘n plakkerskamp toe dan sal baie mense julle miskien ernstig opneem plaas van in absolute weelde met twee witbrode te sit en kla en kerm

katerinadiekat ·

Dit maak my naar. Daar is letterlik BILJOENE mense wat daardie 2 bedorwe brokkies se “probleme” sou wou he.

Rudolf ·

Dankie. Kon dit nie beter gestel het nie. Foei tog – moes op haar eie God save the Queen leer. Was seker ongelooflik moeilik – so ingewikkelde lied.

Francois Le Cochon ·

Selfs “Old MacDonald” is moeiliker om baas te raak.

Johann ·

Behalwe vir n raakvat opskrif en artikel….wat is n PRONS? (Foto onderskrif)

Megan Swart ·

Dagsê Johann
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Frank ·

Nei man, los die woord. Soos Appel hierbo gesê het, dis ‘n “gewese” prins. MM het ‘n nuwe woord uitgevind!!

Sarel ·

Sy het reeds met die Troue voorberriding geref want dit was ” who is who” in Hollywood sonder Harry se vriende.

Adriana ·

Megan het geweet sy trou in die Koninglike familie in en watse opofferings dit gaan wees, sy speel nou die victum, goeie actor, regte drama queen, sy was en gaan net probleme veroorsaak in die familie, sal nie verbaas wees as Harry deur haar begin sien en moeg raak vir haar drama’s en haar los nie. Voorspel nie dat die huwelik nog lank gaan hou.

Charles ·

Tyd van konings en prinse en wat nog is verby, hulle kos net hul belasting betalers ń klomp geld..

Judge ·

In films en sprokies moet onderdane altyd kniel voor konings en koniginne. Het Markle nie geweet?

Geurt ·

Daar is n gesegde in Afrikaans…….net n sleg voël bevuil sy eie nes……Harry klink vur my is so n voël. Markle het n verskoning, sy is n Amerikaner, is mal oor publisiteit en die omroeper her goeie ‘ratings’ gekry….haai né Oprah.

Mariana ·

Die media skenk te veel aandag aan daai vrou en haar man. Hulle is aandagvrate, veral sy. En dan wil hulle SA toe kom, nee dankie daar is reeds genoeg van hulle tipe hier en geld is hier ook nie. Amerika kan hulle maar hou. Ek dink Harry se ma sou nie hiervan gehou het nie. Soos ek voorheen gesê het sy sal nooit koninklik wees nie. Sy verdien ook nie respek nie, sy gaan nog vir Harry lang trane laat huil. Sy het hom nou ook sy familie ontneem en dit gaan hom nog ry.

Boohoo ·

‘n treurige situasie wanneer “elite” kla met witbrood onder die blad

katerinadiekat ·

Yep. Beter af as omtrent 7 biljoen ander mense maar kla wil sy kla.

pestilensie ·

Jammer Monica, hier kan ek nie saamstem . Die PERS en ander het van die begin van haar n swartskaap gemaak . Onthou Trump is maar ook n elite “ Ek Haal my hoed af vir Harry om vir sy vrou op te staan , tensy sy stories opmaak en die pers wel reg is met hulle opsomming van haar . Maar Dit betwyfel ek sterk

katerinadiekat ·

Ek kan nie onthou dat hulle van haar n swartskaap gemaak het nie. Inteendeel, sy is opgehemel.

Francois Le Cochon ·

Pestilensie, Meghan kom ook nie oor die weg met haar eie familie nie. Hierdie is lyk my ‘n geval van “almal is verkeerd, ek is reg”

AH ·

Pestilensie, daar is té veel goed wat daarop dui dat Meghan net ‘n bedorwe brokkie is met ‘n groot kop wat gedink het sy kan maak soos wat sy wil as sy ‘n koninklike is. Sy het nie besef dat sy ‘n baie klein vissie in die Britse dam is nie….Almal, al haar “aides” en ander personeel wat pad gevat het kan tog sekerlik nie verkeerd wees nie? Om nie eens te praat van haar eie familie nie. Harry is nog te verblind deur haar sjarme, maar sal weldra uitvind dat bloed tog dikker as water is…..

Buks ·

Hierdie twee het nog nie ‘n dag in hulle lewens swaar gekry nie…… vervelig regtig.

Elna ·

Monica Mynhardt, dankie vir n uitstekende berrig oor hierdie twee vals mense. Jou intelligensie en taalgebruik is uitstaande.

Elize ·

Wat ‘n oningeligte vrou. Jy gaan trou met ‘n Prins waar die monargie sedert 979 al bestaan en jy wil as ‘n bedorwe Amerikaanse aktrise die wereld aan jou voete he?? Jy moes die navorsing en moeite gedoen het as jy enigsins vir jou man omgegee het. Jammer geen simpatie van hierdie kant.

Hester Wilhelmina ·

Ongeag wie of wat hulle is, en of jy van hulle hou of nie, in ENIGE omstandighede is rassisme onaanvaarbaar. En indien Meghan wel hulp gesoek het of uitgereik het toe sy op die punt was waar sy selfmoord oorweeg het, en sy wel geïgnoreer is, is dit ook onaanvaarbaar. Ek dink Harry het nou vir eens en vir altyd sy Ma se dood gewreek!

AH ·

Baie mense vat die rassisme storie met ‘n knippie sout. Haar ammunisie raak nou min toe MOES sy die rassekaart speel. As die koningshuis wel rassisties was sou hulle sekerlik baie maklik ‘n rede kon kry waarom Harry in die eerste plek nie toegelaat sou word om met haar te trou nie. Sy is baie gul deur hulle ontvang en die feit dat Prins Charles haar met die paadjie af begelei het op haar troudag spreek op sigself boekdele. Net die feit dat sy verbaas was dat sy voor die koningin haar knie moes buig wys dat sy haarself te veel aangematig het van die begin af en die aarde toe kom slag was vir haar ‘n bietjie te groot! Vandaar al die vloermoere en onmin met die personeel……

Samuel ·

Die spyker is op die kop geslaan. Dankie.

Miskien is Harry en Meghan se lewens baie vervelig. Hulle soek beide net aandag.

Allet ·

Geld koop nie klas nie.. Sy het geweet waarvoor sy haar inlaat

Realis Thailand ·

Ek voel n mens moet dit aanvaar van wie dit kom.
n Meisie wie nie eers n goeie akteur is saam met n vrou wat bekend is vir haar rassistiese denkwyse as sy praat .En dan Harry wie eens op n tyd n man was wie nou die rok dra.
Sy vrou het duidelik rol gespeel voor oprah en weet hoe om mense te manipuleer hoewel ek net so 5 minute gekyk het en my aan die Jerry Springer episodes laat dink het
Common bly common.
Dit wys weer ook die minderwaardigheid van die persoon as hy ras voorgooi as n faktor

Francois Le Cochon ·

Goeie berig, goeie voorbeeld van kansellasiekultuur. Meghan se broer het gese^ sy het ge-“act”. Ek stem saam. As jy na haar lyftaal gekyk het tydens die onderhoud, het sy selfvoldaan gelyk elke keer wanneer sy empatie van Oprah gekry het, en dit is waaroor die onderhoud gegaan het, aandagsoek. Ek glo ook sy het feite verdraai om haarself die slagoffer te maak.

Karina ·

Die raak nou soos “Maak my siek fabriek” Die artikel is sowaar die laaste wat ek oor die twee lees. Hulle het hulle bed opgemaak, nou moet hulle maar slaap en die koninkliks in Engeland uitlos, hulle is mos nie meer deel van “The Firm” nie.

AH ·

Baie goeie artikel Monica Mynhardt! Ek stem 100% met jou saam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.