Nuuskommentaar: Die vreemdeling in ons poorte en vreemdelingehaat

Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Slegte behandeling van vreemdelinge in jou poorte is so oud soos die berge. In die Bybel lees ons hoe koning Dawid die skone Batseba se Hetitiese man in ’n oorlogsituasie ingestuur het waar hy moet sterf, sodat Dawid Batseba vir homself kon neem.

In 2014 het altesaam 866 000 mense wêreldwyd om asiel aansoek gedoen. Dit is die meeste in 22 jaar, en ’n toename van 45 persent op 2013.

Dit vertel egter nie die volle verhaal van vlugtelinge wêreldwyd nie. Hoeveel van die slagoffers van xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika is werklik asielaansoekers en hoeveel is vlugtelinge? Dit is moeilik om te bepaal omdat syfers van internasionale vlugtelingorganisasies gewoonlik bitter klein getalle vir Suid-Afrika aangee, en die vermoede is dat politiek hierin ’n rol speel. Deur vlugtelinge as vlugtelinge te ontvang, sou beteken dat die regering erken dat vlugtelingtoestande heers in lande waarmee noue vriendskapsbande gehandhaaf word, soos met Zimbabwe.

Die voordeel om vlugtelinge as vlugtelinge te ontvang, is dat die vlugtelinge dan ook minstens deels die verantwoordelikheid van die internasionale gemeenskap word, wat vlugtelingkampe onderhou. Sommiges dekades lank, soos ’n Palestynse vlugtelingkamp in Damaskus wat onlangs deels deur IS beset is.

Vir die gewone wetsgehoorsame burger is dit moeilik om te verstaan hoe daar so ’n toestroming van buitelanders kan wees, terwyl dit byvoorbeeld baie moeilik gemaak word vir ’n Suid-Afrikaner wat tydens ’n buitelandse besoek die meisie van sy drome ontmoet, om met haar in die huwelik te tree. Die regering kan uiters taai wees met die toestaan van die nodige visums, die stel van onmoontlike wagtye, en vele meer.

Dit lyk ook of daar ’n sweempie van rassisme in die voorkeur is oor wie die land kan en mag binnekom om te kom bly, met herhaalde oproepe dat “ons broers” van die vasteland verwelkom moet word.

Die vlugtelinge kom egter nie net uit Afrika nie, maar ook uit lande soos Bangladesj en Pakistan. Suid-Afrika is klaarblyklik nie ’n gewilde bestemming by lande wat nou die meeste vlugtelinge oplewer nie – konfliklande soos Sirië en Irak.

Nie dat Suid-Afrika’n besonder vreedsame land is om na toe te vlug nie. Op die jongste vredesindeks beklee Suid-Afrika die 122ste plek uit 162 lande. Bangladesj, waarvandaan baie van die buitelanders kom, vaar aansienlik beter en beklee die 98ste plek. Mosambiek, nóg ’n groot plek van herkoms, beklee die 82ste plek. Die Somaliërs wat hierheen vlug lyk of hulle rede het om Suid-Afrika op te soek – hul land beklee die 158ste plek. Die indeks, in die vorm van ’n interaktiewe kaart, kan hier bekyk word.

Die buitelanders kom egter nie net vanweeë meer vreedsame omstandighede na Suid-Afrika nie (want as dit die geval was, het iemand hulle besonder sleg ingelig oor toestande hier), maar om aan dikwels erbarmlike ekonomiese toestande te ontsnap. Dit is nie maklik om in Suid-Afrika aan te land nie – die afstande is groot, en dit lyk of die stryd om korrupsie onder amptenare uit te roei wat vreemdelinge uitbuit, nog lank nie gewonne is nie.

Buitelanders se suksesse op hierdie terrein, deur opoffering, ongelooflike saamstaan en vaardighede te kombineer, is waarskynlik een van die grootste redes vir vreemdelingehaat. Suid-Afrika het groot werkloosheidsprobleme en die regering hou aan vir die mense vertel dis nie as gevolg van sy brouwerk nie. Dus moet dit iemand anders se skuld wees – enigeen van Jan van Riebeeck tot die vreemdeling in die poorte.

Wanneer daar die geringste ongelukkigheid in ’n gebied is, is dit dikwels hierdie buitelanders wie se winkels in ’n plunderorgie deurloop.

Nie alle vreemdelinge kom na die land om wettige ekonomiese aktiwiteite te beoefen nie. ’n Vorige Nigeriese hoëkommissaris in die land het al gekla oor die persepsie dat Nigeriërs voor die voet skelm is. Sy verweer was dat net ’n klein persentasie van die Nigeriërs in die land in die tronk is, maar die getal wat hy genoem het was in elk geval skrikwekkend groot. By heelwat van die jongste plaasaanvalle het dit ook geblyk dat die plaasaanvallers Zimbabwiërs is.

Een van die interessante verskynsels is hoeveel van hierdie buitelanders baie gou Afrikaans aanleer. Dit gee onder meer aan hulle ’n groot voorsprong om hul ware op vlooimarkte te verkwansel, en in bruin gebiede kan hulle goed met plaaslike handelaars meeding.

Met die ANC wat so flink is om blaampolitiek te bedryf, is dit te wagte dat enigiets die blaam gaan kry. Boonop is daar ’n gees van wetteloosheid onder ’n deel van die bevolking vaardig. Gister het ’n bierlorrie weer omgeslaan, en ’n deel van die gevolglike verkeersontwrigting was lede van die publiek wat die voorraad kom plunder het – so asof teenspoed andermansgoed almal se goed maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blondie ·

Die buitelanders is in ons land ingenooi om hulle stemme te gebruik om aan bewind te kom, nou is hulle nie meer nodig nie en moet nou verwilder word. Wreed ne. Ek wonder wat is volgende?

Grassie ·

Die paar miljoen ongeskoolde en onwettige buitelanders hoort nie in ons land nie, bloot omdat ons hulle nie kan akkommodeer nie. Ons het self ‘n baie hoë werloosheidsyfer en daar is ook nie vir hulle behuising nie. Verder parasiteer hulle op ons infrastruktuur. Hulle kinders daag by ons reeds oorvol skole op en hulle plaas ook ons reeds vrot mediese dienste onder verdere druk. Wanneer hulle agterkom dat Suid-Afrika nie die land van melk en heuning is wat hulle gedink het nie, wend hulle hul tot misdaad, veral plaasaanvalle en dwelmhandel. Ek praat nie gewelddadige aanvalle op hulle goed nie maar ek hoop regtig dat hulle teruggaan na waar hulle vandaan kom, terwille van ons eie land se oorlewing.

Gerhard Bezuidenhout ·

Grassie ek stem inderdaad saammet jou. Baie van hulle is hier om te moor en te roof en daar is geen vingerafdrukke of rekords om hulle op te spoor nie.

Nikolaas Pienaar ·

Ek is vriende met n swart pastoor wat hierdie waarkuwing uitgestuur het.
Kan jy jouself dit indink dat mense so in vrees leef terwyl hul bestaan probeer maak?

Greetings Zimbabweans and my fellow African Brothers

AFROPHOBIA TIPS

1) Mantain a low profile

2) limit movements

3) Avoid bars(Shebeens and Smokoloz)

4) Have your bags ready packed

5) Create community watch groups and build relations with local churches

6) Those with kids who are not going to school, send them home for now.

7) Listen and pay detailed attention to what young local kids say. Its a reflection of what was discussed last night.

8) If you are using banks make sure your bank offers cell phone banking, in case you loose your card, . If your bank doesn’t please open an Fnb acc and register cell phone banking asap

9)’Also limit shoprite papperbags when doing groceries- to counter jealousy.

10) Back up all your important documents eg certificates,passports, permit receipts, Assylums etc:-) write down doc identifying numbers and email it to yourself. If possible find someone in less risk areas for safe keeping

11)Avoid answering cellphones in taxis or public places unless if you can speak the local languages. Also dont be flashy with phones

12) Men, unless you are married – avoid local girls for now.

13) Those who conduct open air church services (MASOWE) or gatherings have get away cars ready. Create atleast three escape routes.

14) Avoid walking alone but dont walk in large groups as well.

ABOVE ALL PRAYER ANSWERETH EVERYTHING. LETS ALL PRAY FOR GOD IS ALIVE. HE WILL NEVER LIVE NOF FORSAKE US.

Knersus D ·

Nikolaas, ek leef met dieselfde verse in my eie land. Is dit dan Whitophobia?

Knersus D ·

Nikolaas, ek leef met dieselfde vrese in my eie land. Is dit dan Whitophobia?

Cathy Kotze ·

Daar moet onthou word dat een van oud pres Mandela se eerste aksies die oopgooi van Suid-Afrika se grense was. Hy het dit baie duidelik gestel: Suid-Afrika behoort aan die hele Afrika en al die ANC se “broers en susters” is welkom. Hulle het immers voorheen huisvesting verskaf aan ANC, PAC en ander groepe se uitgewekenes.

Grensdrade is verwyder. Grensbewaking het so te sê opgehou om te bestaan. Suid-Afrika se bevolkingsaanwas in daardie eerste jare na “bevryding” was totaal buite perke. Honderde duisende het die land binne gestroom, met al hulle eie tradisies en gebruike.

Dit was binne maande duidelik dat daar probleme gaan wees. Swart woongebiede in talle klein dorpies regoor die land is so te sê beset. Vroue in lang Moslem gewade was skielik ‘n algemene gesig, selfs in die Karoo. Daar was gerugte van jong meisies wat besny word in plekke soos Kayalitsha. In een geval is ‘n vrou tydens kindergeboorte dood, want nadat sy verwagtend geraak het, is sy deur haar man se familie “toegewerk.”

Die buitelanders probleem is maar net een van vele wat voorheen nooit bestaan het nie, en deur die ANC geskep is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.