Nuuskommentaar: Die waarde van korrekte geskiedenisvorming

Die MT Steyn-standbeeld. Foto: Rian Horn/UVS

Die verlede, en ook dikwels die waarheid, word gereeld erg gebuig om tekens van grootsheid in die dikwels mistieke Afrika-verlede te vind as inspirasie om te motiveer dat die kontinent weer tot grootsheid kan uitstyg. Die ryk wat eens bestaan het met wat nou die Zimbabwe-ruïnes is as hoofsetel, word dikwels as voorbeeld genoem. Ons eie Mapungubwe het selfs nog vroeër as Zimbabwe gefloreer en in sekere opsigte merkwaardiger prestasies behaal.

Daar is ander, selfs merkwaardiger voorbeelde, soos die ou Egiptiese en Ethiopiese ryke van die antieke verlede. Dit word egter nie altyd so prominent aangeslaan nie, omdat die inwoners nie “tipiese Afrikane” was nie. Tog word die beskawing van Timboektoe in Mali hoog aangeslaan, hoewel die mense van daardie tyd Arabiere of hul afstammelinge van buite Afrika was.

Toe die Weste die Amerikas net meer as 500 jaar gelede herontdek het, is uitsonderlike beskawings soos dié van die Asteke en die Inkas aangetref. Sommige beskawings, soos dié van die Olemeke en deels dié van die Mayas, was al geskiedenis.

Die veroweraars uit die Weste het ongelukkig baie van die onvervangbare wat hulle aangetref het, soos Maya-dokumente, as heidens verbrand. Nie dat hulle te veel verkwalik kan word nie. Hernan Cortez en sy manskappe moes byvoorbeeld by geleentheid vanuit die paleis in Tenochtitlan, hoofstad van die Asteke, toekyk hoe ’n piramide rooi van die bloed kleur soos die priesters menslike offers gebring het.

Argeoloë verwerp die idee dat die ontstaan van hierdie beskawings deur byvoorbeeld met antieke kontak met die Egiptenare ontstaan het omdat dit die vermoëns van die Amerikaanse inwoners sou beledig. Baie het selfs die bewese kolonisasie van “Vinland” deur Noormanne (meestal Christene) meer as ’n duisend jaar gelede lank bly ontken. (Vinland was aan die ooskus van Kanada geleë en het die eiland New Foundland ingesluit.)

Namate argeologiese navorsing vorder, word meer bekend van stokou beskawings, maar terselfdertyd begin die kulture en gebruike van dié beskawings ontvou, sodat gekyk kan word wat was positief en dit nagevolg kan word. Dit wat sulke beskawings laat doodloop het, word ook al hoe duideliker, en kan ook ingespan word (as iemand net maar wil luister).

Een van die leersaamste voorbeelde is dié van die Hopewell, ’n stam en hul nouverwante stamme van Noordoos‑Amerika. Kennis oor die Hopewell was lank min of meer beperk tot die oorblyfsels van indrukwekkende grondwerke, soos die reuse‑slang en grondpiramides (mounds). Soos navorsing vorder, neem die grondwerke egter ’n kleiner rol in.

Kunswerke wat die Hopewell sedert ongeveer die geboorte van Christus vervaardig het, word al hoe belangriker. Die kunswerke, soos potte, is van klei gemaak, maar ander items, soos juweliersware, is van onder meer koper, mika en yster van meteoriete afkomstig vervaardig. Dit blyk hulle het gevorderde astronomie en geometrie onder die knie gehad, en is met die oprigting van hul indrukwekkende bouwerke ingespan.

In ’n artikel  in die Columbus Dispatch, getiteld “Modern Society can learn from how the Hopewell conducted themselves, ontleed Bradley Lopper verskeie elemente van die Hopewell-beskawing om te onderskei tussen wat navolgingswaardig is, en wat nie (wat daartoe bygedra het dat die Hopewell-beskawing ongeveer 400 jaar ná Christus iets van die verlede was. Met blanke kolonisasie was die gebied nog grootliks ontvolk).

Dit blyk dat die Hopewell in die gloriejare nie ’n elite-groep gehad het nie, en ook nie hul welvaart in die hande van so ’n groep gelaat het om oor te beskik nie. Almal, sonder aansiens des persoons, het omtrent ewe hard gewerk, en ongeveer dieselfde kos geëet. Almal het min of meer ewe groot huise gehad.

’n Outoritêre leier is nie geduld nie.

Vreedsame naasbestaan is nagestreef, en geen Hopewell-dorpie wat tot dusver bestudeer is, was omhein nie. Vriendskaplike handel is met stamme baie ver van die Hopewell-gebied onderhou.

Teen die einde het die leiers self minder werk gedoen, het hulle meer vleis as die gewone mense geëet, en het die grootste huise in die dorpe bewoon, wat dikwels bo-op die grondpiramides (wat eintlik vir tempels bedoel was) gebou is.

Pres. M.T. Steyn se beeld sal binnekort van die UV-kampus verwyder word. Foto: Verskaf

Wat kan ons vandag hieruit leer?

Moontlik dat dit misplaas kan wees om soveel historiese heldeverering te plaas op mense soos Dingane, en veral Shaka? Hulle was uiters outoritêr, en vreedsame naasbestaan is nie nagestreef nie. Die Mfecane is welbekend.

Hierteenoor was oudpres. MT Steyn van die Vrystaatse republiek geen outoritêre figuur nie. En allermins ’n “vernietiger van menselewens” soos Butana Komphela, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Vrystaat, die verwydering van Steyn se standbeeld op die UV se kampus, probeer regverdig nie.

Dit is nie moontlik om Steyn se karakter en sy standpunt oor rassekwessies hier volledig te bespreek nie. Afdoende om na enkele aspekte uit die doktoraal van Guillaume François Marais te verwys:

– “M.E.R. beskou pres. Steyn as die Afrikaner, as ’n man onder die manne, iemand deur wie Gods krag gewerk het om goeie dinge aan sy mense te bring. Hoewel hy nie terugdeins wanneer hy gekonfronteer word deur ’n magtige wêreldryk nie, maan hy sy volksgenote tot regverdigheid en liefde teenoor die ewemens en ootmoed voor die Skepper.”

– “Sy (MER) glo ’n portret van pres. Steyn gee geen werklike idee van die vriendelike eenvoud en rustigheid wat op sy gesig te sien was nie. Dis vir haar of Gods krag deur hom gewerk het om ‘iets goeds en heilsaams vir die mense te bring’.”

Dit is jammer dat die geskiedenis self dikwels so versteurd aangebied word, om nie van die interpretasies te praat nie. Die regstel van die geskiedenis kan polities uiters sensitief wees, soos die aanstoot wat sommige mense neem as op meer akkurate syfers gewys word oor hoeveel nie-blankes in die laer van Bloedrivier was.

Tog moet so hard moontlik probeer word om die geskiedenis so gou as moontlik reg te stel, anders byt dit in die toekoms. Op die oomblik beleef Suid-Afrika die pluk van bitter vrugte oor verskillende sienings oor grondbesit in die land. Navorsing toon dat ongeveer 85% van swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl die ad hoc-komitee na dié siening as die groot leuen verwys.

Boonop het navorsing ook getoon dat die beskouing oor “wit gronddiefstal” aan die groei is, nie net onder swart mense nie, maar ook wit, bruin en Indiër.

Salomo sou nou ’n baie belangrike rol kon speel.


  • Maroela Media het ʼn skarebefondsingsprojek op die webwerf BackaBuddy van stapel gestuur om Herman Toerien te help om fondse vir sy kankerbehandeling in te samel. Klik hier om meer te lees of om Herman deur BackaBuddy finansieel te ondersteun.
  • Indien jy ʼn direkte bydrae in die Toeriens se bankrekening wil maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] met “Herman Toerien” in die onderwerpveld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Hmmm…. 1984. So word die geskiedenis altyd his… story. Daar is glo reeds bewyse dat alle mense gewetens het, maar die waarheid word verdraai ooreenkomstig eie giere en geite en die fluisteringe van die duiweltjie agter die oor. Deesdae word dit sommer saamgevat in die term ‘human right’ maw my waarheid se reg…

Stephan de S ·

Dankie Herman, ek het jou artikel baie geniet asook die agtergrondsfeite met die perspektief wat jy deurgee.
Sterkte vir jul gesin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.