Nuuskommentaar: Die wag voor Number One se mond dros weer

President Jacob Zuma op 8 Januarie in Nelspruit. Foto: SAPA

President Jacob Zuma op 8 Januarie in Nelspruit. Foto: SAPA

‘n Jaar gelede het pres. Jacob Zuma twee keer kort na mekaar die internasionale media aan die gons gehad. Die eerste keer, wat ook plaaslik opslae gemaak het, was toe hy sy berugte honde-opmerking gemaak het. Kort hierna het veral die buitelandse media hulle penne in gal gedoop toe Zuma aangekondig het dat hy ‘n nasionale reinigingsdag gaan hou, en emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gaan vra om dit te lei. Die buitelandse media het die kop geskud oor hoe ‘n internasionaal-gerekende geestelike versoek kon word om ‘n animistiese handeling te lei. Plaaslik was daar ontsteltenis omdat die president ook gesê het mense wat nie hieraan meedoen nie, dra nie versoening op die hart nie.

Kort hierna het Zuma se adviseurs van verlof teruggekom, en is wal gegooi en die reinigingseremonies in die doofpot van vergetelheid gedruk…

Nou, ‘n jaar later, is dit weer so, met die verskil dat oud-president Nelson Mandela oorlede is en die buitelandse media Suid-Afrika nou soos ander Afrikalande beoordeel, en hul nuusfokus se meriete bepaal word deur kwessies soos die menseslagtings in Suid-Soedan, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en die onstabiliteit in Egipte.

Zuma se opmerking wat plaaslik die meeste aandag trek, is sy oproep dat die ANC meer as ‘n tweederde meerderheid moet kry in vanjaar se algemene verkiesing sodat die grondwet kan verander. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het in wese die president  gerepudieer deur te verduidelik dat die ANC geen haas het met grondwetlike veranderings nie. En sou daar wysigings wees, sal dit bloot wees om dienslewering te kan verbeter.

Volgens alle huidige aanduidings gaan die ANC in vanjaar se algemene verkiesing eerder swakker as beter vaar, en minder as 60% van die stemme kry. Op sy eie sal die party dus vermoedelik nie aan die grondwet kan torring nie, en nog minder aan die werklike saakmakende aspekte kan verander waarvoor die grondwet verskanste meerderhede ingebou het.

Die meer kommerwekkende onder die huidige omstandighede is Zuma se opmerkings oor die wantroue wat oor die matriekuitslae bestaan. Hy het klaarblyklik veral die leier van die DA, Helen Zille in die oog gehad toe hy opmerkings gemaak  het wat eintlik as niks anders as rasse-opswepery nie beskou kan word.

Die leier van die Christen Demokratiese Party (CDP), ds. Theunis Botha som dit wat Zuma gesê het soos volg op: “ … stellings van Zuma wat daarop neerkom dat blankes “nog altyd” sou gesê het swart mense kan nie slaag nie maar slaag nou. ‘Ek het ‘n blanke persoon hoor sê daar moet ‘n ondersoek wees, hulle kan nie so slaag nie, en ek het vir myself gesê die persoon het steeds die ou mentaliteit dat swart mense nie intelligent kan wees nie – as hulle slaag moet dit ondersoek word.’ ”

Dit is ‘n ou laai van die ANC om die rassekaart voor verkiesings te speel en deur daarvan ‘n rassesensus te maak, ‘n stewige oorwinning te verseker. Met die vorige algemene verkiesing is kritiek op Zuma so geplooi dat dit as ‘n aanval op swart mense, en swart mans in die besonder neerslag gevind het, en is voorkom dat Cope, die DA en die ACDP, onder meer, die getalle swart stemme trek wat verwag is.

Met vanjaar se algemene verkiesing is verwag dat die scenario heelwat anders sou wees. Dit sal vir die ANC maar moeilik gaan om die kritiek op Zuma na ‘n soort wit minagting te herlei, met die felste kritiek wat van mense soos Julius Malema en Irwin Jim (Numsa) kom. Die kragtige vakbond, Amcu, is ook nie wit nie, en boonop gee die opkoms van Agang SA en kritiek van Tutu statuur aan die kritiek uit swart geledere op Zuma.

Die DA het intussen gesorg dat sy “gesig” nie meer so maklik as bloot wit opinies afgemaak kan word nie, hoewel die ANC alles in sy vermoë doen om daardie persepsies lewend te hou.

Boonop het daar van binne die ANC self, soos deur oud-president Thabo Mbeki en Winnie Madikizela-Mandela, beskuldigings gekom dat Zuma “tribalism” laat herleef – iets wat Zuma met sy Zoeloefikasie om sy magsposisie te konsolideer, nie maklik kan wegpraat nie.

Tog, om die rassekaart op die wyse te speel wat Zuma nou gedoen het, is soos om met vuurhoutjies in ‘n vuurwerkfabriek te speel. Die klimaat vir spanning word verdiep deur die uitbou van ‘n opvatting dat versoening in Suid-Afrika ‘n eensydige proses is waar blankes moet opoffer – van werksgeleenthede tot grond tot plekname. Individuele meriete of omstandighede word ondergeploeg onder die kombers van ras as verhewe norm.

Minderhede in Suid-Afrika se beste waarborge is om te sorg dat saakmakende burgerlike instellings deeglik ondersteun word. ‘n Mens kan maar net wonder waar die land sou wees as dit nie vir die ritse hofsake en hofaansoeke was van instellings soos Solidariteit, AfriForum, Outa, en in die belangrike Modderklip-saak, Agri SA nie. Daar is ander voorbeelde soos TLU SA.

Die tweede is deelname aan die verkiesing. Ja, daar is sekere kringe waar hierdie soort oproep as “links” afgemaak word, maar vir minderhede wêreldwyd was “realpolitik” nog altyd relevant. Trouens, minderhede se saak is al dikwels erg in die wiele gery wanneer dit ideologies gekaap is. Die Tsjetsjniese weerstand teen Rusland word internasionaal as terrorisme afgemaak omdat dit deur radikale Moslems gekaap is. Die Koerde se stryd is lank benadeel weens die prominente rol van die ideologies-benepe, linkse PPK wat ook internasionaal as terreurorganisasie beskou word.  Sou minderhede weg bly van die stembus, en slaag die ANC daarin om weer ‘n rassesensus te maak van die komende verkiesing, kan in die vloeibaarheid daarvan ‘n situasie ontstaan dat die ANC wel nie self ‘n tweederde meerderheid kan haal nie, maar saam met die opkoms wat Malema en Jim na die parlement kan trek, wel die tweederde vlak kan begin toets.

En daardie opsie is ‘n nagmerrie wat nie bewaarheid durf word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

william ·

Die ANC het hom lankal bewys as onbevoeg, onverantwoordelik en nie in staat om n land te regeer nie. Ons moet onthou ons woon in Afrika. Afrika is een groot gemors Daar is lande in Afrika wat al meer as 50 jaar onafhanklikheid is ,en kyk hoe lyk dit daar.
Robert Mugabe jaag die boere van die plase af. Waar Zimbabwe eers n uitvoer land was moet hulle nou invoer.

Gert Fouche ·

Ja, ou nommer een ly weer aan bek-en-klouseer! Moet egter nie die oog van die bal afhaal nie – vir die ANC om van hom ontslae te raak sal moeilik wees maar vir ons om van die ANC ontslae te raak bykans onmoontlik. Hierdie uitsprake is onrusbarend (opruiend) maar die afgelope 20 jaar se skade wat die ANC met hulle verskuilde NDR aangerig het is bykans onomkeerbaar.
Die land se groeikoers is bykans nul; inflasie styg (is die syfers betroubaar?); die handelsbalans is negatief; die begrotingstekort kan net styg met die klein aantal belastingbetalers wat vir miljoene se welsynstoelaes moet betaal; die Rand is in ‘n vryval (-en goud ook?-); regeringskuld styg en die rente daarop amper gelyk aan die land se gesondheisbegroting; ens, ens, ens ad infinitum.
Die bykans 40% wat die ongeletterde en werklose komponent van die land se bevolking uitmaak is egter ons achilleshiel en hulle gaan ons lot in die volgende paar jaar bepaal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.