Nuuskommentaar: Die (wan‑)praktyke roep om koalisies

hande kultureel diversiteit rasse

Argieffoto (Foto: maxlkt, Pixabay)

Die nuwe onthullings van wanpraktyke en onsinnige meerderheidsbesluite van die Mangaung-munisipale raad deur opposisiepartye, is maar ’n druppel aan die emmer as na munisipaliteite landswyd gekyk word. Dit roep behoorlik om koalisies. Die staatskapingsonthullings dui ook aan hoe belangrik koalisies op nasionale en provinsiale vlak is.

Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit (MMM) wat Bloemfontein en verskeie omringende gemeenskappe insluit, het na die vorige munisipale verkiesing “veilig” in ANC-hande gebly. Trouens, so sterk ANC dat die opposisie se rol tot ’n groot mate tot dié van lawaaimakers beperk is. Die opposisie het sy rol probeer uitbrei deur ’n konsep wat as konstruktiewe betrokkenheid bekend sou staan, en onder meer met kundigheid gehelp dat die watersituasie in die stad nie heeltemal hande uitruk nie. Die DA-raadslid, Rossouw Botes, se naam is ver buite die grense bekend oor die tegnokratiese wyse waarop hy gehelp het om waterkrisis op waterkrisis die hoof te bied.

Ook ander raadslede van verskillende partye soos die Vryheidsfront Plus het deurlopend deur voetslaan in die “glaspaleis” die belange van (dikwels moedelose) inwoners gaan probeer uitstryk. Groot subtiliteit was nodig omdat die ANC nie gemaklik is daarmee dat opposisieraadslede regstreeks met amptenare skakel nie, en dikwels selfs van onwettige blokkasies probeer praktyk maak het.

Die een OG-verslag na die ander dui op die rampkoers wat die ANC met die MMM ingeslaan het.

Die naam Rioolfontein word dikwels in leserbriewe gebruik om na Bloemfontein te verwys. Vullisverwydering op die voorgeskrewe dae is bloot ’n dobbelspel. Berigte en gerugte oor planne van die metro om ’n HOP-skema op van die swakste swellende kleigrond denkbaar te ontwikkel om werkers nader aan hul werk te vestig is voortdurend in omloop. Niks is skynbaar uit die Lourierpark-voorbeeld geleer nie, waar HOP-huise op peperduur vlotterende fondamente van gewapende beton gebou word, en steeds uitmekaar bars. Nou word die oë op nog swakker grond gerig. Volgens die geologiese verslag was die toetse wat die munisipaliteit aangevra het, onvoldoende en is meer gevorderde toetse aanbeveel. Die Technikon, nou Sentrale Universiteit vir Tegnologie, sou ook in ’n stadium na dié grond verhuis, maar die boukoste op dié swak grond het die planne gefnuik. ’n Sportkompleks word nou op hierdie terrein beplan, en is trouens reeds deur die minister ingewy. Maande later bestaan dit nog uit ’n skoongeskraapte stuk grond.

Vermoedelik word nou met die uitverkoop van armes gewag tot na die algemene verkiesing.

Nou het die Vryheidsfront Plus in ’n verklaring, uitgereik deur ’n senior raadslid, adv Elisabeth Snyman van Deventer, daarop gewys dat die ANC wederregtelik sy 2017/’18‑prestasieverslag as deel van die jaarverslag van die Mangaung-metro-munisipaliteit op ’n onwettige wyse aan die munisipale raad voorgelê het vir goedkeuring.

“Die ANC-beheerde munisipaliteit het die goedkeuring van die verslag, wat nie aan statutêre voorskrifte voldoen nie, met ’n meerderheidstem afgedwing. Die VF Plus en ander opposisiepartye het teen die goedkeuring van die verslag gestem en versoek dat die verslag terugverwys word en wetlike voorskrifte nagekom word voor die verslag heroorweeg word.”

Die DA haal vandag die Volksblad met ’n berig oor die munisipale woonstelle vir sub-ekonomiese behuising, waarby die munisipaliteit die MMM nou op so ’n wyse wil betrek dat dit die belastingbetalers baie gaan kos. Talle ongerymdhede word beweer. Die planne word selfmoord genoem.

Die MMM is geen uitsondering nie, die VF Plus se mediaverklarings neem munisipaliteit op munisipaliteit onder die loep. Daar word ook gereeld gewys op suksesse wat danksy die VF Plus se deelname aan koalisies behaal is.

Die huidige koalisie-ooreenkomste waar die DA die leiding neem, sluit die EFF in op ’n manier wat in Nederland as “gedoogde” deelname genoem word. Die konsep is deur die regse politikus, Geert Wilders, ingestel om ’n dooie punt op te los wat gedreig het om Nederland se regeerbaarheid na ’n verkiesing in die wiele te ry. Die EFF se gedoogde deelname staan egter op wankelrige bene, en daarom is dit uiters noodsaaklik dat die koalisies so met konstruktiewe deelnemers versterk word dat die munisipaliteite, en na die komende algemene verkiesing, die land self en soveel as moontlik van die provinsies van die ANC gevrywaar word.

Gerugte oor ongerymdhede waarby die burgemeester van Tshwane, Solly Msimanga (wat bedank het), betrek word, is volop, en is nie net uit ANC-geledere afkomstig nie. Msimanga dui aan hy wil sy volle aandag skenk aan sy veldtog as die DA se premierskandidaat vir Gauteng, terwyl die ANC en ander opposisiepartye aandring dat sy bedanking dadelik, en nie eers op 11 Februarie nie, van toepassing word. Die kanse is goed dat Msimanga nie ’n mosie van wantroue sal oorleef nie, en dit is slegs moontlik as (van) die koalisievennote ook teen hom stem.

Sonder om te beweer Msimanga het hom aan verkeerde optredes skuldig gemaak, wys die gebeure bloot daarop dat ’n regerende party baie moeilik die verkeerde optredes van ’n lid kan toesmeer as ’n koalisie regeer, want dis feitlik onmoontlik dat al die koalisievennote deel van ’n toesmeeraksie sal wil wees.

Die huidige staatskapingsonthullings beklemtoon ook hoe belangrik koalisies is. Die misdade sou nooit so ver kon ontwikkel nie as die ANC in koalisie regeer het, en die opposisie geweet het dat hulle op koalisievennote kon reken om optrede teen staatskaping te steun.  Nou kon die onding van koukusgebondenheid die vermeende betrokkenes baie lank beskerm.

’n Belangrike voorvereiste is egter dat kiesers nie hul ore moet uitleen vir die infame leuen oor stemme vermors deur vir klein partytjies te stem nie. Die argumente wat hiervoor gebruik word, geld net soveel groot partye as die kleintjies, tensy die kleintjie te klein is om selfs een setel te wen selfs op die grootste breuk van die “oortollige” stemme na numeriese kwotas per setel voltooi is.

Die twis oor hierdie kwessie het ontstaan toe die destydse leier van die NP, Marthinus van Schalkwyk, dit as verkiesingstruuk gebruik het. Die NP was destyds nog ’n betreklike groot party (in die Suid-Afrikaanse konteks). Tony Leon, toe leier van die baie klein DP, het woedend gereageer en Van Schalkwyk se aansprake as leuens afgemaak.

Koalisievorming in Europa, waar dit ’n algemene verskynsel is, is ’n omvattende proses. Dit behels onder meer dat die partye wat aan die koalisie gaan deelneem omvattende onderhandelinge voer oor ’n beleid vir die koalisie, wat tot ’n lywige dokument lei. Dit beteken dat selfs ’n sterk party nie noodwendig al sy beleidsrigtings neerslag kan laat vind nie omdat die ander partye daarteen kan saamspan.

Kleiner partye sal dus ook nie in alles hul sin kry nie, soos Christen- en Christen-Demokratiese Partye (laasgenoemde in Europa dikwels groot partye), soos om aborsies op aanvraag weer verbied te kry nie. Permissiwiteit kan ook nie altyd oornag verwyder word nie. Maar korrupsie in regeringsgeledere kan nie sommer ongesiens en ongestraf oorleef nie, en dit word in Suid-Afrika ’n baie belangrike onderwerp, soos blyk uit pres. Cyril Ramaphosa se verwysing na nege verlore jare. Indien hy wel na oudpresident Jacob Zuma verwys het, sou die woord “rampjare” dalk ’n meer akkurate beskrywing wees.

’n Koalisie sou dit byna vir seker voorkom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Vir Peter Pan om in Neverland iets in 2019 uit te rig… gaan steeds ‘n blote droom bly. Die DA was in koalisie met die EFF en die plan het net laasgenoemde gehelp om sy voet behoorlik op die landkaart te plaas. Om sake wat teen jou grein indruis te steun in die hoop dat die party eendag van sy dwaashede sal afsien, is sinloos. Vir 25 jaar probeer die een na die ander party tot stand kom of nuwe vriende bytrek om ‘n roekelose Raka in te perk.

nico k ·

Goed John, jy het nou gesê wat die probleem is, maar dit weet ons. Enige oplossing. Ek probeer nie sarkasties wees nie. Maar is daar enige sin daarin om heeltyd vir mekaar te vertel hoe sleg gaan dit in ons land. Onthou die ANC lees nie Maroela nie, so dit gaan nie enige invloed daar hê nie.

Cilliers ·

Jip, deur koalisies te vorm is die kanse baie goed dat, buiten die DA wie se kanse altyd baie goed is om daarin te deel, ook die kleiner partye soos die VF Plus in spel kom. Kyk mens binne hierdie twee partye watter persone dit is wat taks die groot verskil met hul kundigheid maak, is dit eintlik al manier hoe ek sien dat daar vir die onbevoegdes en die wanpraktyke ‘n teenvoeter kan wees.

Maar in SA werk dit ongelukkig so effe anders as Europa. Soos daar gepraat is van Afrika-Demokrasie kan mens dan seker van Afrika-Koalisies praat (dis nou op die Afrika manier).

Ongelukkig gebeur dit nog te veel dat die onbevoegdes saam kloek as daar gestem moet word, dan rem hulle weer die goeie werk en insette wat die bevoegde persoon daar gestel het dat die proses bykans tot stilstand knars en dit net omdat eiebelang die belang van die gemeenskap wat hulle behoort te dien oorheers.

Die EFF en die ANC is beide lief daarvoor om met reëlmaat hul speelgoed uit die kot te gooi.

Dan moet daardie probleem nou eers uitsorteer word voor die kundiges se werk voortgesit kan word. Daar is mos nou al heelparty voorbeelde in die land, bv PE en soos ook hier bo in die artikel genoem.

aj ·

‘Power corrupts!’ ‘Absolute power corrupts absolutely!’

Gert ·

Interessant dat die DP die slagoffer was van die leuen dat ‘n stem vir ‘n klein party gemors is, en toe gebruik hulle uitvloeisel die DA dieselfde leuen in latere verkiesings om stemme af te vat by kleiner partye. Politici is maar dikwels immoreel.

Paul ·

Herman, na vandag se reaksie oor die rassisme van drie kinders wat gesterf het, sien ons die woede van die Afrikanervolk. (Jy het al voorheen die naam LM genoem, sy was met Cilfton se 4 de strant betoging die een wat pas vanuit die donker aangegee het, en hier blyk dit dat sy weer die voorbok was.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.