Nuuskommentaar: Die wiel van geregtigheid kort (soms) olie – vinger in Mugabe se oog

Die dame van Geregtigheid-standbeeld Foto: themostcake.co.uk

Die dame van Geregtigheid-standbeeld Foto: themostcake.co.uk

Op die oomblik word ons nuus deur ʼn paar opspraakwekkende hofsake oorheers, kort nadat die Oscar Pistorius-saak bykans elke Suid-Afrikaner ’n kykie gegee het oor hoe die dame met die weegskaal te werk gaan.

Die proses om na ʼn misdaad tot in die howe te vorder is nie altyd maklik nie, met slegs ’n klein persentasie wat die verhoorstadium bereik. Soms is dit polisiebrouwerk, soms omdat mense nie misdaad, soos verkragting, konsekwent aanmeld nie, asook ’n groot verskeidenheid ander redes.

ʼn Bykomende probleem in Suid-Afrika is dat die publiek se vertroue in die howe self aan die effense kant is. ʼn Berig in die Cape Argus in 2013 skets in hoe ’n wisselende mate, maar altyd in die orde van net 50% van die publiek vertroue in die howe het.

’n Woord wat dikwels opduik, is “straffeloos”. Dit steek soos ʼn doring in die vlees van geregtigheid, want nie net kan die skuldige “met moord” wegkom en so nie as afskrikking dien nie, hy word ook die kans op rehabilitasie ontneem. Hy bly in die posisie om ook ander leed aan te doen. En van die misdade wat grusaam dikwels in ons howe draai, is mense wat jong kinders – selfs babas – verkrag en wreed vermoor. Dis siek en kan nie in ʼn samelewing geduld word nie.

Sedert die Pistorius-uitspraak het verskeie artikels verskyn oor hoe verskillende faktore, soos geld, ’n rol speel dat almal nie gelyk voor die gereg is nie. In Suid-Afrika, so lyk dit, is daar ’n bykomende faktor – politiek.

Dit het onlangs opnuut onder Suid-Afrikaners se aandag gekom. Die media het na jare opnuut berig oor pres. Jacob Zuma se regspan wat in sy vertoë daarop aanspraak gemaak het dat presidente “soos in die VSA” nie vervolg kan word nie. Dit is wel waar in Frankryk, maar die lang messe van geregtigheid wag daar vir die dag wanneer die president sy amp moet verlaat – gewoonlik ook vir misstappe voor die persoon nog president geword het. Die juridiese (en ander) manewales van Zuma om die “dag in die hof” vry te spring, is goed bekend. Op die oog af lyk dit in die Nkandla-sage of ons te make het met “the king can do no wrong”. Wanneer daar wel duidelik verbrou is, moet iemand anders die straf vat, baie soos die sondebok van weleer. Van hierdie “fall guys” is dikwels onwillig, soos met die Nkandla-sage. Ook met die Guptagate-sage lol dit. Een persoon was wel bereid om die blaam op hom te neem – hy is berispe, met een maand se salaris “beboet” en tot ambassadeur in Nederland bevorder. Diegene wat die rug styfmaak, kry maar swaar.

Zimbabwe

Pas het die grondwetlike hof finaal ’n eierdans van die polisie om nié menseregtevergrype in Zimbabwe te ondersoek nie, nek omgedraai. Dit spruit veral uit ’n voorval in 2007 toe die polisie op die MDC se hoofkwartier toegeslaan en meer as 100 mense wat aangekeer is, gemartel het. Solank Mugabe die septer daar slaan, sal die oortreders in hul eie land straffeloos daarmee wegkom. Maar van die beweerde oortreders besoek ook periodiek Suid-Afrika, waarheen van die slagoffers uitgewyk het, en klagtes is by die polisie teen hulle aanhangig gemaak. Die polisie het geweier om dit te ondersoek, en is voor die hof gesleep. Die SAPD het die saak in die hooggeregshof en die appèlhof verloor, en uiteindelik na die grondwetlike hof geappelleer. Hier het die hof nie net soos die appèlhof beslis dat die polisie sulke sake mag ondersoek nie, maar verder gegaan en die plig op die polisie geplaas.

In die uitspraak het die hof voorts gesê dat die gevaar dat bilaterale betrekkinge geskaad kan word nie kan opweeg teen reg en geregtigheid nie, en is oud-pres. Nelson Mandela boonop in hierdie verband aangehaal.

Die hof het in hierdie geval duidelik onder die ANC se kombers van dat alles ondergeskik aan die belange van die ANC en sy maters moet wees, uitbeweeg. Die hof het hom heel duidelik nie daaraan gesteur dat die Suid-Afrikaanse regering die mite volhou dat alles in Zimbabwe pluis is nie.

Vir Mugabe sal hierdie klap van sy buurland se grondwetlike hof ’n bitter pil wees. Dit volg na sy regering self die volle regspad hier geloop het om te probeer keer dat die Sadec-tribunaal se uitspraak oor die konfiskering van kommersiële boere se grond nie in ons regspraak geregistreer, en dus hier op Zimbabwiese eiendom as kompensasie beslag gelê mag word nie. Mugabe het toe ook bloedneus gekry in ’n saak waarin AfriForum ’n belangrike rol gespeel het.

Die beginsel van straffeloosheid

Straffeloosheid is egter nie iets wat goed in die internasionale reg afgaan nie, en talle verdrae is al gesluit, en VN-resolusies aanvaar om menseregteskenders en mense wat misdade teen die mensdom pleeg, aan die pen te laat ry ongeag waar hulle hul bevind. Die organisasie Trial beskryf dit onder andere so: “It is therefore not really surprising that international human rights law has taken into account the criminal law aspects of human rights infringements, by incorporating the requirement to have perpetrators brought before the relevant courts and by compelling States to adopt a whole series of firm commitments directed towards this end.”

Dit is egter ook nie nuut dat state dwars trek in hul pogings om te keer dat begunstigdes aan die pen moet ry nie. Die organisasie, Verslaggewers Sonder Grense, het dieselfde dag as wat die grondwetlike hof teen die SAPD beslis het, ook om optrede geroep in gevalle waar lande nie optree teen diegene wat verantwoordelik is vir die marteling, verdwyning, aanhouding en moord van joernaliste nie. VSG het tien gevalle, drie vroue en sewe mans, uitgesoek om in sy veldtog te gebruik. In die proses word Bahrein, Meksiko, Ivoorkus, Iran, Rusland, Libanon, Serwië, Pakistan, Sri Lanka en Eritrea uitgewys. VSG haal breedvoerig uit die internasionale reg aan.

Hoewel Mugabe nie by hierdie veldtog betrek is nie, word hy steeds deur VSG as een van die wêreld se “roofdiere” (predators) gelys. Daar is selfs ’n “klagstaat” teen hom. Een van die aanklagte handel juis oor straffeloosheid – in die geval van die moord op die joernalis Edward Chikomba, vermoedelik deur intelligensiebeamptes. Volgens VSG is geen ernstige ondersoek na die voorval gedoen nie.

Volgens die grondwetlike hof durf Suid-Afrika nie die wegkruipplek word vir diegene wat misdade teen die mensdom gepleeg het nie.

Voordat die hele uitspraak in detail bestudeer is – en dit was ’n eenparige uitspraak anders as in die geval van Renate Barnard – kan nie met stelligheid gesê word dat dié saak ’n presedent skep wat Suid-Afrika se vriendskap met muishondlande baie taai kan maak nie. Hoeveel Kubaanse regeringsamptenare wat Suid-Afrika besoek sal byvoorbeeld met skoon hande hier kan arriveer? Wat gebeur as een van die Kubaanse dokters hier ’n ernstige klag teen een van hulle indien?  Dit herinner aan ’n groepie se poging om die eertydse Britse eerste minister, Tony Blair, in hegtenis te laat neem weens sy rol in die Amerikaanse-geleide inval in Irak.

Nou is die oë egter eers op Mugabe, en hoe hy op die uitspraak kan reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.