Nuuskommentaar: Die wolwe van Wall Street

Foto: Olivier DOULIERY/AFP

Chaos heers tans op Wall Street – grootliks toe te skryf aan ʼn aanlyn kletsgroep.

Dié finansiële drama het ontstaan oor die maatskappy GameStop – ʼn fisieke (eerder as aanlyn) handelaar van speletjies en verwante toerusting – se aandele. Hierdie maatskappy het ʼn soortgelyke besigheidsmodel as dié van Musica. In ʼn wêreld wat toenemend digitaliseer en veral na aanlyn produkte en verkoopsplatforms skuif, is dit nie noodwendig meer ʼn volhoubare besigheidsmodel nie. (Dit is ook bewys deur die onlangse aankondiging dat Musica juis vanweë hierdie redes hul deure permanent gaan sluit.)

Sodoende het verskeie beskermingsfondsbestuurders op Wall Street juis voorsien dat GameStop nie noodwendig op langer termyn ʼn goeie belegging is nie en die maatskappy se aandele gekort.

“Korting” is wanneer professionele of amateurbeleggers hulle geld wed op die mislukking van ʼn maatskappy. Dit werk soos volg. Persoon A voorspel dat ʼn maatskappy gaan misluk en sodoende ook in waarde afneem. Tans is een aandeel van die maatskappy R10 werd. Persoon A, wat dié maatskappy wil “kort”, leen dan een aandeel by ʼn makelaar. Oombliklik verkoop hulle egter die aandeel teen R10, omdat hulle voorspel dat dié aandeelprys gaan afneem. Sodoende het persoon A nou R10 kontant, maar skuld die makelaar steeds een aandeel.

Later raak dié voorspelling waar en die prys per aandeel val tot R5. Nou koop persoon A een aandeel teen R5 om vir die makelaar terug te gee. Nou het persoon A die aandeel teruggegee vir die makelaar – daardie skuld is vereffen. Tog het die persoon ook R5 wins gemaak. Die aanvanklike aandeel is teen R10 verkoop, maar die nuwe aandeel is net teen R5 aangekoop.

Sodoende maak persoon A wins op die mislukking van die maatskappy.

Die beskermingsfondsbestuurders wat aanvanklik GameStop-aandele gekort het, het aanvanklik ʼn goeie besluit geneem. Die maatskappy se besigheidsmodel was in daardie stadium nie een wat vreeslik volhoubaar was nie. Tog het dit nie verloop soos beplan nie.

ʼn Aanlyn kletskamer op Reddit, getiteld WallStreetBets, het ingegryp. WallStreetBets bestaan uit gewone mense wat oor aandele en maatskappye spekuleer en dan daaruit probeer geld maak. Dit is hoofsaaklik mense wat met hul eie geld vir hul eie doeleindes spekuleer en belê.

Dié kletskamer het kennis geneem van GameStop se aandele wat gekort word en besluit om basies markmanipulasie toe te pas. Verskeie WallStreetBets-lede het GameStop-aandele begin koop – nie weens die waarde daarvan nie, maar eerder om die kortings te ondermyn.

Sodoende het die prys van GameStop-aandele begin styg – hoër vraag het tot hoër pryse gelei. Dit het ʼn borrel in die mark veroorsaak – GameStop-aandele het teen baie meer verkoop as wat dit eintlik werd was.

Beskermingsfondsbestuurders sou sodoende ʼn reusagtige verlies ly. Eerder as die prys wat, soos in die voorbeeld, vanaf R10 na R5 val, het die prys nou weens markmanipulasie na R900 gestyg.

Dit het op die ou einde in ʼn geveg tussen professionele beleggers en amateurbeleggers soos dié van WallStreetBets ontaard.

ʼn Klomp Reddit-gebruikers het markmanipulasie toegepas, groot markwisselvalligheid gesaai en beskermsfondsbestuurders byna tot bankrotskap gedryf. Daar kan verskeie gesprekke gevoer word oor hoe reg of verkeerd dié WallStreetBets-lede se optrede was. ʼn Mens kan verder debatteer oor hoe reg of verkeerd dit van verhandelingsplatforms soos Robinhood was om daarna GameStop-verhandeling te verbied ten einde markwisselvalligheid te probeer stabiliseer (dit is natuurlik ook markmanipulasie).

Die een ding waaroor ʼn mens beslis kan saamstem, is die ongelooflike invloed van sosiale media en die sogenaamde waansin van skares op mense se individuele optrede.

Die groepie mense wat aanvanklik besluit het om GameStop-aandele te koop, die mark te manipuleer en dié chaos te veroorsaak, het op sosiale media vergader. Die kletskamer was aanvanklik net ʼn platform om spekulasie vir persoonlike beleggings te bespreek en te toets. Tog het dié kletskamer onlangs tot meer as twee miljoen mense gegroei wat in die waansin en potensiële wins wou deel.

Verder is mense ook tot schadenfreude op verskeie sosialemediaplatforms opgesweep. Verskeie mense het hulself verlekker in die verliese wat beskermingsfondsbestuurders sou ly. Party mense het ook net geniet om te voel dat hulle in beheer is – indien dit ten koste van die beskermingsfondse en markstabiliteit was, dan is dit ook nou maar so.

Selfs al kan ʼn mens jou in die stilligheid hieroor verlustig, is dit ʼn baie gevaarlike beginsel om toe te pas. Borrels in die mark veroorsaak altyd onstabiliteit en stel altyd baie hoë pryse daar wat iemand moet betaal. Hierdie borrel gaan ook in een of ander stadium bars – iemand gaan hiervoor moet betaal.

So ook het die tweede belangrike deel van die gebeurtenis – die waansin van skares – ook op sosiale media momentum gekry.

Foto: Chris DELMAS/AFP

Na die koop van GameStop-aandele momentum begin kry het, het die opwinding van die oomblik mense begin oorneem. Op sosiale media het mense opgesweep geraak en wou ook net in dié borrel in die mark kapitaliseer. Sodoende het dit die situasie net vererger.

Die Wall Street Journal wys uit hoe hierdie tipes waansin in die mark altyd baie lekker is totdat dit in paniek ontaard. Die ding van enige borrel is dat dit altyd moet bars. Die vraag gaan dan nou wees wie finansieel verantwoordelik gaan wees daarvoor.

Hoe ʼn mens ook al hieroor voel, kan jy nie bloot hierdie verskynsel as irrelevant afmaak nie. Dit het werklik uitgewys dat die tradisionele magsbalans tog versteur is. Die markkrag van individuele amateurbeleggers is werklik in hierdie vreemde verskynsel uitgewys. Professionele beleggers is nie meer die enigste rolspelers wat ernstig opgeneem moet word nie.

Waar sosiale media die toegang tot inligting demokratiseer, demokratiseer verhandelingsplatforms soos Robinhood weer toegang tot die mark vir mense. Hierdie tipes verhandelingsplatforms gee mense maklike toegang tot al die aandele waartoe professionele beleggers ook toegang het.

Hierdie demokratisering tesame met die moontlikhede wat sosiale media ook kan bied, is iets wat nie bloot ignoreer kan word nie. Soos tegnologie in die wêreld verander, gaan diegene wat mag en invloed het, ook verander. Dit is iets wat nie bloot geïgnoreer kan word omdat ʼn mens nie daarvan hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JanSt ·

Enige ander naam asb, behalwe beskermingsfonds. Hulle is uit en uit daarop gestel om MAKSIMUM wins te maak, gewoonlik vir mense met portefeuljes van >1m. Dit was juis hulle wat 2008 se finansiele krisis veroorsaak het. So, nee daai ouens is wolwe, nie beskermers nie. Robin hood het hulle maar net terug geslaan op hulle eie manier van doen!!!!

Boeing ·

Te lekker. $13 Biljoen verlies vir daardie ouens wat Game Stop laat probeer bankrot speel het. Laat dit ‘n les wees. Ons gewone mense het nog bietjie mag.

Rupert Ashford ·

Miskien ‘n paar dinge on in ag te neem wanneer mens kommentaar wil lewer: Een van die groot “slagoffers” van hierdie reaksie deur die Reddit groep is Melville Capital. ‘n Groot aandeelhouer van Melville Capital is Citadel Verskansingsfonds (hulle “beskerm” verseker nie vir Jan Alleman nie, maar verskans eerder groot wolwe van Wall Street). Citadel Verskansingsfonds het nou bande met Robinhood wat verdere handel in Gamestop opgeskort het sodat die prys binne ure met 40% geval het om die wolwe ‘n blaaskans te gee. Toe die Reddit mensies weer terugslaan en Robinhood se app met negatiewe “reviews” “seen” op die playstore, tree Google tussenbeide en vee die reviews uit oor dit “gekoordineer of anorganies” is (dit wil voorkom of dit ongelooflik is dat gewone mense dalk vir Robinhood kan kwaad wees oor hulle geld verloor het). Terloops, Citadel het ook $800000.00 aan Janet Yellen vir “speaking fees”. Sy is nou die Amerikaanse Minister van Finansies wat fiskale beleid moet bepaal.

Rupert Ashford ·

Verder is daar ook bewerings van sogenaamde “naked shorts” wat plaasgevind het. “Naked shorts” is wanneer ‘n “belegger” of “beleggers” (mens kan nie die mense sommer net woorde wat met “k” begin toevoeg sonder klinkklare bewyse nie) :-) meer as 100% van ‘n aandeel verkoop, met ander woorde aandele verkoop wat hy/sy/hulle nie skriftelike bewys van het dat hulle dit besit nie. Naked shorting is tans nog onwettig, selfs op Wall Street ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.