Die gevolge van die Covid-19-pandemie het mense oor ’n breë front laat nadink, en nie meer weer bloot die hersetknoppie laat druk nie. “Dinge is nou nuut en anders. Die uitdaging is om nuwe, ongebaande weë met wawye ope oë te bewandel en die onbekende onder die knie te kry. “Die eerste keer word ons gedwing om die dood as ’n harde werklikheid te bedink,” haal ’n rubriekskrywer Naema Tahir, aan.
As Covid-19 ’n paar goed tot gevolg gehad het, is dit dat dit mense oor ’n breë spektrum laat herbesin het. Skielik is filosowe, sosioloë, teoloë, wetenskaplikes en vele ander terug by die tekenbord. Om soos dikwels in die onlangse verlede bloot die hersetknoppie te druk as daar iewers geblaps word en dan by ’n bepaalde plek voor te kan begin, werk nie eintlik meer nie.
En ja, die media – hedendaagse heroute van die owerheid en ander meningsvormers, moet uithaal en kophou om die nuutgeskrewe geskiedenis op suiwer wyse en met insig op te teken – dit terwyl al hoe meer mense voel hulle word in ’n snelveranderende wêreld van die perd afgegooi, en sukkel al hoe meer om weer terug te klim. Neem nou maar iets soos ’n opgegradeerde slimfoon. Die alewige gesukkel om by die veranderingsvereistes by te hou: “Hoekom as iets goed gewerk het, moet dit nou weer verander word?” Dis nou iets om ’n sober ou mens wat die nuwe tegnologie baasgeraak het, vreeslik te laat swets. Veral as hul gebruiklike toegang tot die tegnologie (hul kroos) klaar gestudeer het, en doer ver woon.
In vandag se uitgawe van Trouw, dagblad van Nederland met ’n relatief konserwatiewe inslag en formeel ’n Christelike publikasie, het filosowe weer ’n vrye sê oor die vereistes om op talle terreine by te hou.
“Op wie of wat moeten we vertrouwen in deze crisistijd: op de overheid, op God, op onszelf? “We kunnen God niet narekenen en begrijpen.” So skryf Sjoerd Mulder, heel diepsinnig. Hy haal kenners, insluitend teoloë aan, en meen dat medelandsburgers nie meer te vertrou is nie. Hy haal die teoloog Jos Moons aan:
“Die Nederlandse regering moes Maandag ingryp, want die onlangse beroep op redelikheid en solidariteit het misluk. Al teoloog moet ek tog iets sê oor die al te opgewekte mensevisie wat bon ton is (beskaafde vrae stel), en konstateer ek dat mense soms inderdaad egoïstisch is en tot kwaad neig. Om mekaar bloot te vertrou werk nie; ons moeten seker maak, en boetes oplê. In hierdie sin is dit dus maar goed dat daar ’n owerheid is.”
Die bekende rubriekskrywer, Sylvain Ephimenco, gee sy bydrae die veelbeskrywende titel van “’n Rare rubriek, maar dit is ook nou rare tye.”
Naema Tahir se bydrae se opskrif lui: “Lei die krisis tot ’n loutering van die gees?” Die subhofie stel dit ewe diepsinnig: “Voor even zijn we nu gedwongen om de dood als harde deadline te zien.”
In ’n potgooi word selfs die mees basiese vraag gevra: “Hoe moet ons tussen goed en kwaad onderskei?” Een van die deelnemers vra meer diepsinnig “Hoe word die menslike gedrag in benarde tye geraak?” Die hoofvraag is egter: “Gaan die post-Covid-19-aarde deur meer moraliteit gekenmerk word as die huidige?
Dit is maar enkele vrae uit ’n reeks artikels wat op ’n enkele dag in Trouw geplaas is.
Maar het ons nog die luukse om filosofies tydens so ’n groot krisis (benarde tye) te raak?
Die hoofuitgawe van The Conservation bekyk dieselfde verskynsel, maar veel minder filosofies.
Gaan ’n piepklein dingetjie soos die virus wat Covid-19 veroorsaak tot gevolg hê dat die mensdom in sy eie domein sy eie voortbestaan so omvattend moet ontleed om die regte ding te doen?
Herman ek stem volkome saam .Wat my bekommer is die feit dat vir eens in die mensdom dink ek die lewe het almal nou aan die kraag beet.My groot vraag is hoe volhoubaar is die pandemie .Die plaag gaan toets of ons gene as mens sterker is as hy .
En ek lees nou dat ‘n tekort aan kondome is dalk ons voorland. Is ons vir die nagevolge gereed? Eers die virus, daarna die ekonomie, dan pak ons die skuld op die kondome!
Daai hersetknoppie gaan nie werk nie.