Nuuskommentaar: Die Z-vervaldatum

Helen Zille Foto: Helen Zille, Facebook

Helen Zille Foto: Helen Zille, Facebook

Voor die naweek het min mense, buiten moontlik ’n klein groepie in die binnekring, geweet dat Zille haar bedanking as partyleier sou indien.

Analiste was gou om daarop te wys dat haar eie waarneming, dat dit nou die regte tyd is om te gaan, die regte een was.

Nie al die kommentaar oor haar tydsberekening is vleiend nie. Een kritiese opmerking is dat sy met haar tydsberekening bykans verseker het dat Lindiwe Mizibuku, een van die “groot vier” wat sy glo uit die DA-leierskap uitgewerk het, nog met die nominasieproses met haar oorsese studie besig sal wees, en baie moeilik doeltreffend om die leierskap kan meeding. Mazibuku is glo reeds deur haar ondersteuners genader om haar beskikbaar te stel.

Die konsensus is, aangesien Zille effektief oor drie weke nie meer die leier gaan wees nie, dat die DA nie volgens skedule tydens ’n belangrike verkiesingsveldtog boonop met ’n uitgerekte leierstryd opgesaal sal sit nie.

Zille stel ’n ongewone voorbeeld aan Suid-Afrikaanse politici, wat skaamte en skande ten spyt, soos nete bly vasklou aan die leierskap – selfs al krimp hul partye sienderoë onder hul neuse. ’n Goeie voorbeeld is die IVP, waar die bejaarde Mangosutho Buthelezi reeds vier dekades lank aan die stuur staan en enige noemenswaardige partygenoot wat eie populariteit verwerf, uitdryf. Min partyleiers het egter al so ’n string buitengewoon knap mense uitgedryf soos Kenneth Meshoe van die ACDP en dit kan aan die party se kwyning die afgelope tyd gesien word.

Genl. Bantu Holomisa van die UDM laat ook nie iemand in sy skadu groei nie.

Cope se skouspelagtige kreeftegang hou ook met ’n leierskap-onmin verband, maar daar was die aanslag om die party te gryp voor een van die medeleiers hom in die leierskap in beton kon vasgiet.

Van Agang het skaars ’n bloedkolletjie en ’n nar oorgebly.

Maar die persoon wat die meeste rede gehad het om sy goed te vat en te loop, is pres. Jacob Zuma. Om bepaalde redes soos die kadertoffies wat die bewind meebring, het sy “leierskap” nie ’n skouspelagtige insinking beleef nie. Om weens skade en skande te bedank is vir hom net so ’n “Westerse konsep” soos korrupsie volgens sy eie aanspraak is.

Hoeveel van die klouwerk met magsbelusting verband hou, en hoeveel met die moontlikheid dat die tronkdeure vorentoe op hom wag, sal nog gesien moet word.

Daar is ’n vreemde vergelyking tussen die Zille- en Zuma-uitgaanopsies. Daar is lank reeds bespiegel dat die ANC van Zuma in effek ’n soort seremoniële staatshoof sou maak, en dat die adjunk-president dan as ’n de facto eerste minister die werklike regeringsleier sou wees. Daar was trouens fases waar Zuma inderdaad tot min of meer so ’n rol gerangeer is, maar dit het geblyk net tydelik te wees tot die ANC geoordeel het Zuma se beeld is genoegsaam herstel.

Zille bly tot 2019 aan as premier van die Wes-Kaap. Dit is wel meer as ’n seremoniële pos, maar sy sal gewoond moet raak daaraan om voortaan die knie te buig voor die Wes-Kaapse DA-leierskap. Of dit so aldag sonder vonke sal geskied, sal nog gesien moet word.

Die premiersamp sal egter verseker dat sy inspraak op nasionale vlak in die DA sal hê, en beskikbaar sal wees vir advies. Sy het immers aangedui dat sy die DA steeds voluit sal ondersteun.

Die feit bly dat sy onder groot segmente van die bevolking groot steun geniet, selfs onder mense van wie sy ideologies hemelsbreed verskil. Analiste, en veral in die liberale media, is egter meer entoesiasties oor haar vertrek as wat hulle sou wees as sy nou sou aangebly het. Sy het in die jongste verlede net te veel koppe met die media begin stamp, en die ou spreekwoord lui dat jy nie swaarde kruis met diegene wat hul ink by die vat aanskaf nie.

Die uitslag van die leierskapstryd gaan ook toon – al is dit nie dadelik nie – waarheen die DA op koers is. Zille het ’n liberaal-demokratiese party by Tony Leon geërf. Volgens waarnemers laat sy nou ’n party met meer sosiaal-demokratiese kenmerke na. Die Onafhanklike Demokrate (ID) van Patricia de Lille, wat deur die DA “ingesluk” is, het immers kort voor die oorname besluit dat die party (die ID) sosiaal-demokraties sal wees.

Gaan die volgende stap dalk “swart nasionalisme” wees – die koers wat die ANC nou in erg rassistiese terme dryf? Spore hiervan is al bemerk toe die DA se parlementêre koukus onder die destydse leiding van Mazibuku aanvanklik nuwe verskerpte SEB-wetgewing deur die ANC gesteun het, en Zille in hierdie petalje, wat sy ’n vlietuigongeluk genoem het, moes ingryp. Maar is die gedagtegang onder alle DA-parlementslede gebreek? Mazibuku het die aftog geblaas, maar volgens Jan-Jan Joubert het haar ondersteuners haar reeds gekontak om haar beskikbaar te stel om Zille op te volg.

Hoewel Mmusi Maimane skynbaar loshande die gunsteling is om Zille op te volg, weet min mense ten spyte van sy verbale oorvloed presies waar hy staan. Sommige ontleders plaas hom in dieselfde dampkring as die meer behoudende Athol Trollip, terwyl ander sy Soweto-toesprake voor die vorige algemene verkiesing onthou waar hy beleidsgewys soos die ANC se “mini-me” geklink het.

Sal die DA ’n party kan bly waarin oud-Natte wat volgens ontleders soos Joubert te behoudend, en dus skadelik vir die DA is, in die DA sal kan bly?

Sal die DA onder Maimane se leiding weer op nasionale vlak Afrikaans as ’n taal van amptelike mediaverklarings invoer? Iets wat tydens Zille se leierskap effektief heeltemal uitgefaseer is.

Sal diegene wat, soos Zille versoek het, hul stemme vir die DA “geleen” het, steeds na haar vertrek gemak daarmee hê as die partyleier skynbaar nie Afrikaans kan praat, soos Zille wel kan doen nie? Nadat Leon so bitter kwaad was vir Kortbroek oor sy storie van stemme op kleiner partye vermors, het die DA dit sy eie gemaak terwyl wiskundige ontledings toon dat die teenoorgestelde eerder waar is. Gaan ons ’n geval sien van al loop die leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel?

Of gaan die nuwe leier besluit daar is lank genoeg met onkundige kiesers se koppe gesmokkel?

Hierdie soort vrae sal diegene wat die DA ongeag steun “omdat daar ’n sterk opposisie moet wees” baie ergerlik laat, maar dit laat nie die feit verdwyn dat kleiner opposisiepartye oor baie kundige mense beskik wat met knap strategieë na vore gaan tree om die DA-oorgang te probeer benut om steun te werf nie. Die kleinste krakies in die DA-mondering sal gevind en oopgeforseer word.

Voorts verskil die mediawêreld nou ook aansienlik van destyds toe Zille die leisels oorgeneem het. Die Independent-groep is deur nuwe eienaarskap nader aan die ANC gestuur, en die DA sal meer krities onder die loep geneem word. Die New Age is via die Gupta-eienaars nie net pro-ANC nie, maar die regering se witbroodjies. Afrikaanse koerante wat ’n liberale inslag volg, se lesersgetalle het intussen baie gekrimp. Onafhanklike uitsaaimedia het nie die mannekrag om die DA se Engelse nuusverklarings te vertaal nie, en het ’n groot deel van sy media-uitset nie meer die Afrikaanse luisteraars bereik nie. Daarteenoor het die kuberruim intussen gegroei en lesers op groter skaal aan alternatiewe denke en inligting blootgestel.

Raspolarisasie het nie net volgens aan-die-bas-voel-waarnemings nie, maar deur opnames soos die versoeningsbarometer, baie toegeneem en manifesteer nou in die vorm van die skending van standbeelde, voorgenome grondgryp, en vele meer. Dit maak dat nie-rassige partye soos die DA nou veel meer op die flanke moet let sonder om die oë van die front af te haal.

Die ANC het lank reeds besef dat sy swak regeervermoë doeltreffend besweer kan word deur die rassetamboer te moker, en dit gaan klaarblyklik erger word. Met die vorige algemene verkiesing was daar ’n stadium waar peilings nie meer enige wit steun vir die ANC kon toon nie. Die opkoms van die BBB het ook sake vir nie-rassige partye in veral die Wes-Kaap gekompliseer. Dit beïnvloed egter nie net die ANC nie, en wie ook al die nuwe leier van die DA gaan wees; hy sal die wysheid van Salomo nodig hê om nie elke keer wat hy aan die een kant steun wen, in gelyke mate steun aan die ander kant af te staan nie.

’n Mens kan aanhou en aanhou met projeksies, en uiteindelik op ’n streep verkeerd bewys word.

Wat egter nou soos ’n paal bo water staan: Die land sou beter vaar as dit die ander Z-faktor was wat nou sy goed gevat en geloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

petrus ·

Ek dink regtig dat helen zille se bedanking te doen het met zwelinzima se toetrede tot party politiek.Moontlikheid bestaan dat irvin jim en zwelinzima hulle werkers party gaan stig en dai werkers party gaan die middelklas persoon wegrokel van die da af.Veral die midelklas swartes.Rasisme is nog lewend in die da

Jo ·

Hi Petrus, jou verwysing na rassisme beskou ek as `n “understatement”. Hoewel ek sterk vermoed dat Maroela weer die kommentaar sal sensor probeer ek in elkgeval maar. Hier WAS rassisme in die land na 1994. Dit het nou ontaard in naakte rassehaat wat deur hierdie “regering” veroorsaak en aangeblaas word. Hulle aanhoudende pogings om mense in mekaar se kele af te druk ignoreer nie net die reg op vrye assosiasie nie maar ontketen ongekende wrokke jeens mense.

Chris ·

Die DA sal verseker ge bbbbbbeeeeee word daars geen twyfel nie.Hulle het reeds die ANC se beleid(net die implementering daarvan verskul so bietjie) nou vir die swart leier ,dan verskul net die naam.Hulle besef goed die meeste swartmense stem agter kleur aan. Miskien moet hulle saamsmelt dan het ons vir DANC(E) iets wat ou hellenback goed kon doen tekkies en al.Die nuwe “leier”sal nou net dalkies wittes moet begin soen ,aangesien Zille so akief was om haar kleurloosheid te bewys met ‘n kus of twee.
Verder sal die “transformasie” van die DA nou versnel , die dienslewering waaroor almal so gaande oor is gaan nou stelselmatig ANC standaard word en die arme liberale mense sal nog steeds nie versaan nie.

Leendert van Oostrum ·

Van vasklou gepraat = dis nou aan die leierskap van krimpende partye:

Opmerklik afwesig uit die inventaris hierbo is die geval van die VF+.

Dis jammer daar is skynbaar nie ‘n kerngesonde party as alternatiewe tuiste vir die arme Afrikaners wat nog steeds vir die DA stem nie – skynbaar uit nostalgiese herinnering aan die dae van Tony Leon se “fight back” -strategie (dit het darem goed gewerk om die Boere agter die Jode te laat aanloop :-)

Peet Schabort ·

Ek hoor die klokke beier.
Is dit aanvaarbaar vir plasing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.