Nuuskommentaar: Die Zuma-moeras raak al dieper

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Pres. Jacob Zuma. Foto: DoC

Die beëdigde verklaring van die destydse waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging, Mokotedi Mpshe, dat hy gereed was om pres. Jacob Zuma op meer as 700 aanklagte van onder meer bedrog te vervolg, staan as aanklag teen ʼn onrusbarende groot groep mense.

Vroeër het die aanklaer, Billy Downer, ook aangedui dat hy gereed is om te vervolg. Trouens, Zuma self was uitdagend dat hy sy dag in die hof wil hê. Maar die saak is skielik formeel teruggetrek, volgens ʼn presedent van ʼn Hongkongse saak (wat in ieder geval in ʼn appèl omgekeer is).

Daar word gereeld gesinspeel op die onderskeid tussen onskuldig bevind en vrygespreek. Zuma en sy aanhangers het probeer voorhou hy onskuldig bevind is. Die breë publiek het daai ene gegogga.

Vanuit ʼn regsbenadering het Zuma en sy regspan ook nie die “onskuldig”-roete gevolg nie. In ʼn stadium is aangevoer die vervolging sou veroorsaak dat hy nie sy volle aandag aan die presidentskap sou kon skenk nie. Heel ironies het die howe bevind Zuma het ten spyte van die terugtrek van die aanklagte, nie die nodige aandag geskenk nie – nogal met die aanstelling van ʼn nasionale direkteur van openbare vervolging.

Voorts het Zuma se regspan aangevoer dat volgens die Suid-Afrikaanse reg, “soos in Frankryk en die VSA” die sittende president vrywaring van vervolging het. Hierdie was een van die voorbeelde van “verrassingspakkie-regsadvies” wat Zuma tydens sy bewind ingewin het. Franse presidente is wel vir die duur van hul termyne gevrywaar, maar nie die Amerikaanse presidente nie en ook nie die Suid-Afrikaanse presidente nie.

Zuma het nietemin lank daarin geslaag om vervolging te stuit deur kat en muis te speel en hy sal wel nog ʼn paar troewe hê. Sy mees onlangse verweer dat die saak “dood” is, klink na wensdenkery.

Al word die sake op die een of ander manier blywend aan die ban gedoen, sal sy presidentskap onder ʼn donker wolk bly – ook oor ritse sake sedertdien, soos Nkandla en Guptagate. En dit hou nie op nie, soos die Al-Basjir-saak.

Tog, volgens ANC-tradisie, sal verwag word dat Suid-Afrikaners hom met dieselfde heldeverering moet eer as ander post-1994-leiers. Maar dié ene is moeilik om te verkwansel. En dit gee ʼn slegte naam aan leiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hansie ·

Hy moet uit!!!!!!!!!!
Hoe lank moet ons sulke drek sluk?. Hy maak ons land ‘n bespotting!!

Bertha ·

Ag Hansie, ek het lankal moed verloor, hierdie land is VROT VERBY!

Se Maar Net ·

Om te dink dit is die hoof van die land?? As daar bedrog op die horison verskyn, is hy voor. Maar niemand is so blind as die wat nie wil sien nie. Want die ander klomp saam hom en sy aanhangers is ewe korrup. Wie is sy regte “mind” het ‘n goeie woord vir die man? Se ook verdomp maar net!!!

johan ·

Pateties. Dit is werklik ‘n anc moeras. Om te dink dat hulle ‘n land regeer. Alles wat hulle aanpak en se is bedrieglik. Hulle is ‘n skande vir ons land.

Winston ·

Hy beroep hom op Frankryk en VSA om vervolging te ontduik en dan los hy n internasionale krimineel soos Bashir? En dreig om ICC lidmaatskap op te hef? Stem saam die land is VROT. ZUMAVROT

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.