Nuuskommentaar: Diere vergiftig voor rooftogte

Argieffoto: Pixabay

Misdaadvlakke is so hoog dat dit amper onwaarskynlik is dat enige Suid-Afrikaner sy ganse lewe kan deurgaan sonder om iewers in gevaarlike misdaadsituasies te beland.

Om Jan Alleman te beskerm is daar allerlei toerusting soos pepersproei beskikbaar, daar is gewapende reaksiemagte, veiligheidsmure en -heinings en vele meer. Maar een van die doeltreffendste maatreëls is om die mens se beste vriend byderhand te hê, al is dit net vir afskrikking. Maar nou lyk dit of honde gereeld as faktor uitgeskakel word deur hulle te vergiftig.

Deesdae is daar skaars ’n koerant wat nie minstens een berig dra oor honde wat vergiftig is, en dan deur ’n rooftog gevolg word nie. Bothaville het pas deel van hierdie skokverhaal geword. Veertig honde in een nag in Roodepoort vergiftig, lees ’n opskrif op Netwerk 24.

Die vergiftiging van honde, en af en toe selfs ander diere soos katte, is nie nuut nie. Soms was die motiewe onbekend. Dan is bespiegel dat ’n inwoner in die omgewing dalk snags uit sy slaap gehou is deur ’n blaffende hond, of die hond het saans uit sy erf gekom en oral gaan amok maak soos om vullissakke te plunder wat uitgesit was, maar nie, soos veronderstel was, deur die munisipaliteit verwyder is nie. Die volgende dag, selfs al was dit honde-afweersakke, lê die wêreld gesaai met rommel van selfs die mees intieme aard.

In die dae voor Suid-Afrika sy eie weergawe van die Chinese Groot Muur begin oprig het (duisende kilometer duiwelsvurk-heinings en stapelmure met elektriese heinings bo-op), was rondlopery algemeen. Soggens kon baie huiseienaars net die kop skud nadat die rondlopers sy huis uitgesoek het vir hul jongste aan-aan‑ wedstryd in die Canis-landmynliga, en die grasperk van die landmyne besaai lê.

En soos Blou Willem Theron by geleentheid geskryf het, min dinge gee so ’n erge klank af as ’n ander man se hond se landmyne op jou erf.

Natuurlik verdien honde nie om hieroor die doodstraf opgelê te word nie.

Nou is ’n vergiftigde hond, of soos die ou mense gesê het, ’n hond wat vergewe is, ’n baie waarskynlike teken dat huisrowers of inbrekers beplan om by ’n huis in die omgewing toe te slaan.

Die dae toe honde nog saans kon “bendes” vorm en op iemand se grasperk kon gaan “rugby” speel het, is nou deel van die geskiedenis. Met die werklike werkloosheidskoers wat na die 50% begin aanstap, saam met die vlakke van moraliteit wat daal weens die voorbeelde wat ook deur te veel Suid-Afrikaanse politici gestel is waar sommer bykans die hele land “gestaatskaap” is, bied huishoudings byna die enigste “werksgeleenthede” in die vorm van huisbrake en huisrooftogte. Daar is geen formele opleiding vir hierdie “beroepe” beskikbaar nie, maar statistiek toon dat informele opleiding en selfs inoefening alledaags is.

Kort-kort lees ons van die mens se beste vriend wat sy mense so verdedig het dat die hond doodgeskiet of gekwes is.

Wat nié sommer die nuus haal nie, is die gevalle waar die blote teenwoordigheid van honde ’n huisroof of huisbraak voorkom het. Hoeveel rooftogte op stappers en drawwers, veral na sononder, is nie al voorkom deur die teenwoordigheid van ’n hond of twee nie?

Die belangrikheid van goeie waghonde kan nie oorbeklemtoon word nie. Vir hierdie onbaatsugtige diens vra die hond nie nog ’n bonus of oortyd om ook jou beste vriend te wees nie, en niemand, laat staan nog ’n beste vriend, verdien om so ’n hondelewe te lei, of eerder te ly, soos sommige honde aan blootgestel word nie.

Maar soms moet selfs wilde diere die spit afbyt. Dit was onlangs in die nuus oor renosterstropers wat skynbaar na hulle ’n renoster geskiet en die horing afgesny het, ’n buffel ook geskiet het. Hoewel vleis skynbaar vir eie gebruik uitgesny was, was die vernaamste rede vir dié buffel om die karkas te vergiftig. Die karkas het weer aasvoëls, sommige baie skaars, gelok. Omdat aasvoëls in die lug om ’n karkas sirkel, trek dit die natuurbewaarders se aandag, en so word stropers wat nie met hul vragte vinnig genoeg kon wegkom nie, vasgetrek. Die “oplossing” is om die aasvoëls uit te roei.

Ook die wetstoepassers teen stropers span honde in om hulle taak te vergemaklik. In die proses word die honde ook aan vergiftiging en ander gevare blootgestel.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Hulle vergiftig ons honde omdat hulle nie kan verstaan hoe kan ‘n mens ‘n dier liefhe en mooi na hom sorg.Hulle verwag ons moed daai geld op hulle spandeer.

n feit

Daarom slaap altwee my honde by my in die bed. Ja in my bed, onder my komberse saam my want hul is my enigste familie.

honourable member

Stem saam jou Marius. Het respekteer nie eers hulle self nie. My hond is my alles.

Jerry

Dit laat my dink aan voeltjies wat destyds ondergronds in die myne gebruik was en wanneer die voeltjie omkap van giftige gasse, dan was dit die teken aan die mynwerkers om te vlug na die oppervlakte. Wanneer jou honde dus vergewe word moet jy ook maar vlug of gereed maak om die aanslag af te weer! Onthou net dat indien jy n “stand” wil maak wanneer hulle vir jou kom, kom hulle georganiseerd en met outomatiese gewere in groepe en die groepe raak deesdae ook al hoe groter! Berei maar voor vir die worst case scenario, dan kan hulle jou… Lees meer »

Denise

Dit kan net n mens wees wat BAIE HAAT in hom het wat in staat is tot so iets baie hartseer !!!!!