Nuuskommentaar: Diewe of leiers?

nuwe SA-vlagMnr. Cyril Ramaphosa, adjunk-president van die ANC, se oproep dat minstens met die implementering van daardie dele van die Nasionale Ontwikkelingsplan begin word waaroor konsensus bestaan, is insiggewend. Dit is enersyds ‘n erkenning dat dwarstrekkery binne die ANC-alliansie oor die plan, ten spyte daarvan dat dit deur die ANC se nasionale kongres goedgekeur is, steeds in die lug hang, en tweedens dat die land in die knyp is. Uit die privaat sektor kom die duidelike vermaning dat die land sal sukkel om die huidige stakingseisoen te oorleef.

Ramaphosa, toe nog in sy hoedanigheid as private sektor-magnaat, was een van die hoofde wat saam met minister Trevor Manuel die paneel gelei het om die plan op te stel.

Oor die meriete van sekere dele van die plan het daar, namate kundiges deur die ganse lywige dokument kon werk, ernstige probleme opgeduik. Daar is onder meer ernstige bedenkinge oor die grondhervormingsaspekte, en beide Solidariteit en AfriSake het al in die openbaar op dié tekortkominge gewys.

Die probleme wat sekere sektore van die ANC-alliansie daarmee ondervind, lê egter op ander terreine. Dit word onder die sambreel saamgevat dat sekere dele nie in pas met die Vryheidsmanifes is nie.

Van die opstellers van die Vryheidsmanifes het egter ook reeds verduidelik dat die manifes binne ‘n sekere tydsmilieu opgestel was. Destyds was die kommunisme wêreldwyd nog ideologies in opmars, en het uhuru oor die kontinent gespoel. Die lang messe was uitgepak om spore van kolonialisme uit te sny.

Nou word dié argaïese dokument in sy geheel as stok ingespan om die Nasionale Ontwikkelingsplan mee te looi. Op sy eenvoudigste vertolking bepleit die manifes die nasionalisering van banke, myne en die onteiening van grond.

Dat die NDP vrybuit sou wees, was vanuit die staanspoor duidelik, onder meer toe minister Rob Davis se departement konsepwetgewing voorberei het wat alle sake-ondernemings, van straatsmous tot agent, aan ‘n stelsel van lisensiëring sal onderwerp, en die lisensiëring boonop aan munisipaliteite uitgelewer sou word, wat aldus die ouditeur-generaal, nie juis uitblink in doeltreffendheid en selfs eerlikheid nie. Die beginselprobleem is egter die toenemende burokratisering van die produktiewe sektor wat die land uit sy ekonomiese teerput moet neem dwarsboom. Dis soos ‘n blok aan die been.

Ramaphosa het op ‘n beraad van die Bankvereniging in Johannesburg gesê die sakewêreld en finansiële dienste-sektor het ‘n belangrike rol om te speel. Ramaphosa, wat ook die adjunk-voorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie is, sê klein en medium ondernemings moet gehelp word omdat hulle bydra tot werkskepping. Hy sê banke sal maniere moet vind waarop krediet aan dié sake-ondernemings gegee kan word.

Maar dan moet die omgewing daarvoor tog geskep word.

Dat die land nou met die stakingseisoen in volle swang ernstige probleme in die gesig staar is nie te betwyfel nie. Die voorsitter van die Kaapstadse Kamer van Koophandel, Michael Bargraim sê Suid-Afrika lok nie in die stadium buitelandse beleggings nie en die land sal sukkel om die voortslepende stakings te oorleef.

Die minister van arbeid, Mildred Oliphant, het op ‘n geskrewe vraag in die parlement bekendgemaak dat werkers tydens verlede jaar se stakings sowat ses komma ses miljard rand aan salarisse verloor het. Vroeër die dag het bronne in die privaat sektor dieselfde syfer gebruik. Meer as 24 miljoen werkure het hoofsaaklik in die vervaardigings- en mynbedrywe verlore gegaan. Oliphant sê van die 99 stakings was slegs 54 wettig. Die KVBA het meer as 3600 geskille oor salarisse en diensvoorwaardes besleg, waarvan ‘n ooreenkoms in tweederdes van die gevalle bereik is.

Benewens die feit dat daar werk van gemaak moet word om die land se ekonomie op dreef te kry, moet daar met dit wat beskikbaar is, sterk geprioritiseer word. Maak dit sin dat Suid-Afrikaanse soldate by konflikte in Afrika betrokke is, as die regering plaaslik op die rooi tapyt beland omdat nie behoorlik uitvoering gegee word aan ‘n skikking, wat deur ‘n hofbevel bekragtig is, om grensboere op die Lesotho-grens behoorlik te beveilig nie?

Daar is voorbeelde wat Suid-Afrika van buite Afrika gerus ter harte kan neem. België het pas sy 17de plek op die mededingingsindeks van die Wêreld Ekonomiese Forum behou danksy goeie gesondheidsorg en onderwys, maar sy arbeidsmaatreëls en owerheidsinmenging balanseer die pluspunte uit.

Nederland is weer uit die top tien ekonomieë in die wêreld gedwing danksy ‘n onbevredigende plek op die innovasie-indeks. Nederland het van die vyfde na die agste plek op dié indeks teruggesak – Suid-Afrika van die 52ste na die 53ste.

Oor die stand van onderwys in Suid-Afrika, en Sadou se besware wat ‘n behoorlike keuring van matriek-nasieners in die wiele ry kan boekdele geskryf word, ten spyte van baie belastinggeld wat aan onderwys spandeer word.

Arbeidswetgewing in Suid-Afrika bly ‘n mynveld. Verlede jaar het werkgewers sowat 80 000 sake, sowat tweederdes van alle sake voor die KVBA, verloor. Op die oog af lyk dit of arbeidswetgewing arbeidsverhoudinge algeheel verdring het, en erg in die guns van werknemers gelaai is. Maar die volle prentjie is egter dat enorme wanpraktyke in bestuur steeds voorkom, hetsy deur gebrekkige kennis oor gesonde, deelnemende bestuurspraktyke, of bloot swak opvoeding wat op gebrekkige menseverhoudinge neerslag vind. Dit is dus ‘n tweesnydende swaard.

Die land gaan sy weg met moeite na herstel vind as die land nie behoorlike leierskap kry nie. Of om die woorde te gebruik van dr. Mamphela Ramphele, dat die land nie leiers het nie, net diewe. Dit is woorde wat, ten spyte van die SAUK se swye nog hard gaan weergalm.

Maar ideologiese dwarsboming, soos rasbehepte transformasie, is ook skadelik. En burokratiese kruiping. En misdaad waaronder korrupsie.

Die lysie is lank, en die lysie werklike leiers in posisies om ‘n verskil te maak baie kort.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae