Nuuskommentaar: Diktatuur in die gedaante van demokrasie

Restaurante in Kaapstad het op 22 Julie 2020 deelgeneem aan ‘n betoging teen die voortgesette alkoholverbod (Foto: A Gorman Photography/Facebook)

Die hele restaurantbedryf het onlangs sy stem dik gemaak in ʼn landswye vreedsame protes. Die doel hiervan was om die regering se aandag te vestig op die uitdaging van oorlewing wat dié bedryf onder die huidige regulasies ervaar. Een van die grootste meulstene om hulle nekke synde die heringestelde alkoholverbod.

In die middel hiervan het die regering op hul amptelike Twitter-rekening heel arrogant aangekondig dat die alkohol- en tabakverbod nou tot aan die einde van die inperking sal geld. Dit natuurlik in teenstelling met die aanvanklike regulasies van die regering wat bepaal het dat dié verbod slegs tot en met vlak 3 van toepassing sou wees. (Die aankondiging is vergesel van – ten beste twyfelagtige en uiters selektiewe – “data” as regverdiging.)

Die Twitter-aankondiging is vanselfsprekend met fel kritiek vanuit alle oorde begroet. Die inhoud daarvan is onteenseglik aanvegbaar. Wat egter meer kommerwekkend is, is die wyse waarop dit aangekondig en later eensklaps weer teruggetrek is.

Dit was nie die eerste keer dat die regering absoluut magsbesope bindende aankondigings op so ʼn ligtelike, informele wyse gemaak het nie.

Die eerste geval waarin die regering sonder enige agting vir wetlike prosedures regulasies uitgevaardig het, was minister Ebrahim Patel se oorlogsverklaring teen warm hoender. Minister Patel het tydens een van die ministeriële inligtingsessies – sonder enige vooraf gepubliseerde regulasies in die Staatskoerant – verklaar dat winkels voortaan geen warm etes meer sou mag verkoop nie.

Angie Motshekga. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Daarna het die minister van basies onderwys, Angie Motshekga, op die vooraand van die heropening van skole oor Twitter aangekondig dat skole nou nie meer die volgende dag mag open nie. Hierdie stap was selfs meer nie-amptelik as minister Patel s’n, maar nogtans ewe bindend.

In nog ʼn sosialemediaverklaring het president Cyril Ramaphosa via die presidensie se Twitter-rekening die toerismebedryf vir ʼn paar uur geopen. ʼn Paar uur later is hierdie aankondiging egter ook teruggetrek en daarmee saam die toerismebedryf weereens gesluit.

Die regering het oor die afgelope paar maande sonder om te skroom regulasies van krag gemaak sonder om dit ooit amptelik uit te vaardig. Volledige sektore van die ekonomie en die samelewing is geopen en gesluit na aanleiding van lukrake aankondigings. Aankondigings wat sonder sektorale konsultasie, met bedenklike databewyse en geen openbare gesprek nie, van krag gemaak is.

Indien ons enige iets hieruit moet leer, is dit dat die regering nie eers meer daarin belangstel om die illusie van ʼn demokrasie te onderhou nie. Hulle optrede spreek eerder van ʼn regering wat uiters gemaklik daarmee is om die septer te swaai soos wat hulle goeddink – hulle sal namens die mense oor die mense dikteer.

Sodoende het die regering ʼn omgewing geskep waarin die burgery in vrees vir hulle wispelturige uitlatings leef. ʼn Omgewing waarin jou lot as burger volledig aan die genade van die regering oorgelaat is. Die regering het nou die mag om in ʼn eenvoudige sosialemediaplasing die ineenstorting van ʼn hele bedryf te veroorsaak.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Dit is ook belangrik om te onthou dat ons nie regtig weet deur wie presies ons regeer word nie. Die nasionale koronavirus-bevelsraad het alle wetlike en demokratiese ruimtes oorgeneem as alleenregeerder. Niemand is presies seker wie almal deel van hierdie bevelsraad is en wat die magsbalanse tussen die verskillende lede is nie. Die gevolg wesende dat ons vir alle praktiese doeleindes deur ʼn gesentraliseerde skim regeer word.

Israeliese geskiedkundige JL Talmon het hierdie tipe regime ʼn totalitêre demokrasie gedoop. In so ʼn demokrasie sluit ʼn legitiemverkose regering die burgery volledige by besluitnemingsprosesse van die regering uit. Sodoende het ʼn regering die mag om beheer oor alles en almal uit te oefen. Sulke regerings gebruik gewoonlik ʼn kombinasie van die sogenaamde “openbare belang” en meerderheidsregering as regverdiging hiervoor.

Die ANC het oor die afgelope 26 jaar regtig moeite gedoen om die idee aan ons te verkoop dat ons in ʼn normale en goeie demokratiese bestel leef. Selfs aan die begin van die huidige krisis het hulle die regte goed gesê om ons gerus te stel dat ons demokrasie selfs onder hierdie omstandighede floreer.

Die een ding wat die regering se wispelturige wetmakery ons egter geleer het, is dat dié gedagte van ʼn demokrasie presies net dit is – ʼn blote gedagte. Die regering is meer as gemaklik daarmee om lukraak met die volle mag van die staat op ons as burgers neer te daal.

Die silwer randjie is egter dat hierdie regering nie die vaagste benul het hoe om enige iets suksesvol te bedryf nie – waarskynlik ook nie ʼn diktatuur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Isabella ·

En ons gan op vlak 3 bly solank as moontlik regering rek dt uit solank hul kan en taxis floreer

gatgogga ·

Cyril lyk darem meer aanvaarbaar wanneer hy sy masker dra.

Anel ·

Ons het in ‘n komunistiese staat verander op die 27 Maart 2020. Dit is waarvoor die ANC al jare gewag het en daar het nie een skoot tydens oorname geklap nie.

My Mening ·

Die laaste paragraaf is die som totaal wat ek van die regering van ons dink (en lekker gegiggel daaroor, tog so waar). Ek glo as die regering hierdie lockdown verewig kan laat aangaan sal hulle. Dis alombekend dat SA van die strengste lockdown regulasies het. Wat wel vir my die frustrendste is dat dit deur verskeie mense, lande, ens opgemerk word, maar absoluut niks word daaraan gedoen nie!!

piper ·

die een dag mag jy jag maar nie oorbly nie. die volgende dag word b&b en hotelverblyf vir ontspanning oopgestel. so binne een dag mag jy by n jagtog nie oorbly nie en die volgende dag mag jy. dit mag net wel gebeur in dieselfde provinsie waar jy bly. duidelik die een in die regering weet nie wat die ander doen.

JohanR ·

As jy iewers deur die polisie voorgekeer is se net vir hulle dat die hele land is gisteraand oopgegooi, en het hulle nie Cyril op die kassie gesien nie. Ek dink hulle is ook soe deur die wind met die reels dat hulle jou blykbaar sal glo. Eeen dag mag jy die doen, maar nie dat doen. Dan die volgende dag mag jy dat doen, maar nie dit doen. Dink ou Kopdoek sit bedags en gooi vuurpyltjies na ‘n dartbord. Sal hulle, kan hulle, mag hulle!

Persheks Adri ·

Goeie genade wat mag ons doen? Regtig nou mag ons nooit weer rook ook nie, want NDZ en haar kinders maak onwettige geld op maak geld op swart mark en word steeds nie vervolg nie!!! Gister nog was dit die aand klok gemors en nou dit? Wat op dees aarde?

Michael ·

Hierdie dinge gebeur omdat die meerderheid mense dit goedkeur. Dis duidelik uit ‘n onlangse meningsopname. Dan gebruik hulle hier vrees net soos in ander lande om mense te onderwerp. Vrees verdryf alle selfdenke en logika. Volgens die WHO wie die regime so slaafs navolg, het daar in 2019 ongeveer 72 000 gesterf aan HIV/VIGS in SA , dis gemiddeld 197 per dag, tussen 2001 en 2010 was dit gemiddeld 200 000 per jaar-548 sterftes per dag vir 10 jaar. In 2018 het 21000 gesterf aan TB – 58 sterftes per dag. Daar sterf dus nou ongeveer 250 mense per dag aan HIV/VIGS en TB en vir vorige jare was dit baie meer, dis nou ongeveer 7500 per maand , maar niemand rep ‘n woord daaroor nie. Daar het dus vanaf Maart 2020 ongeveer 30 000 mense aan die twee siektes gesterf en steeds geen woord in die media nie. Ook wou die kommuniste ons nog nooit teen dit “beskerm” nie. WAAROM NIE? Ek dink dis tyd dat mense hul gesonde verstand begin gebruik en self dink.

AlWeerSo ·

Op die ou einde is die realiteit hoe verdeel die hele land is en hoe ´n drakoniese regering ons almal lamgelê het met die minste moeite en al wat ons almal kan doen is om elke dag te kef, kef net om more oggend op te staan in dieselfde gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.