Nuuskommentaar: Diktatuur van vrye mening

koerantBy geleentheid het die rissiepit-rubrieksrywer, Rhoda Kadalie geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis.

Dit handel nie net oor wat die media in term van sy eie agenda aan die nuusverbruiker aanbied nie, maar ook wat weggelaat word. Dit is op die oog af pas weer stil-stil gedemonstreer toe die land gelyktydig geskok is deur die Diepsloot-moorde op kinders, en twee plaasaanvalle wat drie wreed-vermoorde slagoffers en ‘n kritiek-beseerde gestremde opgelewer het. Die media se nuusfokus hierop het baie duidelik hul teikenmarkte weerspieël – met een blok wat net of die Diepsloot-moorde aan die groot klok gehang het, en ‘n ander deel die plaasaanvalle. Maroela was ‘n betreklike uitsondering wat oor beide berig het.

Die ironie loop verder – die reaksie van politieke partye kon ook net so met ‘n mes gesny word. Die partye wat die fokus op die wen van swart stemme plaas, het effektief net op die Diepsloot-moorde gefokus, en dié wat ook die Afrikaanse kiesers in die oog het, het hoofsaaklik op die plaasmoorde gefokus.

Die interessantheid was dat die gedrukte media wat oor die plaasmoorde berig het, nie die politieke partye wat gereageer het se verklarings gedra het nie, en dis baie moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom dat dit is omdat die “verkeerde” partye volgens die betrokke media se eie voorkeure gereageer het, en die “regte” party(e) geswyg het. Die ander partye se reaksies sou die aandag kon fokus daarop dat die “regte” party geswyg het.

Of is so ‘n afleiding blote paranoia? Maar hoeveel van die kritiek op wat die media gebruik en swyg is werklik paranoia, en hoeveel is ‘n raak-waarneming van eie politieke agendas?

In ‘n heterogene samelewing soos Suid-Afrika, waar persepsies oor die werklikheid erg verskil, is dit inderdaad ‘n landmynveld vir die media om kop te hou. Dit word nou weer gedemonstreer oor die teenspoed wat die redakteur van City Press op die lyf geloop het. Sy het mond uitgespoel oor die swart op wit rassisme wat sy tydens ‘n redaksievergadering ervaar het… en loop toe in die proses self ‘n klag van rassisme op die lyf. Dit blyk dat daar (steeds) mense is wat glo swart mense kan per definisie nie rassiste wees nie en gevolgloos rassisties optree, terwyl ander hierdie siening as inherent self erg rassisties ervaar.

Die polarisasie van beskouings word in min sake so duidelik gedemonstreer soos opnames wat toon dat ongeveer 85 persent swart mense (en dus nie net Malema nie) glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel. ‘n Groep hoofsaaklik Afrikaanse instansies het deur die ad hoc-komitee oor eiendomsreg ‘n konferensie aangebied met die subtema, Die groot leuen, wat die teenoorgestelde persepsie by blankes goed demonstreer.

Vandag kan die tea party na die Amerikaanse “shut down” getuig van die hiper-onverdraagsaamheid van liberale oor die tea party se rol in die “shut down.” Die tea party word die kop gewas omdat hulle die regering se planne met onder meer die deurvoer van “Obamacare” probeer frustreer het. Maar dis ‘n halwe waarheid – in die Huis van Verteenwoordigers het die Republikeine, waarvan amper die helfte lede van die tea party is, ‘n meerderheid van 17 setels. Let wel, ‘n meerderheid in een van die twee huise van die parlement. En as meerderheidsparty … wie vertrap nou eintlik die demokrasie deur hierdie kieserskeuse in die gesig te trap om iets deur te voer wat die meerderheid nie wil hê nie – ook gestaaf deur meningspeilings?

In die aanloop tot die “shut down” het pres. Barack Obama onder meer aangedui dat hy sy vetoreg sou gebruik om wetgewing te keer wat aborsies na twintig weke swangerskap onwettig sou maak. Die voorstanders van hierdie wetgewing glo die ongebore baba voel van twintig weke af pyn, en hierdie beoogde wetgewing is immers reeds ‘n tweede prys teenoor hul eerste keuse van ‘n verbod op aborsies op aanvraag.

Wie tree dus ondemokraties op?

Die ironie is dat dit gewoonlik juis die liberalis is wat die meeste lippediens aan persvryheid betoon, veral wanneer landsveiligheid as rede vir die beperkings op persvryheid geplaas word – of dan, as verskoning vir die perke aan persvryheid gestel word… solank die vrye pers dan pligsgetrou die liberale agenda bedryf.
“Meningsvryheid is ononderhandelbaar solank dit ons mening is.”

Hoeveel Suid-Afrikaanse kiesers gaan werklik toegerus die verkiesing in, weens “politiek-korrekte sensuur” wat ideologies een weergawe weergee?

Die media is oor ‘n wye front onder druk, en dit is ‘n oop raaiskoot oor hoe lank die lesers nog ‘n gedrukte koerant te koop gaan kry. Nie net oor ‘n skynbaar verouderende medium nie, maar omdat veral die gedrukte media in baie lande die gaping rek oor wat as nuus aangebied word, en wat die lesers as geloofwaardig ervaar.

Die ‘n komplekse saak met geen maklike antwoorde nie. Stereotipering is baie gevaarlik. In Nederland, so blyk dit uit ‘n opname, beskou net 17 persent van die Christen-Demokratiese Appèl die pers as geloofwaardig. Onder ondersteuners van ander partye lyk dit effens beter, maar steeds bedroewend laag. Die persepsies raak al sterker dat die koerante nie hul gemeenskappe bedien nie, maar die agendas van die klein groepie senior redaksielede.

In die VSA is dit ‘n wydlopende persepsie wat duidelik in peilings neerslag vind.
In Suid-Afrika het die destydse redakteur van een van die groot Afrikaanse koerante in ‘n hoofartikel geskryf die aborsiekwessie is nie meer deel van die openbare debat nie. Toe openbare vergaderings binne die lesersgebied gehou is oor nog liberaler aborsiewetgewing het nie net die koerant soos die graf daaroor geswyg nie, maar ook al sy gemeenskapskoerante. Met die diensaanvaarding van ‘n nuwe redakteur, het aborsies weer deel van die openbare debat geword. Die saad van wantroue is egter gesaai – die koerant het immers reeds sy “bereidheid” in ‘n hoofartikel verklaar om namens die publiek – wat immers ook deur ander nuusbronne gevoed word – se leeskeuses te bepaal.

Mnr. Koos Bekker, grootbaas van Nasionale Pers is by geleentheid in sy eie groep aangehaal dat hy tydens ‘n vergadering sy kommer uitgespreek het oor die moontlike invloed van die talle onafhanklike gemeenskapsmedia, omdat dit gedagtediversifikasie bevorder en nasionale kohesie kan ondermyn. Hy is hierop van ideëimperialisme beskuldig.

Maar dis nie al nuusmanipulasie wat die verbruikers ervaar nie. Pas het die grootbaas van Associated Press (AP), Gary Pruitt, tydens die 69ste jaarvergadering van de Inter American Press Association, sy mond goed uitgespoel oor die impak van veiligheidswetgewing en veiligheidsmaateëls op persvryheid.

Pruitt het onder meer gesê lande wat die burgers dwing om te kies tussen veiligheid en persvryheid, baar ‘n skyndemokrasie: “’n Vrye, onafhanklike pers onderskei demokrasie van diktatuur en maak die verskil tussen ‘n vrye samelewing en tirannie.”
Die kwessie duik meermale op. In Nederland het die veiligheidsdiens ‘n hofsaak verloor nadat meegeluister is op ‘n joernalis en koerant na aanleiding van die besoek van die Dalai Lama aan Nederland. Die veiligheidsdiens wou ‘n geheime verhoor hê omdat die diens andersins in ‘n ope hof hom nie behoorlik sou kon verweer nie, en met die hande agter die rug sou mos veg.

Presies hoe volledig is die nuus wat die burgery in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing kry? Met ander woorde, hoe goed toegerus gaan hulle wees om hul kruisies op ‘n verantwoordelike en ingeligte wyse te kan trek?

Terwyl peilings in verskeie lande soos ook die VVSA toon dat dit veral die gedrukte media is wat van nuusmanipulasie en ideëimperialisme verdink word en so geloofwaardigheid inboet, is dit ook so dat dit nie eksak is nie – môre kan die uitsaaimedia aan die bod kom – veral waar dit soms duidelik is dat openbare uitsaaiers ook “his master’s voice” verteenwoordig, en ook die kuberruim is kwesbaar omdat hierdie medium hom by uitstek tot die plasing van enige bog leen.
Uiteindelik moet die nuusverbruiker leer onderskei tussen die geloofwaardige media, ongeag of dit in gedrukte vorm, oor die luggolwe kom of in die kuberruim te vinde is, eerder as om ‘n persepsie oor die geloofwaardigheid van ‘n soort medium te vorm.

Maar dan moet die nuusverbuikers ook nie die medium wat sonder vooroordeel en volledig probeer verslag doen straf deur wyd te hou omdat daar dan ook nuus sal wees waarvan die verbruiker nie hou nie. Met die geskrewe woord het die leser immers die keuse om berigte bloot nie te lees nie. Vir die uitsaaimedia is dit moeiliker omdat dit ‘n aardige werkie afgee om af- en op die regte oomblik weer aan te skakel.

Uiteindelik die opsommende vraag: Wat gebeur as politieke korrektheid nie meer as ‘n vorm van sensuur ingespan word nie? Rapport wys die naweek in sy hoofartikel daarop dat die president se ontwikkelingsindikatore daarop dui dat samehorigheid en rasseverhoudinge op ‘n laagtepunt is, “en geoordeel aan die openbare diskoers is versoening tussen rasse nerfdun.”

Dra die feit dat politieke korrektheid onder alle fronte nou onder druk kom nie meer en meer daartoe by dat lesers meer en meer aan die persepsies van die ander blootgestel word, en niks daarvan hou nie?

Dit is maklik om uit te spel hoe en hoekom die poel van welwillendheid wat steeds bestaan wegebytel en geërodeer word – dis baie moeiliker om te sê hoe persvryheid in al sy gedaantes gehandhaaf kan word en die poel in die proses gevoed kan word. Die ooglopende antwoord is korrekte, gebalanseerde, deurdagte en verantwoordelike beriggewing. Maar as die vertroue tussen die medium en nuusverkruiker reeds geknou is, gaan ‘n eerlike poging steeds met wantroue te make hê – en dan praat ‘n mens nie eens van diegene wie se persepsie van die werklikheid heeltemal anders lyk nie.

Die koerante met die naam Argus kry dié naam uit die Griekse mitologie van die reus, Argus met sy talle oë wat alles kon sien. Maar in Nederland het die uitdrukking om iets met Argusoë te bekyk die bedoeling gekry dat ‘n saak met wantroue bekyk word. Kortom, as die media sy Argusoë inspan om die nuusverbruiker deeglik ingelig te ou, moet die nuusverbruikers nie reageer deur die media met Argusoë te betrag nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae