Nuuskommentaar: Dis heerlike (Arabiese) lente, die winter’s verby?

Die betoging in Tembisa (Foto: Guillem SARTORIO/AFP)

Vandeesweek het ʼn aanvang geneem met betogings in Thembisa. Dié gemeenskap is ongelukkig omdat die burgemeester wat veronderstel was om hulle verlede week toe te spreek nooit opgedaag het nie. Dit het mense na die strate in geweldsprotes gedryf.

Donderdagoggend het inwoners van Krugersdorp weer die strate ingevaar om sélf onwettige myners vas te trek. Dit volg ná die bendeverkragting van verlede week. Die polisie se skokkend spoedige optrede betreffende massa-inhegtenisnemings skrap nie die behoefte vir boendoegeregtigheid nie.

Betogings in die Oos-Kaap het ook van verlede week na vandeesweek oorgespoel. Tussen Rocklands en Kariega op die R334 is daar betoog, maar nie deur die polisie opgetree nie.

Dit is natuurlik niks nuuts nie. Suid-Afrika word byna op ʼn permanente grondslag geteister deur diensleweringsbetogings. Ons is selfs al vantevore bestempel as die betogingshoofstad van die wêreld. Tussen vervalle landelike dorpe en onvervulde demokratiese verwagtinge betoog Suid-Afrika chronies in die hoop op beter vooruitsigte. Mense gooi veel eerder hul gewig by protesaksie as by die stembus rond.

Sodoende het Suid-Afrika ʼn lewendige en aktiewe “demokrasie” aan die gang. Eerder as konvensionele politieke deelname, verkies mense bloot onkonvensionele en dikwels ook onwettige politieke deelname. Dalk is dit ook omdat onkonvensionele politiek al veel beter grondvlakgevolge vir mense teweeggebring het as konvensionele politiek. Wie die protesplakkaat swaai, swaai dikwels ook die septer.

Chroniese politieke onstabiliteit definieer tot groot mate post-1994-Suid-Afrika. Ons agterlike en agteruitgaande sosio-politieke grondvlakwerklikhede maak ons uiteindelik vatbaar vir hierdie onstabiliteit.

In die lig hiervan het oudpres. Thabo Mbeki onlangs ook gewaarsku teen die moontlike gevolge van die voortslepende driehoek van werkloosheid, armoede en ongelykheid – die einste drie probleme wat vanaf regeringsaanvang op die ANC se agenda was. Mbeki waarsku spesifiek teen grootskaalse maatskaplike onluste vergelykend met die Arabiese Lente.

Die Arabiese Lente het in 2010 vanaf Tunisië uitgekring na feitlik elke land in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Grootskaalse en wydverspreide rewolusie en die omverwerping van outokratiese regerings wou groter geregtigheid en demokrasie bewerkstellig. Die kombinasie van onhoudbare politieke frustrasie en voortslepende swaarkry het uiteindelik ontplof. Feitlik elke Arabiese bloeisel was egter kortstondig met amper geen langtermyn- ekonomiese vooruitstrewendheid en stabiele demokrasieë wat gevestig is nie.

Ons eie grondvlakwerklikhede word tans ook gedefinieer deur grootskaalse armoede, laer politieke vertroue en deelname, maatskaplike onstabiliteit, borrelende woede oor politieke korrupsie en die groeiende gaping tussen sogenaamde haves en have nots. Ons leef beslis nie in ʼn outokrasie nie, maar frustrasies met die regering se magsmonopolie bestaan.

Die vraag oor ʼn potensiële plaaslike Arabiese Lente is iets waaroor talle partye lank reeds vrae vra. Is Suid-Afrika reg vir ʼn rewolusie? Die kanse dat iets vergelykbaar met die Arabiese Lente in Suid-Afrika sal neerslag vind, is tog redelik skraal. Hierdie kwessie sentreer uiteindelik rondom drie punte.

Die eerste hiervan wesende dat ons redelik onbevoegde onderdrukkers het. Die ANC het ideologies regtig ongelooflike magshongerneigings. Dit is absoluut die eienskap wat grootskaalse onderdrukking beslis moontlik en dalk vir hulle selfs wenslik sou maak. Die gaping tussen hul gewenste staatsmag en werklike staatsmag is redelik groot. Die ANC is weens die res van hul ideologiese karakter daarom ook onbevoegde onderdrukkers. Hul sentralistiese en nepotistiese neigings het ook hul vermoë om suksesvol te regeer, weggekalwe.

Dit beteken uiteindelik dat die regering nie so ʼn greep op die werklikheid kan behou nie – nie die goeie of slegte aspekte daarvan nie. Die leemte lei enersyds na groter chaos, maar ook na groter geleenthede. Dit is feitlik onmoontlik om beter eie grondvlakwerklikhede uit te bou onder bevoegde outokrate. Dit verlaag uiteindelik die spanning tussen gemeenskapskrag en regeringsmag.

Die tweede punt is ook dat Suid-Afrika stelselmatig verval het. Dit beteken dat al die bogenoemde verval en agteruitgang wel ʼn werklikheid is, maar ook nie die enigste werklikheid nie. Stelselmatige staatsverval het dit moontlik gemaak om mettertyd die leemtes te vul. Sodoende is dit moontlik vir groot gedeeltes van die bevolking – gewone mense – om ten spyte van sentrale regeringsverval steeds met hul lewe aan te gaan. Dit verwys na die uitbou van alternatiewe “dienste”, maar ook na die ontwikkeling van groter gemeenskapselfstandigheid en -solidariteit.

Siende dat gemeenskappe genoodsaak is om met antwoorde na vore te kom, is gemeenskaplike hulpbronne, inisiatief en energie gekonsolideer om sterk gemeenskappe te vorm. ʼn Rewolusie wat stadig genoeg gebeur, is uiteindelik ʼn hervorming. Eerder as ʼn omverwerping van die sentrale regering, het gemeenskappe bloot stelselmatig die gedesentraliseerde werklikheid omvorm.

Die derde punt is dat Suid-Afrika, anders as die Arabiese wêreld, tog demokratiese tradisie het. Dit lyk bloot nie met die eerste oogopslag so nie, juis omdat ons met die verkeerde vorm van demokrasie sit. In die 1990’s se derde vlaag van demokratisering is veral Afrikalande in liberale demokrasie in “bevry”. ʼn Gesentraliseerde een-man-een-stem-demokrasie in multikulturele samelewings lei egter altyd tot frustrasie vir die vele en mag vir die min. So ook sit Suid-Afrika in die situasie vas waar ons teoreties demokraties is, maar prakties min tot geen werklike demokratiese mag na mense afwentel nie. Ons het net nog nie die bedelingsresep reggekry nie.

Eerder as ʼn liberale demokrasie is Suid-Afrika veel meer geskik vir ʼn federale en gedesentraliseerde stelsel. Dit is uiteindelik ook hoe mense elke liewe dag op grondvlak leef – dit word net nie in die regeringsbestel en demokratiese masjinerie weerspieël nie. Geen een groep moet oor ʼn ander regeer nie, maar gemeenskappe moet eerder oor hulself en vir hulself besluit. ʼn Komplekse staatkundige antwoord op ʼn komplekse uitdaging.

Suid-Afrika is dus nie ryp vir rewolusie nie, maar wel vir hervorming. Die voortslepende frustrasies en probleme waarmee ons sit, weerspieël die feit dat ons ʼn bedelingsprobleem eerder as ʼn regeringsprobleem het. Dit is uiteindelik vir gemeenskappe moeiliker om probleme deur die stelsel aan te pak omdat die stelsel bloot nie geskik is vir die gemeenskappe nie. Gesentraliseerde magshonger lei uiteindelik net tot gedesentraliseerde onvergenoegdheid. Ten einde langtermynonstabiliteit te voorkom, gaan dit dus belangrik wees om die bestel deur hervorming te verander eerder as om die regering deur rewolusie omver te werp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Waarnemer ·

Blameer die polisie se onvermoe om reg en geregtigheid toe te pas…….die gemeenskap us regtig keelvol .

Nettie ·

Meeste revolusies word befonds, aangemoedig, begin en bestuur deur bronne buite die betrokke land. Ons hier is geensins ‘n uitsondering nie. Die wat nie kan sien ons staan voor ‘n (bestuurde) revolusie nie, is blind vir die wereldgebeure. Wat was altyd die eerste dinge wat beskerm word tydens ‘n groot wereld oorlog? Die see-weë en die minerale. Wat maak SA spesiaal vir die Ooste en Weste? Ons is reg in die middel, met ‘n see-weg en minerale!!! Die revolusie gaan die mense binne die land as “canon-fodder” gebruik vir ‘n proxy Ooste vs Weste oorloggie om beheer van ons land.

Piet parys ·

Mbeki is deel van Anc wat meegedoen het in die korrupte kader party maar nou tjank hy soos hond wat pakslae gekry het as hy aangejaag het maar die van ons wat se oë oop is sal sien die chaos in die land gaan net vererger.

annie ·

Hervorming? Die meeste betogers het werk maar bly weg vir meer eise. Daar vir nou twee dae+ voor tv-kamera geskreeu en perform en… Dit is wat elke dag orals gebeur. Die ANC glo as mense stoomafblaas voel hul beter en dan kan ons weer voort stu en werkloosheid, armoede en ongelykheid weer voorhou as die wrede wit baas se skuld al is hy 30 jaar dood. So sal dit aanhou totdat ons soos Afrika lyk waar die wit swernote nie meer iets oprig nie… vervalle, verarm, oorbevolk, werkloos en almal gelyk behalwe die skelm adel op goue trone wat wag vir hulp vir hulself uit ongelyke ryk buite-lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.