Nuuskommentaar: Dis hoe jy opstaan wat saak maak…

Renate Barnard Foto: Reint Dykema

Renate Barnard Foto: Reint Dykema

“Dis nie hoe jy val wat saak maak nie, maar hoe jy opstaan.” Dié wysheid is na die grondwetlike hof se uitspraak in die Renate Barnard-saak nog meer van toepassing.

Barnard self het in soortgelyke terme gereageer, maar in haar hartseer nie vergeet dat God die Beskikker is nie.

Die uitspraak was skaars gelewer of die slagordes is opgestel om die stryd verder te voer, onder meer deur ander aspekte van die wetgewing onder die loep te neem, en om die saak te internasionaliseer.

En op die internasionale terrein het Suid-Afrika lank nie meer die aansien van ʼn land met ʼn regering wat ongeag enigiets die morele hoë grond beklee nie. Ja, in die buiteland is daar nog baie mense wat so reken, maar veral pres. Jacob Zuma se presidentskap het diep vore daardeur getrek.

Die jongste internasionale verleentheid was toe Suid-Afrika weens ʼn “bewoordingsprobleem” nie ʼn mosie van die VN se Menseregteraad wou steun om die IS se menseregtevergrype te veroordeel nie. ʼn Dag of wat later het die IS nog ʼn joernalis wat as gyselaar aangehou is, wreed onthoof. Kort hierna kom dit aan die lig dat die Dalai Lama weer probleme het om ʼn visum te kry. Die man wat tydens die bewind van oud-pres. Nelson Mandela ʼn eregas in die land was, het nou sy visumaansoek onttrek om nie ʼn derde vernedering in die gesig te staar nie.

Suid-Afrika se oorweegrede is skynbaar dat China, wie se menseregterekord goed stink, nie in die baard gevat moet word nie. Suid-Afrika en China is immers mede-deelnemers aan Brics. Maar die ironie is dat die Dalai Lama in Indië in ballingskap woon, en Indië is ook ʼn lidland van Brics. Die Dalai Lama, ʼn vorige wenner van die Nobel-vredesprys, is na ʼn saamtrek van vorige wenners in Kaapstad genooi. Suid-Afrika is ryk bedeel met eertydse wenners – Albert Luthuli, emeritus aartsbiskop Desmond Tutu, FW de Klerk en Mandela. Maar nou, volgens ʼn berig van RSG, dreig van die ander voormalige wenners om uit protes uit Suid-Afrika weg te bly. Sou dit gebeur, gaan Suid-Afrika kwalik die modder van internasionale beoordeling afgewas kan kry.

Gister het dit bekend geword dat nog ʼn egpaar tydens ʼn plaasaanval op hul plaas vermoor is. AfriForum maak kort hierna bekend dat daar 20 plaasmoorde was sedert Nkosinathi Nhleko minister van polisie geword het. Dokumentêre rolprente deur verskeie groot buitelandse mediagroepe het al enorme skade hieroor aan die beeld van die Suid-Afrikaanse regering in die buiteland aangerig.

Terwyl Europa sy verliese weens die Westerse sanksies teen Rusland en Rusland se teen-boikot op sowat 30 miljard euro’s per jaar beraam, suiker pres. Jacob Zuma na Rusland onder meer, om volgens eie aansprake, munt hieruit te probeer slaan. Dié stap word nié oorsee waardeer nie.

Dis nie asof Suid-Afrika nie reeds die prys betaal nie. Sedert Zuma se bewindsaanvaarding het Suid-Afrika skouspelagtig op die korrupsiepersepsie-indeks, en veral die omkoopindeks, die kreeftegang gegaan.

Gister het die minister van Hoër Onderwys, dr. Blade Nzimande, weer ʼn oproep gedoen op maatreëls om Zuma teen die media te beskerm. Nzimande, die hoofkommunis, het voorheen reeds versoek dat soortgelyke wetgewing ingestel moet word as dit wat vir nie-uitvoerende monarge en presidente geld, die simboliese “the king can do no wrong” en gevolglike strafbaarheid van kritiek. Dit sou Suid-Afrika in dieselfde despotiese posisie as Zimbabwe plaas waar die beginsel sommer op die uitvoerende president ook van toepassing gemaak is. Nzimande se tydsberekening kon nie vrotter gewees het nie – dit val saam met die uitstuur van vraelyste deur Verslaggewers Sonder Grense om lande se 2015-posisie op die persvryheidsindeks te bepaal. Ook op hierdie indeks het Suid-Afrika al bitter ver teruggesak. Verlede jaar was ʼn uitsondering, nadat Verslaggewers sonder Grense foutiewelik gemeen het Zuma het “geweier” om die snoerwet te teken. Slegs tegniese regstellings is gemaak en die “bom” lê steeds op Zuma se lessenaar om enige oomblik geteken te word.

Op sommige indekse daal Suid-Afrika nie meer veel nie, al is dit bloot omdat daar in die ranglyste nie meer veel plek is om te daal nie. Maar pas het Suid-Afrika op die mededingsindeks van die WEF van die 53ste plek na die 56ste plek teruggesak. Dit klink moontlik onbeduidend, maar in die fynskrif is daar baie skade. In die vorige indeks het Suid-Afrika se finansiële instellings nog hom die tweede plek op hierdie subindeks besorg, maar dit het na die sewende plek teruggesak. Hoewel die land sy posisie op die terrein van werkgewer – werknemerverhoudings baie effens van die laaste plek af verbeter het, bly die land wat wiskunde- en wetenskapsonderrig betref nog heel onder.

Kortom, die internasionale gemeenskap is nie meer daardie agteroorbuigende gehoor wat die ANC-regering kritiekloos aanvaar nie. Dit word onder meer goed weerspieël in die jongste jaarverslag van die Monority Rights Group International wat nou deeglik van onder meer plaasmoorde kennis geneem het.

Die klimaat is nou so gunstig as wat dit seker nie sommer gou weer sal wees nie vir minderhede om hulle op die internasionale reg te beroep, soos waarvoor die grondwet voorsiening maak. Die Barnard-saak was nie die tyd om te val nie, maar om op te staan.

Hierdie roete plaas egter ʼn baie groot verantwoordelikheid op elke lid en leier van minderheidsgroepe. Dit beteken die morele hoë grond moet nie net ingeneem word nie, maar met waardigheid – of eintlik fatsoenlikheid – behou word. Een skewe woord soos om die Nazi’s te gaan staan en verheerlik, of onverantwoordelike optrede soos die pleeg of beplanning van terreur, en die mat word met een harde pluk onder die minderhede uitgepluk. En ja, dit hét al gebeur. Dan sou dit beter gewees het om na die val op ʼn hoop te gaan lê in selfbejammering, want dan het iemand jou dalk nog jammer gekry ook.

Dit sal natuurlik help as minderhede onderling kon saamstaan, of minstens nie teen mekaar se belange werk nie.

En hoewel elke individu ʼn rol kan, en moet speel, is kollektiewe saamstaan onontbeerlik. Individue kan byvoorbeeld danksy die internet in hul korrespondensie met vriende en familie oorsee baie vermag. Onder die minderhede is baie wat penvaardig is wat artikels vir oorweging aan publikasies oorsee kan stuur. Elkeen kan so goed hy kan onder die omstandighede probeer uitpresteer, en baie slaag inderdaad daarin. Maar dan, moenie neersien op hulle wat nié daarin slaag om die muur van diskriminasie te trotseer nie, en algaande verarm tot hulle ook in plakkerskampe beland en selfs statisties vergeet word nie.

Maar uiteindelik, as dit kom by hofsake voor internasionale tribunale, is dit buite die bereik van individue (hoewel dit ook reeds probeer is). Geen grondwetlike demokrasie is volledig as dit nie oor ʼn vrye pers en burgerlike instellings beskik wat goed funksioneer nie. AfriForum en Solidariteit het reeds indrukwekkende prestasies behaal, en ʼn mens sidder as bietjie oorweeg word waar die land sou wees as dit nie vir dié instellings se optredes oor ʼn wye front was nie.

Hoe meer mense aansluit, hoe harder kan hierdie instansies aan die pilare van onreg wegtimmer.

Die naweek bied vir baie ʼn goeie geleentheid om te besin oor die hoe van opstaan. Maar soos Renate – steeds met die oog gerig na Bo. Want dit is vanwaar ons hulp kom – as ons bereid is om die hande uit mou te steek.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae