Nuuskommentaar: Dis Kerstyd, maar wit en swart woede dreig om oor te kook

'n #Zumamustfall-optogganger in Johannesburg. Foto via Twitter.

‘n #Zumamustfall-optogganger in Johannesburg. Foto via Twitter.

“Vrede op aarde en in die mens ’n welbehae.”

Dit is hoe die engeleskaar die geboorte van Jesus aan herders in die veld aangekondig het.

Twee artikels in Rapport dié naweek neig egter om die teenoorgestelde gees te weerspieël, wat onder minstens ’n deel van die land vaardig is. Dit is Tim du Plessis se “Hoe voel dit om ‘n rollende speelbal te wees?”  en veral Danie Smit se “Swart denkers met ’n witwarm woede”.

Die kern lê in Tim se opmerking: “Wit mense se teenwoordigheid in die afgelope week se betogings het ’n geniepsige wrokkigheid by sekere swart groeperings afgegee. Julle het nooit gemarsjeer onder die vaandel van #PWBotha-moet-val nie. Nee, want hy was wit en Zuma is swart. So, voertsek. En daarby besef julle nie #Zuma-moet-val en #wit-bevoorregting-moet-val is dieselfde projek nie, was die algemene trant.”

Hoe erg moet rassehaat en wrokkigheid weens persepsies oor verwringde feite wees om tot hierdie toestand te raak?

Smit se artikel lui in met: “Sommige swart denkers is woedend. Hul woede is gerig teen wit meerderwaardigheid verskuil agter die goeie bedoelings van nierassigheid, die reënboognasie en versoening. Hulle sien dié konsepte as ’n poging om wit bevoorregting en ekonomiese mag te beskerm teen verandering en rassegeregtigheid.”

Die doel is nie om die twee artikels van A tot Z weer te gee of te behandel nie.

Dit is immers al lankal geskryf dat ’n sekere segment van die swart bevolking (soms aangebied as die hele) uiters gefrustreerd is as wit mense argumenteer dat versoening deur ’n vredesverdrag bereik is en dat almal nou moet aanbeweeg. Daar is al baie geskryf oor swart mense wat versoening meer as ’n materialistiese handeling beskou, en wit mense wat dit meer as ’n konsep van die hart beskou.

En dit handel nie net oor aanbeweeg by wit nie, maar oor ’n groeiende wrewel oor meer en meer rassistiese maatreëls wat ingestel word, nie soseer suiwer om agtergeblewenes te help nie, maar om wit ook te benadeel. In die proses stroop die land hom van kundiges in sleutelbedrywe en word politiek-gekonnekteerdes in poste ontplooi waarin hulle skouspelagtig misluk. Die ekonomie word gekwes en die onderskeid tussen die groep wat het, en die breë massa wat nie het nie word groter. Dus nog meer “regstellende aksie” en nog meer SEB.

Dit baat die ANC om hierdie persepsies lewend te hou, want dit is die verskanste wapen om verkiesings mee te wen. Dat dit tot nadeel van die land is, pla ook nie, want pres. Jacob Zuma sê mos dis belangriker om aan die ANC as aan die land lojaal te wees. En die ANC het hierdie verbreking van sy ampseed, en dus die grondwet, gekondoneer.

Van die denkers wys daarop dat die swart woede, veral gemanifesteer onder die “born frees”, bloot die normale voorkoms is van spanning weens sosio-ekonomiese ongelykheid en gefrustreerde belange. Daar is immers wit en swart op die armste deel van die skaal, en daar is wit en swart op die rykste deel daarvan. Dit dui op ’n mislukte ekonomiese beleid en toepassing deur die ANC. Die ANC beredder egter sy eie bas deur die “algemeen swart armoede” teen die “algemeen wit rykdom” af te speel.

Daar is egter baie ander faktore as die sleureffek van apartheid en die drakrag van erflatings, en “voortgesette rassisme deur wit” wat die breë rassevoorkoms van sosio-ekonomiese ongelykheid veroorsaak. Een hiervan is gesinsbeplanning en gevolglike gesinsgroottes.

Presies hoe moeilik dit is om van die ander selfs net te noem blyk uit ʼn artikel van Heinrich Wyngaard, “Hoekom is bruines nie in boedel?”. Wyngaard lewer effe van koers af taamlik knyperig repliek op ’n artikel van Leopold Scholtz, hoewel hy feitelik met Scholtz saamstem. Wyngaard se relaas kom egter daarop neer dat wit mense aansienlik (materieel) sal moet opoffer en bruin mense moet help ophef om te kompenseer vir die lang tydperke van benadeling, alvorens meer bruin mense bereid sal wees om saam met die Afrikaner byvoorbeeld vir die behoud van Afrikaans op te staan.

Soos gemeld, dis veel moeiliker as blote politieke inkorrektheid om oorsaak en gevolge hier aan te takel. Die probleem verdiep as dieselfde veralgemenende maatstawwe toegepas word as wat op wit mense se brood gesmeer word. Die syfers oor alkoholisme en selfs die voorkoms van fetale alkoholsindroom wat dit met die hoogstes in die wêreld gelykstel, is egter deur Google-soektogte betreklik maklik te vind. Hoeveel geld vir beurse sou gegenereer kon word as net tien persent van dit wat op alkohol bestee word daarvoor gekanaliseer kan word? En wat sou die effek kon wees as 70% drankgeld aan gesinsbehoeftes bestee kon word? Wyngaard hou egter wyd van kyk na “eksterne” probleme.

Sommige ontwikkelingsbelemmerende sosio-ekonomiese probleme soos dwelmhandel en –gebruik asook bendegeweld word regstreeks voor die deur van apartheid gelê.

Die probleem van veralgemening is dat dit miskyk dat talle bruin mense deur interne dryfkrag en deursettingsvermoë die hoogste sport kon bereik. Soms neem dit ’n geslag of twee. Die uwe onthou goed hoe, toe hy nog in Stellenbosch op skool was, die groepe bruin kinders van die omringende plase verby Paul Roos Gimnasium na hul skool gedraf het, gewoonlik kaalvoet. Ons onderwysers het ook gereeld die luies op daardie pragtige voorbeeld gewys.

Daar is numeries geen manier waarop die betreklike klein groepie wit mense, veral welgesteldes, se materiële opofferings enige beduidende impak op die bevrediging van swart behoeftes kan hê nie. Boonop bestaan die gevaar dat dit ’n belangrike segment van die welvaartskeppende gemeenskap kan breek en die hele land die negatiewe gevolge sal moet dra, selfs deur bloot die belastinglas te verhoog.

’n Mens praat nie eens van die leegsuig-effek van korrupsie nie.

Versoening in die harte is ’n belangrike grondslag om rasioneel en geloofwaardig te kan redeneer hoe verwagtinge ten beste bevredig kan word. “Demand” sonder teenprestasie doen dit nie. Sonder versoening in die hart is die prop af van kwetsende uitsprake van alle kante af, of dit nou die waarheid is of nie.

Sonder ’n president en regering wat hierdie sake sonder verdelende benaderings aanpak is die proses besonder moeilik.

Mag hierdie komende Kersfees in die gees van ’n ware Christusfees nuwe gesindhede losmaak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

Johann ·

Om te begin wil ek net korregeer, die herders waaroor so hardop gesing is was nie naby die geboorte van Jesus bekend gemaak van Sy geboorte nie, maar eers baie lank daarna so die mooi lied tref ou se hart ten volle en daar eindig dit.
Nou is dit so dat ons in n land woon met n groot aantal tale,tonge,nasies en geslagte en praat ek nie eens van al die godsdiens groepe en en nie. In die Hindo geloof word daar alleenlik oor die 3.3 miljoen verskeie gode aanbid. Ek dink ook nie dat die spanning slegs tussen wit en swart oplaai nie, maar tussen alle belanghebendes in Suid Afrika (elkeen wil nou sy pond vleis he). Nou lyk dit of dit oor die kerstyd erger raak, maar my beskeie meening is dat die rassebom steeds gaan ontplof al doen ons nou wat ook al. Ons kan slegs hande vat en ernstig bid vir vrede. Die twee manne wie die vredespryse ontvang het, is eintlik veandwoordelik vir al ons elendes

Johan ·

Andy jy is 100% reg die man is deurmekaar mens. Henry ek kon dit nie beter stel nie wonder wat maak hy nog daar. PJ de Klerk en key het genoeg gein om in luukse villas oorsee te kan wegkruip

Henry ·

Johan
Duidelik dat Andy se kommentaar so binne-innie-mirril-vannie-kol-in is en iemand(e) so geïrriteer het, dat dit opsluit verwyder moes word.
Kans is goed dat hierdie ene en joune ook snippermandjie toe gaan.
Foeitog.
:-)

Johann Marx ·

Hierdie “reënboog droompie” kan op niks anders uitloop as ‘n nagmerrie nie. Hier is net GEEN wen-wen situasie nie. As die blankes NIE deelneem aan die optogte nie (soos toe die studente betoog het, was die vraag “Waar was julle wittes?” Toe die wittes saam betoog teen Zuma se onnoselheid, kom die beskuldigings “Wat soek julle hier? Julle het nooit betoog teen PW of FW nie?” By die Johannesburgse dieretuin was daar ‘n uitstalling genaamd “Perfect co-existence” en dit het in een hok ‘n maanhaar leeu-mannetjie gehad EN ‘n dag-oud merino lammetjie. Toe die mense navraag doen by die kurator oor HOE hulle dit reggekry het, was sy antwoord eenvoudig: “Ons gooi net elke dag ‘n vars lammetjie in die hok!” En so sal die nuwe Suid Afrika aanhou om elke dag ‘n blanke sy werk te kos, plaasboere vermoor te word, swart op wit rassediskriminasie in sy ergste vorm, ontkenning van die blanke se bydrae om hierdie land ‘n sukses te maak, konstante afbreek en verwerping van ons standbeelde en ons “prestasies” (skole, hospitale, universiteite, industriëe, infrastruktuur) tot daar NIKS oor is nie………..en dan sal ons die skuld kry daarvoor. Ek……is Afrika versadig.

Winston ·

Goed gestel Johann Marx. Herman Toerien lyk of hy man met murg in sy pype is om waarheid op skrif te stel. Baie van ons is Afrika versadig. Tyd om aan te beweeg na die verlede dalk?

GES ·

Dit gaan ‘n ewigheid neem om ‘n volkome eenheid te bewerkstellig. Dit gaan ook net eers plaasvind as die minderheidsgroep verswelg is. Die leeu-lammetjie storie is seker die beste verduideliking van wat huidiglik aan die gang is. Die enigste werkbare konsep is afsonderlike ontwikkeling waar niemand vir niemand ‘n bedreiging is nie. Of dit nou terug- of aanbeweeg is, beweeg sal daar moet word om ‘n tragedie af te weer. Dankie Herman Toerien vir jou onverskrokke nugter denke. Meer hiervan asb.

Loeis ·

“Daar is immers wit en swart op die armste deel van die skaal, en daar is wit en swart op die rykstedeel daarvan. Dit dui op ‘n mislukte ekonomiese beleid en toepassing deur die ANC. Die ANC beredder egter sy eie bas deur die “algemeen swart armoede” teen die “algemeen with rykdom” af te speel.”

Hierdie is presies die argument wat Anchen Dreyer van die DA verlede jaar in ‘n onderhoud op Radio Pretoria gebruik het toe sy gevra is of haar party swart bemagtiging ondersteun.

Sy het ontken dat haar party daardie beleid ondersteun, tot Pieter Mulder van VF+ haar gevra het waarom die DA dan vir ‘n verskerping van daardie beleid in die parlement gestem het.

Loeis ·

Dit is ook op merklik hoe PW Botha in die artikel genoem word, juis terwyl Kohler Barnard haarself probeer verdedig na haar insident.

Vandag is dit verskriklik polities verkeerd om te se dat PW (of enige blanke) ‘n beter president as die van die ANC was. Maar. Was Botha nie beter as Zuma nie? Kohler-Barnard het verskoning gevra dat sy dit ‘gedeel’ het, en haar party straf haar vir die waarheid.

Verduidelik vir ons hoe die DA en die ANC se denkwyse van mekaar verskil.

Loeis ·

Om terug te kom na Zuma must fall en blankes wie kwansuis nie welkom is nie omdat hulle wit is en teen ‘n swart president protesteer. ‘n Kollega het verlede week uitgewys dat Suid-Afrika gratis onderwys vir alle kinders vir twee jaar kon gee met die geld wat Zuma se minister streke die land gekos het. Die oorgrotte meerderheid van daardie kinders is swart (en arm, as jy na die ANC luister). Dus het daai einste blankes saam betoog teen die pres wie meesal swart kinders gratis onderwys ontneem het. Kan iemand vir ons verduielik hoe dit rassisties is?

Dit lyk of so 85% van die land se kiesers (wit, swart, bruin, almal) nie eintlik mooi kyk wat die mense vir hulle stem, doen nie. Volgende jaar gaan die storie hom herhaal (sug).

chrisp ·

Mens hou julle uit hierdie optogte uit,ons het niks daar te wen nie en gaan net verloor.Laat hierde mense en die liberale wittes mekaar maar aanvat hulle verdien mekaar.Dit is hulle reenboognasie-droom nie myne nie.

Dit is tog duidelik (vir enige denkende mens)dat al hierdie eise en aannames ‘n ondeurdagte gekerm en geklaag van geen inhoud is nie.Ek meen die Portigese het Angola en Mosambiek net so gelos dws hulle plaase, besighede, fabrieke ens en die “ekenomiese bevrydendes” het wat daarmee gemaak?
Ons vriend Idi Amin het die Indiers uit Uganda gejaag(eers die Engelse) maar na etlike dekades is hulle weer gesmeek om terug te kom. Gaan kyk in die res van Afrika wat”ekonomies” bevry is.Almal van hulle letterlik almal het ekonomies tot niet gegaan.Hoe is dit moontlik dat hierdie mense dit nog nie raaksien nie.

Wil iemand my maak glo dat die argitekte van die reenboog dit nie geweet het nie?Hulle moes want ek beskou myself nie slimmer as hulle nie.Die vraag moet wees hoekom dit doen en nou ewe skielik net vir Zuma die skuld gee? Zuma is in my oe vir die Afrikaner minder sleg as beide sy voorgangers
Doen die moeite en gaan kyk in ons geskiedenis die verhouding wat ons met swartmense gehad het.Hoeveel ooreenkomste, hoeveel respek, ens wat daar was.Ja soveel so dat ons hulle gehelp het en hulle ook vir ons.By geleentheid het ‘n Xosa leier gewyer om die Britte te woord te staan voor van sy Boere vriende nie vrygelaat word nie.
Gevegte was daar, ja ook baie.Maar nooit, nooit was die haat so vel soos nou nie en hoekom?
Dit is dieselfde liberale groepe wat die reenboog afgedwing het wat nou hierdie haat aanblaas.Ek vra weer dink vir jouself hoekom?Los hierdie mense bly neutraal ons het nie die slang gevoer nie en is dus nie deel van die volwasse slang se dieet nie.Hulle is.

Moet jou nie twee keer laat vang nie asb.

Loeis ·

Alles baie goeie punte. Wat van die wie die ANC aan bewind help kom het? Wat van die ANC se vorige leiers? Die Madiba aanbidders wie se held se vrou halsnekmoorde gepropageer het, en wie hom nie teen daardie absolute barbaasheid (teen hul eie mense) uitgespreek het nie? Dit was tog wreder as wat die vorige regering ooit was (ja, Botha was beter as die ANC). Of Mbeki wie hom op die (o so demokratiese) grondwet beroep het om swart bevoordeling wet te maak?

Zuma is nie ‘n model president nie maar hy is maar net ‘n deeltjie van die probleem, en dit is die eenvoudige waarheid.

chrisp ·

Maroela twee kommentare nie geplaas of dalk verwyder .
Waarom?

Bart ·

Ja chrisp, dis n tendens by Maroela, wonder waarom, ek dag hulle is ons mense?

Suné van Heerden ·

Dagsê Bart

Kommentaar moet soms per hand goedgekeur word en verskyn in só geval nie dadelik op die webwerf nie. Wanneer jou kommentaar dus nie dadelik op die webwerf verskyn nie, beteken dit nie noodwendig dat die kommentaar afgekeur is nie, bloot dat dit dalk net moontlik nog nie goedgekeur is nie.

Kommentaar word verwyder wanneer dit nie aan ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname voldoen nie. Dié stel riglyne is in oorleg met regskenners opgestel wat ons en ons lesers beskerm.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

chrisp ·

Sune’

Kan ek jou asb vra om meer spesefiek te wees.
Die rympie is baie wyd.
Is daar sekere mense se name wat nie genoem mag word nie?
Hoekom as ek se” Piet” het gelieg word dit afgekeur?Terwyl ek die bewys gee.
Is dit oor Piet of moes ek gese het hy vertel die waarheid erg skeef?
Sien jy die probleem want volgende keer weet ek nie of ek mag se Piet nie of is dit die woord lieg.En ja dit het met my gebeur ek het net die sin verander deur te se die grootbaas by die onderhandelinge of so iets(se maar Piet) het die waarheid so ietwat omseil en siedaar deur gaan die kommentaar.Ek weet tot nou toe nie wat ek verkeerd gese het nie.Piet of lieg.
Toe ek vra kry ek weer julle rympie.

Ek het waardeering vir die geleentheid om jou se te se maar asb julle gebruik die sker te veel volgens my.

Die kommentare is juis deel van julle groot groei en aanhang.Kyk maar hoe kwyn Naspers juis omdat hulle die kommentare grootliks sluit.Verder het julle ook ‘n onder julle soeklys debatte, maar tussen die lesers verhinder julle dit soms.

Suné van Heerden ·

Dagsê chrisp

Jou kommentaar op hierdie berig is ongelukkig afgekeur omdat dit as ‘n persoonlike aanval teen Max du Preez beskou kan word. Dit is teen ons beleid om persoonlike aanvalle van enige aard toe te laat. Let asseblief ook op die bepaling dat ons “die reg voorhou om sonder verdere kennisgewing enige kommentaar wat ons insiens nie onderhewig is aan die bepalings van hierdie beleid nie, eensydig te verwyder” en “redes vir die verwydering hoef nie deur Maroela Media verskaf te word nie”.

Ons volstaan dus met ons besluit.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Dee ·

Sommige van my kommentare wag al maande vir goedkeuring, Suné.

Maakmynaar ·

Praat van ” damned if you do and damned if you don’t, nee wat blankes moet n ander plan maak, “die sg. reenboog nasie ” is LANKAL DOOD!! Dis Volkstaat of Volksmoord…KIES!!

Dee ·

Waar is die kommentators nou wat so heftig kritiek gelewer het teen diegene wat nie deelgeneem het aan die betogings nie. Sou graag ‘n bydrae van julle ook hier wou sien.

Poplap ·

Dit wil lyk asof dit juis hulle kommentare is wat nie baie welkom by hierdie artikel en Tim se oppervlakkige poging is nie..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.