Nuuskommentaar: Dis nie omkopery, dis net rassisme

Sportminister Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Sportminister Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

“Dit was nie omkopery nie, dit was net rassisme!” Dit is nou nie die presiese woorde van die minister van sport (of sports, soos baie kommentators na hom verwys), Fikile Mbalula nie, maar gestroop van nuanses is dit waarop dit neerkom.

Mbalula was driftig, maar hoe meer hy vir Suid-Afrika (en die ANC-regering) in die bresse probeer tree, hoe dieper sleep hy die land in die knoffel in.

Fifa is al as ’n regering in eie reg beskryf, so magtig het dit geword. Fifa se “regering” het egter ’n paar wette, so vas soos die wette van die Mede en Perse. Die bekendste is dat dit geen regeringsinmenging duld nie, en die tweede is dat dit rassisme verbied.

Maar wat doen die geagte minister? Hy verweer Safa se rol in die “beweerde” omkoopskandaal deur te sê die betaling is in opdrag van die regering gedoen. Met ander woorde, ’n minister erken openlik daar was regeringsinmenging. En die lysie van lande wat Fifa al weens regeringsinmenging geskors het, is indrukwekkend, met lande soos Griekeland, Iran en Kenia wat uitgeskop is. Eers nadat die betrokke regerings gaan skuld bely het en onderneem het om dit nie weer te doen nie, is hulle hertoegelaat. Ná Nigerië se patetiese vertoning tydens die 2010-toernooi het die Nigeriese regering die span belet om etlike jare in die buiteland te speel, en die land is uitgeskop. Die regering het gou kopgegee.

Maar kom dit by Suid-Afrika, word die donkerbril opgesit.

Mbalula bak waarskynlik nie ’n kluitjie dat die betaling in opdrag van die regering was, en Safa net die “uitvoerder” was nie. Voormalige president Thabo Mbeki hét inderdaad in ’n stadium oorboord gegaan met sy Afrika-diaspora-idee, wat sterk op ’n lojaliteit aan die swart ras geskoei was. ’n Goeie voorbeeld destyds was toe Haïti sy 200ste onafhanlikheidsjaar gevier het, en effektief die hele wêreld, insluitend Afrika, wyd gehou het. Maar daar was ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging gelei deur Mbeki self (en ’n Suid-Afrikaanse oorlogskip daar naby vir ingeval Mbeki en Kie. skielik ontruim sou moes word).

Tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika sal Suid-Afrikaners onthou hoe die regering in wese aan Suid-Afrikaners voorgeskryf het wie ondersteun moes word nadat Suid-Afrika uitgeknikker is. Nie Arabiese lande op die Afrika-vasteland soos Algerië nie, maar byvoorbeeld Ghana. Dit het suiwer om velkleur gehandel.

Plaaslik kon sokkerkenners nie verstaan hoekom die bitterlik lojale wit hemelbesem, Matthew Booth, nie ’n speelkans kry nie. Selfs in wedstryde waar dit baie duidelik was dat sy lengte bitterlik nodig was, het Booth niks verder as opwarming gekom nie. Dit sal niemand verbaas as die instruksie van die regering was dat hulle nie ’n wit gesig op die veld vir Suid-Afrika wil sien nie.

Die geleentheid moes ’n vertoonvenster vir swart wees, byna soos die Olimpiese Spele in Duitsland Hitler se uitstalvenster vir Ariese deugde moes wees.

Fifa is nou in gans ’n te groot tameletjie gedompel om hom nou aan sulke dinge soos rassisme in Suid-Afrikaanse sport, en die feit dat die regering dit self dryf, te steur. Ondersoekende joernaliste ruk op ’n daaglikse basis net nog meer slange uit die Fifa-binnekring, en die sluier oor die bewyse waaroor die vervolgingsowerhede beskik, word daagliks verder en verder gelig. Kort nadat Mbalula driftig omkopery ontken het, het dit aan die lig gekom dat een van die geïmpliseerdes, die Amerikaner Chuck Blazer, onder eed erken het dat dit inderdaad omkopery was. (Die buitelandse pers het dit al lankal geweet.)

Mbalula sou sy saak gesterk het as hy by die nuuskonferensie die vorderingsverslae van die Karibiese sokkerowerhede kon toon oor hoe die fondse vir die diaspora-program doeltreffend aangewend is. Trouens, dit was immers Suid-Afrika wat in die brief aan Fifa vir die betaling aangedui het dat daardie fonds deur Jack Warner self bestuur moes wees. Het Suid-Afrika werklik ná ses jaar nog geen behoefte gesien dat verantwoording gedoen word van meer as R120 miljoen wat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers uiteindelik moes aansuiwer nie?

Het Mbalula jou werklik gedink sy regering het nog ’n greintjie geloofwaardigheid ná die jongste Nkandla-verslag wat so opsigtelik skeef was dat die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke in skerp taal daarop reageer het, gevolg deur die Tussenkerklike Raad van die NG Kerk, die Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerke?

Mbalula probeer die ou truuk om patriotisme teenoor die land met lojaliteit teenoor die regering wat hy verteenwoordig te vermeng.

Nee, enige erkende definisie van patriotisme sou aan die lig bring dat dit soms juis kritiek op ’n skewe regering is wat op patriotisme neerkom.  En dis in hierdie posisie wat die land nou al lank verkeer.

Dit is interessant dat Katar, noudat die wurgketting stywer trek oor hoe dié land sy 2022-bod gekry het, ook reeds die vrae as rassisme probeer afmaak.

Katar, ’n skatryk olielandjie, se styl was blykbaar om beleggings aan lande te beloof wat bereid was om druk op hul burgers met stemreg op die bodkomitee uit te oefen.

Trouens, Frankryk het tydens ’n presidensiële onthaal vir die emir van Katar openlik die voorsitter van die Franse sokkervereniging, Michel Plantini, bedank dat hy toe sy kant gebring het. Plantini se seun het ook ’n werk met ’n koninklike salaris in Katar gekry. Plantini is nou die Europese sokkervereniging, Uefa, se voorsitter, en sy naam word as moontlike opvolger vir Sepp Blatter genoem.

Kortom, dit sal Suid-Afrika nou eers loon om ’n bietjie terug te staan en te kyk na die skade wat reeds aangerig is, voordat daar weer eselore aangesit word. Moenie verwere opper wat net die regering self glo, maar ander as duidelik deursigtig beskou en as belediging beskou dat iemand hul intelligensie so onderskat nie.

Die belangrikste egter is dat Danny Jordaan nou uit die watte waarin hy toegewoel is, losgewikkel word dat hy self die wolke wat om sy kop aanpak kan verdryf. Jordaan is nou in ’n moeilike posisie. As burgemeester van die Nelson Mandela-metropool is hy nou ’n ontplooide politieke kader. Hy is in die onbenydenswaardige posisie dat hy nie werklik ook die blaam op die regering kan plaas nie, want sy posisie daar is nou broos. Doen hy dit egter nie, sal daar groot vraagtekens hang oor hoe hy as hoof van die toernooispan onbewus kon wees van $10 miljoen dollar wat Fifa teruggehou het. Dit plaas groot vraagtekens oor sy vaardighede as bestuurder, en hy moet ’n munisipale raad gaan regruk wat (deur die einste ANC) in die grond in bestuur is.

En die Suid-Afrikaanse belastingbetalers verdien om te weet wat presies gebeur het, want uiteindelik was dit tog hulle wat daarvoor opgedok het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Lindie Lourens ·

Herman, jou doring! Jy weet ook van alles en almal en dit wat jy nie weet nie, gaan grawe jy uit. Suid Afrika het meer manne ( en vroue) soos jy nodig. Reguit en op die man af, geen doekiesomdraaiery. “Doet so voort! “

Willem Leonard ·

Probeer die regering dan nou om die $10 miljoen op te maak met die e-toll stelsel. Die paaie is mos kwansuis vir die 2010 werelbeker gebou.

Theresa ·

Praat en praat en praat. Dit is ook al wat hulle goed kan doen en dan is dit nog nonsense praat ook. Dit is nooit hulle nie. Hulle is altyd die arme bloedjies wat niks verkeerd doen nie. Die ander moet altyd die skuld kry. Ag en moenie die woord rassisme tog vergeet nie. Blah blah blah!!!!

Hennie ·

Die artikel is uitstekend geskryf, geluk Herman Toerien. Neem ook in ag dat Fikile Mbalula getweet het dat hy graag Sepp se opvolger sal wil wees, dit maak Fikile se prentjie nog meer belaglik.

Peet Schabort ·

Ja-nee, ‘n hele paar gaan nog geBlatter (gebletter) word. As jy spook in dryfsand sak jy net dieper weg.

Gerhard Bezuidenhout ·

Hmmm …….. Die vuur raak al warmer vir die meneer.

antoinette ·

Baie dankie vir uitstekende, rigtinggewende joernalistiek, Herman! Ek het nagmerries gekry na Deutsche Welle se hoofnuus vroegoggend wat Chuck Blazer se erkenning en Mbalula se erkenning van gebrek aan toepaslike vlakke van verantwoordelikheid, nie net teenoor SA nie, maar veral Trinidad se mense en die res van die wêreld wat in ons probeer belê het. Ek vermoed jy het misgekyk dat Interpol gister reeds betrokke was, en vanoggend het die baas van die Valke ook erken hulle moes noodgedwonge ‘n lêer oopmaak vir ‘n “voorlopige ondersoek” (Associated Press). Verder kan jy gerus kyk na Mbalula se tweets dat hý self bereid is om na Blatter FIFA te lei!!! Hy klink amper soos Zuma se grappies in die Parlement skielik! Dankie, Interpol! Dankie, Amerika en Trinidad. Die wêreld geniet waarskynlik die skielike vlaag van feite, al is sommiges maar bra floutjies verdoesel onder die gewone soort swartsmeerdery van witmense. Terloops, het enigiemand al opgemerk hoe “wit” is mnr Walker, mede-beskuldigde wat tans moontlik die kernfeite sing, se gesiggie?! Jammer SA politici, dit was toe nooit ons wit velletjies nie, maar eerder ons relatiewe voorliefde vir die waarheid wat julle so geïrriteer het! En hierdie geheim het julle sélf verklap, dankie!

Herman Toerien ·

Dankie Antoinette. Almal krap maar aan die oppervlak nou. Wat interessant is, is dat die betrokkenes mekaar nou begin uitverkoop. So gaan hierdie storie sneeubal, en dalk nog die einde van Fifa beteken. Ek dink nie Jack Warner en Chack Blaser sal dit baie goed vat om te verneem Mbalula het hulle in effek as misdadigers en boewe beskryf nie. Dan moet ‘n mens ook in gedagte hou dat baie hiervan tydens die Mbeki-era plaasgevind het. Wie is nou ‘n sagter teiken as Mbeki om die blaam van die huidige bewindhebbers af te trek? Ek het gister net ‘n opskrif in die buitelandse media raakgelees dat Katar se beurs erg getuimel het na Blatter bedank het. ‘n Bekende Suid-Afrikaanse vryskutjoernalis en -skrywer maak op Fqacebook daarop aanspraak dat hy ‘n storie het deur wie se boeke hier in SA watter geled geloop het, maar die koerante wil dit nie dra nie. Iewers gaan so ‘n storie erg gesog raak.

J.Z ·

Stadig maar seker begin die rookie kwaaier smeul en meer rook maak ,die reukkie alhoemeer stink,ou geskiedenis soos dit is rassime as verskooning gebruik,binne kort sal aparheid seker ook gebruik word om skelemgeit te regverdig.Viva.

fiki ·

Amerika moet die bedrog in die FBI ondersoek. Dis net ‘n manier hoe om die oe van hulle af te kry…wat weet hulle btw van sokker.

ANTON LE ROUX ·

Dit is soos melaatsheid,elke dag n nuwe sweer en niemand kan dit keer.

ANTON LE ROUX ·

Dit is soos melaatsheid,elke dag n nuwe sweer en niemand kan dit keer.

Winston ·

n Blinde kan met sy kierie die dik leuns voel. Al weer slagoffers van apartheid. En weer……en weer…..en weeer…..en dit sal so aangaan. Wanneer gaan ons land se mense begin besef dat jy nie n bevolking, of deel van die bevolking, se intelligensie moet onderskat nie. Foei tog. Puik artikel en goed gestel.

Pietertjie ·

Eintlik moet ek hierdie storie oor die koedoe en die Oliphant direk aan die minister rig: drie weke gelede was ons groepie jagters vir ‘n lang naweek Bosveld toe. Drie dae later laat die plaas-eienaar ons weet dat ‘n swaar gekweste koedoe-bul gevind is. Niemand in die groep wis iets daarvan nie. Die skade word sonder omhaal deur die groep gedeel en die boer word vergoed. Dít, minister, is die kultuur en waardestelsel van mý mense; die “ander”, soos jou President ons noem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.