Nuuskommentaar: Dis nou kuber-oorlog! Of net Koue Oorlog?

Verkose Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin

Verkose Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin

Aangewese pres. Donald Trump het nou erken die Russe het kubergapsing op die Demokrate uitgeoefen, maar die Russe word ook van ander oorde, soos Duitsland, nie net van kubergapsing beskuldig nie, maar die benutting hiervan vir propaganda. Natuurlik staan die Weste ook agter die deur, en selfs lede van ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging in Londen was slagoffers hiervan.

As die Koue Oorlog sou hervat, soos baie waarnemers met goeie rede meen dit al het, is dit seker ’n natuurlike voortvloeisel dat die kuberruimte nie ongeskonde daarvan gaan afkom nie.

’n Groot deel van die polemiek handel daaroor dat drie van Amerika se  vernaamste veiligheidsagentskappe, naamlik die CIA, die FBI en die Nasionale Sekuriteitsagentskap (NSA), glo hulle het genoeg bewyse ingesamel om te weet pres. Wladimir Poetin van Rusland het self tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing die kubergaps van inligting van die Demokrate gelas, met die oog daarop om die Amerikaanse presidentsverkiesing te beïnvloed.

Trump het ná ’n ruk erken dat die kubergapsing plaasgevind het, maar hou voet by stuk dat dit nie die verkiesing sou beïnvloed het nie.

Die stof het egter nog lank nie gaan lê hieroor nie.

Die interessantheid is dat die Christian Science Monitor in ’n redaksionele besinning hieroor daarna verwys as “politieke oorlogvoering”.

Maar die VSA se ongedurige skouerskuur met Poetin is nie al plek waar die woord “oorlogvoering” in hierdie verband ingespan word. Newsweek wys daarop dat Rusland ontken dat hy enigsins kuberoorlogvoering teen Westerse regerings en instellings inspan. Maar dit is nie wat Westerse geheime dienste, soos die Duitse een, sê nie. Duitsland is bekommerd dat dit die land se verkiesings in September kan beïnvloed.

Maar verskeie ander lande, die Europese Unie, en selfs die Europese Veiligheids-en-Samewerkingsorganisasie, OSCE, waarvan Rusland ook lid is, meen dit het onder ’n Russiese kuberaanval deurgeloop.

Die naam van die Russiese instelling wat gereeld opduik wanneer die vinger na Rusland gewys word, is die APT28.

In die Europese geval is die grootste ontsteltenis oor wat Rusland met die gegapste inligting sou gemaak het. Die terme soos propaganda, fopnuus en disinformasie word ingespan, en daar is skynbaar nie perke aan die hulpbronne wat ingespan word nie.

Voor die uwe weer daarvan beskuldig word dat hy “kant kies” teen Poetin; daar kan min twyfel wees dat Rusland self ook onder soortgelyke aanvalle deurloop. Omdat geheime dienste se werk geklassifiseerd is, is dit moeilik om oortuigend teen beskuldigings van onderduimshede te verweer.

Oproepe om dié probleem deur groter openheid te verminder, is naïef en hou gewoon nie rekening met ’n globale veiligheidsvraagstuk waarin organisasies soos Isis ook “saamspeel” nie. Wantroue dat “donkerwerk konkelwerk” is, sal dus bly knaag. En soms sal die kritiek ook geldig wees – die geheim is om nie betrap te word nie. Dink maar hoe kwaad die “antie” was toe dit uitgelek het dat die NSA van Duitsland se bondskanselier, Angela Merkel, se telefoongesprekke meegeluister het. Lede van die Suid-Afrikaanse afvaardiging by ’n Statebondsgeleentheid in Londen was ook boos omdat van hul privaat gesprekke meegeluister is.

Die drie Amerikaanse agentskappe se verslag oor die Russiese kubergapsing, het dus ook ’n ongeklassifiseerde weergawe ingesluit wat vir openbare kennisname voorberei is. Dis die weergawe waarmee die publiek, ons ook, tevrede moet wees.

Rusland het waarskynlik met sy aanslag teen die Demokrate en Hillary Clinton nie te veel vermag nie. Maar is so ’n poging (met knap elemente soos die inspan van WikiLeaks) enigsins verrassend nadat van Poetin se groot vriende se bande met georganiseerde misdaad via die sogenaamde Panama Papers aan die lig gekom het?

In die “uitvoering” van die iets doen met die inligting wat deur kubergapsing en ander bronne bekom is, sal ’n professionele instelling wyd hou van propaganda, en hom eerder wend tot strategiese kommunikasie. In sommige kringe word strategiese kommunikasie net as ’n moderne uitdrukking vir die ou sielkundige oorlogvoering beskou.

Wat dit nie is nie, is byvoorbeeld die kommunikasiebeamptes van byvoorbeeld rugby-unies en universiteite, selfs met die titel van “bestuurder strategiese kommunikasie”, wat bloot alle moontlike negatiewe verwysings na hul instellings uitsny. Dit is egter geensins strategiese kommunikasie nie – die publiek sal weet iets word weggesteek en self snuffel en so ’n veel negatiewer beeld vorm.

Maar word na die uiteenlopende standpunte van rubriekskrywers en die publiek wat kommentaar lewer, se reaksies gekyk, is dit duidelik dat iemand slaag met koppe smokkel.

Aan die een kant byvoorbeeld diegene wat steeds moeilik aanvaar dat iemand wat sulke onhebbelikhede soos Trump kwytgeraak het, die VSA gaan regeer. Aan die ander kant ’n groep wat woes reageer op enige sweempie van kritiek op Poetin en/of Trump, so al asof Poetin ’n engeltjie is, en Trump dit binnekort gaan wees.

In hierdie toutrekkery om iemand se siel gekaap te kry, het die media ’n baie ingewikkelde taak. Eerstens vereis dit ’n eie ingesteldheid van objektief wees (of andersins openlik sê dit is die lyfblad van byvoorbeeld ’n politieke party of ideologie). Maar die neiging is tot onafhanklikheid, en dus veronderstelde objektiwiteit.

Terselfdertyd moet dit ’n spektrum van menings deur rubriekskrywers dra omdat die vrye pers in ’n demokrasie dit “vereis”.

Maar die Amerikaanse rubriekskrywer, John Stossel, ervaar nie dat die New York Times hieraan voldoen nie. In ’n onlangse artikel skryf hy onder meer: “The (New York) Times actually does some good reporting, but their political and economic coverage is filled with deceit. Can I find deceit every day? You bet. Take a look at a few days just last week.”

En dan gaan hy voort om dag vir dag voorbeelde van misleidende beriggewing uit te lig.

Maar sowaar, die nuuswêreld is leeuwêreld, en nie ’n plek vir naïewes wat ’n storie glo omdat hy dit wil glo nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jan Ferreira ·

Na as “die uwe” Puten skielik in Afrikaans skryf as Poeten, hoekom verander hy dan nie Trump na Tramp nie. Swak vertaling…

Landi Slatter ·

Dagsê Jan

“Poetin” is inderdaad die korrekte Afrikaanse spelling. Buitelandse eiename word slegs getranslitereer wanneer die doeltaal ‘n heel ander alfabet as die brontaal gebruik. Oorskrywing uit een alfabet in ‘n ander is iets wat waarskynlik in alle tale gedoen word. “Bush” sal dus nie “Bos” word nie, aangesien Engels en Afrikaans dieselfde alfabet gebruik.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Piet ·

Ek stem saam. Waarom moet name vertaal word? Jesus Christus is bv n Griekse vertaling uit, so word beweer, Hebreeus uit. Nie een van die twee tale, sover my kennis strek, maak gebruik van die Latynse alfabet soos wat ons doen nie.

Astra ·

Magistraat Jan, lees jy nie van die ander artikels nie? Ek is nou maar 2 weke op hierdie platform en maroela het nou al vele male in die kort tydjie die “poeten vs puten” saga verduidelik.

John ·

Westerse geheimedienste, die Amerikaanse weermag, Navo met die aggressiewe Demokrate as front wil en gaan Rusland binneval, kom wat wil. Hulle is woedend oor Trump se oorwinning, woedend oor Rusland se hulp aan Sirie en hul weerstandigheid teen IS en is woedend dat hulself sit met hul eie gebakte pere van ‘n oervloedige onbetroubare spul immigrante. Brittanje wil ‘back-paddle’met Brexit. Die BlackPower/Islamiete is deur Obama ingewerk in die VSA-weermagstrukture en die Pentagon/CIA met hul eie Big Brothers in beheer, sal enige teenstand teen hul opmars na Rusland en Jerusalem beveg. Rusland en Trump staan in die pad. CNN en ander nuusdieste se Moslem/Nuwe-Orde-gefundeerde grootkoppe het die Clintons gelief want hulle is klei in hul hande… Groot skokke wag op die gewone man en ‘gullible’ joernaliste wat glo hulle veg vir ‘human rights’. 1984 se honger rotte word meer en meer…

Pieter van Wyk ·

Dit is akademies of die Russe skuldig is aan “kubergapsing”. Feit is dat dit ontbloot het die konkelwerk wat agter die skerms plaasvind. Die “skuldige partye” het tot op hede nie die waarheid daarvan ontken of betwis nie !!! Die Russell doen die wêreld eintlik ‘n guns.

Rynhardt ·

Dit is absolute snert dat Rusland die amerikaanse verkiesing beinvloed het! Verskeie amerikaanse kommentators het dit op rekord gestel dat die hoofstroommedia soos CNN gedryf was met die C.I.A. wat die dryfveer was om die leuen te bemark, sodat daar oorlog teen Rusland kon wees.Selfs voor die verkiesingsuitslag het “Hitlary” Clinton gedreig om oorlog te verklaar teen Rusland.Die Demokrate se hele optrede is abnormaal! Die fokus moet wees op Clinton se 650000 eposse wat haar misdade teen Amerika en wereld uitspel !

Melt Olckers ·

Dit is duidelik dat die taktiek ook in SA gebruik is met fopnuus. Die ANC het tydens die laaste verkiesing verskeie fopnuus blaaie bedryf soos City Sun. Zuma se noue verbintenis met Poetin wat graag aan SA wil kerkkrag verkoop is duidelik. Ook dra die Gupas se ANN7 en The New Age by tot die verspreiding van fopnuus. Sal nie verbaas wees as die FSB ook ‘n hand daarin het nie.

Leendert ·

Volgens Engeland se geheimediens het hulle die Amerikaners al reeds in 2015 van die disinformasie wat die Russe die Demokrate gevoer het, in kennis gestel. Waarom dan het die Amerikaners se geheimediens vir bykans ‘n jaar daaroor stilgebly, of niks daaraan gedoen nie?

John ·

?.. Die woord Engeland is afgelei van engele… se nie watter tipe nie. Die Britte was nog altyd bok vir jok of oorloe en wat agterbly is verskroeie aarde en nog skatte in die ‘queen’ se kissie onder die bed of ‘n paar arabierperde in die stal… as dit nou moet. Trump en Poetin moet ook dood… lees die lys…

Lou ·

As die Amerikaners ‘n ieder en elk afluister soos al duidelik bewys is, dan kan hulle nie kla as die Russe dieslefde spel speel nie. Dis duidelik dat ons gewone mense moet leer dat enige iets wat jy op Facebook, eMail of whatapp plaas kon jy net sowel van die dak af geskreeu het. Nou moet alle regerings en instansies net weet dat enige iets wat jy in die kuberruimte plaas openbare inligting is. Ons moet almal maar gewood raak aan die informasie eeu en sy tekortkominge!

vermeende ·

Hoekom is dit altyd die liberales wat oorgaan tot geweld as hulle nie hulle sin kry nie.
Die liberales (bevryders) kan net nooit n nederlaag aanvaar nie.

Frik ·

Landi, ek sou graag wou sien hoe word “Poetin” gespel as jy dit uit Afrikaans terug translitereer na Russies! En of Putin tevrede is wees met die transliterasie!
Kommentaar asb!

Cherokee ·

Indien die Russe wel Clinton se veldtog gehack het is dit tot bonus van die Weste dat dit gecrack is.

HV ·

Trump het erken Rusland het kubergapsing gedoen op die demokrate! Dit is nou n tipiese voorbeeld van wan informasie. Miskien moet jul maar die sogenaamde cia verslag lees oor die aantuigings en Trump se ‘tweets lees’

gatiep ·

Sal baie dom wees van die US om nou oorlog met Rusland te he dit terwyl hulle nog met China ook moeielikheid soek.Dis nie dieselfde Rusland as 20 jaar terug nie.Lyk vir my of oubama van plan was om die US te vernietig.Dink Trump het net betyds ingekom om te keer.

Clinton het verloor niks om haar goed te laat lyk gaan meer werk nie aanvaar dit.

Scientia Munit ·

Teen die tyd is dit n erkende feit dat die Russe die Demokratiese Party se webwerwe gekraak het. En meeste dink dat Hillary die teiken was. Verkeerd !
Die Amerikaanse bestel in die algemeen was die teiken.

Hillary is 1e geteiken en susksesvol gediskrediteer. Maar Poetin het geweet dat sy vuilspel nie n geheim sou bly en dat die bekendmaking daarvan Trump as sy bondgenoot sou brandmerk en hom by baie Amerikaners verdag sou maak. Trump begin dus sy termyn as ‘n gekwesde president oor wie vraagtekens hang.

Die Russe het dus gewen …. en weer gewen !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.