Nuuskommentaar: Dis (soms) lekker om die president te is, te is …

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: GCIS

Kort-kort word vertel hoe presidente soos dié van Uruguay en Indonesië ’n voorbeeld stel van hoe om hul ampte met groot besuiniging op hulself uit te voer.

Môre lewer min. Pravin Gordhan sy sogenaamde “klein begroting” waarin hy ’n moeilike taak gaan hê om die boeke te laat klop. ’n Verkeerde trappie, en die pad na rommelstatus word geteer.

Een van die aspekte waarna gekyk word, is hoe onnodige staatsuitgawes “afwaarts bestuur kan word”.

Dis nie maklik om die kultuur van rojale vermorsing hok te slaan nie. Munisipaliteite wat werklik noustrop trek, kan eenvoudig nie die versoeking weerstaan om vir hul burgemeesters luukse rygoed aan te skaf nie, of om reusebedrae vir begrafnisse van afgestorwe lede te bewillig nie. Mangaung (Bloemfontein), so is berig, wil of wou R300 000 bestee aan ’n funksie om basies hul eie sterte te prys en om van raadslede wat met die afgelope munisipale verkiesing geval het, afskeid te neem. Dit terwyl kontrakteurs miljoene rande geskuld word.

Die kersie op die koek is egter dat terwyl Gordhan na plekke soek waar besuinig kan word, is pres. Jacob Zuma se lyfwagte verdubbel. Na berig word, word hy nou deur 20 voertuie en ’n klein weermaggie van 50 wagte en soldate vergesel. Hierop het iemand geskryf al wat ontbreek, is ’n gepantserde geldwa om die omkoopgeld mee te vervoer.

Vroeër vandeesmaand is berig dat Zuma vanjaar al 57 dae oorsee was. Sedertdien het hy weer te midde van ’n plaaslike krisis in Mosambiek gaan besoek aflê. Bygesê, hy rig die meeste van sy skade tydens sy blitsbesoeke aan die land aan.

Wanneer dit by besparingsmaatreëls kom, lyk dit nie of Zuma en sy binnekring brieke het nie. Voeg hierby dat al Zuma se pogings om nie tjoekie toe te gaan nie, ook reeds die belastingbetalers ’n aardige bedrag aan regskoste gekos het. Ook ander hofsake waar Zuma ’n party is, tap genadeloos uit die staat se beursie.

In ’n stelsel van patronaatskap word nog meer geld vereis omdat daar ook vir ’n verskeidenheid familielede en bondgenote se ruim behoeftes voorsiening gemaak moet word.

Danksy korrupsie word op bykans elke moontlike plek geskep.

Daar is ander redes oor hoekom Gordhan môre maar noustrop gaan trek, maar as die staatshoof ’n erg vermorsende en luukse styl bly handhaaf, raak die publiek taai in die bek, en raak dit al moeiliker om van die nodige herstelpoging ’n nasionale doelwit te maak waaraan almal entoesiasties meedoen.

Boonop help dit ook nie dat die molesmakende studente se veldtog in ’n gewelddadige misdaadorgie ontaard nie (hoewel seker nie almal hulle aan die misdadige deel skuldig maak nie). Watter verantwoordelike burger sal entoesiasties wees om sy hande nog dieper in sy sak te steek om sulke barbare hul sin te gee?

Voorts word die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor staatskaping uit die openbare oog gehou. En tot tyd en wyl hieroor oop kaarte gespeel word, sal die agterdog bestaan dat daar duistere magte is wat ’n omvattende veldtog voer om ’n vrypas tot die Tesourie te verkry. Ook hiervoor is belastingbetalers kopsku.

Dan wil dit lyk of Suid-Afrika sy reeds bedenklike rekord oor muishondlande ’n reusesprong verder wil voer deur van die Statuut van Rome en die Internasionale Strafhof te onttrek. Suid-Afrika se verweer dat die strafhof op Afrika pik, hou kwalik water, want in ander lande waar groot vergrype plaasgevind het, is of was daar plaaslike tribunale, soos in Argentinië, Joego-Slawië en Kambodja.

So lank as wat Zuma die gedaante van ’n eietydse (en geafrikaniseerde) Marie-Antoinette aanneem, so lank sal hy in ’n borrel leef waar geen luukse ontbreek nie, geïsoleerd van die gewone mense. Sy danspassies en gesing koop vir hom tyd by baie, hoofsaaklik ongesofistikeerdes, maar in werklikheid dans hy op die puinhope van wat hy reeds afgetakel het. En meer en  meer mense gaan die lig sien, met Zuma wat ’n al groter warm patat vir die ANC word.

Ironies genoeg sal Gordhan se toespraak môre, wat as “oorlogsbegroting” beskryf word, nie maatreëls insluit om die morsige president in die bek te ruk nie. Daardie oorlog word op ’n ander vlak gevoer.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann ·

Ek sien jy maak melding van ‘n sekere kultuur. Mens sien dikwels skrywers/rubriekskrywers na sekere kulture verwys as hulle oor die Regering/ANC se onkapabilheid skryf. Daar is nou al so ‘n magdom.

Kom ons maak ‘n lys van daardie kulture en pen dit neer.

Waarheid ·

Ooo oneindige DINGE wat PLA..net skaamte bly oor en.. het die probleme oorgegee aan Die Enigste Redder GOD die Vader van ALLE nasies en Kulture. Amen.

Theresa ·

Johann is reg. EN mens skaam mens dood vir hierdie man wat ‘n president genoem word. Hy het geen respek vir sy amp of sy pligte nie. Skandalig. Mense wat nog iets gehad het, word stelselmatig op verskeie wyses daarvan gestroop. Dié wat nog nooit iets gehad het nie, plunder en sukkel in elk geval voort. Hy het nie insig nie en ook geen visie vir voorspoed vir die hele land nie. Ek staan verstom dat hy nog steeds die amp beklee.

callie ·

Die man is of baie slim, of Suid Afrikaners druk hul koppe in die grond soos n volstruis. Sy beplanning is duidelik. Die beskermings mag om hom is Mugabe/Hussein styl. SAP, NVG, OB, Weermag, Valke, noem op, onder sy direkte beheer. Sy sarkastiese uitsprake soos studente betogings is n demokrasie in werking en die betogings word eerder aangehits as om dit te smoor, lei tot anargie. Anargie gaan hom die mag gee om om te draai en sy magte te laat oorvat omdat die “demokrasie” nie werk nie. Hy sal al die mag vat omdat dit die enigste manier is om uit die tronk te bly. Vra weer, as hy n “staatsgreep” uitvoer, wie gaan en hoe kan hy gekeer word.

Mossie ·

NIEMAND kon dit beter stel as jy nie Callie – dis ‘n voldonge feit.

christa ·

Al wat ek kan se is hoe gaan ons van die ding ontslae raak nie want hy kry duidelik nie boodskap nie vir wat moet hy nou opgepas word sit hom in die tjoekie en kry klaar want daar is klaar niks van die land oor nie miskien sal ons van daar af kan werk weet nie hoe lank dit ons gaan neem nie.

humor ·

Wat kon ons beter verwag? Morsig, skaamteloos, geweteloos. Dit was sy die kenmerk van die aanvang van sy presidentskap.

Theuns ·

Herman jy omskryf al die dinge wat my pla omtrent Zuma! Ek kan nie glo dat Zuma planloos is nie en net sommer aanjaag waar sy denke hom wegvoer nie. As jy mooi kyk na alles wat hy doen en gedoen het pas dit soos ‘n legkaart inmekaar in! Die vraag is wat beplan Zuma? Dalk ‘n Staatsgreep/Diktatorskap? Ek dink sy vrese dryf sy reise na sy Tjommies in Afrika. Maak hy voorspraak vir hulp as Suid Afrika dalk ontplof? Hy will nie mag verloor nie want mag =geld. Zuma wil nie tronk toe gaan nie en die 700 + klagtes staar hom in die gesig! Beplan Zuma dalk massa moord? Is dit die rede vir die ontrekking uit die ICC? Wat bly vir Zuma oor as sy planne nie werk nie? Vrywaring van vervolging en ‘n massiewe Platinum Tjek as hy net wil padgee? Ons leef in intresante tye en skade!

martie ·

Hoekom word hy Z nie net uit ons lewe geskop nie vir wat moet sy k*k nog hanteer is ons so magteloos ek se genoeg is nou genoeg skop hom NOU uit en kry klaar. Hy het ons nou genoeg besteel

pieter ·

JULLE HET NOU DIE WITKANT VAN DIE SAAK GESTEL.DIE SWARTKANT SE HY BLY. DIS DARREM LEKKER IN SUID AFRIKA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.