Nuuskommentaar: Dis ís so, want die regering sê so

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS

Min dinge moet so demoraliserend wees soos ‘n matrikulant wat hard gewerk het en baie goeie uitslae gekry het, en om dan toe moet waarneem oor hoe daar gestry word oor die geloofwaardigheid van die eksamenuitslae.

Die kinderagtige manier waarop die onderwysdepartement op die DA se versoek vir ‘n oudit gereageer het, verdiep net die wantroue. Dat die Vrystaatse onderwysdepartement sy uitsonderlike sukses aan onder meer hulp van die universiteite toeskryf, maar die Kovsierektor een van die voorste kritici van die standaarde is, help ook nie.

Volgens verskeie internasionale indekse, waaronder subindekse van die innovasie-indeks, gaan dit maar broekskeur met die onderwys in Suid-Afrika, veral primêre onderwys, en word die land deur verskeie Afrikalande suid van die Sahara uitgestof. Op die meeste lyste van die wêreld se top-universiteite haal net een Suid-Afrikaanse universiteit, Ikeys, die top 200. Slegs enkele universiteite haal die top 500, hoewel daar opsigtelike bedenkinge kan wees oor watter die perk haal, en watter nie. In teenstelling hiermee haal verskeie Australiese universiteite baie goeie plekke op hierdie lyste.

En nou, in statistiese terme, lewer die matriekuitslae ‘n groot uitskieter op. Die vorige keer wat so iets gebeur het, was toe Mpumalanga uit die bloute puik met sy matriekuitslae presteer het, en dit geen verrassing was nie toe grootskaalse gekonkel aan die lig gekom het.

Dit is een ding om in ‘n belangrike verkiesingsjaar goedgelowige ondersteuners ‘n rat voor die oë te draai, maar as die regering se geloofwaardigheid so gesloop is dat die rand se waarde val omdat dit as riskante belegging beskou word, word dit eintlik ‘n internasionale probleem.

Die oorsaak van die probleem is buitengewoon opvallend. Die regering se versekering dat korrupsie met hand en tand beveg word byt gewoon in die stof as daar muilbandwetgewing wag om onderteken te word, en die publiek wysgemaak word dat ‘n luukse swembad eintlik ‘n “firepool” is. Dit help ook nie as die regspleging tot die uiterste gerek word om te voorkom dat Number One sy dag in die hof kry nie. His Master’s Voice moet geloofwaardigheid hê – iets wat baie tyd neem om te bewerkstellig.

Die probleem met die matriekuitslae het reeds begin toe senior onderwyspersoneel wat in hul kerke en gemeenskappe as mense met integriteit beskou word, reeds in die aanloop baie swaar begin kry het. Hulle was duidelik onder groot druk, en sommiges het in vertroulike gesprekke gesê wat pla. Boonop was daar groot verontwaardiging oor planne om nasieners aan vaardigheidstoetsing te onderwerp.

Dieselfde soort ding gebeur met sensusse en die aanloop tot die bekendmaking van misdaadstatistiek – uiteindelik is die probleem nie of die statistiek akkuraat is nie, maar of die ontvangers daarvan dit as geloofwaardig beskou.

Raadslede en senior munisipale amptenare wat aansienlike “prestasie”-bonusse kry terwyl die krane leeg is en Eskom dreig, en diensleweringsbetogings aan die orde van die dag is, is nou ook nie juis die boustene van geloofwaardigheid nie.

Dit help ook nie as ‘n minister sy vinger op ‘n teer punt lê, en afgedank word nie. Die afdanking van Toyo Sexwale as minister van huisvesting het waarskynlik niks daarmee te make dat hy op TV gesê die regering se behuisingsprogram sukkel om weens die aanwas by te hou nie, maar in die konteks van ‘n president met twintig of meer kinders, en die president se opmerkings oor die belangrikheid vir vroue om kinders te hê en ma’s te wees, was die tydsberekening van Sexwale se afdanking “ongelukkig”.

Die tydsberekening van die matriekuitslae was ongelukkig. Dit het gevolg kort na die Guptagate-insident, kort na die “firepool”-verduideliking, en kort na die jongste korrupsiepersepsie-indeks bekend gemaak is en Suid-Afrika verder daarop teruggesak het.

Suid-Afrika het een van die grootste inkomstegapings, en moontlik die grootste ter wêreld. Dit word deels vererger deur die feit dat ‘n groot deel van diegene wat in bittere armoede verkeer, glad nie werk het nie. Suid-Afrika mag ‘n ekstreme voorbeeld wees, maar is wat inkomsteverdeling betref nie heeltemal uniek nie. In die VSA besit die boonste 1% sowat 35% van die welvaart.

In sy bespreking hieroor skryf  John Stossel dat so ‘n situasie nie met die opdeel van ‘n pastei vergelyk moet word, waar iemand gesnoep word omdat ‘n ander ‘n groter hap gekry het nie. Hy gebruik die voorbeeld van Bill Gates wat skatryk geword het maar nie van ander geneem het nie, maar nog ‘n miljoen pasteie gebak het.

Dit raak wel ‘n ernstige probleem as die gaping in die sogenaamde onproduktiewe sektor te hoog word, want dan word kapitaal onttrek uit die sektore wat in groei investeer, en werk skep. In Suid-Afrika word die rassekaart boonop gespeel om die slag van die hennetjie wat die goue eiers lê te motiveer.

En ongelukkig vind hierdie wanvoorstellings ingang in ‘n gemeenskap met gevestigde persepsies.

Op die gevaar af om Max du Preez se rubriek in die Cape Times deur ‘n selektiewe aanhaling skeef te trek, vat hy wat nou gebeur goed saam: “Probably more than during any election campaign since 1994, the trend among several political groupings has been to darkly warn white South Africa about the consequences of continued inequality, poverty and unemployment. Some of these politicians seem to believe that the best way to demonstrate their revolutionary fervour and commitment to a better life for all is to insult and threaten the white minority. Some otherwise sober-minded commentators have joined the chorus in recent weeks, although with a softer approach. When do the whites start making a contribution to alleviate the plight of the black poor? Why do the whites who confess their love for Nelson Mandela not also love other black people? Whites need to show their gratitude for a peaceful settlement and the subsequent prosperity by resolving the land issue. And so on.”

As die waarheid eers die slagoffer word van propaganda of persepsies, raak dit ‘n perd wat baie moeilik gery word.

Enigeen wat Maroela Media se bakkiesblad volg en sien dat die “likes” teen ‘n verstommende tempo toeneem, sal opmerk dat dié nuusmedium baie vinnig nuwe lesers bykry, ook uit die buiteland. Uit die lesers se kommentare is dit gereeld duidelik dat hulle nuus soek wat is soos dit is, nuus van oor die hele wêreld, en nie iets aanbied wat iemand iewers wil hê hulle selektief of gemanipuleer van kennis moet dra nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Kalie Barnes ·

Die ANC sal nou die wit minderhede teiken om die aandag van hulle eie patetiese vermoens om te bestuur, af te trek. Hoe nader dit aan verkiesingstyd kom hoe feller sal hierdie aanslae kom. Dit is duidelik in Zuma se uitsprake dat hy ‘n opperste rassis is … vergelyk sy toespraak oor matriekuitslae. Ons op grondvlak moet egter steeds volhard in pogings om goeie verhoudinge tussen mense van verskillende kulture te bewerkstellig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.