Nuuskommentaar: Dit het SA nou van dipaloekasie

Desmond Tutu en sy vriend, die Dalai Lama Foto: memeburn.com

Desmond Tutu en sy vriend, die Dalai Lama Foto: memeburn.com

As ʼn land soos ʼn paloekrasie regeer word, is dit seker nie onverwags as die buitelandse beleid ook die vorm van ’n dipaloekasie aanneem nie. Die groot internasionale verleentheid wat Suid-Afrika pas beleef het weens die verskuiwing van die saamtrek van oud-Nobelvredespryswenners uit Suid-Afrika weens ’n kleitrappery met die toestaan van ’n visum aan die Dalai Lama is ’n twyfelagtige “hoogtepunt”.

Dit val saam met die hele kerndebakel oor die ooreenkoms met die Russiese Rosatom, waar die regering hom met sy gespartel net dieper in die politieke dryfsand inwikkel.

Voor dit het Suid-Afrika vrot eier in die gesig gekry toe die land geweier het om ’n mosie te steun waarin die wrede vergrype van die IS veroordeel word.

Terwyl bykans die hele wêreld sanksies teen Rusland instel weens sy rol in Oekraïne, glip pres. Jacob Zuma met ’n vreemde afvaardiging weg Rusland toe om te gaan rus, en só ’n paar ooreenkomste te sluit.

Presies hoe in pas, of uit pas, met die wêreldmening is Suid-Afrika as dit by die Dalai Lama kom? China is immers bekend dat dit minstens soms strafmaatreëls teen lande instel wat die Dalai Lama op sy grondgebied toelaat.

Maar, anders as wat ’n mens dalk sou verwag van die boelietaktiek van ’n groot moondheid soos China, word die Dalai Lama se afspraakboekie net al hoe voller met buitelandse besoeke. Die vorige twee jaar het hy 12 besoeke aan die buiteland gebring, en vanjaar was hy reeds nege keer oorsee.

Onder die Brics-lande is geen eenvormigheid oor hoe die Dalai Lama hanteer moet word nie. Hy woon in Indië waar hy wyd reis. Sy ernstigste teenspoed was dat sy besoek aan New Delhi verskuif is om nie saam te val met ’n besoek aan die stad deur die Chinese leier, Xi Jinping nie. Rusland het daarenteen selfs ’n deurreis-visum geweier.

In hooftrekke behels China se druk dat die Dalai Lama, indien ’n land wel ’n visum aan hom toestaan, hy nie regeringsleiers ontmoet of amptelike byeenkomste van die land bywoon nie. Tog tel lande soos die VSA en Kanada, en verskeie Europese lande, onder sy gereelde besoekpunte. (Lees gerus meer hier in die Christian Science Monitor oor die manier waarop die Dalai Lama oorsee ontvang word, en hoe die kansellasie van die 14de byeenkoms van Nobel-vredespryswenners in Kaapstad Suid-Afrika se beeld oorsee gekneus het).

Die interessantheid is hoe Noorweë self op die Dalai Lama-kwessie reageer. Die Noorweegse premier het voor die besoek in Mei vanjaar aangekondig sy sou nie die Dalai Lama ontmoet nie, en het dit duidelik gemaak dat dit is om China ter wille te wees. Sedert 2008 was daar ’n diplomatieke lugleegte tussen Noorweë en China nadat die Nobel-vredesprys aan ’n ander Chinees, Liu Xiaobo, toegeken was. Liu word in ʼn Chinese tronk aangehou. Haar aankondiging is deur dae lange proteste in Oslo teen haar besluit gevolg.

Intussen is die Suid-Afrikaanse regering skynbaar steeds stom oor die Hongkongse gebeure waar China ʼn ooreenkoms verbreek het dat die inwoners teen 2017 hul eie leierskap demokraties kan verkies. Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu, reeds onlekker oor die Dalai Lama-geval, verkwalik die regering omdat dit nie ’n morele ruggraat het om die regte ding te sê nie.

Dit is steeds te midde van sluiers van geheimhouding, weersprekings en vaaghede, nie duidelikheid wat presies tussen Suid-Afrika en Rosatom plaasgevind het nie. Oor die algemeen meen die Suid-Afrikaanse media dat Rosatom die gesamentlike, “misleidende” mediaverklaring opgestel het, waaruit die ooreenkoms vir die bou van kernaanlegte ’n voldonge feit geblyk te wees het. Rosatom en Suid-Afrika het hierdie verklaring saam uitgereik. Suid-Afrika staan steeds by die verklaring, maar hou voet by stuk dat dit wat duidelik daarin staan, nie ’n korrekte afleiding is nie.

Maar is dit billik om Rosatom die sondebok te maak, terwyl die Russiese media wat ’n Russiese teks ontvang het, se inligting presies korrek was? Daarin is dit duidelik dat die ooreenkoms dit ’n moontlikheid maak dat Rosatom ook die kontrak kan kry vir die bou van die kernaanlegte.

In ʼn voorbladstorie verduidelik die Business Day hoekom daar rede is om ongemak te hê, en haal die adjunk direkteur-generaal van energie, Zizamele Mbambo, aan wat aan die media gesê het daar sal wel ’n verkrygingsproses wees, maar weens strategiese redes nie noodwendig ’n oop tenderprosedure nie. Dit kan selfs by wyse van ’n tussen-regeringsooreenkoms wees. Of tesourie by ’n lewensvatbaarheidstudie betrek gaan word, is ook nie duidelik nie.

Hoe meer die regering verduidelik, hoe meer rede tot kommer is daar, blykbaar.

Oudpres. FW de Klerk het soos volg op die gebeure rondom die Dalai Lama gereageer, maar terselfdertyd ook aangedui dat ander gebeure ook Suid-Afrika sy kop in die internasionale gemeenskap moet laat sak: “Ons buitelandse beleid is veronderstel om die waardes in ons Grondwet te weerspieël. Die weiering van ’n visum aan die Dalai Lama is die teenoorgestelde van daardie waardes.

“Dit sê baie oor wat van ons regering geword het. Ná 1994 is Suid-Afrika as ’n baken van hoop gesien vir ’n wêreld wat op soek was na geregtigheid, versoening, integriteit en regeringsbestuur met beginsels. Alhoewel ons altyd politieke teenstanders was, het ek die grootste respek vir president Mandela en president Mbeki gehad. Onder hul leierskap kon Suid-Afrikaners hul koppe om hoog hou in die internasionale gemeenskap.

“Dit is ongelukkig nie meer die geval nie. Met die bestendige afname sedert 2008 kan die uitstel van die Spitsberaad in Kaapstad deur toekomstige historici beskou word as die punt waarop Suid-Afrika uiteindelik sy aanspraak om iets spesiaals in Afrika te verteenwoordig en op iets eerbaar in die internasionale gemeenskap, verloor het.

“Meer as enige iets anders het ons die Nobelvredespryswenners nodig gehad – waaronder sommige van die bekendste morele leiers in die internasionale gemeenskap – om na Kaapstad te kom om hul steun toe te sê aan die waardes waartoe ons ons verbind het toe ons nuwe samelewing tot stand gekom het. Die regering se weiering van ’n visum aan die Dalai Lama, die nalatenskap van Marikana en die daaglikse berigte oor ongure dade van ons leiers en ons Parlement is alles kommerwekkende tekens van die versnelde erodering van daardie waardes.”

Selfs die grootste politiek-korrekte en ooglap-waarnemers moet nou insien dat Suid-Afrika hard probeer om onnodig van die land ’n muishondland te maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae