Die ontvoering van ’n kleuter, wrede misdaad teen vroue, xenofobiese aanvalle en ander vorme van geweld beteken dat elkeen statisties die “geleentheid” kan kry om ’n slagoffer te wees. In plaas daarvan om in sak en as te sit, laat ons probeer kyk of dit moontlik is om die wiel in ’n positiewe rigting te laat draai.
Misdaad, verkeersongelukke en siektes – dit word so algemeen dat daar by baie mense ’n gevoel bestaan dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat hulle ook as slagoffers aan die beurt gaan kom.
“Dit is nou ons beurt.” Dit was ook die uwe se belewenis. Ek het aan ’n nuuskommentaar gewerk en my gedagtes was baie diep in die onderwerp ingesuig, sodat dit nie dadelik tot my deurgedring het dat die bejaarde huishulp, Mitah, luid aan die gil was nie.
’n Toeloop van omstandighede het veroorsaak dat ons huis se veiligheidsmaatreëls nie waterdig was nie. My vrou is gou winkel toe en soos die gebruik was, was die groot hek teen die sypaadjie net toegestoot. Die voetgangerhek by die voordeur moes dan egter toe wees, en dié het sonder my wete oopgehang omdat Mitah aan die buitekant daarvan gevee het. Die aanvallers kon haar dus oorval, en bloot by die huis instap, en in die proses by die pepersproei by die voordeur verbystap.
Ek het dadelik besef ons is in die moeilikheid. Ek was in daardie stadium besonder verswak van kanker en chemo, en het in my rolstoel gesit en werk. Die rowers was tussen my en die pepersproei. Al “wapen” was ’n erdepot waarmee die een rower gepot is. Maar die pot het met die trefslag gebreek. Mitah, wat net aanhou skree en skree het, is ses keer met ’n mes gesteek, en haar kop is oplaas teen die muur verpletter, skaars vier meter van waar ek vasgebind was. ʼn Dag later is sy dood.
Die twee duidelik baie goed ingeligte rowers het laat spat toe ons outistiese seun van by die twee meter uit sy slaapkamer kom. Hulle was duidelik onbewus daarvan dat die seun ook in die huis was. Dit was die beurt van my gesin, om wêreldwyd die nuus te haal. Daar word tot ’n TV-onderhoud met my gevoer terwyl ek in die hospitaal lê om chemo te ontvang. Ek benoem Mitah self vir die FW de Klerk-stigting se jaarlikse aanwysing van die persoon wat die meeste vir gesonde tussengroepverhoudige gedoen het.
Al hoe meer mense vertel van hul byna gelate ervaring van “dis nou my beurt” wanneer hulle die slagoffer word van ’n plaasaanval, ’n motorongeluk, by die huis kom en agterkom daar is ingebreek, met ’n motorkaping uit jou motor gepluk word (en soms die Vader dank dat die baba nie in sy karstoeltjie vasgemaak is en saam met die kapers vort is nie).
Sosioloë en sielkundiges is ontsteld oor die rol wat veral sosiale media speel om die “sindroom” van “dis nou my beurt” te skep. Dit hoort gewoon nie te wees dat die mens die gevoel moet ervaar dat die boosheid so sterk teenwoordig is dat dit nie ʼn geval is van óf ek aan die beurt gaan kom nie, die vraag is net wannéér? En hierby aansluitend: Gaan my beurt kom voor, of ná ek die land kon verlaat en so dié lot kon ontsnap.
Die redes is al voos ontleed. Dit sluit in korruptes wat die land van sy toekoms beroof, die inkomstegaping, die werkloosheidskoers wat die gaping tussen verwagtinge en werklikheid te groot maak terwyl politici onmoontlike beloftes maak en die blaam probeer verplaas, die gebrekkige morele voorbeeld wat leiers stel, naakte rassisme en onewehandige optredes. Pas het die Vryheidsfront Plus in ’n verklaring die ANC daarvan beskuldig dat sy beleid en ideologie verhinder dat die ekonomie groei en werk kan skep, en dat dit verander moet word. Omtrent elke regrukplan sneuwel in die knyptang van sosialistiese beheptheid en verslaafdheid aan korrupsie, en gerugsteun deur sake soos kaderontplooiing – onlangs weer “geregverdig” deur oudpres. Jacob Zuma.
Suid-Afrika is miskien los voor in die resies van uitrafeling, maar nie alleen nie. In Nederland wentel die “meting” van gewelddadige misdaad in die hoeveelheid polisielede wat deur misdadigers beseer word, veral in Rotterdam. Pas is byvoorbeeld berig oor ’n “huwelikstoet” wat deur die polisie voorgekeer is. ’n Passasier het uitgeklim en ’n polisieman met ’n vuishou harpuis laat ruik. Die bruidegom het sy huweliksnag in ’n sel deurgebring.
In die VSA word weer kliphard besin oor die oorsake van die massaskieterye. Sedert die 70-ger jare het die aantal mense wat jaarliks weens massaslagtings gesterf het, nou van 5,7 tot 51 gestyg.
Ons moet probeer anders kyk na “dis my beurt”. Soos om by Solidariteit met sy plan B aan te sluit. Of by AfriForum en te help om slaggate in die strate toe te maak.
Ja, daar is diegene wat radikaal wil reageer en selfs onregeerbaarheid steun om radikale ingryping te “regverdig”. Maar lees gerus ds. Erika Ferreira se artikel “Wat kan Simon die Seloot ons leer van ekstremisme?” hier.
Bid vir ’n meer konstruktiewe beurt om dinge te help regruk.
Ons is al so afgestomp, aanvaar dit maar gelate want ons kan nerens heen vlug nie
Een klap op die regter wang, dan moet mens die ander wang ook hou vir nog n klap. En dan jou vyand vergewe?!
Te laat vir omkeer – genoeg gehad en genoeg gegee.
Waar woorde mnr. Toerien. Jou eie ervarings met siekte en geweldsmidaad en die feit dat jy kophou, stel ’n voorbeeld aan ons wat ons skaam behoort te maak. Doen so voort en mag God jou sëen.
Kyk n mens na die gemeenskap projekte van Afriforum/Solidariteit dan sien jy die positiewe rigting. Kyk jy egter na die politiek en rasgebaseerde opsweping, verdeeldheid, uitlokking tot uitsluiting en isolasie vir sakeryk bou motiewe, dan sien jy die negatiewe rigting, behalwe natuurlik as jy jouself naiewelik blind hou vir die verkeerde rigting. Nodeloos om te se dat Afriforum/Solidariteit se negatiewe rigting vinnig besig is om die positiewe rigting te oorskadu en hoe meer mense daarvan bewus gaan raak hoe meer sal verstandige mense hulself daarvan begin distansieer, omrede kort voor lank gaan die negatiewe rigting gestalte gee aan n idee vir wetgewing wat die mat onder die positiewe rigting gaan uitpluk! Hierdie burgerregte organisasies bou mure en verpolitiseer en verdeel mense nog verder en verhoog spanning en haat in plaas daarvan om brue te bou, hande te vat en apartheid en die struggle saam te begrawe. Net soos die ANC die struggle probeer lewendig hou, netso word apartheid lewendig gehou en dit gaan nie n goeie einde tot gevolg he nie, ten spyte van die positiewe rigting! Die positiewe rigting wat dringend benodig word is vir meningsvormers om bereid te wees om die regte dinge op te hemel en die verkeerde dinge te veroordeel! Die negatiewe rigting van selfsugtige, geldgierige en rasgebaseerde motiewe aan beide kante van die SA spektrum gaan Suid Afrikaners, ingesluit die Afrikaner nie net in ellende dompel nie, maar vernietig. Hopelik sal genoeg verstandige mense teen daai tyd reeds geemigreer het!
Jerry, jy kon nie meer waarheid gepraat het nie! Jy slaan die spyker sekuur op sy kop. Dit is net jammer dat te min mense hierdie waarheid besef, of dit dalk te laat gaan besef.
Dit is nie net Sosioloe en Psigiaters wat bekommerd is oor die sindroom wat sedert media vryheid in die land ons oorspoel nie, Daar is ook ander dissiplines uit die menswetenskappe wat dieselfde bekommernisse deel. Ons het genoeg gehad van politieke standpunte wat SA meer en meer in die afgrond indompel.
Kry ‘n multi-dissiplinere taakspan betrokke, om strukture uit al die dissiplines te vestig. Sosioloe en Psigiaters is maar twee dissiplines uit die Menswetenskappe. Waar is die Antropoloe, Ekomitriste, Opvoedkundiges wat opgely is in Didaktiese, Filosofiese beginsels ? Opgeleide terapeute wat kan help om die produkte van ‘n samelewing wat vergiftig word deur inligting wat vrylik beskikbaar is en bitter min gesensor word by te staan. Ouers en onderwysers sit met hulle hande is hul hare. Dit lyk kompleet asof die
regsberoepe vandag die meeste werk het van alle beroepe.
Ek sien geen ander uitkoms as ons eie land nie, hulle wil ons mos uitdruk. Dan sal ons floreer.
Eie land sal net vir n geslag of twee hou, dan word dit maar net weer weggegee. Wêreldwyd hou wittes mos daarvan om alles wat hulle het weg te gee.
Geen regdenkende mens wat werklik omgee vir hul kinders en nageslag sal hulle aan n lewe in die onomkeerbare vervalle hool onderwerp nie. Dis juis die wat nog wil bly en veg wat hulle behoort te skaam dat hulle dit van hul kinders en nageslag verwag en dan nog die vermetelheid het om die wat vir hul nageslag n beter toekom elders in vrede vryheid en ware veiligheid wil gaan skep, veroordeel.
Helaas… Te laat! Jongmense, gaan soek ‘n ander heenkome in die buiteland. Dié wat agterbly moet maar hoop en vertrou dus nie jóú beurt nie. Ons voorouers het ons nie ‘n guns gedoen om hier te wil bly nie.
Dankie vir die inspirasie en bemoediging in u boodskap. Hoe dikwels word die liggaam van gelowiges nie gemaan om te volhard in die geloof op God se Beloftes vir hier en ook in ‘n tyd soos hierdie nie. En soos altyd is die teenoorgestelde Getuienisse van Jesus se Goedheid en Lewe ‘n Krag wat storms bedaar. Matt 8: 23 – 27. Dat storms die mens se siel benoud maak is ‘n werklikheid. Maar toe die dissipels roep: “Here red ons, ons vergaan!” Kom ‘n uitklophou as antwoord in ‘n onhoudbare stormgety: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Die antwoord rym nie met die “toestand” wat doodsdreigend in en om die enigste vastigheid van ‘n sinkende boot geheers het nie. En tog wys Jesus dat Hy in ‘n oogwink ‘n doodstoestand omkeer in lewenskalmte. Ja, Jesus alleen, kan die storms stilmaak.