Nuuskommentaar: ‘Diversiteit as bestemming’ en gesprek oor Afrikaans

afrikaanse-taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument. Argieffoto.

Beeld se gespreksgeleentheid oor Afrikaans waar deelnemers vernuwend en buite die boksie kan dink, is ’n waardevolle geleentheid om die gesprek vooruit te neem. Uit die eerste geleentheid blyk dit ook dat die saak vanuit verskillende ideologiese en pragmatiese hoeke bekyk gaan word.

Die opskrif, “Diversiteit as bestemming”, is nie vanoggend deur hierdie kommentaarskrywer uitgedink nie. ’n Rubriek in die Christian Science Monitor deur die rubriekskrywer, John Yemma, se opskrif lui: “Diversity as destination.”

Hy sluit sy rubriek af met die volgende woorde: “Diversity should not just be a transitory phase on the road to monoculture. It should be the destination, especially if your national motto is ‘Out of many, one’.”

Die interessante is dat Yemma die verhaal in die 1860’s in die VSA gaan haal en versigtig sy argumente bou. Hy oorweeg opsies en alternatiewe. Wat hy beskryf, is nie veel anders as die ideaal van ’n reënboognasie uit die Mandela-era nie.

Hy put ook uit die boek, The great sort, wat in 2008 verskyn het. Die raakvlakke met Suid-Afrika is opvallend.

Die rubriek val min of meer saam met ’n gesprekreeks deur Beeld met die titel, “Afrikaans en sy mense – waarheen?” Die “anker” is Tim du Plessis wat ook die gespreksreeks vandag inlui, tesame met ’n uittreksel van dr. Leopold Scholtz se onlangse boek, Kruispad.

Volgens die redakteur, Barnard Beukman, se Facebook-inskrywing hieroor sal dit minstens aanvanklik mense wees wat uitgenooi word, wat sal deelneem. Hy vra voorts voorstelle vir mense wat met nuwe, verruimende idees vorendag kan kom.

Tim self skryf in sy inleidende bydrae dat ver buite die boksie gedink sal word. Hy haal vervolgens iets aan wat dr. Van Zyl Slabbert anderhalf dekade gelede geskryf het: “Vir my is dit so duidelik soos daglig. Ekonomiese mededinging, diskriminerende burgerskap, ongelyke kulturele en maatskaplike bronne, rasse- en/of etniese polarisering lê ten grondslag van die intensiteit of gebrek daaraan van konflik in multikulturele lande, of dit die voormalige state van die Sowjetunie, Joego-Slawië, Rwanda, Nigerië of Suid-Afrika is. Uiteindelik gaan Afrikaanssprekendes die probleme, veral in die konteks van die ‘nuwe Suid-Afrika’, nie kan vermy deur sagte en sussende byeenkomste te reël tussen gebruikers en praters nie. Nóg die onlangse verlede nóg die onmiddellike toekoms sal ons hierdie blaaskans gun.” (Dit is net ’n gedeelte van die aanhaling.)

Met die wegtrek lyk dit beslis nie soos ’n gespreksgeleentheid waaraan uitsluitlik of grootliks lede van die Seunse Weenkoor (’n term wat Tim self onlangs afgestof en hersool het) gaan deelneem nie.

Volgens Beukman sal Pretoria FM ook onderhoude met die deelnemers voer.

Hier word geen poging aangewend om te voorspel hoe die gespreksreeks gaan verloop nie, behalwe dat dit baie interessant sal wees om te sien hoe ’n wye spektrum mense nuut, verruimend en buite die boksie kan dink oor die voortbestaan van Afrikaans.

Wat soos ’n paal bo water staan, is dat dit ’n vorm van diversiteit as eindbestemming impliseer, tensy daar natuurlik ’n konsensus sou wees dat Afrikaans “ter wille van” moet verdwyn. En daarvoor is daar te veel Afrikaanssprekendes met ruggraat. Dit is daarom vanselfsprekend dat koppe gestamp sal word met transformasiedrywers wat transformasie tot transformania laat ontaard het.

Ook Maroela Media het sedert sy ontstaan intensief aandag geskenk aan die toekoms van Afrikaans. Vele bekendes het hieraan deelgeneem, en sommige het meer slae by lesers gekry as ander – en sommige is met komplimente oorlaai. Dit is duidelik dat daar by die lesende publiek ’n lewendige belangstelling is. Afrikaans was ook reeds dikwels die onderwerp van ’n nuuskommentaar, en juis gister het dit gehandel oor hoe die goeie bedoelings van wat Afrikaanssprekendes sê of skryf, deur ander (insluitend ander Afrikaanssprekendes) tot sekere stereotipes ge-convert word en die oorspronklike bedoeling so verdag gemaak word.

Die belangrike les oor gesprekke en debatte oor Afrikaans is dat die pro-Afrikaanse groep te alle tye fatsoenlik in hul optrede moet wees. So ook in die kommentaargeriewe van Netwerk 24 oor Beeld se gesprek. Ongelukkig is daar nog gereeld te veel heethoof-reaksies wat van vitrioel drup, en dit bied aan die vyande van Afrikaans die geleentheid om (moedswillig) stereotipes te vorm waarmee ander se bedoelings ge-convert kan word tot ’n smerigheid wat nooit bedoel is nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

JC ·

Afrikaans is awesome!
Die behoorlike uitleef en toepassing van diversiteit binne ‘n grondwetlike demokrasie is die ideaal, maar is nie altyd maklik om te behaal nie, en veral nie om te handhaaf nie. Dit verg op die eenvoudigste gestel opoffering en toewyding van sy sprekers. (Afrikaanses) Diversiteit wat betref Afrikaans; en sy verskeie dialekte en die interaksie daarvan wat tot ‘n smeltpot van integrasie (Kaaps, Oranjerivier, Standaard) en veelkleurigheid (ideosinkrasiteite) lei, is wat Afrikaans so wonderlik maak (en pragtig) en my asem uitslaan! Afr word by verskeie buitelandse universiteite geleer! Afrikaans se voortbestaan? rerig? Die interressante insette vanaf sy verskeie sprekers en die reg op kulturele (taal) outonomie of taal-selfbeskikking is egter die doel, en dit is binne die konteks waarbinne Afrikaanses se taalregte gesien moet word. Sprekers van ander inheemse tale kan gerus lesse leer uit die kennisbron en kundigheid wat Afrikaans opgebou het en wat sy sprekers regoor die RSA bewerkstellig het!

Grassie ·

JC – As iemand jou “asem uitslaan”, beteken dit hy het jou hard op die krop van jou maag gemoker met die vuis. Miskien pas “asem wegslaan” beter. Maar nouja, Afrikaans is seker maar vir party van ons ‘n “interressante awesome” taal. Vir my is Afrikaans die taal wat deur die Afrikaners gepraat word. Die brabbeltaal van Afrikaanses staan my nie aan nie.

jan ·

Herman, ek lees graag jou skrywes. Een ding staan egter soos n paal bo water uit, en dit is dat Beeld ons as Afrikaners telkemale al uitverkoop het met propaganda vir pro-regerings besluite. Hoekom sal ons, met so groot agterdog, dan enige poging van hulle vertrou om vir Afrikaans n regmatige plek in die land te probeer bewerkstellig. As dit wel n eerlike poging is, wil ek glo dis “too little, too late”.

Francois ·

Hoe handhaaf ‘n mens Afrikaans sonder om ‘aanstoot’ te gee? Die persoon by die kasregister in ‘n winkel waar ten minste 50% van die klante Afrikaanssprekend is, kan nie Afrikaans praat nie. Moet ek (a) hom/haar in Afrikaans aanspreek en sodoende ‘dwing’ om basiese Afrikaans onder die knie te kry, of (b) maar in Engels voortgaan ter wille daarvan om nie aanstoot te gee nie? Doen ek eersgenoemde word ek daarvan beskuldig dat ek Afrikaans op ander afdwing; doen ek laasgenoemde is daar geen sprake van die handhawing van Afrikaans nie. Omdat Afrikaans na my mening nie deur baie van my landgenote eerbiedig word nie (dink maar aan swart studente wat teen Afrikaans by universiteite betoog), raak ek stadig maar seker al hoe meer militant oor my taal en sal ek nie skroom om ‘n bohaai te maak waar en wanneer ek voel dat Afrikaans en Afrikaanssprekendes op onredelike wyse uitgesluit of te nagekom word nie. En as dit gesien word as ‘aanstoot’, dan traak dit my nie.

hans ·

Ek staan skepties ten opsigte van enigiets waarby Beeld/Naspers/Media 24 by betrokke is.

Grassie ·

hans – veral as hulle dan nog vir Leopold Scholtz ook nadersleep.

TTh ·

Diversiteit is ‘n feit en daardie grense moet eenbiedig word in terme van Die Bybel (Logos), maar die strewe na ‘n ‘monokultuur’ is baie baie gevaarlik en plaas die wereld globaal weer op dieselfde pad (wat dit reeds is), wat Nimrod met die Toring van Babel probeer het en ook wat gebeur het in die dae van Noag toe multikulturisme en rasvermenging tot die groot vloed gelei het. Dit plaas my buite die ‘boksie’ dink, maar as ek so tussen die lyne lees hierbo is daar ‘n nuwe ‘boksie’ se grense gestel… die wereld sal nooit Die Bybel se standaard eerbiedig nie, wat die uiteindelike bestemming van hierdie wereldse neiging vasmaak – dit nogal van die Christian Science Monitor wat alles behalwe christelik is.

Cobus ·

Snaaks dat net van blanke nasies verwag word om diversiteit toe te pas! Hoekom?

AFRIKAANS ·

RASSISME kan nie toegelaat word in SA! Net omdat hulle in n denkrigting ingaan en dink hulle het die reg om oor ander rasse te heers is RASSISME!! Hou op om op Afrikaans te pik! Ons maak nie gebruik van RASSISME om op ander rasse te tale te pik nie! Wat is nou eintlik so erg daaraan om in jou eie taal te wil leer en praat? Waarom so n bohaai maak? Swart mense praat hul taal,leer in hul taal en die ergste, hulle pik op ons Afrikaans….dis RASSISME!

Egbert ·

Die ongewildes is tans diegene wat Standaard Afrikaans as ‘n sine qua non verdedig. Orals sal die verskillende dialekte wat oa Duitsland, Engeland en Frankryk moet akkommodeer beklemtoon word en dat ons ‘n baie meer “oop” houding hieroor as ‘n voorvereiste vir die voortbestaan van Afrikaans sal moet hê. Halwe waarhede oor wat in genoemde lande gebeur sal polities korrek wees. Voorstanders vir Standaard Afrikaans sal nie gespreksgenote mag wees nie. Hulle is mos die 10% regses wat geïgnoreer moet word!
In die verwaasde en verflenterde Afrikaner geledere van vandag is die eenoog media die onaantasbare koning

Dup du Plessis ·

Taal is die gom wat nasies van mekaar onderskei, sedert die eerste opgetekende geskiedenis was dit so en soos die Israeliete en Palestyne steeds nie saam wil vleisbraai nie is dit nog steeds. Die klem moet dalk eerder wees om mekaar se taal en tradisies te respekteer …..as om mense te forseer om tale te gebruik wat hulle nie wil nie. (bv. die universiteit senario waar ek as Afrikaanssprekende my volle gelde ens. betaal – maar ek word deur ander gedwing wat dalk gratis onderrig eis – om in ‘n taal wat hulle voorskryf te moet studeer….
tien teen een nog deur die betalendes gesubsidieer……. Dit kan mos nie net eenrigting verkeer wees nie want dan moet ‘n Afrikaanssprekende ook kan aandring op Afrikaanse onderrig by tradisionele ander taalgebruikende universiteite.

Reinhardt ·

Stem saam met JC. Afrikaans en al sy dialekte is wat die taal so fantasties maak. Ons moet ophou om n spesifieke dialek as die korrekte een aan te wys. Ek stem ons hou n standard Afrikaans vir akademiese doeleindes, maar as woorde soos “jy” en “jou” as “djy” en “djou” uitgespreek word moet daar goed aangespreek word dat dit wel ook korrek is. Dit is n unieke dialek, nie n verkeerde dialek nie. Selfde storie vir die Pretoriase aksent, waarde baie woorde oorrond word. Nie verkeerd nie, uniek. Ons taal is besig om te verander, uit te brei en te evolve. (ontwikkel klink net nie so goed soos evolve nie).

John ·

Was daar nog ‘n taal in die geskiedenis wat so moes ly. Party mense wil die aandag op hul self vestig daarmee, ander vervloek diegene wat dit praat, ander weier volstrek om dit te verstaan of te praat, ander glo iemand wat Afrikaans praat moes al ‘n hele paar mense gemartel het of ten minste vermoor het, party wil buite die boks dink en ander wil binne in die boks klim en daar sit en dink, en party mense dink boks is ‘n anglisisme. ‘n Hele klomp mense beskou Afrikaans as hul moedertaal en ander wens dit was nie hul moedertaal nie. In die buiteland is Afrikaans ‘n studievak en hier laat sak al wat rektor is sy kop in skaamte as iemand hom sou vra of die taaltjie nog op hul kampus gebesig word; party word rooi van skaamte as hul ja moet antwoord. Party Afrikaanse skrywers weier om in Afrikaans te skryf, maar skryf elle lange briewe om die behoud van die aaklige taaltjie; om dit tog asseblief nie af te skryf nie. Aai tog Afrikaans, gelukkig is jy ‘n stoere kannie-dood!

JMPD ·

Gelukkig is dit nie Tim du Plessis en sy paneel wat die taal Afrikaans vorm nie. Die taal word gevorm deur die die Afrikaner wat dit praat en wat n liefde en deernis vir hierdie Godgegewe geskenk het.

Jcwf ·

Mens kan lank of kort daaroor praat. Mens kan kla of dit awesome noem, maar dit verander niks. Dis tyd om wat vir jou taal te DOEN. Afrikaans moet ‘n volwaardige taal van die internet word en die Afrikaanse Wikipedia is ‘n belangrike front in daai stryd.

Kom ons help!

Johannes Meintjes ·

Die handhaawing van Afrikaans sal seker, net soos deur die hele geskiedenis sedert 1652, uiteenlopende reaksie en doelgerigde volharding uit al die tersaaklike invalshoeke verg. Om die voorbestaan se gedragspatroon te probeer voorskryf , manipuleer en reguleer gaan besmoontlik geen vrugte dra nie. Die handhaawingspektrum sal na mening voortduur, van rooi balonne, wit kruise, protes-optogte, “radikale” uitlaatings, kunsvorme, akademiese gesprekke en Bybelvertaalings. Lank leef Afrikaans en die Afrikaner!

Armando ·

Afrikaans is die belangrikste bindende faktor wat ons definieer. Ek is ‘n Afrikaner en ek praat Afrikaans. Omdat ek ‘n opgevoede mens is, praat ek ook ander tale, o.a. Engels sowel as party swart tale, maar ook Italiaans en Frans en ‘n bietjie Duits, en ek sal my bes doen om iemand wat nie Afrikaans kan praat nie te akkomodeer en te help sodat daar wedersyds begrip is. Maar Afrikaans opgee en weggee is nie ‘n opsie nie, want dan sou ek ook my wese (wie ek is) verraai. Afrikaans maak my wie ek is, daarom is my praat daarvan ononderhandelbaar.

Dirk Breytenbach ·

Armando jy is iemand met ‘n ruggraat en terwyl daar sulke mense is sal Afrikaans bly bestaan! Die woord “ononderhandelbaar” is die vertrekpunt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.