Nuuskommentaar: ‘Diversiteit as bestemming’ en gesprek oor Afrikaans

afrikaanse-taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument. Argieffoto.

Beeld se gespreksgeleentheid oor Afrikaans waar deelnemers vernuwend en buite die boksie kan dink, is ’n waardevolle geleentheid om die gesprek vooruit te neem. Uit die eerste geleentheid blyk dit ook dat die saak vanuit verskillende ideologiese en pragmatiese hoeke bekyk gaan word.

Die opskrif, “Diversiteit as bestemming”, is nie vanoggend deur hierdie kommentaarskrywer uitgedink nie. ’n Rubriek in die Christian Science Monitor deur die rubriekskrywer, John Yemma, se opskrif lui: “Diversity as destination.”

Hy sluit sy rubriek af met die volgende woorde: “Diversity should not just be a transitory phase on the road to monoculture. It should be the destination, especially if your national motto is ‘Out of many, one’.”

Die interessante is dat Yemma die verhaal in die 1860’s in die VSA gaan haal en versigtig sy argumente bou. Hy oorweeg opsies en alternatiewe. Wat hy beskryf, is nie veel anders as die ideaal van ’n reënboognasie uit die Mandela-era nie.

Hy put ook uit die boek, The great sort, wat in 2008 verskyn het. Die raakvlakke met Suid-Afrika is opvallend.

Die rubriek val min of meer saam met ’n gesprekreeks deur Beeld met die titel, “Afrikaans en sy mense – waarheen?” Die “anker” is Tim du Plessis wat ook die gespreksreeks vandag inlui, tesame met ’n uittreksel van dr. Leopold Scholtz se onlangse boek, Kruispad.

Volgens die redakteur, Barnard Beukman, se Facebook-inskrywing hieroor sal dit minstens aanvanklik mense wees wat uitgenooi word, wat sal deelneem. Hy vra voorts voorstelle vir mense wat met nuwe, verruimende idees vorendag kan kom.

Tim self skryf in sy inleidende bydrae dat ver buite die boksie gedink sal word. Hy haal vervolgens iets aan wat dr. Van Zyl Slabbert anderhalf dekade gelede geskryf het: “Vir my is dit so duidelik soos daglig. Ekonomiese mededinging, diskriminerende burgerskap, ongelyke kulturele en maatskaplike bronne, rasse- en/of etniese polarisering lê ten grondslag van die intensiteit of gebrek daaraan van konflik in multikulturele lande, of dit die voormalige state van die Sowjetunie, Joego-Slawië, Rwanda, Nigerië of Suid-Afrika is. Uiteindelik gaan Afrikaanssprekendes die probleme, veral in die konteks van die ‘nuwe Suid-Afrika’, nie kan vermy deur sagte en sussende byeenkomste te reël tussen gebruikers en praters nie. Nóg die onlangse verlede nóg die onmiddellike toekoms sal ons hierdie blaaskans gun.” (Dit is net ’n gedeelte van die aanhaling.)

Met die wegtrek lyk dit beslis nie soos ’n gespreksgeleentheid waaraan uitsluitlik of grootliks lede van die Seunse Weenkoor (’n term wat Tim self onlangs afgestof en hersool het) gaan deelneem nie.

Volgens Beukman sal Pretoria FM ook onderhoude met die deelnemers voer.

Hier word geen poging aangewend om te voorspel hoe die gespreksreeks gaan verloop nie, behalwe dat dit baie interessant sal wees om te sien hoe ’n wye spektrum mense nuut, verruimend en buite die boksie kan dink oor die voortbestaan van Afrikaans.

Wat soos ’n paal bo water staan, is dat dit ’n vorm van diversiteit as eindbestemming impliseer, tensy daar natuurlik ’n konsensus sou wees dat Afrikaans “ter wille van” moet verdwyn. En daarvoor is daar te veel Afrikaanssprekendes met ruggraat. Dit is daarom vanselfsprekend dat koppe gestamp sal word met transformasiedrywers wat transformasie tot transformania laat ontaard het.

Ook Maroela Media het sedert sy ontstaan intensief aandag geskenk aan die toekoms van Afrikaans. Vele bekendes het hieraan deelgeneem, en sommige het meer slae by lesers gekry as ander – en sommige is met komplimente oorlaai. Dit is duidelik dat daar by die lesende publiek ’n lewendige belangstelling is. Afrikaans was ook reeds dikwels die onderwerp van ’n nuuskommentaar, en juis gister het dit gehandel oor hoe die goeie bedoelings van wat Afrikaanssprekendes sê of skryf, deur ander (insluitend ander Afrikaanssprekendes) tot sekere stereotipes ge-convert word en die oorspronklike bedoeling so verdag gemaak word.

Die belangrike les oor gesprekke en debatte oor Afrikaans is dat die pro-Afrikaanse groep te alle tye fatsoenlik in hul optrede moet wees. So ook in die kommentaargeriewe van Netwerk 24 oor Beeld se gesprek. Ongelukkig is daar nog gereeld te veel heethoof-reaksies wat van vitrioel drup, en dit bied aan die vyande van Afrikaans die geleentheid om (moedswillig) stereotipes te vorm waarmee ander se bedoelings ge-convert kan word tot ’n smerigheid wat nooit bedoel is nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
JC

Afrikaans is awesome! Die behoorlike uitleef en toepassing van diversiteit binne ‘n grondwetlike demokrasie is die ideaal, maar is nie altyd maklik om te behaal nie, en veral nie om te handhaaf nie. Dit verg op die eenvoudigste gestel opoffering en toewyding van sy sprekers. (Afrikaanses) Diversiteit wat betref Afrikaans; en sy verskeie dialekte en die interaksie daarvan wat tot ‘n smeltpot van integrasie (Kaaps, Oranjerivier, Standaard) en veelkleurigheid (ideosinkrasiteite) lei, is wat Afrikaans so wonderlik maak (en pragtig) en my asem uitslaan! Afr word by verskeie buitelandse universiteite geleer! Afrikaans se voortbestaan? rerig? Die interressante insette vanaf sy verskeie… Lees meer »

jan

Herman, ek lees graag jou skrywes. Een ding staan egter soos n paal bo water uit, en dit is dat Beeld ons as Afrikaners telkemale al uitverkoop het met propaganda vir pro-regerings besluite. Hoekom sal ons, met so groot agterdog, dan enige poging van hulle vertrou om vir Afrikaans n regmatige plek in die land te probeer bewerkstellig. As dit wel n eerlike poging is, wil ek glo dis “too little, too late”.

Francois

Hoe handhaaf ‘n mens Afrikaans sonder om ‘aanstoot’ te gee? Die persoon by die kasregister in ‘n winkel waar ten minste 50% van die klante Afrikaanssprekend is, kan nie Afrikaans praat nie. Moet ek (a) hom/haar in Afrikaans aanspreek en sodoende ‘dwing’ om basiese Afrikaans onder die knie te kry, of (b) maar in Engels voortgaan ter wille daarvan om nie aanstoot te gee nie? Doen ek eersgenoemde word ek daarvan beskuldig dat ek Afrikaans op ander afdwing; doen ek laasgenoemde is daar geen sprake van die handhawing van Afrikaans nie. Omdat Afrikaans na my mening nie deur baie van… Lees meer »

hans

Ek staan skepties ten opsigte van enigiets waarby Beeld/Naspers/Media 24 by betrokke is.

TTh

Diversiteit is ‘n feit en daardie grense moet eenbiedig word in terme van Die Bybel (Logos), maar die strewe na ‘n ‘monokultuur’ is baie baie gevaarlik en plaas die wereld globaal weer op dieselfde pad (wat dit reeds is), wat Nimrod met die Toring van Babel probeer het en ook wat gebeur het in die dae van Noag toe multikulturisme en rasvermenging tot die groot vloed gelei het. Dit plaas my buite die ‘boksie’ dink, maar as ek so tussen die lyne lees hierbo is daar ‘n nuwe ‘boksie’ se grense gestel… die wereld sal nooit Die Bybel se standaard… Lees meer »