Nuuskommentaar: Doggerland nie net oor gedog

Doggerland. Grafika: YouTube

Vandag sou Doggerland stellig kon verwys na ’n plek waar die slagoffers goedgelowig fopnuus sou sluk omdat hulle gedink het die nuus is die waarheid. Vandag weet ons dit kan nie so wees nie, net soos daar nie plek is vir ’n doodloop teen fopnuus nie. Ons moet méér weet, en minder bog liggelowig opvreet.

 ’n Ekspedisie het gister na Doggerland vertrek. En nee, ’n mens sou die kluts kwyt wees om die ekspedisielede na Suid-Afrika te stuur waar baie mense gedog het dinge in Suid-Afrika sou ná die inhuldiging van mnr. Cyril Ramaphosa as president oornag reggeruk word. Min mense het gedog hy sou met soveel skynbare gemak sy eie oortuigings vaarwel toeroep om onteiening sonder vergoeding te omarm. Min mense sou gedog het Ramaphosa se huwelik met die land se wit mense sou so gou in ’n abortiewe spulletjie ontaard. Baie min mense het gedog die euforie oor Ramaphosa sou so gou verdamp. Baie het gedog Ramaphosa se verkiesing sou keer dat Mangaung geldelik ondergaan – ’n proses wat nou skynbaar onomkeerbaar is.

Maar hoewel dit nie op elke kaart gevind kan word nie, is daar, of liefs was daar werklik ’n Doggerland. Doggerland het sowat 10 000 jaar gelede onder die see verdwyn, nadat dit lank Europa en Brittanje met ’n landmassa verbind het. Doggerland is reeds taamlik deeglik ondersoek en gekarteer.

Nou gaan die nuwe ekspedisie ’n deeltjie van Doggerland, bekend as die Bruinbank, ondersoek. Menslike beendere wat reeds deur vissermanne saam met die bene van onder meer mammoete onder die water uitgehaal is, en wat sowat 10 000 jaar oud is, is ’n sterk aanduiding dat daar eens menslike nedersettings in Doggerland, en meer bepaald op die Bruinbank was. Vorige ondersoeke het aan die lig gebring dat daar ’n meer aan die kus van die Bruinbank was. Die habitat wat aan die oewer van hierdie meer bestaan het, sou ideaal wees vir die ontstaan van minstens een menslike nedersetting. Die ekspedisie gaan die oorblyfsels van so ’n nedersetting soek.

Die rede hoekom Doggerland in die eerste plek ontstaan het, is dat daar groot hoeveelhede water in die vorm van ys tydens die laaste groot ystydperk op die poele saamgepak het, en die see dus minder water bevat het. Die swaar ys het ook die aardkors afwaarts gedruk, wat die kors ’n ent weg laat opwel het. Brittanje is steeds stadig aan die terugsak nadat dit eens weens dié meganisme opgehef was. In die Oossee (Baltiese See) kom daar ook nou periodiek ou gesonke bote te voorskyn wat danksy ’n vlakker wordende see gevind word.

Vandag is Doggerland redelik volledig gekarteer, en die Bruinbank as ’n redelike plek geïdentifiseer vir die moontlike vind van oorblyfsels van nedersettings, of minstens ’n nedersetting.

Sou die oorblyfsels van ’n nedersetting gevind word, sal verskeie vakdissiplines daarby kan baat. Sou die inwoners byvoorbeeld geglo het hul beskawing sou kort daarna onder die golwe verdwyn? Sou hulle kontak gehad het met ander stede wat toe reeds ouer as 10 000 jaar was, soos Jerigo, Damaskus en Aleppo?

Sou hulle die stygende seevlak met klimaatsverandering in verband kon bring? Vandag is daar nog heelwat burgers van die eietydse Doggerland wat dog klimaatsverandering is bog. Fopnuus het so ’n probleem geword dat mense, tesame met hul liggelowigheid, steeds bog in plaas van empiriese inligting glo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Interresante artikel soos gesien deur die oe van die skrywer. Om beide kante van die muntstuk te dek kan daar dan ook tereg gese word dat burgerregte organisasies het gedog dat buitelandse veldtogte druk sou plaas op die ANC om plaasbeveiliging n prioriteit te maak en om af te sien van grondonteiening sonder vergoeding. Die teendeel wys dat daar nog nie n vinger verroer is deur die ANC mbt plaasbeveiliging en dat grondonteiening inderdaad versnel word deurdat die eerste proeflopie om n boer te onteien reeds aan die gang is.

IK is maar 100 ·

Diue gemiddelde mens se IK is n skamele 100 wat ek dink een van die redes is waarom demokrasie toe nie die groot oplossing was nie. Baie groot persentasie van die bevolking het eenvoudig nie die vermoe om nuus te verwerk en te besluit watter politieke party aan bewind moet kom nie.

Die Skeptiese Nie-priester ·

Natuurlike klimaatsverandering is ‘n feit soos ‘n verdrinkte koei. Niemand betwis dit nie.

Oseaanvlakke het gestyg na die smelting van die vorige ystydperk se globale ysbedekking. maar pre-fossielbranfstof antieke beskawings soos o.a. Droggeland was egter nie daarvoor verantwoordelik nie.

In die huidige, toksiese klimaatsverandering debat is die groot struikelblok egter dat klimaatsververandering eerder soos ‘n godsdiens as ‘n wetenskap hanteer word. Die wetenskap staan altyd skepties en bevraagteken alle teoriee, want dis die aard daarvan. Einstein bv het Newton se 300 jaar-oue gravitasieteorie bevraagteken en vervang met ‘n nuwer, beter teorie wat meer dinge verklaar as Newton s’n. Maar selfs hierdie nuwe teorie word vandag deur wetenskaplikes uitgedaag.

Die huidige, uiters onvolledige klimaatsverandering-teorie, wat deur konsensus bereik is, mag egter amptelik deur niemand bevraagteken word nie. Dit is wetenskaplik onverantwoordbaar. Wetenskap berus nie op konsensus nie en moet altyd bevraagteken word.

Soos die Rooms Katolieke inkwisisie en heksejagtery van ouds, word regte wetenskaplikes wat regtens skeptiese vrae oor hierdie teorie stel en ander hipoteses aanbied,egter toenemend neerhalend as “deniers”, ontkenners afgemaak, geintimideer en vervolg, soos deur fanatiese godsdienstige priesters van oud. Dit is werklikheid ‘n vorm van fassisme met geen plek in die wetenskap of in enige demokrasie nie. Waarom bv word slegs navorsing van die meepraters van die teorie befonds?

Baie moet nog gese word oor onvolledige modelle wat uiters komplekse stelsels moet voorspel,natuurlikse siklusse asook die effektiewe zero-effek wat die $miljarde voorkomende emmisies maatreels sal he^ op globale temperatuurveranderinge. Wie baat finansieel hierby?

Albaster ·

Sosiale veranderinge waar die kommunis en antiwesterse sentimente toegelaat word om oor te neem is ‘n baie erger bedreiging vir die wereld as klimaatsverandering.

John ·

R€£¥₩$… dit is wat praat want groot geld word na navorsing gegooi en die kongresse word deur letterlik duisende afgevaardigdes bygewoon. Net te lekker die lewe op hierdie oorverhitte klein balletjie… en onthou tog die son speel geen rol in die hele saak nie… Die liggie draai net elke dag om ons… ons die middelpunt van die heelal…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.