Nuuskommentaar: Dokters aangekla ná bystandselfmoord van Belgiese vrou

Tine Nys (middel) saam met haar twee susters.

Die genadedood van ’n outistiese vrou in die Asperger-spektrum in België maak nou opslae en drie dokters word aangekla. In Nederland is daar ook ’n ondersoek oor die genadedood van ’n persoon met demensie. Die vrae strek nou veel verder as oor die kernvraag oor die neem van ’n lewe.

Dit handel oor kwessies soos hoe toerekeningsvatbaar iemand moet wees om besluite te neem al is dit oor ’n eie lewe, maar selfs oor regeerbesluite soos ds. Dawid Kuyler wat vra of sekere politieke partye (en selfs kerke) nie genadedood toegestaan moet word nie.

Die ANC staan bo-aan die lys in Suid-Afrika, en is relevant teen die agtergrond van regruk-aksies wat op ’n streep in die grond duik. Pres. Donald Trump se verhoor met betrekking tot die staat van beskuldiging is ook relevant teen die agtergrond van die talle bewerings oor sy geestestoestand, en dus sy toerekeningsvatbaarheid.

’n Behoorlike miernes is oopgesteek ná die dood van ’n 38-jarige Belgiese vrou, Tine Nys. Sy het self gevra om selfdood met mediese bystand te kan pleeg nadat ’n verhouding skeefgeloop het. Haar versoek is goedgekeur nadat sy twee maande tevore as outisties gediagnoseer is – iets wat nou deur ’n vooraanstaande psigiater wat die dossier deurgewerk het, betwis word. Outisme is een van drie geestesgesondheidstoestande wat as redes aangevoer kan word om genadedood aan te vra – die ander is persoonlikheidsversteurings en depressie.

Nederland en België is die enigste twee lande wat genadedood vir geestesongesteldheid toelaat, maar die aansoeker moet bewys dat hy of sy ondraaglik ly en dat dit onbehandelbaar is. In Nederland word genadedood as die oorsaak van 4,5% van alle sterftes gereken. Daar is nou juis ontsteltenis en ’n ondersoek in Nederland oor die bystanddood van ’n pasiënt wat aan demensie gely het.

Drie dokters word nou krimineel van vergiftiging aangekla, wat potensieel tot lewenslange gevangenisstraf kan lei. Daar word aangevoer dat die regte prosedures nie gevolg is nie. Boonop het die hoof van België se genadedood-oorsigkomitee, dr. Wim Distelmans, aangedui dat hy nie verder aanbevelings van Nys se psigiater vir die goedkeuring van genadedood gaan oorweeg nie. Hy meen sy dien te maklik aansoeke in. Die psigiater, dr. Lieve Thienpont, wys onder meer daarop dat Nys uit ’n gesin met geen empatie kom. “Dit is ’n erg disfunksionele, gewonde en getraumatiseerde gesin met bitter weinig empatie en respek vir ander.”

Die psigiater is nou een van die drie dokters wat in Gent teregstaan.

Outisme is besig om snel toe te neem. Dit word deels toegeskryf daaraan dat die definisie uitgebrei is, maar dit het slegs minimaal tot die hoër voorkoms bygedra. Outisme kan byna altyd teruggevoer word na ’n genetiese mutasie, en sowat 20 mutasies van spesifieke gene is al geïdentifiseer. (By disleksie is twee reeds geïdentifiseer, hoewel een mutasie net in geringe mate tot die voorkoms bydra.) Minstens twee chromosoom-veranderings (soos by Down se sindroom) word ook tot outisme-oorsake gereken, waaronder die sogenaamde “fragile X” wat net seuns raak, en Phelan-McDermot-sindroom (22 q deletion 13.3), ’n skaars afwyking op die 22ste chromosoom. Dit lei tot verskillende afwykings wat sekere eienskappe deel, maar ook erg verskil in die mate waarin die lyer aangetas is.

Nys is met Asperger-sindroom, ’n baie ligte vorm van outisme, gediagnoseer. Onder die bekendstes in Suid-Afrika met Asperger-sindroom tel Daantjie (Dinamiet) Badenhorst wat Noot vir noot en Flinkdink kort na mekaar gewen het. Soms gebeur dit dat mense met Asperger-sindroom nog ’n mutasie dra, wat tot ongelooflike briljantheid in bepaalde velde lei.

Daar is dus verstaanbaar baie kenners wat meen dit was aanvaarbaar dat Nys se aansoek goedgekeur is. ’n Foto van Nys (middel) saam met haar susters, weerspreek op die oog af dr. Thienpont se verduideliking dat die familie disfunksioneel en bitter min empatie vir mekaar het.

Outismelyers se regshandelingsbevoegdheid en regsaanspreeklikheid moet noodwendig individueel bepaal word, nie net om byvoorbeeld opset om ’n misdryf te bepaal nie, maar in welke mate dit tot versagtende omstandighede kan lei. Lees hier en hier meer oor outisme.

En nou na die politiek. Vandag op Netwerk24 vra ds. Dawid Kuyler van die VGK die vraag of dit tyd vir politieke genadedood in Suid-Afrika is? Hy verwys onder meer na gevalle waar leiers en partye baie skade aanrig omdat hulle hul leeftyd oorleef het, en verwys dan na Robert Mugabe, maar ook na Zanu-PF wat skadelik en verwoestend voortleef. Die NNP was ook so ’n geval, maar nou is die ANC in so posisie, en so ook die EFF en DA wat in die ry staan. Maar waar pas geestesongesteldheid in die prentjie?

Reeds voordat pres. Donald Trump tot Amerikaanse president verkies is, was daar psigiaters en sielkundiges wat bespiegel het wat Trump sielkundig sou makeer. Ná die verkiesing het ’n psigiater ’n petisie geloods om Trump op grond van geestesongesteldheid afgesit te kry. Daar is in 2017 selfs ’n boek gepubliseer waarin 27 psigiaters en sielkundiges die president se geestesgesondheid onder die loep neem. Dit was ook ’n top-verkoper. Einde verlede jaar het ’n psigiatriese kenner verklaar dat Trump meer tekens toon dat hy kognitief agteruitgaan. Volgens ’n bron sou Mexiko se president grappenderwys aangebied het om Trump se mediese rekening vir die behandelings van sy psigiatriese probleme te betaal. LW: Trump word as voorbeeld gebruik weens die oorvloed literatuur hieroor, nie omdat saamgestem word nie.

As al die “diagnoses” wat elke Jan Rap en sy maat oor Trump maak gelys sou word, sou dit self ’n lywige boek oplewer. Google het bykans 17 000 trefslae hieroor. Hoewel verskeie peilings wys dat Trump nie weer die pyp gaan rook nie, is die stembus die finale arbiter, en wat dit betref, staan hy minstens ’n goeie kans. Selfs sommige van sy vyande gee nou toe Trump het met verbeterings in die Amerikaanse ekonomie nou die hef in die hand.

In Suid-Afrika is kaderontplooiing en die hersirkulasie van kaders wat drooggemaak het nou onder bespreking nadat pres. Cyril Ramaphosa uitlatings daaroor gemaak het. Dit help byvoorbeeld niks as ’n administrateur vir ’n mislukte munisipaliteit aangestel word nie, maar met die volgende oudit blyk dat sake in die hande van die administrateur / herontplooide kader verder agteruit geboer het nie. Voorbeelde is volop.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandy

Ja, ek dink ook nie die psigiaters en dokters wat haar gediagnoseer het, het dit gedoen op ondersoeke en feite nie. Ek dink eerder sy wou nie meer leef oor die liefdesteleurstelling. Maar as dit so maklik is in Nederland toestemming kry om selfdood te pleeg as jy aan depressie ly, wat leer hulle dan die mensies van die toekoms oor hoe om mens se gevoelens te hanteer. Ek dink selfdood moet net regtelik toegestaan word aan mense wat werklik weens ‘n pynlike of debiliterende siekte verskriklik ly, en werklik nie meer kans sien vir dit nie.

Johan Venter

Ja, ek sien Greta Thunberg, die tieneraktivis, ly ook aan Outisme en dan wonder ek of dit nie deels rede is waarom sy so aggressief in haar aktivisme is nie, Donald Trump se gewraakte twiet het haar gemaan om haar humeur te beteuel na haar toespraak verlede jaar. In die video wat hulle van die toespraak wys kan mens haar agressie sien.

“Autism spectrum disorder impacts the nervous system. The range and severity of symptoms can vary widely. Common symptoms include difficulty with communication, difficulty with social interactions, obsessive interests and repetitive behaviours.”

Lees gerus ook hier:
https://www.usatoday.com/story/news/nation/2019/09/27/teen-climate-activist-greta-thunberg-inspires-others-aspergers-autism/3778356002/

Hier is haar pa se reaksie:
https://www.cbsnews.com/news/greta-thunberg-parents-dad-svante-thunberg-not-supportive-of-climate-activism-but-saw-it-help-depression-autism/

Johan Venter

En nou dat ons klaar is met nog ‘n hoofstuk waarvan die Trumpderms weereens uitgeryg is, kan ons seker met ons reënbooglewe hier plaaslik aangaan?

Dan

Genadedood of die doodstraf? Want om na al hierdie politiese kwessies te kyk blyk dit my eerder om te weeg na doodstraf toe.. Hoewel ek nie ‘n voorstaander is van Genadedood nie. Dit is God se plek – MY opinie.
Te veel mag in verkeerde hande – ons sal net sien wat hou dit vir SA in.. Hond eet Hond.

Prescription

Sy wou , ander wou nie