Nuuskommentaar: “Doomsday clock” aangeskuif

Wetenskaplikes by die "Doomsday Clock" Foto: thebulletin.org

Wetenskaplikes by die “Doomsday Clock” Foto: thebulletin.org

Elke jaar kom die wetenskaplikes van die tydskrif, Bulletin of the Atomic Scientists, by die Universiteit van Chicago byeen, en besluit of die “Doomsday”-horlosie vooruit of agteruit gestel moet word, en indien wel, met hoeveel. Sedert 2012 het die horlosie botstil op vyf minute voor twaalf bly staan, maar vanjaar het die wetenskaplikes besluit om dit met ’n volle twee minute aan te skuif tot drie minute voor twaalf. Dit is die naaste aan middernag sedert 1984.

Hierdie oefening, maak nie saak hoe ernstig die wetenskaplikes dit bedoel nie, moet nie met pogings verwar word om die oordeelsdag van die Bybel te voorspel nie. Dis is veronderstel om ’n suiwer empiriese, sekulêre oefening te wees en die mensdom simbolies oor sy eie handelinge te vermaan.

Die "Doomsday Clock" word al sedert 1947 deur die Bulletin of Atomic Scientist gebruik om die gevaar van 'n katastrofiese kernkragvoorval te verteenwoordig Foto: AFP Photo/Scott Olson

Die “Doomsday Clock” word al sedert 1947 deur die Bulletin of Atomic Scientist gebruik om die gevaar van ‘n katastrofiese kernkragvoorval te verteenwoordig. Hierdie foto is in 2014 geneem. Foto: AFP Photo/Scott Olson

Voor verder na die wetenskaplikes en hul beroemde horlosie gekyk word; veral op die sosiale media in Suid-Afrika, is dit baie duidelik dat baie mense hul koppe daagliks breek oor die tekens van die eindtye, en die uiteindelike oordeelsdag. Baie van dié mense se waarnemings is subjektief (dikwels aangedryf deur wolhaarstories wat soos veldbrande in die sosiale media versprei), soos blyk uit stellings oor die toename in groot aardbewings, terwyl dit die afgelope paar jaar eintlik afgeneem het. (Vir ʼn rukkie vanoggend het dit gelyk of die aarde sy eerste werklike groot aardbewing van M7 vanjaar by Vanatau noordoos van Australië beleef het, maar dis intussen tot 6,8 op die Momentmagnitudeskaal afgegradeer).

Onlangs was ’n groot aantal mense op loop oor die beweerde herbesoek van Niburu, of te wel Planeet X, en het van hierdie mense op wetenskaplike webwerwe argumente daaroor met erg geïrriteerde wetenskaplikes probeer voer, wat van komplotte tot stilswye beskuldig is.

Ander neem sake waar soos geweld met munisipale opstande wat nou weer wydverspreid voorkom, langdurige verlammende stakings, plaasaanvalle, die padslagting, die komende stakingseisoen en vele meer en kom tot die gevolgtrekking dat die einde naby moet wees.

Klits nog die regering van pres. Jacob Zuma, Eskom en die SAL in die mengsel in, en siedaar – ’n ramp wat wag om te gebeur, word geoordeel.

Dis nie net Suid-Afrikaners wat dit doen nie. Verskillende Christelike Amerikaanse uitsaaiers het reeds permanente kameras op die Tempelberg in Jerusalem gerig sodat die verfilming van die Wederkoms regstreeks gedoen kan word, nadat hulle dit wat om ons gebeur as genoegsame bewyse vertolk het dat die tekens van die eindtye daarop dui dat die einde naby is.

Van oordeelsdagprofete het die wêreld genoeg, al bepaal die Bybel self dat sulke voorspellers per definisie vals profete is – dit is immers net die Vader wat weet wanneer die einde kom, nie eens die Seun nie.

Ons kan dus gewoon van ’n religieuse beredenering oor die toekomskunde in hierdie verband afstap.

Maar ook uit ’n wetenskaplike oogpunt moet die horlosie met ’n knippie sout geneem word. Die wetenskaplikes is kernwetenskaplikes, wat die bedreiging vir die aarde nie net tot die moontlikheid van ’n kernramp beperk nie. Vanjaar het hulle hul ook laat beïnvloed oor gemiddelde rekordtemperature, en die wêreld se lande se traagheid om behoorlik saam te staan om die gevare van die kweekhuis-effek te bekamp. Trouens, wetenskaplikes lag of huil lekker in die mou omdat die Republikeins-beheerde kongres pas wel ’n resolusie aanvaar het dat die klimaat warmer word, maar een wat die mens se rol daarin erken, afgekeur het. Dit is baie duidelik dat die Amerikaanse politici te min weet van die delikate aard van die klimaat waarin faktore soos sonsiklusse, vulkaanuitbarstings en die tiltvariasie van die aarde die klimaat bepaal, maar die mensdom met sy skadelike bedrywighede dikwels net daardie hupstootjie gee vir ’n ramp.

Die kerngevaar is egter ook bygereken, deurdat beide die VSA en Rusland versuim om hul kernarsenaal te verminder. Met onder meer die verwikkelinge in Oekraïne is dit immers teoreties moontlik dat ’n Derde Wêreldoorlog feitlik enige oomblik kan uitbreek, al is die moontlikheid bitter skraal.

Trouens, dit verg ’n wye span kundiges wat onder meer politieke wetenskaplikes insluit, om te kan oordeel hoe goed die kanse is dat lande mekaar kan pak. En selfs met baie goeie inligting van intelligensiedienste, is al foute gemaak.

Op die oomblik is mense feitlik wêreldwyd geweldig bewus van die terreurpotensiaal van die radikale Islam. Daar word met aandag kennis geneem van die optredes van Al Kaïda, die IS, Boko Haram en vele meer. Europeërs is verstom, indien nie geskok nie, om te sien hoe die tentakels van die aanvalle in Parys terugloop via België tot in Utrecht, Nederland, en ook na ander lande soos Griekeland.

Byna op die kantlyn is ’n ander potensiële kernramp besig om te broei. ’n Groep Hizbollah-vegters op die Golan Hoogland, maar volgens berigte aan die Siriese kant van die grens, is vanaf twee hommeltuie (drones) gebombardeer. ’n Aantal mense is dood, waaronder ’n Iranse generaal. Sy begrafnis het Donderdag plaasgevind, by welke geleentheid Iran weerwraak op Israel beloof het. Israel en Iran is geswore vyande, en dit is ’n obsessie van Israel om te voorkom dat Iran die vermoë moet ontwikkel om nie kernwapens te bou nie. Israel het immers in die verlede reeds ’n kernaanleg in Iran in ’n lugbombardement in puin gelê. Intussen word taamlik wyd aanvaar dat Israel oor minstens ’n paar kernbomme beskik as finale waarborg teen sy eie vernietiging.

Baie sielkundiges het al gedelf in die mensdom se apokaliptiese opvattings en selfs obsessie oor alle eeue en alle kulture.  Onder die verduidelikings vir die popularisering van die apokaliptiese einde is ’n veilige beswering van ons angs weens ons mortaliteit, en die toedrag van sake in die wêreld. Net so is daar baie studies oor hoekom mense daarna uitsien of juis hierin rustigheid vind.

Die grootste fout wat iemand kan maak, is om oor te skakel na ’n toestand van volstruispolitiek – om die kop in die sand te gaan steek en nie van die wêreld om ons kennis te wil neem nie. Halwe inligting veroorsaak ook dat mense dikwels onnodig op hol gaan, soos blyk uit hierdie aangestuurde SMS’e wat ’n storie half beet het sodat daar ’n element van geloofwaardigheid in is. Dink maar aan die jaarlikse e-posse en SMS’e wat versprei word om aan te kondig van die “unieke verskynsel” dat Mars so naby aan die aarde gaan kom dat dit so groot soos die volmaan gaan vertoon. Elke jaar ontken die wetenskaplikes, en elke jaar is nuwe slagoffers gevang.

Kennis is mag, en Maroela Media probeer sy lesers hiermee toerus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hanno Visagie ·

Hoe lank is jul “moderering” veronderstel om te neem? Beteken “Jou kommentaar word gemodereer” presies dit, of eintlik dat dit nie geplaas sal word nie?

Eliza-beth ·

Ek dink mens moet minder oor die eindtyd dink en wonder en bespiegel en liewer net elke dag probeer leef asof dit oor ‘n uur kan gebeur. Met ander woorde leef (of probeer minstens!) jou lewe reg leef! Dankie Herman, ek geniet jou interessante skrywes VREESLIK!

Cathy Kotze ·

Wie onthou nog die groot gat in die osoonlaag wat ons almal sou laat doodbrand? Dit het blykbaar verdwyn.

Toe word die volgende ystydperk aangekondig, so ‘n dekade voor aardverwarming. Wetenskaplikes het darem nou verduidelik dat die aarde se temperatuur sedert 1880 met ‘n hele ,8°C verhoog het. Soos Margeret Thatcher dit al toentertyd akkuraat opgesom het: “Global warming ‘provides a marvelous excuse for worldwide, supra-national socialism.”

Ons het rede om bekommerd te wees dat groepe soos ISIS daarin kan slaag om ‘n kernbom te ontplof.

Aarbewings en tsunamis kom dikwels voor, maar daar was nog nie weer ‘n Krakatoa uitbarsting nie.

Die Bybelse verduideliking van die verskillende gerugte van alles wat voor die eindtyd gaan gebeur, werk ongelukkig nie so akkyraat in hierdie era van internet en sateliete nie. Nuus versprei deesdae blitsvinnig.

willem niemandt ·

Ek sien en oordeel jou kommentaar as baie insegsewend,hou so aan Herman ek sien uit om jou volgende seining te kan lees.

Willem ·

Herman, absoluut is kennis mag. Die liberales neem die gematigdes kwalik en verguis hulle omdat hulle westerse waardes na streef. Hulle vevoei ons omdat ons terug verlang na dit wat gewerk het.

Nou sien ek Maimanie van die DA pleit dat spesialiseenhede in die polisie teruggebring moet word.

Skuus, dan moet ek die steek in kry, Adriaan Basson vertel hy is nie ‘n Jan van Riebeeck nie, en dan haal hy uit die geskiedenis aan net dit wat hom pas.

Miskien is hy ‘n lekker ou Jan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.