Nuuskommentaar: Dreigemente sal sensus nie laat vlot

Deur Paul Joubert

Daar word berig dat Statistieke Suid-Afrika (SSA) aansoek gedoen het vir toestemming om die bepalinge van die Statistiekewet toe te pas. Die wet bepaal dat mense wat nie hul samewerking aan SSA gee nie, tronkstraf van tot ses maande, of ʼn boete van tot R10 000, of beide, opgelê kan word. Eerder as om mense tot deelname aan te spoor, gaan hierdie benadering ongelukkig die sensus eerder verder bemoeilik.

SSA se frustrasie met baie mense se gebrek aan samewerking met die sensus is verstaanbaar. Die gebrek aan samewerking het die potensiaal om ʼn nuttige en positiewe projek soos die sensus sleg in die wiele te ry, in welke geval die geld wat daarop spandeer is, wel ʼn vermorsing sou wees.

Die gebrek aan samewerking met die sensus spruit uit drie redes:

Eerstens is daar gewoon ʼn vrees dat sensusbeamptes moontlik misdadigers kan wees. Met die goeie identifikasieprosedures wat gevolg word en die feit dat sensusbeamptes nie toegang hoef te kry tot huise nie, is daardie vrees eintlik ongegrond. Soos meer mense ook by hul vriende en kennisse begin hoor dat hulle nie bedreig gevoel het deur sensusbeamptes nie, sal die vrees by meer mense besweer word.

Tweedens is daar talle mense wat uit onkunde, of weens misleidende inligting, die sensusproses wantrou of vrees. Mense dink byvoorbeeld dat ʼn sensus slegs ʼn “koppetelling” is en dat geen meer inligting as dit tydens ʼn sensus ingesamel word nie – iets wat natuurlik vêr van die waarheid is. Nog ʼn voorbeeld van ʼn wanpersepsie is dat die sensus se inligting op een of ander manier teen jou as ʼn individu gebruik sal word as deel van een of ander bose komplot, wat ook totaal ongegrond is.

Hierdie motivering vir ʼn gebrek aan samewerking kan slegs effektief hokgeslaan word deur die korrekte inligting duidelik en ondubbelsinnig so wyd as moontlik te versprei – verkieslik voordat die sensusproses begin. Hoewel Statistieke Suid-Afrika wel pogings aanwend om dit te doen, is (en was) hulle nie naastenby pro-aktief genoeg daarmee nie. As wanpersepsies eers posgevat het, is dit baie moeiliker om mense van die teendeel te oortuig as wat dit is om van die begin af die korrekte inligting te versprei. Nietemin kan Statistieke Suid-Afrika hulself steeds daarop toespits om die korrekte boodskap oor die sensus op ʼn duidelike, vriendelike en ondubbelsinnige wyse uit te dra. Deur dreigemente van tronkstraf of boetes te maak, word net verdere olie op die vure van die gerugte van ʼn bose komplot gegooi.

Die derde rede vir ʼn gebrek aan samewerking is ʼn doelbewuste besluit om nie aan die sensus deel te neem nie, as ʼn soort protes teen die regering. Talle mense, aan meer as een kant van die politieke spektrum, is gefrustreerd met die regering. Daar is min uitlaatkleppe vir hierdie frustrasie, maar deur die sensusproses te boikot, kan so persoon voel dat hy die regering ook skade aandoen. So persoon sal dinge sê soos: “Laat hulle net probeer om my inligting te kry! My twee Dobermanns sal lekker aan hul bene smul!” Die woede teenoor die regering word verplaas na die sensuspersoneel as ʼn surrogaat. Selfs al is Statistieke Suid-Afrika nie verantwoordelik vir die probleme in die land nie, is hulle dan sommer “guilty by association”. Hieraan is min wat gedoen kan word, maar dreigemente van tronkstraf of ʼn boete sal definitief ook nie help nie.

Prakties gesproke het Statistieke Suid-Afrika, deur mense met vervolging te dreig, ʼn lat vir hulself gepluk eerder as ʼn kierie. Dit is jammer, aangesien Suid-Afrika reeds ʼn tekort aan goeie, volledige demografiese en sosiale data het, veral op munisipaliteitsvlak. ʼn Suksesvolle sensus sou hierdie tekort kon verlig.

Lees ook Weiering om aan Sensus deel te neem kan lei tot boete, tronkstraf: SSA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.