Nuuskommentaar: Drie belangrike naweeknuusgebeure

Dit gebeur nie elke naweek dat daar soveel nuusgebeure is waarvan alle burgers behoort kennis te dra nie, en boonop aandag te skenk aan die ontleding daarvan. Hulle dui op tegelyk losstaande en onderling verbande kwessies. Vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt lyk die hooflysie só:

  • Grondonteiening sonder vergoeding
  • Die AfriForum-debat wat steeds woed tesame met Akademici se petisie teen Ernst Roets
  • Die Ashwin Willemse-debakel

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto; David Ritchie/ANA)

Grondonteiening sonder vergoeding

Die naweek het die ANC sy “huishoudelike” konferensie oor die aanpak van die beleid van grondonteiening sonder vergoeding gehou. Dit is duidelik dat van die sprekers onthuts is oor die tekens dat die buiteland Suid-Afrika hieroor erg verkwalik, en allerlei metodes word aangewend om die kras bewoording te versag.

Ander sprekers beweeg baie na-aan die EFF se beleid en gee skynbaar nie ’n snars om dat baie mense en lande ontevrede hieroor kan wees nie.

Een van die “versagtingselemente” is om dit as ’n juridiese feit te vestig dat grondonteiening sonder vergoeding ingevolge die bestaande Grondwet, en in weerwil van die duidelike verbod van artikel 25, lank reeds wettig sou wees. Of juridies akrobatiese tegnieke voldoende sal wees om die uitwerking van internasionale verdrae wat Suid-Afrika onderteken en geratifiseer het, weg te veeg, is lank nie so eenvoudig nie. Suid-Afrika se verwikkelde proses om uit die jurisdiksie van die internasionale strafhof te tree oor die weiering van die uitlewering van Omar al-Basjir behoort as duidelike riglyn te dien.

Vanaf die president se kant word die indruk gewek dat nou eers ’n soort konsensus oor die belangrikheid van grondhervorming gevorm word. Terselfdertyd was daar ’n vroeë voorteken dat hy ’n element van soberheid probeer vestig. Soos gebruiklik het hy die voordele en gewaande voordele gelys, maar in plaas van die gebruiklike beklemtoning van die skepping van welvaart, het hy nou na die belangrikheid van voedselproduksie verwys.

Net te veel sprekers het genoem dat baie van die aandrang op grond niks met doeltreffende boerdery te make het nie, maar ’n stukkie grond om op te woon, en daarop te bak en brou.

Of die beraad die ANC enigsins vorentoe stuur, sal nog gesien moet word.

AfriForum-VSA-01

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum tydens hulle veldtog in die VSA. Foto: Ernst Roets/Twitter.

Die AfriForum-debat wat steeds woed tesame met Akademici se petisie teen Ernst Roets

Die woordestryd teen AfriForum het die kenmerk begin aanneem van ’n woordestryd tussen AfriForum en sekere akademici, maar nog heelwat “gewone” burgery neem deel. Dit bevat verskeie onverkwiklikhede soos sito-sito-stellings oor AfriForum wat onwaar is, wat by herhaling ontken is, maar om net so op te diep. Om die oneerlike akademici daarvoor voor die bors te gryp, gaan in sekere kringe baie sleg af.

Die naweek het prof. Amanda Gouws van die US met ’n petisie begin teen ’n video wat Roets, onderleier van AfriForum, oor die NWU se medeprofessor, Elmien du Plessis, gemaak het. Gouws beskryf Roets se video as haatspraak. (Lees hier.)

’n Blote stukkie ironie word hier as interval ingesluit omdat dit ook op die verdere besprekingspunt betrekking het. Sowat 40 jaar gelede is verskeie universiteite, waaronder Kovsies, sterk beheer deur akademici wat ’n leerstelling afgedwing het van die destyds “Christelike” beleid van apartheid versus die humanistiese beleid van gelykstelling. Studente wat openlik verskil het, was onder enorme druk al was hulle verseker dat hulle kon verskil mits hulle behoorlik kon aandui hoekom hulle verskil.

Die akademici wat nou Roets se bloed soek, sou veral nou met hul destydse kollegas heftig verskil, maar net so min is daar aanduidings dat Roets, sou hy oud genoeg gewees het, simpatiek daarteenoor wees. AfriForum het immers onlangs ’n eenheid teen rassediskriminasie geskep.

Kortom, daar skort iets as akademici (onder andere) eenvoudig volhou om strooipoppe op te stel, en daarna te skiet en breedsprakig te kenne probeer gee daar word eintlik op AfriForum aangelê. (Lees hier.)

En in die proses word die eintlike kwessies, die omvang van plaasaanvalle en grondonteiening, van die tafel af baklei.

‘n Skermskoot uit die video.

Die Ashwin Willemse-debakel

Die kwessie met sommige bitter lang wortels het so skielik toegeslaan dat ontleders uiteraard traag is om dit nou al te probeer ontrafel. Politici is nie so omsigtig nie, en veroordelings, en selfs aandrang op strafmaatreëls vlieg nou al rond. Willemse self het gesê sy mede-aanbieders op SuperSport, Naas Botha en Nick Mallet, was “neerhalend” teenoor hom, en hy het die ateljee toe verlaat.

Die minister van sport, Toko Xasa, het aangedring dat Mallet en Botha geskors word. Die DA-leier het in sy reaksie iets bygevoeg, naamlik dat te veel swart mense nog ervaar wat Willemse ervaar het.

Tot tyd en wyl die kwessie beter belig is, word bloot vir bietjie historiese perspektief en moontlike afloop gekyk – die era van “oorvleueling”. Dit verwys na ’n destydse newe-effek van die kwotabeleid. Wit rugbybase was skugter om nie-wit spelers in ander posisies as vleuel te kies (waar hulle min skade kan aanrig – in weerwil van spelers soos Errol Tobias wat ook maar dikwels na senter moes uitskuif). Daar was dus ’n “oorvoorsiening” van vleuels en toe die briljante Vrystaatse vleuel en toekomstige Springbok Friedrich Lombard senter toe moes verskuif, het dit nie gelyk of jong wit spelers sommer weer behoorlik kans op vleuel sou kry nie.

Die afgelope Saterdag was daar weer tekens van “oorvleueling” toe die drieëkoning, Makazole Mapimpi, as plaasvervanger vir die Haaie gekies is. Ruan Combrink het ook die speelveld vir die Leeus vanaf die reserwebank betree. Let wel, hier word geen waarde-oordeel gevel nie, maar gekyk hoe baie ondersteuners dit kan ervaar. Die feit dat swart en bruin spelers deesdae in enige posisie uitblink, skiet in elk geval gate in die idee dat spelers weens hul velkleur as nie geskik vir “ingewikkelde” posisies, soos onder meer losskakel, beskou moet word nie.

Slot

Hoe lank die aanslag uit sekere akademiese kringe teen AfriForum gaan voortduur, hang ongelukkig nie net van een van die twee partye af nie, maar ook van ander mense en groepe wie se ore uitgeleen was, en verkies om te klou aan vooropgesette idees.

Elkeen van die hoofrolspelers kan baat by interne prosesse om behoorlik oor openbare beeld te besin. Dit sou ook akademies eerlik wees. Die Willemse-geval toon hoe ragfyn sommige mense se gevoelens gespan is, en dat daar nog heelwat heelwerk is.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
TDW

*GOSV sal vir RSA groot skade berokken, want al geskied Cyril dit op klein skaal in die belange van die ekonomie, sal die volgende president ‘n lekker gaping kry as die grondwet gewysig word. Juis agv mense se vooruitsig is ons teen die verandering vd grondwet om GOSV te laat plaasvind. *Ek was nie bewus van DA se reaksie oor die Ashwin sage nie. Ek het hierdie jaar al besluit om my volgende stem na VF+ te verander, al sal hulle nooit die meerderheid kry nie sal hulle ten minste nog sitplekke in die parlement kry om Afrikaners se belange… Lees meer »

Spike

Mnr Toerien. Jy praat van heelwerk wat nog gedoen moet word, maar hulle wil nie heel word nie. Dit is makliker om die martelaar te speel deur die slagoffer mentaliteit wat hulle het en sodoende aandag te vestig. Solank dit so is en ons mekaar nie vertrou nie is daar nie hoop nie.

thinus

1) Ja ek wil ook graag ‘n erfie verniet kry sodat ek nie meer huur hoef te betaal nie! MAAR ek wil geen boer se plaas (of deel) verniet he nie, al is ek hoe lief vir boerdery – was lank self boer, want dit is eenvoudig te gevaarlik deesdae. Dit is net vreemd dat Ramaphosa aan die een kant eienaarskap uitdeel, en aan die anderkant wil vat. Is dit regstellende aksie of diefstal, ek is bietjie verward? 2) Akademici is baie slim: so slim dat hul argumenteer dat alle tale moet gelyke kans kry en bevorder word, daarom moet… Lees meer »

Robert

Maar al die reels en regulasies soos kwota spelers , bee, aa en vele meer is dan deur die anc regering daar gestel. Wat is die probleem dan?

Willie

Ons moet Supersoprt mooi dophou… ek dink hulle moet Ge-Spur word…