Nuuskommentaar: “Droom SA” op ’n haarnaald

vlag suid-afrika

Argieffoto

Word enige vooruitsigte vir die realisering van die Suid-Afrikaanse droom nie platgetrap deur die volharding van planne vir grondonteiening sonder vergoeding nie? Die ANC, met ’n enkelvoudige uitkyk, meen die teenoorgestelde, of alternatiewelik dat slegs die swart man se belange tel. Die FW de Klerk-stigting het pas die ontleedmes ingespan. Maroela Media ontleed die kwessie en werk ook ’n omvattender konteks in.

Sedert pres. Cyril Ramaphosa byna ’n jaar gelede president van die ANC geword het, en ’n paar maande later president van die land, word sy optrede teen twee uiteenlopende prismas gevolg. Die een is ’n hoopvolle beskouing met projekte soos ’n komende beraad wat op die skep van werksgeleenthede sal fokus.

Nie die kunsmatige “werkskeppingsprojekte” waar werklose mense tydelik hoofsaaklik deur die staat in diens geneem word (sogenaamde depressieposte) om die ekonomie met herstel- en onderhoud op infrastruktuur te stimuleer nie, maar “creating decent work and building an inclusive economy”. Die beskrywing van dié tipe poste kom uit ’n verklaring waarin die FW de Klerk-stigting baie krities na die president se planne kyk.

Die Stigting verwys na die span wat deur Ramaphosa aangewys is om Suid-Afrika betekenisvol te bemark, as die “Dream Team”.

Maar kan Suid-Afrika (nog) as ’n bemarkbare droom bemark word? In die verklaring word na talle defekte in die plan gewys. Trouens, in die verklaring word in besondere detail en met skerp realisme na die Suid-Afrikaanse realiteite gekyk. Die ekonomiese beginsels wat tradisioneel as die regte beskou is, word afgestof en – hoewel die terminologie verskil – is dit inhoudelik dieselfde en word as die utopiese afgestof. Eerstejaar-ekonomiestudente is immers ingedril oor die “onproduktiewe staatsposte” teenoor die produktiewe private sektor waar werksgeleenthede as die produk van ’n gesonde ekonomie behoort te ontstaan.

(Daar is niks mee verkeerd om met hoë agting na depressieposte as ’n noodmaatreël te kyk nie, en ook groot respek te hê vir mense wat sonder enige aandeel van hul eie, hul werk verloor het.) As depressiewerkers, of soos die Amerikaners dit noem, depressie-erawerkers, moes dikwels werk verrig ver onder hul kwalifikasiepeil. Die Los Angeles Times vereer ’n groep sulke werkers soos volg: “On this date in 1933, tragedy struck in Griffith Park when a small brush fire ignited and 1 500 Depression-era workers, who were there for road widening and other projects, were sent to the top of a ridge to toss dirt on the flames. A gust of wind sent the fire roaring toward the workers, who were not trained in firefighting, and caused a panic. Twenty-nine people died in the incident.”

Lesers sal uiteraard uiteenlopend op die verklaring reageer. Die pessimiste het kwalik harde wetenskap-gefundeerde feite nodig om die ekonomie te beskryf as een wat in die diepste put sedert die nuwe bedeling getuimel het. Optimiste wat objektief die sakie betrag, sal nie die wegsink ontken nie, maar fokus op die doeltreffendste manier om daaruit te kom.

Dit bring ons by die sogenaamde tweede stroom – diegene wat meen al die regte dinge word gedoen, maar word deur basies ’n enkele hooffaktor in die voet geskiet – planne vir die onteiening van grond deur onteiening sonder vergoeding.

Op die oomblik wys reaksies wêreldwys daarop dat die gebruik van ontkenning soos tradisioneel die geval, nie gaan werk nie. Pres. Donald Trump se onlangse kritiek op die onteieningsplanne en die ontkenning van grondbesetting, en die Ramaphosa-binnekring se kritiek op Trump, is duidelike bewys dat die Suid-Afrikaanse ekonomie se buitelandse beoordeling, ernstig saak maak.

Plaaslik word ’n soortgelyke patroon bemerk: eenkant diegene wat op die oog af objektief-pessimisties is, en diegene wat gewoon Ramafories bly glo die huidige koers gaan op Utopia se werf eindig. Só word daar entoesiasties gebou aan die vernietiging van ’n droom.

’n Droom is nie die werklikheid nie. Die ekonomie, daarenteen, se stand word dikwels deur persepsies in stand gehou of gestimuleer, en om daardie krag met droomkrag om te ruil, kan katastrofies wees, want hoe meer beroerd die werklikheid is en dit tot die opsaal van nagmerries lei, hoe stamperiger word die pad na ekonomiese herstel.

Pretoria FM draai in ’n nuuskommentaar nie doekies om oor die beskrywing van dit wat so baie mense nou as ’n onbetwisbare waarheid beskou nie: “Meer hiervan (die meer as 40 regeervorme) word in die praktyk gebruik as wat ’n mens mag dink…  Ander se toepassing klink hoogs onwaarskynlik, maar as gesien word wat ons eie regering aanjaag, is dit al of van die onderhandelaars by Kodesa erg aangejaag het – k*kistrokrasie. Dit is waar die land regeer word deur die mins gekwalifiseerdes en wat oor die minste moraliteit beskik. Dit word beskryf as om deur die ergste regeer te word.” Die opskrif is: “Word ons deur die man in die maan regeer?”

Om te debatteer oor of daar werklik iets soos ’n Suid-Afrikaanse droom kan wees, is belangrik – maar ’n onderwerp wat meer as genoeg meriete het om op sy eie bene as onderwerp te staan Die kwessie van onteiening sonder vergoeding het die realiteit hiervan onsagkens blootgelê met standpunte wat dikwels gevoelloos die rasselyne gevolg het. En die persepsies hieroor is dieper verskans as om bloot met debat skoongewas te word. Is Suid-Afrika gereed vir so ’n debat en die emosionele reaksie? Dit is soos om diepgang te verwag uit die euforie wanneer die Bokke (soms) presteer en duidelik op die pawiljoene deur ’n Duitse broudrankie aangehelp is.

Geen Suid-Afrikaanse droom kan realiseer solank die president daardie deel van sy ampseed versaak waarin hy onderneem het om in die beste belang van alle Suid-Afrikaners op te tree nie.

Soek die droom, soek die raakvlakke tussen die verskillende drome, formuleer wat gemeenskaplik aanvaarbaar is, en werk hard aan die inweef daarvan in werklikhede – soos om te aanvaar dat minderheidsregte internasionaal al hoe belangriker word. Bring gerus hulde aan die depressiewerkers wat meer as net ’n opgeknapte infrastruktuur nagelaat het, maar ook dat beskeie werk en opofferinge ter wille van hul kinders, eerder ’n medalje as vergoeding verdien.  En skaf ook maar genoeg knie-ghries aan, want daarsonder gaan ons nie regkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ellisras ·

En wat het van Gerrie Nel geword. Hoeveel dae is dit nou al wat daar al amper iets gebeur het. Op julle merke. Gereed. Sit.

Cornelia ·

U spreek met gesag en insig. Dankie. Ek geniet u skryfstyl. Vol unieke en kleurvolle woord – en sinspeling. Iets om tot die taalskat by te voeg. En u sê dit: “op ons knieë kan Wonderwerke gebeur.”

Gerhard ·

Interessante skrywe. Dankie Herman.

Myns insiens staan ons voor ‘n spreekwoordelike waterskeiding met die komende verkiesing. Die regering se beleid rondom ekonomiese transformasie kan weliswaar die land se uitkyk vir die volgende 20-30 jaar bepaal. Indien hul hierdie vernietigende beleid wysig om in die belang van alle Suid- Afrikaners te tree, staan ons ‘n redelike kans op sosioekonomiese herstel, indien nie, sal ons verseker aanhou agteruit beweeg.

Ek voorspel dat die ANC nader aan die verkiesing hul planne rondom ekonomiese transformasie sal duidelik maak met die hoop om meer stemme te werf, dit sal ons ‘n beter aanduiding gee wat om in die tyd na die verkiesing te wagte te wees. Tot en met dan sal als in die lug bly hang.

Eish ·

Née o genade, die ink wat ekonome en kommentators die laaste week of twee gegiet het op die droom is die enigste logiese afleiding dat gepoog word om n breindood pasiënt op lewensondersteunende toerusting ” lewendig” te hou!
Dis soos om die ryk bure se seuntjie te gaan speel, maar hy wil nie hê jy moet raak aan sy speelgoed nie. Die gespelery kon net soveel interressanter gewees het met twee spelers.
My droom is territoriale selfbeskikking of vlugtelingstatus in Rusland.
Die grond het lankal begin verkrummel hier op die rand van die afgrond onder ons voete.

Hendrik ·

Ek voel dit is baie belangrik om jouself te speen vanaf S.A Frans Cronje van die IRR stel voor dat jy stappe moet neem om die huidige krieses te oorleef. Hoe doen mens dit? 1. Raak ontslae van jou skuld. 2. Verhuis na ‘n veiliger omgewing (selfbeskikking area). 3. Verander inkomste dat jy nie afhanklik is van die staat. (entrepeneurskap, begin met jou eie mense handeldryf) . Nog voorstelle?

Jerry ·

Die beleidsonsekerheid rig verseker skade aan, maar darem nou nie naastenby soos staatskaping nie. CR kan egter nie nou al defnitief klarigheid gee oor wat die uiteinde gaan wees nie omrede hyself nie seker kan wees voor die werksgroepe se aanbevelings vir oplossings begin gestalte kry nie. Dit is n proses en dit gaan tyd vat waarna CR die top ses gaan moet oorreed om hom te steun in sy keuse wat hy gaan moet maak en wat dan meer beleidsekerheid sal meebring. Ons moet nou maar net geduldig die verloop van sake volg en hoop op die beste moontlike uitkoms. Diegene wat droom oor paddas in n pot, moet maar voort droom! Hier in SA is enige iets moontlik, positief en negatief!

Dankie Jerry ·

O ja ons AFRIKANERS moet liewer versoen, CR is ‘n wonderlike president, ek geniet jou skrywes vreeslik . Dankie ek is so positief oor hierdie wonderlike droom van ons.

Eish ·

Wonderlike gebruik van die soetste taal…
Baie dankie daarvoor…
Na n kwarteeu van verdiepende koma, dink ek dat die masjiene maar afgeskakel kan word.
Die asemhaling, hartklop en stuiptrekkings is kunsmatig.

Casper Labuschagne ·

“Droom SA” het in die eerste plek nooit bestaan nie, behalwe in die gedagtegang van diegene wat so graag burgers van ‘n reënboognasie wou wees. Al die faktore wat nou die delikate seepborrel van “Droom SA” laat bars, was van die begin af daar gewees en diegene met historiese immuniteit teen die idealisme van Mandelatopia lig dit al sedert 1994 uit. Al wat nou gebeur het is dat die werklikheid die droom verbygesteek het en diegene wat aan die droom vasgeklou het, nou al die elemente van kognitiewe dissonansie ervaar.

Henry ·

Dankie vir ‘n skryfsel wat verdere bevestiging en verdere kenmerke verskaf van hierdie droewe land se onafwendbare toevoeging tot die lys van Afrika se mislukte state.

misluktekrasie/mislikekrasie word as alternatiewes vir die beter beskrywende, maar growwer k.kistokrasie aangebied.
:-)

Leon ·

Dis vir my redelik tydmors om te teoretiseer oor die redes vir die agteruitgang van Suid-Afrika. Ons het net een rigting gegaan sedert die oorname vd ANC in 1994, en dis reguit af “rock bottom” toe.

John ·

Dis nogal veelseggend dat die ANC wat steeds eenheid beoog met die kommuniste in ons midde, die reenboog aangegryp het om ons problematiese mengelmoes mee te beskryf. Sluit dit aan by die geliefde Afro-opdrag-liedjie, God bless Africa, waarin ons die Skepper daaraan herinner om nie weer Afrika te oorspoel nie, al luister ons nie vir Hom nie? Daar is natuurlik baie ander metodes, wat mens self kan bewimpel, om die mat onder jou eie voete uit te werk… en blitsvinnig ook. Zuma lief die Gup-tasse en Cyril die Sor-osse… Wat is die verskil? Net ‘n ander roete na dieselfde ‘kraal’?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.