Nuuskommentaar: Dubbele maatstawwe vir rassisme is rassisme

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

Die pers-voorval by Maties en totaal ander maatstawwe by Wits het dit duidelik gemaak dat daar nog wyd ’n dubbele persepsie is oor wie by verstek aan rassisme skuldig sou wees, en wie by verstek die slagoffers sou wees. So ’n houding hou baie gevare in.

Terwyl die “pers-voorval” in Stellenbosch nooit ’n rimpeling moes veroorsaak het nie, is die voorval nou in sy eie slaggat vasgevang. Omdat daar die moontlikheid van regsaksie is teen diegene wat die dam onder die eend uitgeruk het, kan nie werklik gewaag word om sonder goeie regsadvies om verskoning te vra nie, op die gevaar af om by implikasie skuld te beken. Tog sou ’n uitreik na die studente om die saak in die reine te bring, nie ’n slegte idee gewees het nie.

Maar dit moes in die eerste plek nooit eens ’n rimpeling gemaak het nie. Dit alles gebeur teen die agtergrond van ander rassistiese optrede, soos die T-hemp en graffiti by Wits met die woorde “F^%$ all Whites” en die T-hemp by Ikeys met die woorde “Kill all Whites”.

Wits het, ook ná regsadvies, besluit die bewoording is “vryheid van uitdrukking” oftewel meningsuiting. Ikeys het na berig word die T-hempdraer geëien, maar dis nie duidelik wat daaromtrent gedoen gaan word nie.

Die US se twee meisies is erg verneder nadat hulle by verstek aan “blackfacing” “skuldig bevind” is. Die audi altaram partem-reël is saam met die meisies vir die wolwe gegooi.

So tussenin het die Noordwes-tak van die Menseregtekommissie (MRK) geweier om pres. Jacob Zuma se uitlatings oor wit mense wat swart mense se grond sou gesteel het te ondersoek. Die Vryheidsfront Plus teken dus appèl aan.

So was die slagspreuk, “Kill the Boer, Kill the Farmer”, ook eens in appèl om tot haatspraak verklaar te word.

En toe Julius Malema deur die gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind is, was daar wye kritiek uit die geledere van wat vandag as die Seunse Weenkoor bekend staan, en het die ANC appèl aangeteken. Toe dit uiteindelik voor die appèlhof sou dien, was Malema reeds om ander redes uit die ANC geskop en die ANC het buite die hof geskik.

So tussenin is twee Kovsies, sonder ’n aanduiding dat hul kant van die saak aangehoor is, as studente geskors ná ’n voorval met ’n uiters omstrede swart student. Hulle is hierna deur eers die MRK en daarna die hof onskuldig bevind op onder meer rassisme-aanklagte.

Ook in die geval van die Reitz-vier moes ’n uitstel-landdros ingryp en ’n beroep op die media en die politici doen om nie die vier voortydig skuldig te bevind nie. Die Sondag daarna plaas ’n Sondagkoerant ’n brief waarin die vier as kriminele beskryf word, lank voor die verhoor self plaasgevind het. In die verhoor self, ná ’n pleitooreenkoms, is die vier hard gestraf. Onder appèl is die vonnisse nie net versag nie, maar dit het geblyk die landdros het hulle ook gevonnis vir iets waarvoor hulle nie aangekla was nie.

Daarna is in ’n rubriek geskryf die vier het die skoonmaaksters in ’n soort candid camera-tipe opname en sonder hul medewete afgeneem. In werklikheid, en so is dit ook in ’n ander koerant berig, was die skoonmaaksters vrywillige akteurs, en toe die film aan hulle gewys is, het hulle dit so geniet dat hulle hul vriende gaan roep het om saam te kyk. Eers later, toe die vakbond betrokke geraak het, was dit so traumaties dat hulle (in opdrag van die vakbond) nie daaroor kon praat nie.

Hiermee word geen pleitbesorging vir rassistiese of enige ander vernederende optrede gedoen nie. Sedert die huidige polemiek met die Penny Sparrow-geval begin het, het Maroela Media soos strykdeur daarvoor, ’n beroep op ewehandigheid en die hou by basiese regsbeginsels soos die audi altaram partem-reël gepleit.

Daar kan geen heil daarin wees om te argumenteer dat ’n swart persoon uiteraard nie ’n rassis kan wees nie (so ’n argument is tot in sy wortel self rassisties) of dat daar verskillende norme vir wit en swart is oor wat rassisme en vryheid van uitdrukking of meningsuiting is nie.

Hoe op aarde kan daar ’n beginselverskil tussen ’n “White Lawyers Association” en ’n “Black Lawyers Association” wees? Hoe kon die organiseerders van verlede jaar se KKNK by voorbaat besluit Steve Hofmeyr (wat nie aansoek gedoen het om deel te neem nie) is onwelkom omdat hy Die Stem, ’n nieverbode lied en FAK-liedboek-lied gesing het, maar daar word moeite gedoen om na swart kunsverenigings uit te reik?

Tog word hierdie onewehandigheid deur ’n breë gemeenskap aanvaar asof dit so hoort. ’n Opname van Pondering Panda onder wit, bruin, Indiër- en swart kinders het aan die lig gebring dat die meeste wit, bruin en Indiër-kinders die ANC-regering se rassewetgewing as die terugbring van apartheid ervaar, terwyl die meeste swart kinders dit nie so ervaar nie.

Uit pres. Jacob Zuma se staatsrede word die indruk ook gewek dat die rassisme-probleem bykans eksklusief van wit kant af kom (asof daar nie ’n klag onder appèl by die MRK teen hom self is nie).

In baie gevalle, soos die ANC se rasgedrewe verkiesingstrategie, is dit politieke opportunisme om die DA te probeer seermaak (asof die DA ’n party vir wit mense of sogenaamde “coconuts” is). Daar is egter ook ’n breë paradigma waar rassisme aan die ontvangkant van apartheid is of, noudat apartheid in die verskiet begin raak, die nalatenskap van apartheid. Apartheid word egter nie tot 1948 teruggevoer nie, maar tot Jan van Riebeeck.

Onder ’n groep wit mense bestaan ’n soortgelyke dubbele maatstaf, wat moeilik as iets anders as ras-paternalisme beskryf kan word.

Tog lyk dit of die Matie-voorval nou in sommige kringe uiteindelik die dubbelslagtige houding begin wegvreet het. Vanoggend sluit Max du Preez sy rubriek in Netwerk 24 af met die volgende: “Ek vind dit onhoudbaar dat soveel van die driftiges optree asof swart Suid-Afrikaners steeds geen mag of seggenskap het nie en soos voor 1994 nog onderdruk word. Diesulkes moet begin besef dat om wit Suid-Afrikaners as ongewenste vreemdelinge te verklaar, ook ’n vorm van rassisme is en geen goeie gevolge kan hê nie.”

Dis eintlik erg dat so ’n stelling gemaak moet word so lank nadat ’n Grondwet in werking getree het wat onbillike diskriminasie, onder meer op grond van ras, verbied. Voorts vereis die Grondwet gelykheid voor die reg. Die Grondwet verbied ook haatspraak, as beperking van die reg op uitdrukking of meningsuiting.

Is dit dan nou werklik so moeilik om te verstaan dat die toepassing van dubbele standaarde by die beoordeling van wat rassisme en haatspraak is, op grond van die definisie ook rassistiese optrede is? Maar selfs al sou dit moeilik wees om te verstaan, is die Grondwet immers duidelik hieroor.

Nie alles wat skeefgetrek word, kan darem in die mantel van transformasie of enige ander strooipop ingeprop en geregverdig word nie, want dan kan die grondwetlike bepalings net sowel geskrap word.

As voortgegaan word met hierdie dubbele standaarde is dit gewoon arrogant om verbaas te wees as peilings toon die gemeenskap word meer rasgepolariseerd. Dis dom om te dink dit gaan nie tot voorvalle en die opbou van konflikpotensiaal lei nie.

Miskien is dit hier ’n gepaste plek om sommer ook te pleit dat te alle tye gehou word by die feite, en nie feite sommer deur persepsies te gaan vervang nie. In die aanloop tot AfriForum se beoogde interdik teen die US oor die toepassing van sy eie taalbeleid, skryf ’n bekende hoogleraar in ’n brief aan die media AfriForum probeer daardeur Afrikaans as dominante taal op die US afdwing en skets dan sommer die voorspooksels oor wat die gevolge sou wees. In werklikheid het AfriForum dit duidelik gemaak dit gaan oor die gelykberegtiging van tale soos deur die US se raad goedgekeur. Die US het ook soos kundiges wyd verwag het, buite die hof geskik in hierdie saak.

Tog, hierna, word ’n AfriForum-woordvoerder weer deur ’n joernalis gekonfronteer oor die beweerde poging tot die dominansie van Afrikaans.

In die geval van die Reitz-vier was daar naderhand twee duidelike stelle “feite”. Die een stel feite was onder meer dat die vier om verskoning gevra het (al was dit gegewe die regsimplikasies daarvan in die aansig van ’n strafsaak riskant), en ’n stel “feite” deur die “ander” wat byvoorbeeld bly aandring het op ’n verskoning lank nadat die verskoning aangebied en deur Sapa aan al daardie media beskikbaar gestel is. By heelwat media was moedswilligheid aan die orde van die dag, by ander kwaadwilligheid. Hoernalistiek is oor ’n baie wye front ervaar.

’n Beroep word op die regering gedoen om nie deur wette en uitsprake rassisme aan te blaas en dan, as daar reaksie daarop is, dit hoogheilig te gaan verguis nie. Stel eerder die regte voorbeeld sodat ons kan aanbeweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Tweetie ·

Rassisme hou nie daar op nie…. My gegradueerde kind wat graad met cum laude gekry het, sukkel om werk te kry. Nie eens by die munisipaliteit is daar n werk nie, want hulle se net hulle is ”committed to Employment Equity and endorses the principles of Affirmative Action”. Dit is bitter onregverdig en een van die grootste rassediskriminasies teen blankes.

anna ·

Jou kommentaar is sooo reg!
Dit is ook ‘n geval van boelie, want die Smorenburg – knaap het die meisies verbaal geboelie en toe hy van symedisyne terug kry toe hardloop hy weg en skuil nou agter sy vriende – soos gelees in vanoggend se koerant.
Iemand wat boelie het tog n probleem in homself soos almal weet. Hierdie knaap sal die US by ‘n sielkundige moet kry voordat hy US se naam nog verder in die modder sleep. Hoeveel ander is daar nog van hulle wat soveel skade aangerig het met hierdie geval? En soooo onnodig gewees.
Daar is werklik groot probleme by US en hulle bestuur, maar ‘n knaap soos hierdie Smorenburg gaan hulle nog duur te staan kom.
Ek kan net my kop skud.

Loeis ·

Volgens Netwerk24 het Mathew Smorenburg, verbonde aan die universiteit se studentesentrum, die meisies se verkoning getik. Die meisies se foto’s is wyd verprei, Smorenburg is op http://praag.co.za/?p=36567 te sien.

m ·

Rassisme word net aangeblaas deur ‘n sekere groep en voor hierdie spulle nie vasgevat word nie sal dit nooit ophou nie. Hulle wil maak praat soos hulle wil want dis mos hulle reg en Vryheid van spraak, maar sodra die bordjies verhang word dan is dit nou glo rassisme en die hele wereld is op hol. Verstaan nie so lekker waarvoor hierdie meisies moet omverskoning vra nie. Die partytjie het ‘n tema gehad en hulle het daarvolgens aangetrek….. einde van die storie. Moet ons nou toestemming by sekere groepe kry wat om na ons partytjies toe aan te trek?????

m ·

Rassisme word aangeblaas deur sekere groepe en voor hulle nie vasgevat gaan word nie gaan dit ma net erger word. Niks gaan ooit beter word nie….

hans ·

Is daar geen beheertoegang-elektroniese studentekaart- by UK. Kan enige persoon toegang tot kampus en fasiliteite kry sonder kaart. Hoe is dit dat kampusbeheer nie die persoon met n boodskap van Kill all whites op sy hemp opgemerk het nie en dadelikvan die terrein verwyder het nie?

John ·

Groepering of ‘ soort soek soort’ is so oud soos die mensdom self. Swartmense soos wittes of Indiers of mense van Sjina meng oor maar net met mense uit hul eie klas of nasie in die meeste gevalle. Die mense van Noord Korea en die’ uit die suide, is van dieselfde rassegroep en hulle haat mekaar. Die Europeers beskou die Russe, ook blankes, as baie gevaarlik. Die Franse weier om Engels te praat… en … By ons is rassegroering ‘n wapen om die ‘ander’ mee te takel as jy nie jou sin kry nie; eintlik ‘n vreeslike kinderagtige manier van baklei.

Loon ·

Die Smorenburg knaap het nou net probeer om “iets” te wees en nou te slapgat om homself te red, skuil agter sy maatjies!

Pierre ·

Hierdie issue gaan voort woed tot na die Plaaslike Verkiesing. Dit is duidelik dat daar op geen ander terrein op kiesers impak gemaak word nie aangesien die regering die kiesers ernstig gefaal het. Rassisme is dus nou die bootjie om op terug te val aangesien jy jou kiesers hiermee brein spoel. Jammer om te se maar ons as veral blanke Afrikaners gaan nog baie moeilikheid kry ongeag of ons onskuldig staan. Die hartseer van die saak is dat veral die swart mense van die land erg uitgesproke is en mag se net wat hulle wil, dis deel van dubbele standaarde. Ek het voorreg om saam met ‘n uitsonderlike Indier dame in die kantoor te werk, dis eers as jy ook met haar praat dat sy vir jou sal se dat hulle nou meer as ooit geen plek in die samelewing het nie, so dit is nie net ‘n wit/swart issue nie. Ek persoonlik voel dat daar dan maar van ons minderheidsgroepe n’n poging moet kom waar ons hande vat en saam moet staan teen enige vorm van rassisme. As ‘n pers gesig dan rassisme is hoeveel te meer nie die draers van T-hemde wat moord uitsprake uitskree nie, jammer maar daar is geen onderskeid nie.

Rynhardt ·

Die probleem in SA is n Anc regime wat agter diskrimminerende wetgewing skuil om sy aksies te regverdig.Verder sit jy met kommissies wat jag maak op wittes! Die Anc gebruik ook die EFF om haat aan te blaas.Nou vowr hul n veldtog teen Afrikaans by Tuks.Jy sal sien dat die haat teenoor Afrikaans en Afrikaner gaan verskerp nou.EFF is n militante vleuel van Anc.Die nuutste is dat n komitee Zuma se hand moet vat om hom te lei terwyl SAKP die septer swaai agter die skerms met EFF wat die haat dryf!

Femme ·

Die snaakste is dat al die lawaai gemaak word deur die jonges wat nooit apartheid beleef het nie

Jan maak n Plan ·

Ek stem volhardig saam met Herman Toerien. Dit is duidelik dat iemand in die “gemeenskap”, ‘n klok gehoor het en nie weet waar die bel hang nie. Ek wil een van vele voorbeelde voorhou. Wat is daar mee verkeerd dat ‘n witmens hom “swart” verf vir ‘n tema partytjie. Daar is met absoluut niemand gespot of verkleineer of gediskrimineer nie. Dieselfde vir die swartmens wat hom “wit” verf en “myme” op straat, om sodoende ‘n paar sent te maak om van te kan lewe. Niemand se sonskyn is daar deur gesteel nie. Erens sal iemand moet neutraal gaan sit en tog vir die mensdom moet begin leer, wat is rassisme en wat is nie rassisme nie.

Leonie Booysen ·

Die ding sal nooit einde kry nie. Daar moet n INDABA gehou word oor die geskiedenis van Suid Afrika. Sou die blankes verkeerd bewys word moet ons die aanvaar . Sou die swartes verkeerd bewys word moet dit ook aanvaar word. Hierdie moet dan op die nationale network versprei word sodat die mense wakker word. Alles oor geskienenis

Femme ·

Winston Churchill het gese sy generaals het in die oorlog gese die Suid Afrikaans se manne is die dapperste soldate van almal. Dis erg hartseer dat ons jong mense nou na al die verwikkelinge kyk en besluit om landuit te gaan. Ja ek weet dit gaan oor werke ens, maar as ek weer hoor ” dis terwille van my kinders hier is nie n toekoms nie” kom ek iets oor. As ons begin groot lawaai maak, en saamstaan en nie wegvlug en bang is vir Malema nie, soos die ou boere in die Engelse oorlog…en later die tweede wereldoorlog sal ons iets verrig. Hoe gaan ons weer daar kom dat ons n mag is wat n verskil maak en ons jong mense glo dis hulle land hulle gaan nerens heen nie?

Snip ·

Jong dood het oor ‘n oor saak. Maar deesdae is dit rassime. Mense moet begin verantwoordelikheid vat vir hulle dade dit is nie rassime se skuld nie. Get over it!!!!!!!!!!!!!! Die chappie het nou al sy smaak verloor.

david ras ·

Rassisme ? Regstellende aksie is rassisme. Dit is in SA ook onvermydelik Minderheidsonderdrukking, en dit is strydig met die VN se handves van mense regte.
Weet die VN dit ?
Nee, want wanneer ons wel aangehoor word, vertel die afgevaardigdes hoe ONREGVERDIG Regstellende aksie toegepas word.
Met ander woorde, regstellende aksie is goed mits dit regverdig toegepas word .
Hoe nou ?

Kwotas is rassisme. Wanneer daar ge-eis word dat daar ‘n sekere aantal swart spelers in ‘n pan MOET wees, met ander woorde soveel plekke is gereserveer—dan is ons maar terug by die kennisgwings van die apartheidsjare “gereserveer vir blankes “, of hoe ?
Nou het swart apartheid wit apartheid mos vervang ?

Weet die IRR of enige van die Internasionale liggame dit ?
Sien, ons was op pad om die IRR op sy eie Grondwet te wys—maar toe kom die wereldbeker in die pad.
Eers ‘n bietjie speel…….!

Daar word in enige samelewing verwag dat ouers in hulle besluite die belange van hulle kinders sal voor opstel
Tog, onder die blankes laat ons toe dat ons seuns deur die kwota stelsel beledig word in die sport waarin hulle deelneem

Solank ons klakkeloos, Regstellende aksie aanvaar, en maar net pleisters op die einas probeer plak, sal ons op forums soos hierdie stoom afblaas en niks verder doen nie.

Tog so jammer……!

Cathy Kotze ·

Gelukkig word die pers in Engeland nie aan bande gelê nie. Toe twee swart Suid-Afrikaanse studente by Oxford prober om ‘n standbeeld van Rhodes van daardie kampus te laat verwyder, het hulle moses teëgekom. Hulle is duidelik laat verstaan: “We have NOTHING to learn from you. You have EVERYTHING to learn from us.”

Dieselfde geld in werklikheid vir Suid-Afrika. Die oproerige studente kan die gevestigde universiteite en instansies niks leer nie. Die universiteite daarenteen, het eeue se kennis om te deel. Kennis wat oor en oor die toets van die tyd deurstaan.

Die studente probeer baie hard om die wiel oor uit te vind, maar hulle (en die regering) se gedurige gehaper op sogenaamde rassisme, baar aanmekaar vierkantige wiele.

Die Engelse het ‘n baie mooi term daarvoor: Race Hustlers.

Miskien kan Maroela dit een of ander tyd moontlik maak om inligting te spoeg en plak (copy and paste) op hierdie blaaie. Dit sal die publikasie van relevante webwerwe moontlik maak.

Landi Slatter ·

Dagsê Cathy Kotze

Dankie vir jou navraag. Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Johannes Meintjes ·

Tog bring al hierdie aanslae ook wonderlike geleenthede vir die blanke om hul saak herhaaldelik in die openbaar te stel. Daaruit kan die fel aanslae wat al as volkmoord ontleed is, ook beter aan die lig gebring word. My beskeie mening en sterk aanmoediging is dat sodra daar ‘n “pers gesig” situasie ontstaan, dit van alle kante te belig, te ontleed, bloot te stel en aan te spreek. Kyk nou net bv. hoeveel ongeregtighede word nie met die “pers gesig” geleentheid ontbloot en ontmasker nie! Zuma en Malema se haatspraak hoop op. Gee dit genoeg tou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.