Nuuskommentaar: Duisende mense wil úít Australië kom

Die bekende Operahuis in Sydney. Foto: Pixabay

Die Australian Border Force (ABF) het onlangs onthul dat hy in Augustus byna 15 000 versoeke ontvang het van mense om die land vir langer as drie maande te verlaat. Dit is meer as dubbel die 6 600 aansoeke wat in Januarie vanjaar ingedien is. Australië is een van die min lande ter wêreld waar burgers aansoek moet doen om die land te verlaat. Indien die AFB hul aansoek afkeur, kan hulle ook doodeenvoudig nie die land verlaat nie.

Dit is natuurlik in skrille kontras met die beeld wat ʼn mens onder normale omstandighede van Australië het – veral Suid-Afrikaanse burgers.

Tussen 2009 en 2019 het die Suid-Afrikaansgebore bevolking in Australië met byna 30% gegroei. Suid-Afrikaanse burgers is die sewende grootste migrante bevolkingsgroep in Australië. Wanneer ʼn mens dink aan Australië, dink jy daarom gewoonlik aan mense wat die land probeer binnekom – nie aan mense wat uit die land probeer kom nie!

Die rede vir die ABF se toename in aansoeke blyk weens burgers se ongelukkigheid met streng inperkingsmaatreëls en verpligte inentings teen Covid-19 te wees. Onlangse protesoptrede in die land het ook dié boodskap aan die regering probeer stuur. Derduisende burgers se gevoel is dat die regering hulle misbruik en nie werklik hul regte respekteer nie – hulle wil terugkeer na vryheid. Frankryk het byvoorbeeld ook grootskaalse ongelukkigheid en teenstand onder burgers uitgelok oor streng inperking, vryheidsonderdrukking en drakoniese Covid-19-regulering.

In Augustus het die Australiese hoofstadgebied weer ʼn sewe dae lange inperking ingestel ná die voorkoms van ʼn enkele Covid-19-geval. Dit herinner ook aan Nieu-Seeland se hoofstad wat ook weer onder streng inperkingsmaatreëls gebuk gaan. Die 1,7 miljoen mense van Auckland moet vir minstens nog ʼn week by die huis bly te midde van die Delta-variant wat soos ʼn veldbrand versprei.

In die middel van Augustus het Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, ook nog die ganse land weer onder inperking geplaas ná die aantekening van die eerste enkele Covid-19-geval in ses maande.

Nog net 20% van Nieu-Seeland se totale bevolking is al volledig teen Covid-19 ingeënt. Suid-Afrika, wat werklik ʼn trae wegspring in hierdie opsig gehad het, het al sowat 12% van ons bevolking ingeënt. Dit beteken dat Nieu-Seeland ook regtig daarmee sukkel om sy noodsaaklike entstofprogram goed aan die gang te kry. Hoe langer enige land se burgers neem om ingeënt te word, hoe verder weg is normaliteit.

Dit staan natuurlik ook in skrille kontras met ons eie regering wat die afgelope week die land na vlak 2 van inperking geskuif het. Verskeie rolspelers en kommentators het regtens opgemerk hoe hierdie hele ramptoestand eintlik afgeskaf moet word. Ook is vlak 2 te min te laat – die regering het oor die afgelope jaar en ʼn half ondenkbare skade aan die ekonomie aangerig.

Dit is enersyds weens die onbevoegdheid en andersyds die ideologiese lompheid waarmee die regering die hele storie hanteer het. Ten spyte van pres. Cyril Ramaphosa se buitengewone feestelike uitrusting die afgelope Maandag, verdien die regering hoegenaamd nie om gevier te word nie.

So ook verdien Australië en Nieu-Seeland uiteraard nie om weens hulle byna totalitêre hantering van Covid-19 afgeskryf te word nie. Niemand hoef hulle ook in hulle ongeluk te verlustig nie, omdat ons minstens nie sulke drakoniese regulasies nou ervaar nie. Dit wat in Australië en Nieu-Seeland afspeel moet ʼn mens eerder herinner – elke huis het maar sy kruis. Dié twee lande word baie duidelik beter regeer as ons land. Daar is ʼn goeie rede waarom soveel mense soontoe emigreer. Hulle regerings is nie so lamgelê, korrup en uitgehol in onbevoegdheid soos ons sʼn nie. Dit is in hierdie stadium egter ook hulle kruis.

Australië en veral Nieu-Seeland hou oor die algemeen vreeslik daarvan om by mense se persoonlike lewens in te meng. Eerder as om die betrokkenheid van die staat by mense se persoonlike vryhede en lewens te beperk, vergroot hulle dit eerder. Hulle regeer onder normale omstandighede streng en indringend – dit het ook nie verander onder slegte omstandighede nie.

Die oppasstate (“nanny states”) wat hierdie twee lande se regerings is, het die daadwerklike bevoegdheid om hul drakoniese regulasies uit te voer. Hulle het nog die staatskapasiteit om met die volle mag en krag van die staat op mense neer te daal. Hulle het die bevoegheid en kundigheid om iets soos die sogenaamde Orwelliaanse kwarantyn-toepassing van Australië af te dwing. Daar waar hulle wil, kán hulle ook.

ʼn Regering wat vir jou alles kán gee, kan ook alles by jou wegneem. Indien al jou regte, voorregte en beskerming in die staat gesetel is, kan die staat dit alles ook wegneem. Dit is juis waarom burgers ander instellings en sfere van die samelewing moet hê waarin en waardeur hulle beskerm word.

Indien ons regering kon, sou hulle ook. Dit is nie juis asof hulle min in burgers se lewens wíl inmeng nie. Inteendeel, indien hulle enigsins die staatskapasiteit en -bevoegdheid gehad het, sou hulle aansienlik meer en meer suksesvol ingemeng en gereguleer het as wat hulle tans doen. Sodoende vind ons eintlik in ons staat se onbevoegdheid en verval geleentheid.

Almal wat onder die ANC en hulle bestel tans leef, wil en kan nie noodwendig emigreer nie. Dit beteken egter nie dat ons vir ewig aan die verval en hopeloosheid van die ANC uitgelewer gaan wees nie. Ten spyte van al die negatiewe goed wat ʼn mens oor Suid-Afrika kan sê, is daar ook iets te sê vir die hoeveelheid vryheid wat ons eintlik het. Nie juis omdat die regering dit vir ons goedgunstiglik gee nie, maar eerder omdat hulle nie die vermoë het om dit van ons weg te neem nie!

Dit is binne hierdie onvermoë en verval van die ANC wat ons vir onsself iets beter kan opbou. Daar waar die staat weggekalwe is, is ook die geleentheid om opnuut te bou. Die ANC het nie die kapasiteit, mag en bevoegdheid om die staat behoorlik te bestuur nie – hulle gaan ook nie die kapasiteit, mag en bevoegdheid hê om burgers te keer wat vir hulself ʼn beter alternatief bou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Thinus ·

Wat ‘n eenogige artikel. Daai “drakoniese” maatreels beteken dat ons hier in Australië net 1000 sterftes aan Covid gehad het. Dat ons ekonomie een van die top presterende in die wêreld is en dat ons amper 50% van ons bevolking vol geimmuniseer het.

So ek sal vanaand lekker in my huis sonder diefwering of ‘n heining slaap terwyl ek weet die “drakoniese “ maatreels my geliefdes veilig hou.

Botterblommetjie ·

Ai, ek begeer wat jy het… Mense wat baie voordele het, waardeer soms nie als soos jy nie. Ongelukkig het ek nie, soos baie ander, die voorreg om te kon swot ens. nie. Ek wel baie kennis beteken dit niks op papier nie. Behalwe as God anders wik, sien ek geen toekom nie… Ek bly om my kniee en bid dat God vir ons sorg…

Adelaide ·

Ja nee, hierdie skrywer sit met sy kop in ‘n borrel. Hoe kan hy maak asof SA ‘n utopia is? Rêrig!!!???!!!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Thinus, ek en my beter helfte woon nou twee jaar in Australië. Stem saam met jou. Hoef nie saans bewustelik en onbewustelik die huis en sy binnedeure met traliehekke te sluit uit vrees dat 4 ongenooide nasiegenote enige tyd van enige nag in die huis inbars en ons verniel, verkrag, mes of skiet nie. Ons en ons kinders kon nie ‘n beter toekomsbesluit gemaak het nie. Ek weet nie van een Suid-Afrikaner in Australië wat oorweeg om na Suid-Afrika permanent terug te migreer nie. Waarom sou hulle wou? Uiteraard is geen land op aarde ‘n utopia nie. Kies jou koekie van keuse en moet nie kla oor hoe hy verkrummel nie. Ek kritiseer geen mede Suid-Afrikaner wat in SA wil bly nie. Verwag ook nie kritiek op ons keuse nie. Mag ons almal sinvol lewe in vrede en geregtigheid.

agnes ·

Die Ou Engelse gesegde is n.l. “The aAustralian nation is the only nation that is hand picked by British judges”

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Mag ek voorstel dat u die boek van die uiters bekende Australiese historikus John Hirst lees, getiteld “Freedom on the Fatal Shore”. Eers dan kan u dalk waag om enige kommentaar oor die geskiedenis van Australië te publiseer. Vergeet om die “ou Engelse gesegde” te glo.

Adelaide ·

Hmmm, die skrywer probeer SA uitmaak as ‘n utopia. Ons kan nie SA vergelyk met ander lande soos Australie of Nieu Zeeland nie. Ag asseblief tog net!! Word wakker!!!!!

Nicolaas ·

Die artikel is geskryf om reaksie te kry uit Suid-Afrikaners wat bitter is oor die ANC en die stand van die land. Klieklokaas.

Mariana ·

Moet met jou saamstem, SA is enig in sy soort. Geen utopia meer nie.

piet ·

“God is koning van die Boerevolk alleen”. Nie geweet die Boerevolk is die alleen uitverkore volk nie. Interessant.

marius ·

Kom kuier gerus “mates ” . Julle gaan die lughawe se deure flenters hardloop soos wat julle op die vliegtuig wil terugkom . Dis die waarheid .

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Droom lekker in die ANC se kommunistiese Mzansi National “Democratic” Society Useless Animal Farm waar almal ewe ryk is maar sommige ryker is as andere.

Samuel ·

Ek dink dit is ‘n eenogige artikel. Ek het drie naby vriende en ook oud kollegas wat in Australië woon en ‘n vriend en gesin in Nieu-Seeland. My NZ vriend is nou al 21 jaar daar Almal is gelukkig en nie een wil na Boeweland terugkeer nie. Ten minste werk dinge in hierdie twee lande. Hulle ‘suffer’ ook nie soos gesuggereer nie.

Marius ·

Ek het al 7 vertoë gerig om my skoonpa te laat kom kuier en 4 sodat ek kan huistoe keur en my mense sien en almal is afgekeur. Moet nie vir alles val nie, ELKE land het sy kruis.

Esme ·

Die land van geleenthede het die land van vervolging geword. Aai, het die Koningshuis nie ‘n reuse bydra gelewer om Australie te vernietig nie? Die goeie nuus is dat al Suid-Afrika se ondervinding nou gaan terugkeer huistoe…. die slegte nuus is, dat hulle goeie kwalifikasies gaan he, maar totaal en al werkloos gaan wees. Die uittog was groot – die terugtog mag nog groter wees.

Marius ·

Wat is jou definisie van maak? Ek’t ñ huis, paspoort, 2 vaste inkomstes en word as hoër middelklas beskou en wil steeds terugkeer.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Droom lekker in die ANC se kommunistiese Mzansi National “Democratic” Society Useless Animal Farm waar almal ewe ryk is maar sommige ryker is as andere. Australië het sedert 1994 ekonomies floreer terwyl Suid-Afrika verval het in ‘n staat van ‘n gierigheidskultuur, wetloosheid, werkloosheid, armoede, hongerte en anargie. Tragies. Ek huil oor my geliefde vaderland.

Vrijburger ·

Interessante artikel wat duidelik ‘n paar mense wat nie met insig lees nie kwaad maak.

Nog ‘n interessante tendens wat ek wereldwyd waarneem – Saffers wat nou in ander lande bly kan geen kritiek, hoe geregverdig ookal, op hul nuwe lande verduur nie.

Marius ·

Ek vermoed dis trots. Verbaas my altyd hoe die Franse, Amerikaaners, Spaanse & Argenteine waarmee ek werk trots is op hulle lande maar bewaar jou as Suid Afrikaner om iets te noem wat beter is in jou vaderland. Die Aussies sal dit interessant vind maar die Saffers sal oorlog verklaar.

Cherokee ·

Meer en meer rede om oortuig te word, covid is ‘n dier.. ‘n beast! Insig is wat ons nodig het. Beskerming sal gevind word in die binnekamer.

Cherokee ·

Enkele sinne geneem uit vandag se nuus:

Nuuskommentaar: Duisende mense wil úít Australië kom.
……….blyk weens burgers se ongelukkigheid met streng inperkingsmaatreëls en verpligte inentings teen Covid-19 te wees.

Indien ons regering kon, sou hulle ook.

Kaapse universiteit wil inenting verplig.

Luidens die bepalings oor beroepsgesondheid en veiligheid wat in Junie vanjaar
deur die departement van arbeid en indiensneming in die Staatskoerant aangekondig is,
mag werkgewers ʼn beleid instel wat vir verpligte inentings teen Covid-19 voorsiening maak.

Cherokee ·

‘n Pragtige uitdrukking wat ek dekades laas gehoor het, klink so:
‘n Goeie begryper het ‘n halwe woord nodig.

Mariana ·

Moet ons almal reg oor die wêreld dan nie nou maar saamleef met die inperkings nie, om weg te hardloop gaan ook nie help nie. Die hele wêreld is besmet met die vervloekte ding.

Jr ·

Aagh as jy stupid wil wees en vlug na “VRYE” SA dan is julle regtag onnosel. Hier is ons 3 JAAR GEHOK

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Eish, Mate! Hoe lank het die artikel skrywer, Me. Monica Mynhardt, self al permanent in Australië en Nieu-Seeland gewoon? Welke persentasie uit elke miljoen Suid-Afrikaners het sedert 1994 na Australië en Nieu-Seeland emigreer en welke persentasie uit elke miljoen Australiërs en Niew-Seelanders het sedert 1994 na Suid-Afrika migreer? Om te emigreer is nie kinderspeletjies nie.

ES ·

Mens kan seker nie als kry wat jy wil he nie. Ons is gewoont aan vryheid in Suid Afrika as gevolg van die onbevoegdheid van die regering. Hulle kan nie eers ordentlik grondgrype doen nie. In Aus moet jy doen soos die regering dit daar voorskryf en dit is die keuse wat jy maak.

Ek het die ‘vaccine’ gekry maar ek gun my medemens die reg om dit nie te kry as dit hul keuse is. Die feit bly staan dat die Aus ekonomie waarskynlik baie vinniger sal herstel as ons s’n en dit is maar die opoffering wat mens in die gesig staar.

Sterkte Aus en sterkte SA. Ons wil almal graag hierdie pandemie in ‘n stofwolk agter ons los.

Jack ·

Jy kan nie van misdaad vlug en dan wil terugkom omdat sekere dinge on die lande jou nie pas nie. Adapt or die is al wat oorbly. Onthou ook die witbrood onder die arm en dink aan jou kinders se toekoms.

Marius ·

Ek stem met baie in die artikel saam. Bly nou al jare in Sydney en kan steeds nie gewoond raak aan die kommunistiese neigings van die regering nie, geen wonder hulle is boesem vriende met China gewees tot net voor Covid nie. Hulle sê vir jou hoe om te parkeer, hoe lank, in watter rigting jou kar moet kyk en die gradiënt tot die sypaadjie en dan betaal jy jou alie af vir die parkering om net 1 voorbeeld te noem. Daar is ñ pass, permit, lisensie of boete vir alles! Die arrogansie van die wetstoepassers is ook betreurenswaardig, veral die ABF wat mens selfs met ñ blou Australiaanse paspoort steeds onwelkom laat voel.
Ek is seker daar is baie SAFFAS wat nou omgekrap sal word want vir een of ander rede mag mens nie die foute van Australië uitlig nie selfs al tree hulle hoe Godslasterlik op, ek sê nie dit was ñ verkeerde keuse nie. Huidiglik met SA se 44% werkloosheidskoers sal ek nie terugkeer nie al wil ek graag. Ek gaan my ook net nie blind staar oor die land en ander in SA mislei nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.